Ons beskou die wêreld
‘’n Bron van groot smart vir die Kerk’
Tydens pous Johannes Paulus II se oudiënsie met die biskoppe van Oos-Kanada het hy aandag gegee aan die seksuele molestering waaraan priesters hulle skuldig maak. Volgens die berig in die L’Osservatore Romano het die pous vir die Kanadese prelate gesê dat “die skandaal wat veroorsaak is deur daardie geestelikes en lede van godsdiensordes wat in hierdie opsig gefaal het vir die Kerk in Kanada ’n bron van groot smart is”. Hy het ook gesê dat hy gebid het “vir diegene wat slagoffers van seksuele wangedrag was, sowel as vir diegene wat daaraan skuldig is”. Party meen dat die afskaffing van die verpligte selibaat vir priesters kan bydra tot ’n afname van skandale wat met seksuele molestering deur priesters verband hou en dat dit ook ’n einde kan maak aan “die skaarste aan of onegalige verspreiding van priesters” waarvan die pous gepraat het. Maar volgens pous Johannes Paulus II “is die struikelblokke wat dit vandag moeilik maak om die selibaat gestand te doen nie genoegsame rede om die Kerk se oortuiging van die waarde en gepastheid van die selibaat te laat vaar nie”.
Waarom dwelmverslawing?
“Baie mense meen dat die hedendaagse farmakologie ’n pilletjie vir elkeen van ons probleme het. As iemand nie kan slaap nie, neem hy ’n pilletjie. As hy sy werkverrigting wil verbeter, neem hy nog een”, verduidelik Sao Paulo se polisiehoof, Alberto Corazza, wat in die Brasiliaanse tydskrif Veja aangehaal word. “Dit is logies dat so ’n lewenswyse jongmense beïnvloed.” Hy voeg by: “Tagtig persent van die dwelmverslaafdes het ernstige gesinsprobleme. Hulle gesinslewe was baie onderdrukkend of baie permissief of hulle het in ’n huis sonder ’n pa grootgeword.” Maar hoe kan ouers jongmense teen dwelms beskerm? Alberto Corazza sê: “Dit klink dalk vergesog, maar in ’n goedgebalanseerde huisgesin waar daar liefde vir die kinders en kommunikasie is, sal dwelms min of geen plek hê nie.”
“Die gewelddadigste land”
“Amerika is die gewelddadigste land ter wêreld”, skryf rubriekskryfster Ann Landers. “Gedurende 1990 is 10 mense in Australië met handgewere om die lewe gebring, 22 in Groot-Brittanje, 68 in Kanada en 10567 in die Verenigde State.” Dit is ook die land wat die swaarste gewapen is. Sy burgers het meer as 200 miljoen vuurwapens—byna een vir elk van die 255 miljoen inwoners. Skole is nie van die geweld gevrywaar nie. Bykans 20 persent van alle hoërskoolleerlinge dra die een of ander wapen. Jaarliks kom ongeveer driemiljoen misdade op of naby skoolterreine voor. Daar word daagliks 40 onderwysers aangerand, en omtrent 900 word met aanranding gedreig. Volgens die Nasionale Onderwysvereniging neem 100 000 leerlinge daagliks handgewere skool toe, en op ’n tipiese dag sal 40 kinders met vuurwapens doodgeskiet of gewond word. “Ons het ’n buitengewone verdraagsaamheid jeens geweld en skole is bloot ’n weerspieëling daarvan”, sê John E. Richters van die Nasionale Instituut vir Geestesgesondheid. Een Engelse onderwyser wat voorheen daarin kon slaag om net 10 persent van sy matriekleerlinge ’n opstel te laat skryf, was 100 persent suksesvol toe hy hulle oor die onderwerp “My geliefkoosde wapen” laat skryf het.
Kerkdilemma
Biskoppe van Wes-Kanada het die Vatikaan gevra om die kerk se selibaatbeleid te wysig en toe te laat dat getroude priesters die inboorlingbevolkings in die Noordwestelike Gebiede besoek. Die biskoppe meen dat kulturele beskouings, sowel as die skaarste aan priesters in die noordelike streke, hulle versoek regverdig. The Toronto Star berig: “Biskop Denis Croteau sê dat die Innuïte en die Déné in hulle kultuur ’n beginsel oor die gesinslewe het waarvolgens ‘jy nie ’n leier is en mense nie na jou sal luister nie’ tensy ’n man getrou het, kinders grootgemaak en ’n oudste geword het.” Hoewel pous Johannes Paulus II en ander amptenare van die Vatikaan aan die biskoppe se versoek aandag geskenk het, sal die beleid nie verander nie. Volgens die Star het kardinaal Jozef Tomko, hoof van die Vatikaan se Gemeente vir die Evangelisasie van Volke, sy vrees uitgespreek dat “’n uitsondering in Kanada die brandpunt van mediabelangstelling sal word en die sluise van versoeke in Afrika, Suid-Amerika en elders sal oopmaak”.
Depressie neem toe
“Twaalf onafhanklike studies wat onderhoude met altesaam 43 000 mense in nege lande insluit, het vroeëre Amerikaanse navorsing gestaaf deur te toon dat die gevalle van major depressie gedurende die 20ste eeu in die meeste wêrelddele geleidelik toegeneem het”, sê The Harvard Mental Health Letter. Ná die verdeling van proefpersone “in groepe wat gegrond is op die dekade waarin hulle gebore is, van voor 1905 af tot ná 1955”, het byna elke studie getoon dat “mense wat later gebore is in alle waarskynlikheid op die een of ander tydstip in hulle lewe ernstig depressief was”. Die meeste studies het ook getoon dat major depressie deur die eeu heen geleidelik toegeneem het.
Hou kinders gesond
“Die groei van meer as 230 miljoen kleuters in die ontwikkelende wêreld, of 43 persent, word belemmer weens wanvoeding wat aan ’n gebrek aan voedsel sowel as aan siekte te wyte is”, sê ’n VN-persverklaring. Gedurende 1993 het ’n geraamde viermiljoen kinders weens wanvoeding gesterf, hetsy regstreeks of omdat dit die effek van aansteeklike siektes vererger het. Wat is die oplossing hiervoor? Die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel aan dat “alle babas van geboorte af tot op 4-6 maande uitsluitlik met borsmelk gevoed moet word. Daarna moet kindertjies steeds geborsvoed word terwyl hulle geskikte en voldoende aanvullende voedsel tot op 2 jaar en ouer kry.” Moeders en diegene wat gesondheidsorg voorsien, word aangespoor om nie die groeipatrone van babas wat geborsvoed word verkeerdelik as onbestendig te beskou en hulle te vroeg ander kos te gee nie. Dit kan vir die babas gevaarlik wees en kan tot wanvoeding en siekte bydra, veral waar die nuwe kos besmet is en onvoldoende voedingswaarde het.
Hedendaagse slawerny
Hoewel die Universele Verklaring van Menseregte sê dat “niemand in slawerny gehou sal word nie”, is daar nogtans honderdmiljoene mense wat slawe is. Die tydskrif UN Chronicle toon dat die aantal mense wat vandag soos slawe behandel word in werklikheid meer is as die aantal slawe gedurende die 16de tot die 18de eeu, wat “die hoogtepunt van die era in die slawehandel” was. Een verontrustende aspek van hedendaagse slawerny is dat baie slagoffers kinders is. Kinders van sewe tot tien jaar oud swoeg van 12 tot 14 uur per dag in fabrieke. Ander sloof hulle af as bediendes, prostitute of soldate. “Daar is ’n groot aanvraag na kinderarbeid”, berig die VN se Sentrum vir Menseregte, “want dit is goedkoop” en kinders is “te bang om te kla”. Volgens die VN bly slawerny ’n wrede “hedendaagse werklikheid”.
Resep vir vetsug
Die aantal ure per dag wat kleuters televisie kyk, hou regstreeks verband met ’n toename in liggaamsvet gedurende latere kinderjare, sê dr. Munro Proctor wat aan die Mediese Fakulteit van die Universiteit van Boston verbonde is. Dr. Proctor het ’n vier jaar lange studie gemaak van 97 kleuters, wat aan die begin van die studie tussen die ouderdomme van drie en vyf was. Die ouers het daagliks aangeteken hoeveel ure hulle kinders televisie gekyk het, en die velplooie oor die hele liggaam is jaarliks gemeet. Volgens die verslag in The Medical Post van Kanada “het elke kind daagliks gemiddeld twee uur voor die TV deurgebring. Vir elke bykomende uur per dag wat hulle TV gekyk het, was daar ’n toename van 0,8 mm in velplooiverandering van die triseps en ’n toename van 4,1 mm in die totale velplooiverandering.” Dr. Proctor kom tot die slotsom dat televisiekykery tot verminderde liggaamsbedrywigheid en laer metaboliese tempo’s lei en dat dit kinders blootstel aan advertensies van kos met ’n hoë kilojoule-inhoud wat verorber word terwyl hulle onaktief is.
Vakansie-eiland
“Die [Wêreldbank] en die [Internasionale Geldfonds] het ’n versoek tot die regering gerig om Sri Lanka se vakansiedae te verminder, tans 174 dae uit die 365, wat moontlik ’n wêreldrekord is”, sê The Economist. “Hoe kan ’n land vooruitgang maak as sy inwoners byna die helfte van die jaar met vakansie is?” Die baie vakansiedae weerspieël Sri Lanka se vermenging van rasse en godsdienste. Buiten die 5 sekulêre vakansiedae is daar 20 godsdiensvakansiedae vir die Boeddhiste, Hindoes, Moslems en Christengelowe. Staatsamptenare kry jaarliks 45 bykomende vakansiedae—wat ook in baie privaatondernemings die geval is. Tog groei Sri Lanka se ekonomie steeds. “Die landbou is die middelpunt van die ekonomie en is van die twee moesons afhanklik wat gedurende die verbouingseisoene op die eiland ervaar word”, sê The Economist. “Moesons gaan nie met vakansie nie.”
Loop onder die invloed van drank
“Drink en bestuur gaan nie saam nie”, sê die advertensies, en diegene wat onder die invloed van drank bestuur, word swaar gestraf. Hoewel die meeste aandag tot dusver op dronk bestuurders gevestig is, is daar min aandag geskenk aan die probleem van mense wat drink en loop. Volgens die Administrasie vir Verkeersveiligheid op Nasionale Hoofweë is 5546 voetgangers gedurende 1992 in die Verenigde State deur motors doodgery, en meer as ’n derde van hierdie voetgangers was dronk. Hulle is vir 14 persent van die noodlottige, voertuigverwante ongelukke verantwoordelik. Ongeveer 36 persent van diegene wat oor 14 jaar was, het ’n bloedalkoholvlak gehad wat hoog genoeg was om hulle vir dronkbestuur aan te kla as hulle ’n motor sou bestuur het. Daar is tans nie veel bekend oor hoe hierdie sterfgevalle voorkom kan word en wie in die grootste gevaar verkeer nie.