Ons beskou die wêreld
Straatkinders vlug vir mishandeling
“Negentig persent van straatkinders het ’n gesin. Ongeveer 90 persent [van hierdie straatkinders] word deur hulle ouers aangerand en vlug as gevolg daarvan, waarna hulle by misdaad, dwelmmisbruik en seksuele uitbuiting betrokke raak”, sê Enza Mattar, koördineerder van die Streeksentrum vir Aandag aan Mishandelde Kinders (Crami). Mattar, wat in Brasilië se koerant O Estado de S. Paulo aangehaal is, raai gesondheidsdeskundiges en onderwysers aan om op te let na tekens van mishandeling, met inbegrip van “skielike gedragsveranderinge, teruggetrokkenheid en merke op die liggaam”. Om tussenbeide te tree, kan lewensbelangrik wees, aangesien net 5 persent van die gevalle wat deur Crami behartig word kinders is wat self beskerming kom vra. Ouers wat hulle kinders mishandel, verwerp dikwels hulp. Waarom? João Roberto Scomparim, die president van Crami, sê: “Ouers wat hulle kinders gewelddadig aanrand, herhaal die patroon wat hulle self ondervind het toe hulle jonk was, en hulle glo dat hulle hulle kinders so moet opvoed.”
Vergeetagtige mense
In ’n Italiaanse studie waarby 1600 volwassenes betrokke was, het 77 persent gesê dat hulle vergeetagtig is, aldus die koerant La Repubblica. Meer as ’n derde het gedurende die vorige jaar ’n belangrike herdenking vergeet. Daarbenewens het 42 persent gereeld vergeet waar hulle hulle motor geparkeer het, meer as 30 persent het hulle huissleutels vergeet, meer as 25 persent het hulle beursie vergeet en 1,2 persent het selfs hulle eie naam en van vergeet. Daarteenoor sê 28 persent van Italianers dat hulle nog steeds ten minste ’n deel van ’n gedig onthou wat hulle op skool uit hulle kop geleer het. Hoe kan jy jou geheue verbeter? Een gesaghebbende beveel aan dat ’n mens die ding wat jy wil onthou met iets anders moet assosieer, aantekeninge in ’n dagboek moet maak en dit moet hersien, en as oefening telefoonnommers, deuntjies en selfs nommers op nommerplate uit jou kop moet leer.
Waarom jou tou skynbaar die stadigste beweeg
As dit lyk of jy altyd in die stadigste tou beland wanneer jy inkopies doen, is die waarskynlikheidswet moontlik daarvoor verantwoordelik. Soos die Duitse koerant Die Zeit tereg sê, is die waarskynlikheid 2 uit 3 dat een van die twee toue langs jou vinniger as joune sal wees. Hoe meer toue daar is, hoe slegter is jou kans. Navorsers het gevind dat mense nie noodwendig geïrriteerd raak omdat hulle moet wag nie, maar eerder omdat ’n mens “voel dat jy jou tyd verspil”. Party hotelle het spieëls in hyserportale aangebring sodat dit nie so irriterend is om vir ’n hyser te wag nie. Dit gee mense iets om te doen—hulle kan hulle hare kam of hulle das regskuif. Om vir mense te wys hoe lank hulle nog moet wag, help ook. Daarom gebruik sommige ondergrondse spoorweë elektroniese skerms om te toon oor hoeveel minute die volgende trein sal vertrek.
Molestering deur geestelikes in Afrika
“Gevalle van seksuele molestering deur geestelikes begin nou in Afrika kop uitsteek”, sê die tydskrif Catholic International. Om sulke molestering te verhoed, stel party Katolieke biskoppe voor dat potensiële seminariste strenger gekeur en opgelei moet word. Ander vorme van wangedrag deur geestelikes waaroor die biskoppe in Afrika besorg is, is onder meer “drankmisbruik en betrokkenheid by bedrywighede wat nie by die priesterlike staat of beroep pas nie, soos saketransaksies of handeldrywery [en] die politiek”. Waarom het hierdie gevalle eers onlangs aan die lig gekom? “’n Vryer pers en ’n verslapping in die beheer wat die Kerk voorheen oor die massamedia gehad het”, antwoord Catholic International, en dit voeg by dat “aanvanklike pogings deur sommige Kerkowerhede in dele van Afrika om ongunstige nuus te keer . . . , gefaal het”.
Geestelikes dra vuurwapens
In Kentucky, VSA, is die staatswet onlangs gewysig om predikante toe te laat om versteekte vuurwapens in die kerk te dra as hulle ’n lisensie daarvoor het, sê die nuusdiens Reuters. In die staat kon predikante wat ’n lisensie het om ’n versteekte, dodelike wapen te dra dit vantevore nie in plekke van aanbidding gedoen het nie. In 1997 is party kerke in Kentucky deur gewapende mense van hulle kollektes beroof. Hoewel niemand beseer is nie, “het predikante en priesters van plattelandse kerke druk op die staat se wetgewers uitgeoefen om hulle toe te laat om versteekte vuurwapens te dra”, sê die berig. Nie alle geestelikes is egter ten gunste van die verandering nie. Nancy Jo Kemper, Uitvoerende Direktrise van Kentucky se Raad van Kerke, het gevra: “Hoe kan ons verwag dat ons kinders moet leer dat vuurwapens nie probleme sal oplos nie as hulle sien dat selfs predikante, wat veronderstel is om bewerkers van vrede en versoening te wees, wapens dra wat kan doodmaak?”
Babas het aanraking nodig
“Kinders wat grootgemaak word sonder dat hulle gereeld omhels, geliefkoos of gestreel word . . . , het abnormaal hoë vlakke van streshormone”, volgens ’n studie waaroor die koerant Toronto Star berig gelewer het. As ’n kind van sy moeder geskei of tydens sy kleintyd verwaarloos word, meen die navorsers dat dit “op die lange duur ’n ernstige uitwerking op [sy] leervermoë en geheue kan hê”. Die wetenskaplike Mary Carlson, van die Mediese Fakulteit van die Harvard-universiteit, het verder gesê dat kinders wie se gesin hulle “op werksdae [in] swak dagsorgsentrums laat bly het abnormale vlakke van streshormone in die week gehad het, maar nie oor naweke wanneer die kinders tuis was nie”. Hierdie navorsing lewer verdere bewys dat liefdevolle aanraking en baie liefde vir ons kinders belangrik is.
Eens gewilde honde word weggegooi
Australiese dierebeskermingsentrums raak vol honde wat nie meer in die mode is nie, sê Melbourne se koerant die Herald Sun. “Die Alaska-malemoete is deesdae die honde wat in groot getalle weggegooi word”, sê die verslag. Eienaars gooi hulle honde weg omdat hulle nie meer in die mode is nie of te groot geword het na die eienaar se smaak. Die Koninklike Dierebeskermingsvereniging (KDBV) verwag dat Dalmatiese honde volgende op die lys sal wees wanneer hierdie ras, wat deur ’n onlangse rolprent gewild gemaak is, oudmodies raak. Die KDBV se bestuurshoof Richard Hunter sê dat dit nie iets nuuts is om honde weg te gooi wat nie meer gewild is nie. In die sewentigerjare het dit met Afgaanse honde gebeur; en in die tagtigerjare met Engelse skaaphonde. Ongelukkig moes baie van die honde wat weggegooi is van kant gemaak word. Die KDBV spoor mense aan om honde te kies op grond van hulle geaardheid en die eienaar se lewenstyl in plaas van modeneigings.
Kinders—Wees aktiewer!
’n Verslag in die Duitse verbruikerstydskrif Test sê dat die onbedrywigheid van kinders wat te veel TV kyk, veroorsaak dat hulle waarneming, refleksbewegings en spierkoördinasie daaronder ly, en dit maak hulle vatbaarder vir ongelukke. Fisiese ondersoeke van kinders wat in Duitsland begin skoolgaan het, het getoon dat tot 30 persent van hulle oorgewig was, tot 40 persent koördinasieprobleme gehad het en tot 60 persent postuurprobleme gehad het. Om kinders aktiewer te kry, het Duitse sport-, veiligheids- en verkeersopvoeders ’n houer met speletjies gemaak waarin sagte Frisbees, balle en ander speelgoed is om kinders te help om pret te hê terwyl hulle liggaamlik bedrywig is.
Slagoffers van die sekshandel
’n Advertensie in ’n Oekraïense koerant sê: “Meisies: Moet ongetroud en baie mooi wees. Jonk en lank. Ons nooi julle om as modelle, sekretaresses, danseresse, choreograwe, gimnaste te werk.” Hierdie advertensie is ’n tipiese voorbeeld van dié wat sekshandelaars plaas om naïewe jong vroue in prostitusie te lok, sê The New York Times. Elke jaar gaan duisende Oekraïense en Russiese vroue na die buiteland in die hoop dat hulle hulle lewe finansieel kan verbeter. Maar wanneer hulle hulle buitelandse bestemmings bereik, word party se paspoorte deur kriminele “base” afgeneem en word hulle gedwing om in bordele te werk. As hulle sou weier, kan hulle geslaan, verkrag en grusaam vermoor word. Die Oekraïense sielkundige Ljoedmilla Birjoek, wat al vroue gehelp het wat uit sulke slawerny ontsnap het, sê: “Jy wil vir hierdie meisies sê: As iets te goed lyk om waar te wees, is dit gewoonlik die geval.”
Knieligte vir vlugtamheid?
Tot op hede is daar nog altyd aangeneem dat die mens se biologiese klok deur selle in die retina gereguleer word. ’n Nuwe studie toon egter dat mense nie net in hulle oë ligsensitiewe selle het nie, maar ook in ander liggaamsdele, berig die Franse koerant Le Quotidien du médecin. In ’n eksperiment wat navorsers in die Verenigde State gedoen het, is party vrywilligers blootgestel aan ’n helder lig wat deur ’n veseloptiese buis geskyn het en agter die knie vasgemaak was, terwyl ander, wat dieselfde apparaat gedra het, nie daaraan blootgestel is nie. Geeneen van die vrywilligers het geweet wie eintlik die ligbehandeling kry nie. Biologiese ritmes is gemeet op grond van die liggaamstemperatuur en vlakke van die hormoon melatonien. Die International Herald Tribune, wat ook oor die studie berig gelewer het, sê dat die etmaalritmes van diegene wat met die lig behandel is “met tot drie uur verander het”. Presies hoe dit gebeur, is nog nie bekend nie. Maar die resultate kan interessante toepassings hê in die behandeling van vlugtamheid, seisoensdepressie en slaapafwykings.