‘Ek het nie goud nie, maar diamante gevind’
SOOS VERTEL DEUR MICHALIS KAMINARIS
Ná vyf jaar in Suid-Afrika, waarheen ek gegaan het op soek na goud, was ek op pad terug huis toe met iets baie waardevoller. Laat ek julle vertel van die skat wat ek nou besit het en graag met ander wou deel.
EK IS in 1904 op die Griekse eiland Kefallinía in die Ioniese See gebore. Kort daarna is albei my ouers oorlede, en ek het gevolglik as ’n weeskind grootgeword. Ek wou baie graag hulp hê en het dikwels tot God gebid. Hoewel ek na die Grieks-Ortodokse Kerk toe gegaan het, het ek absoluut niks van die Bybel geweet nie. Ek het geen vertroosting gevind nie.
In 1929 het ek besluit om te emigreer en na ’n beter lewe te soek. Ek het my barre eiland verlaat en via Engeland na Suid-Afrika gevaar. Ná 17 dae op see het ek in Kaapstad, Suid-Afrika, aangekom waar ek onmiddellik deur ’n landgenoot in diens geneem is. Ek het egter nie vertroosting in materiële rykdom gevind nie.
Iets kosbaarder
Ek was omtrent twee jaar in Suid-Afrika toe een van Jehovah se Getuies my werkplek besoek en vir my Bybellektuur in Grieks aangebied het. Dit was onder meer die boekies Waar is die dode? en Oorheersing, wanneer sal dit eindig? Ek kan nog goed onthou met watter ywer ek dit gelees het, en ek het selfs al die tekste wat aangehaal is uit die hoof geleer. Eendag het ek vir ’n kollega gesê: “Ek het gevind waarna ek al hierdie jare gesoek het. Hoewel ek Afrika toe gekom het vir goud, het ek nie goud nie, maar diamante gevind.”
Ek was absoluut verheug om te leer dat God ’n persoonlike naam, Jehovah, het, dat sy Koninkryk reeds in die hemel opgerig is en dat ons in die laaste dae van hierdie stelsel van dinge leef (Psalm 83:18, NW; Daniël 2:44; Matteus 6:9, 10; 24:3-12; 2 Timoteus 3:1-5; Openbaring 12:7-12). Hoe opwindend was dit tog nie om uit te vind dat Jehovah se Koninkryk eindelose seëninge vir mense van alle rasse gaan bring nie! Nog ’n feit wat my beïndruk het, is dat hierdie kosbare waarhede wêreldwyd verkondig word.—Jesaja 9:5, 6; 11:6-9; Matteus 24:14; Openbaring 21:3, 4.
Dit was nie lank nie of ek het die adres van die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Kaapstad opgespoor en nog Bybellektuur bekom. Ek was veral oorstelp van vreugde toe ek my eie Bybel gekry het. Wat ek gelees het, het my so geraak dat ek dit vir ander wou vertel. Ek het begin deur Bybelpublikasies na my familie, vriende en kennisse in my tuisdorp Lixoúrion te stuur. Uit my studie het ek mettertyd besef dat ’n mens jou lewe aan Jehovah moet toewy as jy hom wil behaag. Ek het dit dus onmiddellik in gebed gedoen.
By een geleentheid het ek ’n vergadering van Jehovah se Getuies bygewoon, maar omdat ek nie Engels kon praat nie, het ek nie ’n woord verstaan nie. Toe ek uitvind dat daar baie Grieke in Port Elizabeth woon, het ek daarheen verhuis, maar ek kon geen Griekssprekende Getuies vind nie. Ek het gevolglik besluit om terug te gaan Griekeland toe om ’n voltydse evangeliedienaar te word. Ek onthou hoe ek by myself gesê het: ‘Ek sal teruggaan Griekeland toe, selfs al moet ek halfnaak daar aankom.’
Voltydse diens in Griekeland
In die lente van 1934 was ek aan boord van die Italiaanse oseaanskip Duilio. Ek het in Marseille, Frankryk, aangekom, en nadat ek tien dae daar deurgebring het, het ek na Griekeland vertrek aan boord van die passasierskip Patris. Terwyl ons op see was, het die skip meganiese probleme gehad, en gedurende die nag is die bevel gegee om die reddingsbote in die see te laat sak. Toe het ek gedink aan my gedagtes om selfs halfnaak in Griekeland aan te kom. ’n Italiaanse sleepboot het egter later daar aangekom en ons na Napels, Italië, gesleep. Uiteindelik het ons Piraiévs (Piraeus), Griekeland, bereik.
Daarvandaan is ek na Atene waar ek die takkantoor van die Wagtoringgenootskap besoek het. In ’n gesprek met Athanassios Karanassios, die takopsiener, het ek ’n voltydse predikingstoewysing gevra. Die volgende dag was ek op pad na die Peloponnesos, in die suidelike deel van die vasteland van Griekeland. Hierdie hele streek is aan my toegewys as my persoonlike gebied!
Ek het vol vuur met die predikingswerk begin en van stad tot stad, dorp tot dorp, plaas tot plaas en afgeleë huis tot afgeleë huis gegaan. Kort voor lank het Michael Triantafilopoulos by my aangesluit, en hy het my in die somer van 1935 gedoop—meer as ’n jaar ná ek die voltydse bediening betree het! Daar was geen openbare vervoer nie, en ons het dus oral te voet gegaan. Ons grootste probleem was die teenstand van die geestelikes, wat enigiets sou doen om ons te laat ophou. Ons het gevolglik met baie vooroordeel te kampe gehad. Maar die getuieniswerk is ten spyte van die struikelblokke gedoen, en Jehovah se naam is wyd en syd bekend gemaak.
Ons verduur teenstand
Een oggend, terwyl ek velddiens gedoen het in die bergagtige streek van Arkadië, het ek in die dorpie Magouliana aangekom. Nadat ek ’n uur met die predikingswerk besig was, het ek kerkklokke gehoor en gou besef dat hulle vir my lui! ’n Oproerige skare het bymekaargekom onder leiding van ’n Grieks-Ortodokse argimandriet (’n hooggeplaaste geestelike wat in rang op ’n biskop volg). Ek het my velddienssak vinnig toegemaak en ’n stille gebed tot Jehovah gedoen. Die argimandriet, met ’n groot klomp kinders agter hom, het reguit op my afgeloop. Hy het begin skreeu: “Dis hy! Dis hy!”
Die kinders het ’n digte kring om my gevorm en die geestelike het vorentoe getree en my met sy groot maag begin stoot en gesê dat hy nie aan my wil vat nie, ‘ingeval ek besmet raak’. Hy het geskreeu: “Slaan hom! Slaan hom!” Maar net toe het ’n polisiebeampte opgedaag en ons albei na die polisiestasie geneem. Die geestelike is voor die hof gebring omdat hy ’n oproerige skare opgestook het en is ’n boete van 300 dragmas asook hofkostes opgelê. Ek is vrygelaat.
Wanneer ons in ’n nuwe gebied aangekom het, het ons ’n groter dorp die basis van ons bedrywighede gemaak, en daarvandaan het ons die hele gebied gedek wat binne ’n loopafstand van vier uur was. Dit het beteken dat ons in die oggend vertrek het terwyl dit nog donker was en weer in die donker terug huis toe gekom het, en ons het gewoonlik een of twee dorpies per dag besoek. Nadat ons die omliggende dorpies gedek het, het ons in die dorp wat as basis gedien het die predikingswerk gedoen en dan weer verder gegaan. Ons is dikwels in hegtenis geneem omdat die geestelikes die mense teen ons opgestook het. In die gebied van Parnassos, in die sentrale deel van Griekeland, het die polisie my maande lank gesoek. Hulle het my egter nooit opgespoor nie.
Eendag het ek en broer Triantafilopoulos predikingswerk in die dorpie Mouríki, in die streek van Beosië, gedoen. Ons het die dorpie in twee verdeel, en ek het die steil hange begin werk aangesien ek jonger was. Skielik het ek ’n skreeuery gehoor wat van onder af gekom het. Terwyl ek ondertoe gehardloop het, het ek by myself gesê: ‘Broer Triantafilopoulos word geslaan.’ Die dorpenaars het in die plaaslike koffiehuis bymekaargedrom, en ’n priester het soos ’n kwaai bul op en af geloop. “Hierdie mense noem ons ‘die saad van die Slang’”, het hy geskreeu.
Die priester het reeds ’n kierie op broer Triantafilopoulos se kop stukkend geslaan, en bloed het oor sy gesig afgestroom. Nadat ek die bloed afgevee het, kon ons wegkom. Ons het drie uur lank geloop tot ons in die stad Thebe aangekom het. Daar, in ’n kliniek, is die wond behandel. Ons het die voorval by die polisie aangemeld en ’n hofsaak is aanhangig gemaak. Die priester het egter invloedryke vriende gehad en is uiteindelik vrygespreek.
Terwyl ons in die dorp Leukas gewerk het, het die aanhangers van een van die politieke leiers van die gebied ons “in hegtenis geneem” en na die dorpie se koffiehuis geneem, waar ons in ’n straathof aangekla is. Die politieke leier en sy manne het om die beurt op en af voor ons geloop en aanhoudend teen ons uitgevaar en ons met gebalde vuiste gedreig. Hulle was almal dronk. Hulle tirades teen ons het van twaalfuur die middag tot sononder aangehou, maar ons het kalm gebly en bly glimlag terwyl ons ons onskuld betuig het en in ons hart tot Jehovah God om hulp gebid het.
Met sononder het twee polisiemanne ons gered. Hulle het ons na die polisiestasie geneem en ons goed behandel. Die politieke leier het die volgende dag gekom en, om sy optrede te regverdig, ons daarvan beskuldig dat ons propaganda teen die koning van Griekeland versprei. Die polisie het ons gevolglik na die dorp Lamia gestuur, vergesel van twee manne, vir verdere ondervraging. Ons is sewe dae lank aangehou en toe geboeid na die dorp Lárisa geneem om verhoor te word.
Ons Christenbroers in Lárisa, wat voor die tyd in kennis gestel is, het op ons koms gewag. Die groot toegeneentheid wat hulle teenoor ons betoon het, was ’n goeie getuienis vir die wagte. Ons prokureur, een van Jehovah se Getuies en ’n voormalige luitenant-kolonel, was ’n bekende in die dorp. Toe hy in die hof verskyn en ons saak bepleit het, is die klagtes teen ons as vals geopenbaar, en ons is vrygelaat.
Die algemene sukses van die predikingswerk van Jehovah se Getuies het tot verskerpte teenstand gelei. In 1938 en 1939 is wette gemaak wat proselitisme verbied het, en ek en Michael was by tientalle hofsake rakende hierdie geskil betrokke. Daarna het die takkantoor ons aangeraai om alleen te werk om minder aandag op ons bedrywighede te vestig. Dit was vir my moeilik om nie ’n metgesel te hê nie. Maar, met vertroue in Jehovah, het ek te voet die streke Attika, Beosië, Phthiotis, Euboea, Aetolia, Acarnania, Eurytania en die streek van die Peloponnesos gedek.
Iets wat my gedurende hierdie tydperk gehelp het, was die psalmis se pragtige woorde van vertroue in Jehovah: “Met U loop ek ’n bende storm, en met my God spring ek oor ’n muur. God is dit wat my met krag omgord en my weg volkome maak. Hy maak my voete soos dié van herte en laat my staan op my hoogtes.”—Psalm 18:30, 33, 34.
In 1940 het Italië oorlog teen Griekeland verklaar, en kort daarna het Duitse magte die land binnegedring. Krygswet is afgekondig, en die Wagtoringgenootskap se boeke is verbied. Dit was moeilike tye vir Jehovah se Getuies in Griekeland; hulle getalle het nietemin dramaties toegeneem—van 178 Getuies in 1940 tot 1770 teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog in 1945!
Diens by Bethel
In 1945 is ek genooi om by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Atene te dien. Bethel, wat “Huis van God” beteken, was toe in ’n huurhuis in Lombardoustraat geleë. Daar was kantore op die grondverdieping, en die drukkery was in die kelderverdieping. Dit het uit ’n klein pers en ’n afkantmasjien bestaan. Aanvanklik het net twee mense in die drukkery gewerk, maar weldra het ander vrywilligers elke dag van hulle huise af gekom om met die werk te help.
In 1945 is kontak met die Wagtoringgenootskap se hoofkwartier in Brooklyn, New York, herstel en daardie jaar het ons Die Wagtoring weer gereeld in Grieks begin druk. Toe, in 1947, het ons ons takkantoor na Tenedoustraat 16 verskuif, maar die drukkery het in Lombardoustraat gebly. Later is die drukkery van Lombardoustraat verskuif na ’n fabriek, sowat vyf kilometer daarvandaan, wat aan ’n Getuie behoort het. Ons het dus ’n ruk lank heen en weer tussen drie plekke geskarrel.
Ek kan onthou hoe ek ons woonkwartier in Tenedoustraat voor dagbreek verlaat het en na die drukkery gereis het. Ná ek tot 1:00 nm. daar gewerk het, het ek na Lombardoustraat gegaan waarheen die velle papier geneem is wat ons gedruk het. Daar is hulle in tydskrifte gevou, gestik en is die kante met die hand afgesny. Daarna het ons die voltooide tydskrifte na die poskantoor geneem, hulle na die tweede verdieping gedra, die werkers gehelp om dit te sorteer en die seëls op die koeverte geplak sodat dit gepos kon word.
Teen 1954 het die aantal Getuies in Griekeland tot meer as 4000 toegeneem, en groter fasiliteite was nodig. Ons het derhalwe na ’n nuwe drieverdieping Bethel in die middestad van Atene in Kartalistraat getrek. In 1958 is ek gevra om na die werk in die kombuis om te sien, en dit was tot 1983 my verantwoordelikheid. Ek is intussen, in 1959, met Eleftheria getroud, wat ’n lojale metgesel in Jehovah se diens is.
Ons verduur weer teenstand
In 1967 het ’n militêre junta bewind oorgeneem en is daar weer eens beperkings op ons werk geplaas. Maar as gevolg van ons vorige ondervinding in die hantering van verbooie op ons werk het ons gou aanpassings gemaak en ons werk suksesvol ondergronds voortgesit.
Ons het ons vergaderinge in privaat wonings gehou en ons bediening van huis tot huis omsigtig gedoen. Ons broers is nietemin gereeld in hegtenis geneem, en die hofsake het vermenigvuldig. Ons prokureurs was voortdurend druk besig om die hofsake te behartig wat in verskeie dele van die land gehou is. Ondanks die teenstand het die meeste Getuies bedrywig in die predikingswerk gebly, veral oor naweke.
Op ’n tipiese Saterdag of Sondag nadat ons in die bediening uit was, sou ons kyk wie van ons groep nie daar is nie. Gewoonlik was diegene wat afwesig was by die naaste polisiestasie aangehou. Ons het dan vir hulle komberse en kos geneem en hulle gaan bemoedig. Ons het ook ons prokureurs in kennis gestel, wat dan Maandag voor die aanklaer verskyn het om diegene wat aangehou is te verdedig. Ons het hierdie situasie met blydskap verduur omdat ons ter wille van die waarheid gely het!
Gedurende die verbod is ons drukkery by Bethel gesluit. Die huis waarin ek en Eleftheria in ’n voorstad van Atene gebly het, het gevolglik ’n soort drukkery geword. Eleftheria het afskrifte van Wagtoring-artikels op ’n swaar tikmasjien getik. Sy het 10 velle papier tegelyk in die tikmasjien gesit en moes baie hard daarop druk sodat die letters op al die velle kon deurslaan. Ek het dan die bladsye bymekaargesit en hulle aanmekaar gestik. Ons het dit elke aand tot middernag gedoen. Daar het ’n polisieman op die verdieping onder ons gebly, en ons wonder nou nog waarom hy nooit agterdogtig geword het nie.
Ons verheug ons in die voortgesette uitbreiding
In 1974 is demokrasie in Griekeland herstel, en ons predikingswerk is weer openliker gedoen. Ons het egter gedurende die sewe jaar waarin daar beperkings op ons werk was ’n wonderlike vermeerdering van meer as 6000 nuwe Getuies gehad, wat beteken dat ons ’n totaal van meer as 17 000 Koninkryksverkondigers bereik het.
Ons het ook ons gewone drukkersbedrywighede op die perseel van die takkantoor voortgesit. Die gevolg was dat die Bethelfasiliteite in Kartalistraat spoedig te klein geword het. ’n Stuk grond van een hektaar is derhalwe in die voorstad Marousi in Atene gekoop. Nuwe Bethelgeboue is opgerig wat 27 slaapkamers, ’n fabriek, kantore en ander fasiliteite ingesluit het. Dit is in Oktober 1979 toegewy.
Mettertyd het ons selfs meer ruimte nodig gehad. Twee-en-twintig hektaar grond is dus omtrent 60 kilometer noord van Atene gekoop. Die terrein is in Eleona, teen ’n heuwelhang met ’n uitsig oor berge en waterryke valleie. Daar het ons in April 1991 ’n baie groter fasiliteit toegewy met onder andere 22 wonings, wat elk agt mense kan huisves.
Ná meer as 60 jaar in die voltydse diens is ek nog steeds geseën met goeie gesondheid. Ek is bly om te sê dat ek “floreer gedurende die grysheid” (Psalm 92:14, NW). Ek is veral dankbaar teenoor Jehovah dat ek kon lewe om met my eie oë die wonderlike vermeerdering in die aantal ware aanbidders te sien. Die profeet Jesaja het so ’n vermeerdering voorspel: “Jou poorte sal altyddeur oopstaan; hulle sal bedags of snags nie gesluit word nie, om na jou toe aan te bring die rykdom van die nasies en hulle konings in triomftog.”—Jesaja 60:11.
Hoe wonderlik is dit tog om te sien hoe miljoene mense uit alle nasies na Jehovah se organisasie stroom en hoe hulle geleer word om deur die groot verdrukking en tot in God se nuwe wêreld behoue te bly! (2 Petrus 3:13) Ek kan eerlikwaar sê dat die voltydse bediening vir my kosbaarder is as enigiets wat hierdie wêreld kan bied. Ja, ek het nie skatte van goud gevind nie, maar geestelike diamante wat my lewe uitermate verryk het.
[Prente op bladsy 23]
Michalis en Eleftheria Kaminaris
(Regs) Die drukkery in Lombardoustraat