Sapporo se fees van sneeu en ys
Deur Ontwaak!-medewerker in Japan
EDURENDE die lang wintermaande is Sapporo, ’n noordelike stad van Japan, toe onder die sneeu. Daar was vyf tot ses maande van die jaar maar min waarmee die inwoners hulle gedurende hulle vrye tyd kon besig hou, totdat die stadsvaders koppe bymekaar gesit en op ’n idee gekom het: ’n sneeufees wat uit reusagtige sneeubeelde bestaan.
In 1950 het hoërskoolleerlinge ses beelde wat drie tot vier meter hoog was met die hulp van ander opgerig. Ongeveer 50 000 mense het na die “Venus de Milo” en ander ysbeelde kom kyk. Joeki Matsoeri, of die Sneeufees, het ’n goeie begin gehad.
Die fees het deur die jare heen in grootte en gewildheid toegeneem. Elke jaar kom verwonder sowat tweemiljoen toeriste, waaronder baie uit die buiteland, hulle nou aan die honderde beeldhouwerke van ys en sneeu. Hierdie sewedaagse nie-godsdienstige winterskouspel het die grootste van sy soort in die hele Japan geword.
’n Kykie na die fees
Ōdoripark is die vernaamste van die drie feesterreine. Hierdie vroeëre sneeustortplek strek oor ’n afstand van 11 stadsblokke deur die hartjie van Sapporo. Hier en in Makomanai, ’n entjie hiervandaan, is die skouspelagtige, groter snywerke te sien. Kinders verwonder hulle aan die ekstra groot karakters uit hulle geliefkoosde televisie- en prentverhale. Daar is die wonder van die ruimte-eeu, Ultraman, vir wie klein seuntjies graag naboots. En daar naby is Tsjibi Maroeko-tsjan en haar vriende, kinders uit ’n gewilde televisietekenprent.
Volwassenes vind dit ook indrukwekkend. Die Paryse operagebou, met sy ryk gegraveerde mure en selfs beelde van musikante op die dak, is besonder goed gedoen en trek groot aandag. Daar is die ou Duitse Ryksdaggebou, ’n sneeugebou in die barokstyl. Die groot Arabiese kasteel met Aladdin en sy ‘towerlamp’ kan maklik uitgeken word.
Die snywerke in die Burgerplein, waarvan baie ’n spesiale boodskap dra, word ietwat in die skadu gestel deur die groter beeldhouwerke. ’n Snywerk van die Brandenburgpoort dien as ’n herinnering aan die onlangse vereniging van Duitsland. Van die snywerke weerspieël die mens se besorgdheid oor die aarde, sy ekologie en sy diere.
Aan die einde van Ōdoripark vind ons die Internasionale Plein waar spanne uit baie lande teen mekaar meeding. Van die beeldhouers is beroepsbeeldhouers wat normaalweg met marmer, klip en ander stowwe werk. Hulle kry elkeen ’n blok sneeu van drie meter wat vooraf verhard word en het drie dae om hulle inskrywings te voltooi.
Maar hoe word dié ontsaglike beeldhouwerke geskep, en hoe kry die beeldhouers dit reg om sulke verstommend akkurate detail weer te gee?
Hoe die sneeubeelde gemaak word
Dit is nie ’n maklike taak om iets so reusagtigs te bou nie. Die werklike bouery aan ’n enkele projek kan bykans ’n maand duur en meer as 1500 mandae behels. Een groot inskrywing was ’n namaaksel van die Flindersstraat-stasie in Melbourne, Australië. Dit was 35 meter lank, 35 meter breed en 15 meter hoog. Dit het 1400 trokvragte van vyf ton elk gekos om die 7000 ton sneeu wat daarvoor gebruik is te vervoer. Dit is dus geen wonder dat die weermag, en brandweerleerlinge wat later by hulle aangesluit het, sedert 1955 die grootste gedeelte van die oprigting van hierdie reusagtige beeldhouwerke doen nie. Kom ons kyk hoe hulle te werk gaan om sulke grootse sneeukunswerke te bou.
Eerstens moet die onderwerp gekies word. Inligting en prente word versamel. Modelle van klei, papierdeeg of ander stowwe word op grond van hierdie inligting gemaak. Dan, sowat ’n maand voor die fees, word skoon sneeu versamel en na die bouperseel vervoer. Daar word dit afgelaai, in ’n groot houtraamwerk vasgestamp en met water verhard. Daarna word die raamwerk verwyder, die stellasie word opgerig en die snywerk begin in alle erns.
Vakmanne werk dikwels deur die nag wanneer die temperatuur ver onder vriespunt is en gebruik byle en skopgrawe vir die aanvoorwerk, terwyl kleiner snywerkgereedskap vir die fyner besonderhede gebruik word.
Individue en klein groepies kan ook in die pret deel. Ongeveer ’n derde van die honderde aansoekers van reg oor die land wat deur middel van ’n loting gekies word, ontvang riglyne van ’n spesiale span vakmanne. Elke aansoeker kry ’n blok sneeu van twee meter wat verhard is en vyf dae om sy skepping te voltooi.
Betowerende aantreklikhede
Die snywerke van suiwer ys is nog ’n ander pragtige faset van die fees. Dit word meestal deur lede van die Ysbeeldhouersunie gemaak. Baie van hulle is meesterkokke van bekende hotelle wat hulle talente gewoonlik in banketsale vertoon. Hulle is gretig om na Sapporo te kom, en die resultate is ’n genot om te aanskou.
Musiekopvoerings en vertonings dra tot die feestelike stemming by. Daar is wedstryde, marsorkeste, dansery, akrobatiese ski-spronge en veel meer. Die kinders is ook ingenome met die baie ysglybane wat vir hulle vermaak voorsien en tot reg in die snywerke gebou is.
Saans is veral ’n goeie tyd om na die fees te kom kyk. In die park hang ’n menigte klein, wit gloeilampies in stringe aan die kaal boomtakke, en saam met die talryke, kleurvolle ligte wat deur die glinsterende beelde weerkaats word, skep dit ’n indrukwekkende aura van lig en kleur in dié wintersprokiesland. Ná jou besoek aan die fees sal jy beïndruk wees deur wat die mens se godgegewe, vindingryke verbeelding en bedrewe hande tot stand kan bring.
[Prente op bladsy 23]
Reusagtige yssnywerke, soos die een hier onder, kan 35 meter breed en 15 meter hoog wees en omtrent 7000 ton sneeu nodig hê om dit te bou