Jong mense vra . . .
Kan dit my werklik kwaad doen om gom te snuif?
“DIS fantasties—dis net soos om na tekenprente te kyk.” Dit is die woorde van Sweta, ’n 13-jarige meisie van Moskou, Rusland.a Maar Sweta is nie besig om liries te raak oor die jongste rolprent of video nie. Sy beskryf haar ondervinding met ’n vorm van dwelmmisbruik wat onder duisende jongmense regoor die wêreld gewild is—die gebruik om gom te snuif.
Maar gom is net een van baie stowwe wat deur sommige jongmense gesnuif word. Die tydskrif Young People Now sê byvoorbeeld met betrekking tot Brittanje dat lugverfrissers, sigaretaanstekergas en “20 tot 30 ander algemene huishoudelike produkte . . . misbruik” word. Dit sluit “spuitmiddels vir pynverligting, meubelpolitoere en lekband-reparasiestelle” in. Sommige jongmense snuif dan selfs die dampe van brandblussers! Dit is dus noukeuriger om, soos sommige deskundiges, van hierdie skadelike maar gewilde gewoonte te praat as “oplosmiddelmisbruik” of die “misbruik van vlugtige stowwe”.
Of mense nou gom of meubelpolitoer snuif, hulle wil dieselfde uitwerking hê. Volgens een bron wil hulle “dieselfde bedwelming ervaar wat deur alkohol teweeggebring word”. Oplosmiddels is goedkoop en is makliker verkrygbaar as sterker dwelmmiddels, soos kokaïen. Brittanje se tydskrif New Scientist het dus berig: “Oplosmiddels is weer eens die dwelmmiddel van mense wat arm, jonk en sonder heenkome is: die straatkinders van Guatemala en die inwoners van reservate in Noord-Amerika, sowel as die jongmense in Brittanje se tehuise en herberge waar haweloses oornag.” Party deskundiges meen dat 1 uit 10 tienderjarige meisies en seuns in Brittanje al oplosmiddels gesnuif het. En die gevolge is alles behalwe onskadelik.
Die boekie Drug Misuse verduidelik dat die “oplosmiddeldampe wat ingeasem word deur die longe geabsorbeer word en die brein vinnig bereik”. Oplosmiddels tas die sentrale senustelsel aan en kan, soos alkohol, ’n tydelike gevoel van euforie tot gevolg hê. In sommige gebruikers kan dit selfs tot ’n verskeidenheid kortstondige hallusinasies lei—en hulle is nie almal so aangenaam soos dié wat vroeër deur Sweta beskryf is nie. “Ek het baie rotte gesien”, sê ’n jong man met die naam David wat op 14 gom gesnuif het. “Daar was duisende van hulle—kleintjies wat uit die groteres gekom het. Ek het gedink hulle eet my vriend op.” ’n Jong Japannese man met die naam Kazoehiko, wat op 17 gom begin snuif het, sê: “Ek het die grond sien oopskeur en gediertes het my bestorm.”
Waarom vind sommige jongmense dit dan so aanloklik om oplosmiddels te snuif? Lee, wat gom begin snuif het toe hy 13 was, sê: “Die rede waarom mense dit doen, is hoofsaaklik om van die werklikheid te ontvlug.” Ja, sommige jongmense misbruik oplosmiddels om van hulle probleme te vergeet. Ander hunker na die opwinding; hulle meen dat ’n angswekkende hallusinasie soos ’n vermaaklike gruwelrolprent is. “Ander redes”, sê Ierland se Gesondheidsdepartement, “sluit nuuskierigheid in, sowel as portuurdwang, pogings om aanvaar te word en om vir ’n lae selfbeeld en gevoelens van onbekwaamheid te vergoed.”
Skielike dood
Wat die aantrekkingskrag ook al mag wees, om oplosmiddels te snuif, is ’n dodelike gewoonte! In 1990 het dit 149 sterfgevalle in Brittanje tot gevolg gehad, en soms kan dit binne slegs ’n paar minute tot die dood lei. Dit word “skielike inhaleringsdood” genoem. Rachel het byvoorbeeld die gewoonte gehad om korreksievloeistof op haar mou uit te gooi en dit gedurende skooltyd te snuif. Op ’n dag het sy dit gesnuif terwyl sy met die bus gery het. Sy het van die bus afgeklim en neergeval. Sy het vir ’n oomblik opgestaan en weer inmekaargesak—dood! Rachel was 15.
Wat veral skrikwekkend is, is die feit dat oplosmiddels jou dood kan veroorsaak die heel eerste keer dat jy hulle misbruik! Re-Solv, ’n Britse liefdadigheidsorganisasie wat gestig is om oplosmiddelmisbruik te bekamp, berig dat “18% van alle sterfgevalle weens oplosmiddelmisbruik tussen 1971 en 1989 plaasgevind het onder mense wat dit vir die eerste keer misbruik het”. Die jongste wat gesterf het, was net nege jaar oud. Net soos in die geval van alkoholmisbruik kan daar ook gesê word dat oplosmiddelmisbruik ‘soos ’n slang pik en soos ’n kobra gif spoeg’.—Spreuke 23:32, NAV.
Mense wat oplosmiddels snuif, kan ook sterf weens ongelukke wat plaasvind terwyl hulle onder die invloed daarvan is. Sommige het van geboue afgeval of verdrink. Ander het hulle bewussyn verloor en aan hulle eie vomeersel verstik. Party het selfs gesterf omdat hulle met ’n plastieksak oor hulle kop gesnuif het; hulle was te bedwelmd om die sak af te haal en het versmoor. En ander weer het doodgebrand toe die oplosmiddels vlam gevat het.
Liggaamlike besoedeling en ander gevare
Hoewel nie almal sulke verreikende gevolge ondervind nie, skryf een deskundige: “Die gewoontemisbruiker weet dat hy sy liggaam ‘besoedel’ en hy ondervind borspyn, verloor sy ewewig, ly aan hoofpyn, geheueverlies en ’n menigte ander simptome wat hy baie selde erken.” Lee (wat vroeër aangehaal is) sê: “Ek het die kwaaiste hoofpyn gekry wat ek al ooit in my lewe gehad het.” Die organisasie Re-Solv sê dat die snuif van oplosmiddels ook die niere en lewer kan beskadig, die verstand kan aantas en depressie tot gevolg kan hê.
Dan is daar die sedelike gevare. Sommige wat oplosmiddels snuif, het diewe geword om vir hulle gewoonte te betaal. Of daar is die geval waaroor Japan se Daily Yomiuri berig het: “Een van die drie jeugdiges wat weens die moord op ’n tienderjarige meisie aangekla is, [het gesê] dat hy geen skuldgevoel gehad het terwyl hy die meisie doodgemaak het nie omdat hy op daardie tydstip onder die invloed van [oplosmiddels] was.”
Oplosmiddelmisbruik kan uiteindelik daartoe lei dat ’n mens emosioneel afhanklik van die middels word—verslawing. “Sowat 10% van diegene wat oplosmiddels misbruik het, het chroniese misbruikers geword”, sê Skotland se Glasgow Herald. Dit kan ’n mens se emosionele en geestelike groei net belemmer. Dink gerus na oor die Bybel se woorde in 1 Korinthiërs 14:20: “Moenie kinders wees in die verstand nie, maar . . . wees volwassenes in die verstand.” Hoe bereik ’n mens in hierdie opsig volwassenheid? Die Bybel verduidelik in Hebreërs 5:14: “Vaste voedsel behoort by volwasse mense, by dié wie se waarnemingsvermoëns deur gebruik geoefen is om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is” (NW). Die verslaafde ontwikkel nie sy waarnemingsvermoëns nie. Pleks van sy probleme onder die oë te sien, probeer hy daaraan ontvlug deur in ’n toestand van verdowing te verkeer wat deur dwelms teweeggebring word. Volgens die tydskrif Young People Now word jongmense wat oplosmiddels chronies misbruik “as tienderjariges vasgekeer—hulle kan nie tot volwassenheid ontwikkel nie”.
Moet dit nie probeer nie!
Jy weet moontlik van sommige van jou portuurs wat al probeer het om oplosmiddels te snuif, en dit is net natuurlik om nuuskierig te wees. Maar die Bybel sê: “Laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Korinthiërs 7:1). Waarom iets probeer wat jou liggaam verontreinig of wat veroorsaak dat jy selfs tydelik beheer oor jou verstand verloor? Die raad uit God se Woord is dat ons “nugter van verstand” moet bly (1 Thessalonicense 5:6, NW). Pleks dat ’n Christen sy kosbare denkvermoë besoedel, sal hy verstandig wees en dit bewaar.—Spreuke 2:11, NW; 5:2, NW.
Kazoehiko sê: “Ek is spyt ek het ooit met die gewoonte begin.” Lee stem saam en sê: “Dis dwaas. Dis ’n baie, baie gevaarlike ding om te doen.” Jy kan jou baie pyn en verdriet spaar deur in die eerste plek nie eers te probeer om oplosmiddels te snuif nie. Doen wat die Bybel sê: “’n Verstandige mens sien onheil kom en vermy dit; onervare mense loop oop oë daarin en boet daarvoor.”—Spreuke 22:3, NAV.
Maar dit is miskien nie so maklik om hierdie raad toe te pas nie. Daar word gesê dat “portuurdwang” een van die algemeenste redes is waarom jongmense in oplosmiddelmisbruik verstrik raak. “My broer het gesê dis lekker om gom te snuif”, sê jong David. “My vriende het gesê ek moet dit probeer”, voeg Kazoehiko by. Ja, dit is soos 1 Korinthiërs 15:33 sê, “slegte gesprekke bederf goeie sedes”. Maar waarom toelaat dat portuurs jou lewe verwoes? Jehovah God, ons hemelse Vader, maan: “My seun, as die sondaars jou wil verlei, moet jy nie inwillig nie.”—Spreuke 1:10.
Wees verstandig, en vertel jou ouers as ander druk op jou uitoefen om dwelms te gebruik. Hulle kan help om jou te versterk in jou besluit om nee te sê. Jy word dalk andersyds in die versoeking gebring om die snuif van oplosmiddels te probeer omdat jy voel dat jy onder druk verkeer of dat probleme te veel vir jou is. As jy spanning wil verlig, is dit baie beter om met jou ouers of met ’n ander empatieke, ryp volwassene oor jou probleme te gesels. Jy het leiding nodig, nie ’n ontvlugting deur dwelms nie. Jy kan ook van die voorsiening van gebed gebruik maak om jou probleme die hoof te bied. “Vertrou altyd op [God]”, sê die psalmis. “Stort julle hart voor Hom uit!”—Psalm 62:9, NAV.
Dit lyk miskien opwindend om oplosmiddels te snuif, maar dit sal nie jou probleme oplos nie. Trouens, dit kan jou lewe verwoes. Wees wys. Moet dit nooit probeer nie.
[Voetnoot]
a Party van die name is verander.
[Prent op bladsy 13]
Moenie toelaat dat portuurdwang jou in ’n dodelike gewoonte laat verval nie