Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 3/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Mense se wantroue in regerings
  • Die krag van placebo’s
  • Lekplekke word uitgesnuffel
  • Die reëngode stel teleur
  • Die een kompromis ná die ander
  • Tabakbedryf floreer in Rusland
  • Hospitaal op wiele
  • Helbestemdes word getel
  • Opbouende ondervindinge help dat jy gesond bly
  • Korrupsie en belydenis
  • ’n Hoë herstelsyfer
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1992
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1994
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1998
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 3/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Mense se wantroue in regerings

“Mense oor die hele wêreld is besig om vertroue in die gesagsorde te verloor”, het The Washington Post onlangs gesê en bygevoeg: “Regering is oral vir mense ’n afstootlike woord.” Waar die koerant kommentaar lewer oor ’n aantal meningspeilings wat in onlangse jare gedoen is, het dit gesê: “Van Kanada tot Japan, en op plekke tussenin, moet meningspeilers hoor hoe ’n verstommende meerderheid van die burgers sê dat hulle land se regering nie vertrou kan word nie, dat hulle land se ekonomie ’n krisis beleef en dat sake net sal vererger en nie sal verbeter nie.” In Frankryk het ongeveer 60 persent van diegene wat ondervra is byvoorbeeld gesê hulle verwag dat sake in die toekoms sal vererger, terwyl byna dieselfde persentasie ontevredenheid uitgespreek het oor die manier waarop die land regeer word. In Italië het ongeveer 75 persent gemeen dat die staat nie so goed funksioneer soos vyf of tien jaar gelede nie. In Kanada het meer as die helfte gemeen dat die volgende geslag selfs erger ekonomiese toestande as hulle sal ondervind.

Die krag van placebo’s

Mediese navorsers huldig al lank die mening dat ongeveer ’n derde van pasiënte geneig is om ’n mate van verbetering te toon wanneer hulle ’n placebo, ’n behandeling met geen geneeskundige waarde nie, gegee word. ’n Nuwe studie het egter getoon dat placebo’s ’n baie groter uitwerking kan hê. The New York Times het onlangs berig dat wetenskaplikes in La Jolla, Kalifornië, VSA, bykans 7000 pasiënte bestudeer het wat met nuwe soorte eksperimentele medisyne behandel is wat later as geneeskundig nutteloos bevind is. Die studie het getoon dat twee derdes van die pasiënte in reaksie op die medisyne, ten minste tydelik, beter geword het. Hoewel hierdie uitwerking van placebo’s in sommige gevalle moontlik ’n werklik biologiese verbetering kon insluit, waarsku wetenskaplikes dat dit soms die pasiënt se eie begeerte weerspieël om die geneesheer tevrede te stel deur te sê dat hulle beter voel. Sommige navorsers gebruik hierdie studie dus as voorbeeld om te toon waarom nuwe medikasie aan strenger toetse onderwerp moet word.

Lekplekke word uitgesnuffel

Klein lekplekkies in ondergrondse pypleidings kry dalk nie die publisiteit wat groot barste en stortings kry nie, maar hulle kos die nywerheid nogtans miljoene rande elke jaar en veroorsaak “subtiele, onsigbare besoedeling”, berig die tydskrif National Geographic. ’n Kanadese maatskappy het ’n buitengewone oplossing vir die probleem gevind—hulle gebruik honde, Labradors, om sulke haarfyn lekplekkies in pypleidings uit te snuffel wat olie, aardgasse en chemikalieë vervoer. Eerstens word ’n besonder onwelriekende chemikalie in ’n deel van die pype gepomp waar daar vermoedelik ’n lekplek is. Dan spring die honde aan die werk. Die Geographic berig: “Hulle kan die chemikalie wat uit die pype ontsnap en so diep as vyf meter onder die grond is, uitsnuffel. In ’n moeras in Louisiana het [die] honde op klein bootjies gestaan en die reuk uit lekkende chemikalielyne opgespoor wat 1,8 meter onder die water en 1,5 meter onder die grond was.” Die tydskrif het bygevoeg: “Die honde is beskikbaar vir werk in alle wêrelddele.”

Die reëngode stel teleur

Die regering van die staat Andhra Pradesh in suidoostelike Indië het onlangs weens ’n ernstige droogte sy toevlug tot ’n buitengewone taktiek geneem om reën te bring. Volgens die tydskrif India Today het die staatsregering “die antieke Vediese ritueel om die reëngode te paai”, gesubsidieer. Die staat se Minister van Skenkings het as volg geredeneer: “God sal ons te hulp snel.” Priesters van 50 uitgesoekte tempels het die ritusse 11 dae lank uitgevoer. Die resultaat? India Today berig: “Die gode was klaarblyklik nie beïndruk nie. . . . Aangesien godsdiens gefaal het, het die regering nou besluit om die wetenskaplike manier te probeer. Daar is stappe gedoen om kunsmatige reën te skep” deur ’n eksperiment waar wolke met chemikalieë bestrooi word.

Die een kompromis ná die ander

Die Lutherane in die Verenigde State en die Metodiste in Brittanje het onlangs die kwessie van homoseksualiteit aangeroer. In Brittanje het ’n Metodiste-konferensie so half en half tot ’n besluit gekom. Hulle het besluit dat hulle nie homoseksuele mans en vroue as geestelikes sal orden nie; hulle het egter terselfdertyd bekend gemaak dat die kerk “die aandeel en bediening van lesbiërs en homoseksuele in die Kerk erken, bevestig en voorstaan”. In die Verenigde State het ’n taakgroep van die Lutherse Kerk ’n verslag van 21 bladsye vrygestel met die doel om dit aan die kerk se 19 000 pastore te stuur sodat hulle hulle reaksie daarop kon kry. Volgens die Associated Press sê die verslag dat die Bybel homoseksuele verbintenisse ondersteun. Die verslag sê voorts dat masturbasie “oor die algemeen gepas en gesond” is. Met hierdie twee verklarings weerspreek die verslag die Bybel se standpunt in verband met hierdie sake.—Romeine 1:26, 27; 1 Korinthiërs 6:9, 10; Kolossense 3:6, 7.

Tabakbedryf floreer in Rusland

Die tabakbedryf floreer in Rusland en in ander eertydse Sowjetgebiede, berig die Kanadese tydskrif Maclean’s. In die eertydse Sowjetunie is daar sowat 70 miljoen rokers, ongeveer 25 persent van die bevolking, en hulle verbruik jaarliks 350 miljard sigarette. En aangesien eertydse Sowjetwette wat sigaretadvertensies verbied nie meer van krag is nie, het Westerse tabakmaatskappye die media—die radio, TV, koerante, tydskrifte en reklameborde—met advertensies vir hulle produkte oorlaai. Hoewel Westerse sigarette twee tot vier keer meer as die plaaslike soort kos, is hulle dikwels gesogte statussimbole. Die tydskrif Maclean’s sê: “Regeringstatistiek toon dat sowat 500 000 Russe jaarliks aan longkanker en ander rookverwante siektes sterf.”

Hospitaal op wiele

Daar is ’n buitengewone hospitaal wat die siekes in Indië help: ’n trein wat die Lifeline Express genoem word. Die trein wat deur vrywillige dokters beman word, is “eintlik ’n hospitaal op wiele”, berig die tydskrif Asiaweek. Dit kom die dorpies al skommelende binne en bly dan ’n maand tot ’n maand en ’n half daar en laat sy chirurge tyd toe om minstens 600 pasiënte te behandel voor dit na die volgende dorpie vertrek. Die mobiele hospitaal, wat bestuur word deur die Impact India Foundation, ’n groep sonder winsoogmerk, het tot dusver sowat 400 000 mense gehelp. Zelma Lazarus van Impact India sê: “Hierdie projek het buite verhouding uitgebrei. Ander lande vra ons nou om ’n soortgelyke mobiele hospitaalstelsel te begin.”

Helbestemdes word getel

Die Suidelike Baptiste van Alabama, VSA, het onlangs onder skoot gekom toe hulle ’n amptelike skatting gepubliseer het wat te kenne gee dat 46,1 persent van die staat se bevolking moontlik na die Baptiste se hel toe sal gaan. Hulle verslag, wat in The Birmingham News gepubliseer is, het al die distrikte in die staat ontleed en ’n persentasiesyfer gegee van hoeveel in elke distrik “nie gered” was nie. Volgens die Associated Press het die Baptiste bloot kerklidmaatskapsyfers van die bevolking van elke distrik afgetrek en toe “’n geheime formule” gebruik om te bepaal hoeveel mense van ander godsdienste na hulle mening ook miskien hemel toe sal gaan. Hulle verslag het sterk kritiek van die lesers van The Birmingham News uitgelok. Een leser het geskryf: “Dit is die toppunt van vermetelheid om ’n formule op te stel sodat dié wat nie gered gaan word nie, getel kan word.”

Opbouende ondervindinge help dat jy gesond bly

“Moordende spanning en emosionele probleme verlaag die liggaam se herstelvermoë, terwyl vreugde en genot die immuunstelsel stimuleer en die weerstand teen siekte versterk.” Dit is hoe die Duitse koerant die Nassauische Neue Presse die bewyse opsom wat deur die nuwe wetenskap van psigoneuroïmmunologie versamel is. Negatiewe invloede by die werk of tuis verswak die liggaam se weerstand. Aan die ander kant het positiewe emosies en ondervindinge volgens dr. Anton Mayr, ’n professor en mikrobioloog, ’n versterkende uitwerking. Van die voorbeelde wat hy aanhaal, is: “Geloof, hoop, liefde, vertroue, geborgenheid, kommunikasie, positiewe stimulasie in die lewe, ontspanning—en die wilskrag om te lewe en gesond te wees.”

Korrupsie en belydenis

Twee Italiaanse skrywers, wat voorgegee het dat hulle politici of sakemanne is, het tientalle Katolieke priesters gevra om hulle van sondes van korrupsie kwyt te skeld. Hulle het dit wat die priesters in die biegstoel aan hulle gesê het toe gepubliseer. Die koerant La Repubblica het berig: “Die kerk is van mening dat [die skrywers] heiligskennis gepleeg het, en hulle is al klaar daarvoor aangeval en moontlik geëkskommuniseer.” Maar die koerant voeg by dat hierdie skynbelydenisse “toon hoeveel verwarring, ontoereikendheid en losbandigheid daar werklik onder ’n groot deel van die 36 000 Italiaanse priesters bestaan, wat dikwels meer in seksuele sondes as in sosiale sondes belangstel”. Pino Nicotri, een van die skrywers, het gevind dat van die 49 priesters by wie hy “gebieg het”, het slegs een geweier om hom kwyt te skeld en gesê hy moet sy misdaad aan die owerheid rapporteer. La Repubblica het opgemerk: “Wat die ander betref, is omkopery óf nie ’n sonde nie óf anders is dit nutteloos om na ’n regter te gaan, aangesien dit vergifnis van God is wat saak maak.”

’n Hoë herstelsyfer

“Brasilië se profiel het in onlangse jare verander. Waar die land eers ’n roete vir [dwelm]handel was, het dit ook ’n verbruiker en produsent van dwelms geword”, verduidelik Arthur Guerra de Andrade, ’n vakkundige op die gebied van alkoholisme en dwelmverslawing. Volgens O Estado de S. Paulo “word 6 tot 8 persent van die bevolking [deur dwelmverslawing] geraak”. Boonop “het 90 persent van die jongmense tussen 12 en 16 minstens een keer alkohol gebruik”. Mnr. Andrade voeg by: “Die aantal mense wat fisiese en sielkundige probleme as gevolg van alkohol het, het in die laaste tien jaar met 50 persent vermeerder.” Daarbenewens “hou ongeveer 25 persent van die ongelukke wat in Brasilië by die werk gebeur met dwelmmisbruik, veral alkohol, verband”. Vanuit ’n positiewer oogpunt beskou, het Brasilië egter “een van die wêreld se hoogste herstelsyfers—60 tot 80 persent van alkoholiste-werkers”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel