Hoe beskerm ons ons kinders?
“Jy mag niemand vertel nie. Dit sal ons geheim wees.”
“Niemand sal jou glo nie.”
“As jy jou ouers vertel, gaan hulle jou haat. Hulle sal weet dit was jou skuld.”
“Wil jy nie meer my spesiale vriend wees nie?”
“Jy wil tog nie hê ek moet tronk toe gaan nie, of hoe?”
“Ek sal jou ouers doodmaak as jy iemand vertel.”
NADAT hulle kinders gebruik het om hulle perverse wellus te bevredig, nadat hulle hulle van hulle sekuriteit en onskuld beroof het, wil kindermolesteerders nog iets anders van hulle slagoffers hê—STILSWYE. Om daardie stilswye te verseker, gebruik hulle ’n gevoel van skaamte, geheimhouding, selfs volslae vrees. Kinders word dus van hulle beste wapen teen molestering beroof—die begeerte om iemand te vertel, om daaroor te praat en ’n volwassene om beskerming te vra.
Dit is tragies dat die volwasse gemeenskap dikwels onwetend met kindermolesteerders saamwerk. Hoe so? Deur te weier om van hierdie gevaar kennis te neem, deur ’n gesindheid van geheimhouding daaroor te bevorder, deur dikwels herhaalde mites te glo. Onkunde, verkeerde inligting en stilswye beskerm molesteerders, nie hulle slagoffers nie.
Die Canadian Conference of Catholic Bishops het onlangs byvoorbeeld tot die slotsom gekom dat dit ’n “algemene sameswering tot stilswye” was wat growwe kindermolestering dekades lank onder die Katolieke geestelikes laat voortduur het. Die tydskrif Time het ook in sy verslag oor die wydverspreide plaag van bloedskande gesê dat ’n “sameswering tot stilswye” ’n faktor is wat “net help om die tragedie [in gesinne] te laat voortduur”.
Maar Time het opgemerk dat hierdie sameswering uiteindelik aan die verbrokkel is. Waarom? Kortom: onderrigting. Dit is soos die tydskrif Asiaweek dit gestel het: “Alle kenners is dit eens dat die beste beskerming teen kindermolestering openbare bewustheid is.” Om hulle kinders te beskerm, moet ouers die werklikhede van die gevaar besef. Moenie in die duister verkeer as gevolg van misvattings wat kindermolesteerders beskerm en nie die kinders nie.—Sien venster hieronder.
Onderrig jou kind!
Die wyse koning Salomo het sy seun vertel dat kennis, wysheid en verstand hom kon beskerm teen “die weg van die slegte, van die mens wat valse dinge spreek” (Spreuke 2:10-12). Is dit nie presies wat kinders nodig het nie? Die FBI se pamflet Child Molesters: A Behavioral Analysis sê onder die opskrif “Die ideale slagoffer” die volgende: “Vir die meeste kinders is seks ’n verbode onderwerp waaroor hulle min inligting ontvang, veral van hulle ouers.” Moenie toelaat dat jou kinders “ideale slagoffers” word nie. Onderrig hulle oor seks.a Geen kind behoort byvoorbeeld puberteit te bereik sonder dat hy weet hoe die liggaam gedurende hierdie tydperk sal verander nie. Onkunde sal hulle verward, skaam—en weerloos—maak.
’n Vrou wat ons Janet sal noem, is as kind seksueel misbruik, en jare later is haar eie twee kinders seksueel misbruik. Sy sê: “In ons huis het ons nooit oor seks gepraat nie. Ek het altyd skaam daaroor gevoel. Dit was iets skandeliks. En toe ek kinders gehad het, was dit dieselfde. Ek kon met ander mense se kinders praat, maar nie met my eie nie. Ek dink dit is verkeerd omdat kinders weerloos is as jy nie met hulle oor hierdie dinge praat nie.”
Deur jou kinders van kleins af te leer, kan jy molestering voorkom. Wanneer jy kinders die name van sulke liggaamsdele soos die vagina, die borste, die anus en die penis leer, moet jy vir hulle sê dat hierdie liggaamsdele goed is, dat hulle spesiaal is—maar dat hulle privaat is. “Ander mense mag nie aan hulle vat nie—nie eers Mammie of Pappie nie—en nie eers ’n dokter nie, tensy Mammie of Pappie daar is of gesê het dat dit reg is.”b Sulke stellings moet verkieslik van albei ouers of elke volwasse voog kom.
In The Safe Child Book sê Sherryll Kraizer dat hoewel kinders nie moet aarsel om ’n molesteerder te ignoreer, op hom te skreeu of van hom af weg te hardloop nie, verduidelik baie kinders wat gemolesteer is later dat hulle nie onbeskof wou wees nie. Kinders moet dus weet dat party grootmense slegte dinge doen en dat nie eers ’n kind enigeen hoef te gehoorsaam wat sê dat hy of sy iets verkeerds moet doen nie. Tydens sulke tye het ’n kind die volste reg om nee te sê, net soos Daniël en sy vriende vir die Babiloniese volwassenes nee gesê het wat wou hê dat hulle onrein kos moes eet.—Daniël 1:4, 8; 3:16-18.
’n Onderrigtingsmetode wat allerweë aanbeveel word, is die “Sê nou . . . ?”-speletjie. Jy kan byvoorbeeld vra: “Sê nou jou onderwyser sê jy moet ’n ander kind slaan? Wat sal jy doen?” Of: “Sê nou (Mammie, Pappie, ’n predikant, ’n polisieman) sê jy moet van ’n hoë gebou afspring?” Die kind se antwoord is dalk onvoldoende of eenvoudig verkeerd, maar moenie die kind op ’n kwaai manier reghelp nie. Die speletjie hoef nie skok- of skrikmaaktaktiek in te sluit nie; trouens, kenners raai aan dat dit op ’n aangename, liefdevolle en selfs speelse manier gespeel moet word.
Leer jou kinders vervolgens om onbehoorlike liefdeblyke of liefdeblyke wat hulle ongemaklik laat voel, af te weer. Vra byvoorbeeld: “Sê nou ’n vriend van Mammie of Pappie wil jou soen op ’n manier wat jou snaaks laat voel?”c Dit is dikwels die beste om die kind aan te moedig om te wys wat hy of sy sal doen en dit ’n “Kom ons speel”-speletjie te maak.
Op dieselfde manier kan kinders leer om ander taktieke van molesteerders te weerstaan. Jy kan byvoorbeeld vra: “Sê nou iemand sê: ‘Weet jy, jy is my gunsteling. Wil jy nie my vriend wees nie?’” Wanneer die kind leer om sulke sette te weerstaan, moet jy ander bespreek. Jy kan vra: “As iemand sê: ‘Jy wil tog nie my gevoelens seermaak nie, of hoe?’ Wat sal jy sê?” Wys die kind hoe om met woorde en deur duidelike, besliste liggaamstaal nee te sê. Onthou dat molesteerders dikwels eers probeer uitvind hoe kinders op subtiele toenaderings reageer. ’n Kind moet dus geleer word om hom ferm te verset en te sê: “Ek gaan iemand vertel wat jy doen.”
Wees deeglik in jou opleiding
Moenie sulke opleiding tot ’n eenmalige gesprek beperk nie. Daar moet herhaaldelik met kinders gepraat word. Gebruik jou eie oordeel om te bepaal presies hoe uitgesproke jy in hierdie opleiding moet wees. Maar wees deeglik.
Maak seker dat jy byvoorbeeld keer dat ’n molesteerder ooit die situasie van geheimhouding misbruik. Kinders moet besef dat dit nooit reg is dat ’n volwassene hulle vra om ’n geheim van enigeen van hulle ouers te weerhou nie. Verseker hulle dat hulle altyd ’n geheim mag oorvertel—selfs al het hulle beloof dat hulle dit nie sal doen nie. (Vergelyk Numeri 30:12, 16.) Sommige molesteerders pers die kind af as hulle weet dat die kind die een of ander gesinsreël oortree het. “Ek sal jou nie verklik as jy my nie sal verklik nie” is die boodskap. Kinders moet dus weet dat hulle nooit in die moeilikheid sal beland as hulle iemand daarvan vertel nie—selfs nie onder hierdie omstandighede nie. Dit is veilig om iemand te vertel.
Jou opleiding moet hulle ook teen dreigemente bestand maak. Sommige molesteerders het al diertjies voor ’n kind doodgemaak en gedreig om dieselfde met die kind se ouers te doen. Ander het vir hulle slagoffer gesê dat hulle hulle jonger broers of susters sal molesteer. Leer jou kinders dus dat hulle altyd ’n molesteerder moet rapporteer, ongeag watter skrikwekkende dreigemente hy gemaak het.
In hierdie verband kan die Bybel ’n nuttige onderrigtingsmiddel wees. Omdat dit Jehovah se almag so duidelik beklemtoon, kan dit die krag uit molesteerders se dreigemente neem. Kinders moet besef dat Jehovah sy volk kan help, ongeag watter dreigemente gemaak word (Daniël 3:8-30). En selfs wanneer slegte mense diegene seermaak vir wie Jehovah lief is, kan hy altyd die skade ná die tyd regstel en dinge weer beter maak (Job, hoofstukke 1, 2; 42:10-17; Jesaja 65:17). Verseker hulle dat Jehovah alles sien, ook die mense wat slegte dinge doen en die goeie mense wat hulle bes doen om hulle te weerstaan.—Vergelyk Hebreërs 4:13.
Wees versigtig soos die slange
Daar is min pedofiele wat fisieke krag gebruik om ’n kind te molesteer. Hulle verkies oor die algemeen om eers met kinders vriende te maak. Jesus se raad om “versigtig soos die slange” te wees, is dus gepas (Mattheüs 10:16). Goeie toesig deur liefdevolle ouers is een van die beste maniere waarop ’n kind teen molestering beskerm kan word. Sommige molesteerders is op die uitkyk vir ’n kind wat alleen op ’n openbare plek is en begin ’n gesprek om die kind se nuuskierigheid te prikkel. (“Hou jy van motorfietse?” “Kom kyk na die klein hondjies in my bakkie.”) Jy kan weliswaar nie heeltyd by jou kinders wees nie. En kenners op die gebied van kindersorg besef dat kinders vryheid nodig het om sommige dinge op hulle eie te doen. Maar verstandige ouers waak daarteen om kinders te veel vryheid te vroeg te gee.
Maak seker dat jy enige volwassenes of ouer jongmense wat na aan jou kinders is goed leer ken, en wees ekstra versigtig wanneer jy besluit wie in jou afwesigheid na jou kinders sal kyk. Jy moet oppas vir kinderoppassers wat jou kind vreemd of ongemaklik laat voel. Wees ook versigtig vir tieners wat blykbaar ’n oormatige belangstelling in jonger kinders het en nie vriende van hulle eie ouderdom het nie. Stel deeglik ondersoek in na fasiliteite en skole wat dagsorg aanbied. Stap deur die hele perseel en gesels met die personeel, terwyl jy noukeurig let op hoe hulle die kinders behandel. Vra of hulle sal omgee as jy jou kinders onverwags besoek; as dit nie toegelaat word nie, moet jy na ’n ander skool soek.—Sien die Ontwaak! van 8 Desember 1987, bladsye 3-11.
Maar ongelukkig is dit ’n feit dat nie eers die beste ouers beheer het oor wat alles met hulle kinders gebeur nie.—Prediker 9:11.
As ouers saamwerk, is daar een ding wat hulle kan beheer: die huislike omgewing. En aangesien kindermolestering meestal by die huis plaasvind, is dit waarop die soeklig in die volgende artikel sal val.
[Voetnote]
b Ouers moet klein kindertjies natuurlik bad en aantrek, en tydens sulke tye was die ouers die geslagsdele. Maar leer jou kinders van kleins af om hulleself te was; sommige kenners op die gebied van kindersorg stel voor dat hulle indien moontlik al op die ouderdom van drie hulle eie geslagsdele moet kan was.
c Sommige kenners waarsku dat jy hierdie opleiding kan ondermyn indien jy jou kind dwing om elkeen te soen of ’n drukkie te gee wat om sulke liefdeblyke vra. Gevolglik leer sommige ouers hulle kinders om, wanneer ongewenste eise aan hulle gestel word, beleefd verskoning te maak of iets anders in die plek van sulke liefdeblyke te doen.
[Venster op bladsy 7]
Hy het om hulp geroep
“BEDE tot Jehovah stuit molesteerder se aanval op seun”, het ’n opskrif in die Amerikaanse koerant The Arizona Republic van 5 Mei 1993 gesê. Die vermeende molesteerder het die 13-jarige seun met ’n vuurwapen ontvoer en hom na sy woonstel geneem. Toe die seun uitroep: “Jehovah, help my!” was die molesteerder ontsenu en het hy die seun vrygelaat. Die polisie het die man later in hegtenis geneem.
Hoewel dit beslis onder sulke omstandighede gepas is om Jehovah se naam aan te roep, beteken dit nie dat God se knegte glad nie in hierdie moeilike “laaste dae” aangeval sal word nie (2 Timotheüs 3:1-5, 13). Christenouers moet dus hulle kinders oplei om op hulle hoede te wees vir alle vreemdelinge, ongeag watter gesag hulle op die oog af het.
[Prent op bladsy 8]
Leer kinders om onbehoorlike toenadering met woorde en deur duidelike, besliste liggaamstaal te weerstaan