Matresjka—Wat ’n pop!
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN RUSLAND
BESOEKENDE toeriste het my nog skaars gesien of die meeste van hulle lyk vasbeslote om my saam met hulle huis toe te neem, en hulle is bereid om hulle hand diep in die sak te steek. Ek weet werklik nie wat dit is wat hulle na my toe aantrek nie. Hulle weet dan so min van my. Miskien is dit net om in die mode te wees. Maar laat ek my aan julle voorstel. My naam is Matresjka, en ek kom van—maar laat ons liewer by die begin begin.
Eintlik weet niemand werklik waarvandaan ek gekom het of wie my ware ouers was nie. Die verhaal het twee weergawes. Party beweer dat ek van die Japannese eiland Honsjoe afkomstig is as ’n unieke speelding wat bestaan uit etlike dele wat inmekaarpas. Hulle sê dat ek teen die einde van die 19de eeu deur die vrou van ’n Russiese beskermheer genaamd Sawwa I. Mamontof (1841-1918) van Honsjoe na Rusland gebring is. Daarenteen was dit, volgens sekere Japannese, ’n Russiese monnik wat aanvanklik die idee om van my ’n buitengewone pop te maak na Japan toe geneem het. Maar wat ook al die geval is, Russiese handkunstenaars het van die idee gehou, en Matresjka is gebore.
Teen die einde van die 1880’s het Rusland sy ekonomie en kultuur ontwikkel. Terselfdertyd het die Russe groter belangstelling in die bewaring van hulle volksoorleweringe getoon. Met die doel om die Russiese kultuur te laat herlewe, het die intelligentsia Mamontof begin aanhang, wat beroemde Russiese skilders soos Ilia Repin, Viktor Vasnetsof en Mikhail Vroebel ingesluit het. Kunsateljees is naby Moskou gebou om herinneringe aan die Russiese boerestand te bewaar. Tradisionele artikels, speelgoed en poppe is uit alle dele van die land daar versamel.
’n Professionele kunstenaar met die naam Sergei Maljoetin het die eerste sketse van my gemaak, maar ek het toe ’n bietjie anders gelyk. Ek was veronderstel om ’n boeremeisie met ’n ronde gesig en stralende oë uit te beeld. Ek was geklee in ’n sarafan (’n kledingstuk wat tot op die grond hang en deur twee bandjies opgehou word), en ek het ’n netjiese haarstyl gehad terwyl my glansende hare grotendeels onder ’n kleurryke bandana weggesteek was. Ander poppe, wat elk kleiner as die vorige een was, is binne-in my gesit. Hulle was geklee in kosoworotkas (Russiese bloese wat aan die een kant vasgemaak is), hemde, poddjowkas (lang mansbaadjies) en voorskote. Dit is hoe ek volgens Sergei Maljoetin se sketse gelyk het toe ek in ongeveer 1891 in Moskou gemaak is.
Ek het dikwels oor my naam gewonder. Ek het uitgevind dat Matrena (verkleiningsvorm vir Matresjka) teen die einde van die 19de eeu een van die gewildste vrouename in Rusland was. Dit is van die Latynse grondwoord matrona afgelei wat “moeder”, “hooggeagte vrou” of “moeder van ’n gesin” beteken. Om een pop binne-in ’n ander een te sit, was ook ’n gepaste simbool van vrugbaarheid en voortbestaan.
Nie maklik om te maak nie
Dit is bekend dat mense in hulle pogings om my te maak al baie materiaal bederf en op die ou end die stryd gewonne gegee het. Dit is geen wonder nie, aangesien die kennis oor hoe ek gemaak word tot onlangs ’n geheim was. Slegs ’n paar mense kon my dus besit. Maar nou sal ek die geheim met julle deel.
Die werk wat daarby betrokke is om my te maak, vereis ware vaardigheid. Eerstens is dit belangrik om die regte soort hout te kies. Omdat lindehout sag is, word dit oor die algemeen gebruik; els- of berkehout word minder dikwels gebruik. Nadat die bome afgekap is, gewoonlik in die vroeë lente, word die grootste gedeelte van die bas afgestroop en word daar net genoeg aan die hout gelaat om te voorkom dat dit barste kry terwyl dit droog word. Die boomstompe word dan vir etlike jare op ’n stapel gelaat om behoorlike lugsirkulasie toe te laat terwyl dit droog word.
Die hout moet op die regte tyd gekap word; wanneer dit nie te droog of te vogtig is nie. Slegs ’n deskundige kan vasstel wanneer dit net reg is. Elke stuk hout ondergaan tot 15 afsonderlike prosesse. Die kleinste poppie in die reeks—die een wat nie uitmekaargehaal kan word nie—word eerste gemaak. Soms is dit so klein dat jy baie stip daarna moet kyk of selfs ’n vergrootglas moet gebruik om dit duidelik te kan sien.
As die kleinste poppie eers gemaak is, begin die handkunstenaar met die volgende pop waarin hierdie eerste pop sal pas. ’n Stuk hout word tot die nodige lengte verwerk en word in ’n boonste gedeelte en ’n onderste gedeelte gesny. Die onderste gedeelte van die pop word eerste gemaak. Dan word die hout binne albei gedeeltes van die tweede pop verwyder sodat die kleiner pop goed daarin sal pas. Terloops, ’n bedrewe handkunstenaar doen nie nog die moeite om die mate te neem nie, maar maak net op ondervinding staat. Daarna herhaal hy die proses en maak ’n effens groter pop waarin die twee vorige poppe sal pas.
Die aantal poppe wat inmekaarpas, wissel tussen 2 en 60. Die grootste pop kan so groot soos sy maker wees! Wanneer elke pop klaar is, word dit met ’n styselagtige gom bedek wat enige holtes op die oppervlakte toemaak. Die finale droogmaakproses begin en die pop word opgevryf totdat die oppervlakte glad is sodat die skilder die verf egalig kan versprei. Dan word die pop haar unieke styl gegee.
Tyd het veranderinge meegebring
Mense verander namate hulle ouer word, en dieselfde kan van my gesê word. Die kuns om Matresjkas te maak, het geleidelik van Moskou na ander stede en dorpe versprei, wat Semenof, Polkhowskii Maidan, Viatka en Twer insluit.a Elke plek het sy eie styl en vorm van versiering ontwikkel. Dit was ontstellend om my ware identiteit te verloor, maar ek het nie daaroor gekla nie. Gedurende die honderdjarige viering van die Oorlog van 1812 het iemand ’n stel poppe bestel wat die Russiese generaal Mikhail Koetoezof en die Franse generaal Napoleon Bonaparte moes uitbeeld. Hierdie twee generaals was die grootste poppe en die generaals wat in die oorlog teen mekaar geveg het, is kleiner gemaak om binne-in hulle onderskeie bevelvoerders te pas.
Daar is lank streng beheer uitgeoefen oor die vervaardiging en verkoop van hierdie soort poppe. Maar politieke veranderinge teen die einde van die tagtigerjare het handwerksmanne nuwe moontlikhede en vryhede gegee. Hulle kon nou hulle produkte sonder vrees maak en verkoop.
’n Skilder met die naam Sikorskii was een van die eerstes wie se poppe onder die publiek gewild geraak het. Sy poppe behaal die hoogste pryse, met individuele stelle wat tot R11 000 kos. Sy sukses het ander kunstenaars aangespoor, en gedurende die afgelope ses jaar is daar met hernieude ywer begin om Matresjkas te maak.
My naam, Matresjka, word nou gebruik vir alle poppe wat so gemaak word dat hulle inmekaarpas. Verskillende temas word uitgebeeld: blomme, kerke, ikone, volksverhale, familietemas, selfs godsdienstige en politieke leiers. Die groot verskeidenheid wat nou beskikbaar is, help om my prys heel billik te hou.
Ek het soos gewoonlik in die somer van 1993 in ’n winkel se toonkas in Moskou gestaan toe ek skielik die geluide hoor van ’n groep buitelandse toeriste wat nader kom. Ek het toevallig gehoor dat hulle iets sê van ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies wat hulle bywoon en dat elkeen van hulle, ter nagedagtenis van so ’n wonderlike geleentheid, my saam met hulle huis toe wil neem. Ek het hulle met groot oë aangestaar terwyl ek gewonder het waarom hulle dit wou doen. Asof dit ’n antwoord op my vraag was, het een van hulle gesê: “Sy is meer as net ’n aandenking. Ek wil hê my vriende moet haar oë sien. Ek sien in haar oë dieselfde uitdrukking as wat ek in die oë van die Russiese mense gesien het met wie ek gesels het oor die Koninkryk en God se naam soos dit in die Bybel aangetref word.”
Jehovah se Getuies? Die Koninkryk? God se naam? Die Bybel? My oë het al hoe groter geword terwyl ek geluister het, en my hart het ietwat vinniger geklop oor die vooruitsig om deur sommige van hierdie vriendelike mense na afgeleë plekke geneem te word. Miskien kan ek meer uitvind oor wat hulle in die eerste plek na Rusland toe gebring het. Ek is seker dit was meer as net om my, ’n pop met die naam Matresjka, te ontmoet.
[Voetnoot]
a Gedurende die dertigerjare het Viatka as Kirof en Twer as Kalinin bekend geword. Sedert die ontbinding van die Sowjetunie is die oorspronklike name teruggegee.