Kan die gesinslewe gelukkiger wees sonder TV?
IN FEBRUARIE vanjaar het die artikel: “Televisieloos: Party gesinne floreer sonder TV” in The Wall Street Journal verskyn. Die nuusblad het gesê: “Vir die handjievol Amerikaanse gesinne wat vir goed ’n einde aan televisiekykery maak, gaan die lewe voort—en boonop heeltemal gelukkig.”
Die uitwerking wat televisie op die gesin het, is ook onlangs bespreek by ’n reünie om die 40ste herdenking te vier van die eerste myl wat in minder as vier minute gehardloop is, deur Roger Bannister. Volgens Jim Ryun, ’n kampioenmylloper gedurende die sestigerjare, het hierdie onderwerp tydens ’n ete saam met Roger voor die Olimpiese Spele van 1968 ter sprake gekom.
“Ek en my vrou Anne was toe verloof”, het Jim Ryun verduidelik, “en Roger het ons dus vertel dat hy iets ontdek het wat werklik die gehalte van sy gesinslewe verbeter het. Ons was natuurlik gretig om te hoor wat dit was. Hy het gesê dat hy van sy televisie ontslae geraak het en dat dit hulle as ’n gesin meer tyd gegee het om saam te wees, te gesels en om saam te lees.”
Jim Ryun het vertel: “Wat hy gesê het, het ’n groot uitwerking op ons gehad. Ons het tot die volgende besef gekom: ‘Ons het nie werklik ’n TV nodig nie.’”
Baie mense het tot dieselfde gevolgtrekking gekom. Waarom? Weens die hipnotiserende uitwerking wat TV kan hê, veral op kinders. ’n Moeder in Maryland, VSA, het gesê wanneer sy haar babadogtertjie voor die TV borsvoed, sal die baba “haar kop skielik van my af wegdraai en strak na die skerm kyk. Ons het gedink, as sy dit op hierdie ouderdom reeds doen, wat sal sy doen wanneer sy ouer word?” Die gesin het gevolglik van hulle TV ontslae geraak.
As jy nie heeltemal van jou TV ontslae raak nie, is dit sekerlik verstandig om televisiekykery ten minste te beheer. Karen Stevenson, die eerste swart vrou wat ’n Rhodes-studiebeurs ontvang het om aan die Universiteit van Oxford in Engeland te studeer, het van haar jong dae gesê: “Televisiekykery was nie gedurende die week toegelaat nie. As daar iets [was] wat ons baie graag wou kyk . . . , moes ons die vorige Sondag met [ma] daaroor praat en daarvoor beplan.”
Wat van TV-kykery in jou gesin? Kan jy die waarde daarvan insien om dit te beperk of selfs ’n tyd lank glad nie TV te kyk nie?