Van ons lesers
Orkaan Andrew Wat ’n wonderlike artikel! (“Dinge wat orkaan Andrew nie kon vernietig nie”, 8 Januarie 1993). Aangesien ek die voorreg gehad het om met die noodlenigingswerk te help, het ek dit veral geniet om te sien wat die plaaslike inwoners daaroor te sê gehad het. Die sewe dae wat ek daar deurgebring het, het my vertroue in Jehovah versterk en my aangespoor om my Christenbroers en -susters nóg liewer te hê.
M. J., Verenigde State
Nazi-vervolging Dankie vir die artikel “Ons het ons onkreukbaarheid in Nazi-Duitsland gehandhaaf” (8 Februarie 1993). Ons Christenbroers en -susters het soveel beproewinge verduur, en tog het hulle getrou gebly! Ek hoop dat ék die krag en deursettingsvermoë sal hê wat Josef Rehwald en sy gesin gehad het as ek ooit ’n ernstige beproewing moet verduur.
D. J., Verenigde State
Ek het vandag Josef Rehwald se lewensverhaal gelees. Ek het trane in my oë gehad toe ek gedink het hoe Jehovah sy knegte ten tye van nood onderskraag. Ek móés net vir Hom dankie sê!
V. M., Italië
Vermaak Die artikels “Hoe beïnvloed vermaak jou lewe?” (8 November 1992) was baie tydig. Ek het veral die inligting oor rolprente waardeer. Ek werk in ’n videowinkel, en die rolprent Basic Instinct waarvan julle in julle artikel melding gemaak het, was een van die winkel se gewildste video’s. Ek kan nie glo hoe sulke verdorwe rolprente so ’n winsgewende bedryf geword het nie!
D. M., Verenigde State
Hedendaagse kuns Wanneer ’n mens die artikel “Hedendaagse kuns faal in ’n toets” (“Ons beskou die wêreld”, 8 November 1992) lees, kan jy onder die indruk kom dat akrielverf nie baie nuttig is nie. Dit is nie die geval nie. Hierdie soort verf het in werklikheid talle belangrike voordele bo ander verfsoorte. Hulle oksideer byvoorbeeld nie. Daarbenewens word ’n akrielgrondlaag op kommersiële skilderdoeke gebruik. Akrielverf is geneig om te skilfer as dit nie korrek aangewend word nie, miskien op ’n vuil of vetterige oppervlak. Dit was dalk die geval met die kunstenaars wat genoem is.
J. W., Switserland
Ons waardeer hierdie verduideliking.—RED.
Weerspannige broers of susters Dankie vir die artikel “Jongmense vra . . . Gaan ek eendag soos my broer wees?” (22 Desember 1992). Ek het dit baie waardeer. My suster was ’n pionier [voltydse evangeliedienaar], en ons was baie na aan mekaar. Dit was my doelwit om saam met haar aan die pionierdiens deel te neem, maar my doelwit het spoedig verdwyn. Vier maande nadat ek as een van Jehovah se Getuies gedoop is, is sy uit die gemeente gesit [geëkskommunikeer]. Dit was baie moeilik vir my, veral wanneer vriende na haar gevra het. Ek was nie meer trots op haar nie. Die artikel het my laat besef dat ek anders kan (en sal) wees!
L. S., Verenigde State
Dit was vir my moeilik toe my broer uit die gemeente gesit is. Maar ek het nie sy voetspoor gevolg nie. Ek het nou klaargemaak met skool en kan ’n pionier word. Ek help ook met die bou van Koninkryksale van Jehovah se Getuies. Ek wil hard werk en aanhou om die regte dinge te doen.
K. M., Japan
Ek het twee broers wat uitgesit is. Soms was ek bang om my te laat doop omdat ek gedink het dat ek soos hulle sal wees. Jehovah het my gebede deur middel van hierdie artikel beantwoord. Ek is in Januarie gedoop. Sodoende kon ek in die openbaar toon dat ek my aan Jehovah toegewy het, en ek sal sorg dat ek nie dieselfde foute as my broers maak nie.
R. C., Italië