Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 2/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Tragedies op Maandae
  • Tuberkulose neem toe
  • Die bedreigde renoster
  • Kanada se dodelikste siekte
  • Asiatiese vroue leef langer
  • Gewelddadige speletjies
  • Allergies vir kos?
  • Vigs in Japan
  • Mishandelde bejaardes
  • Moeg agter die wiel?
  • Iets dodeliks in kos
  • Die dier met daardie gesogte horings
    Ontwaak!—1995
  • Kenia se renosterwesies
    Ontwaak!—1998
  • Vigs—Loop ek gevaar?
    Ontwaak!—1993
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 2/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Tragedies op Maandae

Navorsing wat aan die Flinders-universiteit in Australië gedoen is, het aan die lig gebring dat Maandag blykbaar dié weeksdag is waarop mans die waarskynlikste sal selfmoord pleeg. Volgens ’n berig in The Sydney Morning Herald het 19 425 mense tussen 1981 en 1990 in Australië selfmoord gepleeg. Die selfmoordsyfer onder vroue het deur die week onveranderd gebly, maar wat mans betref, het dit oor die algemeen op Maandae aansienlik gestyg. Gedurende die res van die week het dit geleidelik gedaal. Daar is gesê dat om terug te gaan werk toe ’n vername bydraende faktor is. Op die Maandae wat openbare vakansiedae was, het die aantal selfmoorde afgeneem, maar die volgende dag, Dinsdag, het dit weer toegeneem. Ander studies toon dat die meeste selfmoorde in die middag plaasvind wanneer angsgevoelens ’n hoogtepunt bereik en die meeste paniekaanvalle voorkom. Maandag is ook die ergste dag wat hartaanvalle betref. Een studie het aangedui dat 18 persent van 6000 hartaanvalle op Maandae voorgekom het in vergelyking met 12 persent op Sondae. Wegblyery is ook op Maandae die algemeenste.

Tuberkulose neem toe

Die Sweedse dagblad Dagens Nyheter berig dat tuberkulose tans die wêreld se dodelikste siekte is. In 1992 het meer as 3000 000 mense daaraan gesterf—aansienlik meer as diegene wat aan vigs, cholera en malaria gesterf het. In ’n poging om die verspreiding van tuberkulose te voorkom, het die Wêreldgesondheidsorganisasie onlangs ’n konferensie in Londen gehou. Daar is verklaar dat die siekte ’n ernstige, wêreldwye epidemie is wat die onderontwikkelde lande die swaarste tref. Maar omdat mense al hoe meer reis en immigreer, versprei dit ook stadigaan in die nywerheidslande. Die algemeenste vorm van TB kan in 95 persent van die gevalle genees word, maar die nuwer en meer bestande soorte kan in minder as 40 persent van die gevalle genees word.

Die bedreigde renoster

Ongeveer 20 jaar gelede het nagenoeg 65 000 renosters oor die vlaktes en deur die woude van Afrika geswerf. Maar hulle getalle het vandag tot ’n skrale 2500 gedaal, en wilddiewe is die vernaamste boosdoeners. In Zimbabwe alleen het die renosterbevolking van meer as 2000 in 1990 tot minder as 500 afgeneem. “Geen ander groot soogdier ter wêreld word op so ’n groot skaal uitgeroei en stuur so vinnig op uitwissing af nie”, sê die tydskrif Our Planet. Wat veroorsaak hierdie grootskaalse slagting? Die renoster se horings. ’n Paar horings wat van die swartrenoster se neus afgesaag is, is al op die swartmark vir tot 50 000 Amerikaanse dollar (R160 000) verkoop. Sommige horings word fyngemaal vir gebruik in Oosterse medisyne. Ander word gebruik om sierhandvatsels vir dolke te maak. Dit is hartseer dat die renoster se horings—sy unieke vorm van beskerming—sy ondergang geword het.

Kanada se dodelikste siekte

In Kanada is kardiovaskulêre siektes jaarliks vir nagenoeg 75 000 sterftes verantwoordelik. Dit is “meer as die gesamentlike sterftesyfer weens kanker, vigs en ongelukke”, sê The Edmonton Journal. Volgens die Kanadese Hart- en Beroertestigting “word ’n onaktiewe lewenswyse nou as potensieel net so skadelik as rokery, hoë bloeddruk en hoë bloedcholesterol beskou”. Gereelde oefening word allerweë as ’n voorsorgmaatreël teen hartsiektes beskou. Maar Anthony Graham, die hoof van kardiologie by Toronto se Wellesley-hospitaal, het gesê ‘mense meen dat gesonde oefening inspannend moet wees’. Maar hy het bygevoeg: “Oefening wat heelwat minder inspanning verg, kan jou op die lange duur aansienlik tot voordeel strek.” Die Journal het berig dat “die wetenskap al bewys het dat lae-intensiteitoefening, soos stap, tuinwerk en dans, hartsiekte kan voorkom”.

Asiatiese vroue leef langer

Volgens die tydskrif China Today het die gemiddelde lewensduur van vroue in Hongkong oor die afgelope 20 jaar geleidelik verbeter. In 1971 was die verwagte lewensduur van vroue in Hongkong 75,3 jaar. In 1981 het dit tot 78,5 gestyg. En in 1991 het dit die hoogste ouderdom tot nog toe, naamlik 80,6 jaar, bereik. Hierdie verbetering word aan beter voeding en verbeterde mediese dienste toegeskryf. Asiatiese vroue oor die algemeen geniet blykbaar ’n bogemiddelde lewensduur. Vroue in Taiwan kan verwag om ongeveer 77 jaar oud te word. In Singapoer is die gemiddelde lewensduur van vroue ongeveer 76 jaar en in die Volksrepubliek van China is dit 71 jaar. China Today sê dat “Japannese vroue steeds die langste ter wêreld lewe met ’n gemiddelde lewensduur van 83 jaar”.

Gewelddadige speletjies

’n Nuwe geslag gewelddadige videospeletjies is deesdae besig om uiters gewild onder jongmense te word. Volgens die tydskrif Entertainment Weekly is daar in een speletjie ’n toneel waarin “’n vrou in skrapse nagklere om die nek gegryp word sodat haar bloed uitgetap en wyn daarvan gemaak kan word”. Die Daily News van New York sê dat die karakters in ’n ander speletjie “mense in ’n wêreldwye straatgevegtoernooi voos slaan”. Nog ’n ander speletjie word in die Daily News as “afgryslik” beskryf. Die koerant sê voorts: “Houe teen die liggaam gaan gepaard met bloed wat uitspuit; wanneer die slegte ou wen, sal hy dikwels die held onthoof en soms die kop triomfantelik omhoog hou, met die rugmurg nog daaraan vas. Ander deelnemers wat verloor, kan opgehang of aan die brand gesteek word.”

Allergies vir kos?

’n Groot allergiestudie in Suid-Afrika het aan die lig gebring dat 43 persent van die kinders met asma wat getoets is “ongunstig op swaeldioksied gereageer het”, berig The Star van Johannesburg. Swaeldioksied word as ’n algemene preserveermiddel vir kos in Suid-Afrika gebruik. Sulfiete en swaeldioksied word byvoorbeeld op groente en vars vrugte op slaaitafels in restaurante en in sommige supermarkte gespuit om verkleuring te vertraag. Sulfiete en swaeldioksied word ook in ander kossoorte, soos deeg, koeldranke, wyn en bier, gebruik. Die studie het meegebring dat daar meer druk uitgeoefen word vir strenger wette oor die etikettering van kos.

Vigs in Japan

Volgens amptelike syfers het minder as 3000 uit Japan se 124 miljoen inwoners positief vir die vigs-virus getoets. “Maar baie mediese werkers, waarvan sommige in diens van die gesondheidsministerie is, glo persoonlik dat Japan meer slagoffers het as wat die amptelike syfers te kenne gee”, sê die tydskrif The Economist. Een deskundige skat dat die werklike syfers ten minste tien keer hoër as die amptelike syfers is. Die tydskrif het gemeld dat “meer as die helfte van Japan se hemofiele vermoedelik HIV-positief is, deels omdat hulle glo besmette Faktor-8, ’n bloedproduk, gegee is”. In Japan vermy baie mense dit om die rol wat homoseksualiteit in die verspreiding van vigs speel te bespreek. Maar Joeitsji Sjiokawa, hoof van Japan se Komitee vir die Waarneming van Vigs, sê dat “homoseksualiteit algemeen voorkom, veral onder die priesters en in die weermag”.

Mishandelde bejaardes

Die Kanadese koerant The Vancouver Sun het onlangs gesê dat “daar skoolprogramme vir kinders en tieners moet wees wat die waarde wat aan bejaardes geheg word, moet bevorder”. Waarom? Omdat daar in Kanada na raming “meer as 315 000 mense ouer as 65 is wat elke jaar mishandel word”, berig die Sun. Dit sê ook dat “die probleem volgens baie kenners veel groter is omdat die mishandeling dikwels deur gesinne geheim gehou word”. Die bejaardes is huiwerig om te erken dat hulle slagoffers van fisiese geweld, verstandelike mishandeling, verwaarlosing en finansiële uitbuiting is. Die misbruik van ’n bejaarde ouer se geld en besittings deur volwasse kinders wat volmag daaroor het, laat eersgenoemde dikwels bang en weerloos voel.

Moeg agter die wiel?

Volgens The Star van Johannesburg word tot een derde van alle botsings tussen voertuie in Suid-Afrika veroorsaak omdat ’n bestuurder uitgeput is. Dit kan net so dodelik wees soos om onder die invloed van alkohol te bestuur of om te vinnig te ry. Sommige simptome van uitputting is wanneer ’n bestuurder se oë seer of swaar is, hy dagdroom en kort-kort oor die verkeerstrepe ry. Wat moegheid agter die wiel so gevaarlik maak, is dat bestuurders dalk nie agterkom dat hulle moeg is voordat dit te laat is nie. Musiek, koffie of vars lug sal die probleem dalk nie werklik regstel nie. Trouens, die bestuurder se konsentrasievlak sal moontlik net al hoe laer word as hy teen die uitputting veg. ’n Woordvoerder vir die Direktoraat van Verkeersveiligheid gee die volgende raad: “Daar is slegs een ding om te doen as jy moeg voel agter die wiel—neem dadelik ’n blaaskans. Kry jou motor heeltemal van die pad af of ry na ’n rusgebied en hervat jou rit slegs nadat jy heeltemal herstel het.”

Iets dodeliks in kos

Volgens ’n nuusbrief van die Tufts-universiteit is nagenoeg 80 miljoen mense elke jaar in die Verenigde State slagoffers van voedselvergiftiging. “Die probleem gaan dikwels ongemerk verby omdat baie van die simptome—kouekoors, koors, naarheid, krampe, diarree en braking—met griepsimptome kan ooreenkom”, het die nuusbrief gesê. In sommige gevalle is hierdie siektes wat deur kos oorgedra word dodelik. In die Verenigde State alleen sterf ongeveer 9000 mense elke jaar as gevolg van voedselvergiftiging. Die Tufts University Diet & Nutrition Letter sê dat die “Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming geskat het dat 85 persent van alle siektes wat deur kos oorgedra word, voorkom kan word as mense tuis die nodige voorsorgmaatreëls neem”. Sommige van die voorsorgmaatreëls wat genoem is, was onder andere dat alle kos binne twee uur nadat dit gekook is, bevries moet word en dat alle groente en vrugte afgespoel moet word voordat dit geëet word.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel