Van ons lesers
Mishandelde mans? Die berig “Mishandelde mans” in “Ons beskou die wêreld” (22 Julie 1993) het my omgekrap. “Mishandeling”, wat bloot mondelinge dreigemente insluit, is nie dieselfde as “liggaamlike geweld” wat kriminele geweld is nie. Wat die stelling betref dat ’n hoër persentasie vroue erken het dat hulle hulle aan mishandeling skuldig gemaak het, toon studies dat vroue eerliker is om sulke sake te erken as mans, wat geneig is om hulle dade te ontken.
K. K., Verenigde State
Ons waardeer hierdie opmerkings. Die berig onder bespreking vertel van ’n studie wat beweer dat 40 persent van die vrouens erken het dat hulle hulle man mishandel, terwyl 26 persent van die mans erken het dat hulle hulle vrou mishandel. Soos ons berig egter erken het, het die studie ’n breë definisie van “mishandeling” gebruik en dit nie tot liggaamlike geweld beperk nie. Die opskrif van ons berig was dus ietwat misleidend. Wat die vorm van mishandeling betref wat die algemeenste voorkom, het ons nommer van 8 Februarie 1993 uit die tydskrif “Parents” aangehaal: “Meer as 95 persent van die aangemelde gevalle van [ernstig] mishandelde huweliksmaats is gevalle waar ’n man ’n vrou slaan.”—RED.
Reuk Ek het altyd gedink dat as ek een van my sintuie moes verloor, ek sou verkies het dat dit my reuksin moet wees. Maar nadat ek julle artikel “Ons veelsydige reuksin” (22 Julie 1993) gelees het, het ek my bedenkinge gehad. Julle artikels oor ons wonderlike menseliggaam help my altyd om my liefde vir Jehovah te vergroot.
D. H., Trinidad
Brille Dankie dat julle die artikel “’n Kykie na brille” (8 Julie 1993) gepubliseer het. Dit het goeie raad bevat. Voordat ek die artikel gelees het, het ek die slegte gewoonte gehad om my bril op sy lense neer te sit. Dit het altyd vol krapmerke geraak. Ek het kontaklense probeer, maar hulle het my duiselig laat voel. Ek sal julle raad dus beslis toepas, aangesien ek nie anders kan as om bril te dra nie!
T. C., Italië
Nierstene Ek skryf om julle te bedank vir julle tydige artikel “Nierstene—Hoe ’n ou kwaal behandel word” (22 Augustus 1993). Kort nadat ek my eksemplaar in die pos gekry het, het ek uitgevind dat ek nierstene het. Danksy julle artikel kon ek my siekte beter verstaan en my op my operasie voorberei.
V. T., Verenigde State
Rassisme Net ’n briefie om julle te bedank vir daardie wonderlike artikels “Sal alle rasse ooit verenig wees?” (22 Augustus 1993). Ek dink dat julle hierdie netelige onderwerp op ’n uitstekende wyse hanteer het. Dit is taktvol saamgestel; tog het julle niemand, maar absoluut niemand, enige verskoning gegee om hom op selfsugtige wyse aan die afstootlike siekte van rassisme oor te gee nie.
D. G., Verenigde State
Voormalige priester Dankie dat julle die ondervinding gepubliseer het van Alinio de Santa Rita Lobo: “Waarom ek die priesteramp vir ’n beter bediening verlaat het” (8 September 1993). Dit was ’n verhaal van ontdekking—en deur iemand wat op akademiese gebied baie bereik het. In ons bediening as Jehovah se Getuies bou ons dikwels stelselmatig ’n begrip van die waarheid op. Maar in hierdie geval het iemand dit andersom gedoen—hy het valse leerstellings een vir een blootgelê en die waarheid van kerktradisies geskei. Dit was baie geloofversterkend.
B. C., Verenigde State
Emigrasie Baie dankie vir die artikel “Jongmense vra . . . Moet ek na ’n welvarender land trek?” (22 April 1993). Ek het altyd gedink ’n mens móét verhuis as jy vooruitgang wil maak. Ek het nou geleer dat dit ’n baie ernstige besluit is en dat baie faktore in aanmerking geneem moet word. Daardie artikel het my ook geleer om my ware behoeftes te ken en dat die dinge wat ons werklik nodig het om gelukkig te wees in enige land gevind kan word.
M. R., Dominikaanse Republiek