Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 9/22 bl. 24-27
  • Geheimsinnige Ruiters Van Die Hemelse Winde

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Geheimsinnige Ruiters Van Die Hemelse Winde
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waar kan ons hulle sien, en hoe lyk hulle?
  • Kan jy hulle werklik hoor?
  • Blywende indrukke
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2010
  • Die lewende planeet
    Is lewe geskep?
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1994
  • ’n Onvergeetlike reis op Seeweg Nr. 1
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 9/22 bl. 24-27

Geheimsinnige Ruiters Van Die Hemelse Winde

“Wie anders as God kan aan sulke onmeetlike tonele van majesteit dink? Wie anders as God kon hulle teweegbring, die hemele met so ’n pragtige vertoning beskilder?”

WAT het hierdie gevoel van piëteit in Charles F. Hall, ’n 19de-eeuse arktiese ontdekkingsreisiger, gewek? Een van die ontsagwekkendste natuurverskynsels wat vir die mense-oog sigbaar is, die aurora borealis—wat algemeen as die noorderligte bekend staan.

Fassinasie met hierdie hemelse ligte dateer uit die vierde eeu v.G.J toe die Griekse filosoof Aristoteles sy teorie oor hierdie verskynsel neergeskryf het. Maar dit was eers in 1621 dat die Franse wetenskaplike en wiskundige Pierre Gassendi die term “aurora borealis” (of, noorderdagbreek) soos ons dit tans gebruik, bekend gestel het. Aurora was in die klassieke mitologie die naam van die Romeinse godin van die daeraad wat rooskleurige vingers gehad het. Sy was ook die moeder van die winde, en die noordewind was Boreas genoem.

Wat veroorsaak die aurora? Kan dit veroorsaak word deur piepklein yskristalle in die lug wat die son se strale weerkaats? Of ysberge wat sonlig weerkaats? Of ontploffings wat ontstaan wanneer warm en koue lug ontmoet? Geeneen hiervan nie. Gevorderde wetenskaplike studie skryf hierdie verskynsel toe aan ’n regstreekse verband tussen aktiwiteit op die son en die aarde se magnetiese veld.

Die wonderlike skouspel van die auroras begin honderd-en-vyftigmiljoen kilometer weg, in die hartjie van ons sonnestelsel. Kernontploffings wat op en binne die son plaasvind, werp groot hoeveelhede gas in die ruimte in teen snelhede wat sommige op 4000 000 kilometer per uur skat. Hierdie hewige sonwinde, wat strome elektrisiteit-gelaaide deeltjies bevat, kan die aarde se buitenste atmosfeer binne 24 tot 48 uur bereik. Wanneer hulle die buitenste rande van die aarde se magnetiese veld binnegaan, word baie gelaaide deeltjies vasgekeer en na die pole getrek. Hulle bots dan met stikstofmolekules en suurstofatome, wat opgewek word en ’n vertoning van ligte aktiveer. ’n Soortgelyke reaksie vind plaas wanneer ’n neonlig aangeskakel word.

Met tye lyk dit of die aurora-gordyne amper aan die grond raak. Maar hierdie verskynsel kom slegs tussen 100 en 1000 kilometer bo die aardoppervlak voor. Botsings op ’n laer hoogte skep skakerings van geel en groen, terwyl botsings op groter hoogtes rooi en blou uitstralings tot gevolg het. Sommige vertonings is ontsaglik—met afmetings van 3 tot 5 kilometer in deursnee en meer as 160 kilometer hoog—en hulle strek letterlik oor duisende kilometers.

Waar kan ons hulle sien, en hoe lyk hulle?

Ongelukkig sal net ’n baie klein persentasie van die aarde se bevolking ooit die aurora sien. Dit is bykans onbekend aan mense wat in die trope woon. Maar as jy in suidelike Groenland, Ysland, noordelike Noorweë of noordelike Alaska woon, dans die aurora tot 240 nagte per jaar. Noordelike Siberië en Sentraal-Kanada sal hulle sowat 100 nagte per jaar sien, terwyl inwoners van suidelike Alaska hulle slegs sowat 5 nagte per jaar sien. Sentraal-Mexiko sien dit dalk een keer ’n dekade. In die Suidelike Halfrond speel hierdie dansende ligte, wat aurora australis genoem word, hoofsaaklik voor robbe, walvisse en pikkewyne. Maar Nieu-Seeland, dele van Australië en Argentinië val binne die yl bevolkte streek van die auroras en hulle sien dus die hemelse vertoning.

’n Helder naghemel is ’n volmaakte agtergrond vir die immerwisselende panorama van gordyne, boë en watervalvorms wat oor die hemel heen golf en swaai. ’n Onsigbare gordel, wat die noordelike en suidelike geomagnetiese pole omkring, en wat êrens tussen die 55ste en 75ste lengtegraad lê, is waar die ligte blykbaar die helderste is. ’n Poolreisiger, William H. Hooper, gee toe: “Woorde kan nie die immerveranderende en pragtige fases beskryf nie; geen pen of potlood kan die veranderlike skakerings, die glansrykheid en die grootsheid daarvan beskryf nie.”

Kan jy hulle werklik hoor?

Hoewel wetenskaplikes nie die moontlikheid verwerp dat geluide as gevolg van ’n aurora gehoor kan word nie, is dit nie duidelik hoe enige waarneembare steuring van binne die vertoning self kan kom nie. Die verskynsel kom op ’n aansienlike afstand bo die aarde voor. Klank trek teen ongeveer een kilometer per drie sekondes en daarom sal die geluide heelwat ná die sigbare flits kom.

Dit is interessant dat ’n man gedurende een helder aurora geblinddoek is, en “met feitlik elke skerp ligflits van die aurora het hy uitgeroep: ‘Hoor jy dit nie?’” ’n Amateursterrekundige het gesê: “Dit het soos sellofaan en stoom geklink. Dit was een van die eienaardigste ondervindinge van my lewe.” ’n Man van ’n Inuit-stam van Fort Chimo, Ungava, Kanada, is gevra om te vertel wat hy een helder nag gehoor het terwyl hy met sy span honde op pad huis toe was. “Hulle het woo-o-oe-sj, wiesj- woo-o-oe-sj gemaak, of so iets. Dit was nie die wind nie. Dit was ’n windstil nag. . . . En die honde was verskrik. Hulle was so bang dat hulle in verskillende rigtings gehardloop het.”

Is sulke geluide hallusinasies—geluide in jou kop? Party dink so. Maar die wetenskaplike William Petrie bied ’n moontlike verduideliking in sy boek Keoeeit—The Story of the Aurora Borealis. Hy voer aan: “’n Defekte ligskakelaar kan ’n vae sis- of kraakgeluid maak wanneer elektriese lading ontsnap pleks van die normale roete deur die skakelaar te volg. Aangesien ’n aurora verskyn wanneer elektrisiteit-gelaaide deeltjies die atmosfeer binnedring, kan ’n mens dus verwag dat elektriese toestande naby die aardoppervlak sal verander. Trouens, daar is onlangs vasgestel dat die toestande aansienlik verander, met die gevolg dat ladings elektrisiteit weg van die oppervlak af ‘uitlek’ en sodoende moontlik ’n dowwe geluid voortbring.”

Hoe kragtig is dit? Die Alaska Geographic se kwartaalblad Aurora Borealis—The Amazing Northern Lights, wat in 1979 uitgegee is, berig dat “die elektriese krag wat met die ontlading van die aurora gepaardgaan geweldig is, sowat 1000 miljard watt, of ’n jaarlikse totaal van 9000 miljard kilowatt-uur—meer as die Verenigde State se huidige jaarlikse elektrisiteitsverbruik, wat ’n bietjie minder as 1000 miljard kilowatt-uur is!” Die aurora stel golwe vry wat radiogeruis genoem word wat deur ’n radio-ontvanger opgevang, maar nie deur mense gehoor kan word nie. Gelukkig beskerm die ionosfeer ons teen hierdie geruis, en ons kan dus ’n radio gebruik.

Hewige aurora-storms het al kommersiële kommunikasiemiddele ontwrig. By een geleentheid het kru telefoonoproepe inbreuk gemaak op rustige musiek wat deur ’n radiostasie uitgesaai is. Die Transalaska-pypleiding was een keer as gevolg van die aurora met 100 ampère elektrisiteit gelaai. Dit het selfs al veroorsaak dat radarstelsels kernmissiel-aanvalle verkeerdelik gerapporteer het. Een groot vertoning in 1941 oor Noord-Amerika het glo seemeeue op die waterkant van Toronto, Kanada, wakker gemaak.

Blywende indrukke

Toe Edward Ellis, ’n 19de-eeuse avonturier en skrywer, die aurora borealis gesien het, is hy beweeg om te sê: “Ek bejammer die man wat sê: ‘Daar is geen God nie’ of wat oënskynlik tot in die dieptes van sy siel onaangeraak bly deur sulke vertonings van oneindige krag.” Wanneer ’n mens hierdie geheimsinnige ruiters van die hemelse winde die eerste keer sien, kan dit net beskryf word met woorde soos ontsaglik! asemrowend! majestueus! Hierdie verskynsel is so ’n aantreklikheid dat mense selfs van Japan af vlugte na Yellowknife, die Noordwestelike Gebiede en Kanada bespreek net om die noorderligte te sien. ’n Plaaslike inwoner het van een so ’n groep gesê: “Sommige van hulle het ná die tyd gehuil omdat dit vir hulle so pragtig was.”

Dit is inderdaad slegs die werk van ons Meesterontwerper wat ons emosies op so ’n pragtige wyse kan raak. Dit is net soos die psalmis beweeg is om te skryf: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.”—Psalm 19:2.

[Venster op bladsy 26]

Legendeeees en bygelowe oor die aurora borealis

Die noordelike kulture het geslagte lank geglo dat die auroras die volgende is: “Fakkels wat in die hande van geeste gehou word om die siele van diegene wat pas gesterf het na ’n land van geluk en oorvloed te lei”

“Geeste van die dooies wat met ’n walruskop bal speel”

“’n Slegte voorteken van oorlog en pessiekte”

“Die spoke van hulle verslane vyande”

’n Aanduiding dat “die weer sal versleg”

“Vure waarop die groot toordokters en krygers . . . hulle dooie vyande in ’n enorme pot laat prut het”

“’n Skitterende slang wat in die lug dans”

“Die geeste van kinders wat by geboorte gesterf het”

“Nuttig om hartkwale te genees”

[Foto-erkenning op bladsy 24, 25]

NASA photo

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel