Hoe kon hulle dit doen?
HOE het mense die slawehandel geregverdig? Geskiedskrywers wys daarop dat min mense tot die 18de eeu die morele aanvaarbaarheid van slawerny bevraagteken het. Die boek The Rise and Fall of Black Slavery sê: “Toe Columbus onverwags op Wes-Indië afgekom het, het nóg die kerk nóg die geskrifte wat hulle aanvaar het die toekomstige koloniste ’n aanduiding gegee dat hulle gebruik van dwangarbeid as moreel onaanvaarbaar beskou kan word, al het enkele geestelikes wel hulle ontevredenheid te kenne gegee. . . . Daar was geen aanduiding dat die instelling van slawerny, wat ’n belangrike deel van die hele Europese samelewing uitgemaak het, bevraagteken moes word nie.”
Toe die transatlantiese handel in volle gang was, het baie geestelikes godsdienstige argumente ter ondersteuning van slawerny gebruik. Die boek American Slavery sê: “Protestantse geestelikes [in Amerika] het ’n leidende rol ter verdediging van slawerny gespeel . . . Waarskynlik was die algemeenste en doeltreffendste godsdienstige argument die eenvoudige bewering dat slawerny ’n deel van God se plan is om ’n volk wat tot op daardie tydstip heidens was aan die seëninge van die Christelike godsdiens bloot te stel.”
Maar die dikwels onmenslike en wrede behandeling wat die slawe ontvang het, het meer regverdiging nodig gehad as die voorwendsel dat hulle “die seëninge van die Christelike godsdiens” gebied is. Gevolglik het die koloniale eienaars asook die skrywers en filosowe in Europa hulleself oortuig dat swartes anders as blankes is. Edward Long, ’n boer wat later History of Jamaica geskryf het, het gesê: “Moet ons nie, wanneer ons na die aard van hierdie mense kyk en hoe anders hulle as die res van die mensdom is, tot die gevolgtrekking kom dat hulle ’n ander spesie is nie?” Die gevolge van so ’n denkwyse is deur die woorde van ’n goewerneur van Martinique weerspieël: “Ek het die punt bereik waar ek vas glo dat ’n mens Negers soos diere moet behandel.”
Uiteindelik het ekonomiese eiebelang en humanitêre oorwegings tot die beëindiging van die transatlantiese slawehandel bygedra. Slawe uit Afrika het hulle van die begin af teen slawerny verset, en teen die laat 18de eeu was opstande algemeen. Bang eienaars het gevind dat hulle situasie al hoe gevaarliker geword het. Die vraag het ook ontstaan of dit nie dalk goedkoper sou wees om, pleks van slawe te onderhou, arbeid te koop wanneer dit nodig is nie.
Morele, godsdienstige en humanitêre argumente teen slawerny het terselfdertyd toenemende steun in Europa en die Amerikas gevind. Bewegings vir die afskaffing van slawerny het sterk geword. Ondanks die wetlike afskaffing van die slawehandel in baie lande sedert die jaar 1807 het die gevolge van slawerny agtergebly.
’n Televisiereeks, The Africans: A Triple Heritage, het op ’n aangrypende wyse uiting gegee aan die gevoelens van die seuns en dogters van Afrika: “Lank voor die slawetyd het ons . . . in Afrika gewoon. En toe kom vreemdelinge en neem party van ons weg. Ons is vandag so wydverspreid dat die son nooit oor die kinders van Afrika ondergaan nie.” Die teenwoordigheid van miljoene mense uit Afrika in Noord- en Suid-Amerika, op die Karibiese Eilande en in Europa is ’n duidelike gevolg van die slawehandel.
Mense beredeneer steeds die vraag van wie die skuld vir die transatlantiese slawehandel dra. Basil Davidson, ’n kenner op die gebied van Afrikageskiedenis, skryf in sy boek The African Slave Trade: “Afrika en Europa was saam daarby betrokke.”
“Laat u koninkryk kom”
Daar kan iets hieruit geleer word—iets aangaande menseheerskappy. Die wyse man het geskryf: “Ek het al die onderdrukkende dade beskou wat onder die son gedoen is—en kyk! die trane van die onderdruktes, en hulle het geen vertrooster nie, en aan die kant van die onderdrukkers is mag.”—Prediker 4:1, Rotherham.
Dit is jammer dat daardie woorde, wat lank voor die begin van die Afrikaslawehandel geskryf is, vandag nog waar is. Die onderdruktes en onderdrukkers is nog met ons, en in party lande ook die slawe en hulle eienaars. Christene weet dat Jehovah binnekort, deur middel van God se Koninkryksregering, “die behoeftige [sal] red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie” (Psalm 72:12). Om daardie en ander redes hou hulle aan om tot God te bid: “Laat u koninkryk kom.”—Matteus 6:10.