Premenstruele sindroom—Mite of werklikheid?
Haar gedrag is wisselvallig en onvoorspelbaar. Die een oomblik is sy inskiklik; die volgende oomblik is sy stryerig. Sy uiter woorde van wanhoop. Ondanks jou blyke van vertroosting oorreageer sy op wat jy sê en doen. ’n Klein geskil sal waarskynlik uit verband geruk word en olie op die vuur wees. Ná ’n paar dae, of ná sowat ’n week, sal hierdie “ander” vrou skielik verdwyn en is sy weer haar ou self . . . maar nie lank nie.
NIE alle vroue ondergaan weliswaar sulke dramatiese luimveranderinge nie. Maar party vroue vind dat hulle net voor menstruasie begin as ’t ware ’n dubbele persoonlikheid ontwikkel. Wat veroorsaak sulke luimveranderinge? Is sulke gedrag werklik die gevolg van veranderinge gedurende die menstruele siklus?
Wat is PMS?
Volgens die American Journal of Psychiatry ly vroue moontlik aan PMS (premenstruele sindroom) as hulle “die sikliese voorkoms van simptome [ondervind] wat erg genoeg is om inbreuk op sekere aspekte van die lewe te maak” en as dit gereeld voor menstruasie voorkom. Hoewel daar geen laboratoriumtoetse is wat PMS kan diagnoseer nie, moet vroue met PMS ’n simptoomvrye fase van een of twee weke gedurende elke siklus ondervind. Volgens hierdie definisie reken dokters dat net 10 persent van vroue aan PMS ly.
Ander klinici het ’n ander siening van PMS. Hulle voer aan dat ’n groter persentasie vroue, tussen 40 en 90 persent, aan PMS ly. Hulle definieer die term sodat dit verskeie klagtes insluit, soos gewigstoename, uitputting, gewrigspyn, maagkrampe, migraine, prikkelbaarheid, borsteerheid, huilbuie, begeerte na kos en luimwisselinge. Meer as 150 simptome hou met PMS verband. Vroue, onder andere diegene wat nie meer menstrueer nie, kan enige of verskeie van hierdie simptome ondervind. Maar oor die algemeen ondervind ’n vrou PMS gedurende haar dertigerjare. Vir die meeste vroue is PMS-simptome ontstellend maar hanteerbaar. In hierdie artikel sal ons die aandag vestig op diegene wat aan minder ernstige PMS ly.
Nancy Reame, ’n navorser van die Universiteit van Michigan, het berig dat PMS in die Verenigde State as “’n algemene gesondheidsprobleem” beskou word, maar in ander lande is daar baie verskille wat die soort en ernstigheid van simptome betref. “Party vertel van baie meer noemenswaardige fisiese simptome, en ander kulture vertel van meer emosionele simptome”, het sy gesê. Nancy Reame, wat navorsing in China gedoen het, het die Chinese as ’n voorbeeld gemeld. “In die Chinese kultuur is dit onaanvaarbaar om emosionele simptome te hê.” Gevolglik, het sy gesê, sal vroue die aandag op krampe vestig wanneer hulle oor menstruele probleme uitgevra word.
Die begin van PMS
PMS is die eerste keer in 1931 deur dr. Robert T. Frank van New York bespreek in sy verhandeling “Die hormoonoorsake van premenstruele spanning”. Hy het vroue waargeneem wat aan uitputting, ’n gebrek aan konsentrasie en senuweespanning voor menstruasie gely het.
Katharina Dalton en Raymond Greene, Engelse geneeskundiges, het 22 jaar later ’n artikel in ’n mediese tydskrif gepubliseer waarin hulle die term “premenstruele sindroom” geskep het. Dr. Dalton het na PMS verwys as “die wêreld se algemeenste, en waarskynlik die oudste, siekte”. Haar bevindings oor die uitwerking wat PMS op ’n vrou se gedrag kan hê, is in 1980 bekend gemaak. Sy en ander dokters is ingeroep om twee Britse vroue te diagnoseer wat van moord aangekla is. Hulle teorie was dat ’n vrou se gedrag deur hormoonwisseling gedurende haar menstruele siklus beïnvloed kan word. Op grond van hulle diagnose van PMS is die moordaanklag in albei gevalle verminder. In een besluit het die verweerder ’n geringer aanklag van manslag gekry op grond van “verminderde toerekenbaarheid”.
Voorvalle waarin vroue vernietigend optree, soos in die voorafgaande geval, is blykbaar iets uitsonderliks. Die oorsaak van sulke gedrag en die minder ontstellende simptome wat die meeste vroue gedurende menstruasie ondervind, word steeds in mediese en niemediese tydskrifte bespreek.
Is sulke gedrag werklik die gevolg van sikliese hormoonwisseling in ’n vrou se liggaam? Of is die idee van rasende hormone en die onbeheerbare vroulike liggaam net ’n mite? Daar is nie eenstemmigheid oor watter uitwerking, indien enige, hormoonwisseling op ’n vrou se gedrag het nie. Baie navorsers en dokters stem saam dat ’n beter begrip van die interaksie tussen die brein en die ovariale hormone gedurende die menstruele siklus ’n sleutel is om te weet waarom party vroue aan PMS ly.
Die menstruele siklus
Omtrent een keer elke vier weke gaan ’n vrou se liggaam ’n hoogs ingewikkelde siklus van hormoonwisseling binne. Die woord “menstruasie”, waarna baie as die “vloek” verwys, kom van die Latynse mensis, wat “maand” beteken.
Om die siklus te begin, stuur die hipotalamus van die brein ’n boodskap na die pituïtêre klier. Wanneer die boodskap ontvang word, skei die pituïtêre klier FSH (follikel-stimulerende hormone) af. FSH beweeg deur die bloed na die eierstokke en sit die produksie van estrogeen aan die gang. Namate die estrogeen vermeerder, reageer die pituïtêre klier deur LH (luteïniserende hormone) uit te stuur. LH vertraag die afskeiding van FSH. Een eiersel word ryp en beweeg af na die baarmoeder. Nadat die eiersel vrygestel is, word die hormoon progesteroon afgeskei. As die eier nie bevrug word nie, daal die progesteroon- en estrogeenvlakke vinnig.
Sonder hormone om dit te ondersteun, degenereer die voering van die uterus, met bloed, vloeistof en ’n bietjie weefsel wat deur die vagina uitgeskei word. Dit neem omtrent drie tot sewe dae vir ’n vrou se uterus om die voering heeltemal af te werp, en dit beëindig een menstruele siklus. Wanneer een siklus eindig, skei die brein weer hormone af wat die begin van ’n nuwe siklus aankondig.
’n Hormonestryd?
Party voer aan dat ’n wanbalans van estrogeen en progesteroon premenstruele simptome in ’n vrou veroorsaak. Hulle beweer dat die hormone gewoonlik saamwerk om ’n volmaakte balans te verkry. Wanneer meer van die een as van die ander vervaardig word, vind daar ’n stryd plaas en word slagoffers in die vroulike liggaam agtergelaat.
Verhoogde estrogeenvlakke laat party vroue dalk prikkelbaar voel. In ander is daar meer progesteroon aanwesig, wat veroorsaak dat hulle terneergedruk en uitgeput voel.
Ander navorsers stem nie saam met die teorie dat ’n hormoonwanbalans PMS veroorsaak nie. Hulle voer aan dat sielkundige en maatskaplike faktore ’n groot rol daarin speel om premenstruele simptome in sekere vroue te veroorsaak. Patient Care sê, in ’n verslag oor die oorsake van PMS, dat “geen duidelike verskille in die patrone, verhoudings, hoeveelhede of tydsbepaling van gonadale hormone in vroue met of sonder ernstige PMS gevind is nie”.
Spanning kan byvoorbeeld PMS-simptome bespoedig, vertraag of vererger. Die boek PMS—Premenstrual Syndrome and You: Next Month Can Be Different sê: “Spanning onderdruk die vrystelling van hormone en ’n onvoldoende voorraad hormone kan tot die soort hormoonwanbalans lei wat PMS-simptome vererger.” Mediese, finansiële of gesinsprobleme lyk dalk erger en minder hanteerbaar voor menstruasie.
Die vrees vir stigmatisering
Party navorsers beweer dat ’n vrou as ’n minder ideale werker of besluitnemer beskou kan word as sy simptome openbaar wat met haar menstruasie verband hou. “Dis ’n manier waarop die samelewing vroue in hulle plek hou. As jy een keer per maand nie jouself is nie, beteken dit dat jy nie met hierdie ernstige, kragtige, betekenisvolle dinge besig behoort te wees nie”, sê Barbara Sommer, ’n sielkundige.
Ander navorsers beweer dat vroue PMS aanvaar het omdat dit hulle toelaat om die toestand as ’n verskoning vir hulle gedrag te gebruik. In ’n onderhoud in die tydskrif Redbook sê dr. Carol Tavris, skryfster van The Mismeasure of Woman, dat PMS “vroue toelaat om te sê: ‘Wat is op mediese gebied met my verkeerd?’ in plaas van: ‘Wat is verkeerd in my lewe wat my so ellendig laat voel?’”
In 1985 het vrouepsigiaters op die Komitee oor Vroue van die APA (Amerikaanse Psigiatriese Vereniging) teen die insluiting van PMS in die APA se Diagnostiese en Statistiese Handleiding geveg. Hoewel dit in die aanhangsel van die huidige (1987) handleiding as “laatlutealefase disforiese afwyking” aangegee word, het ’n drukgroep van die APA voorgestel dat “premenstruele disforiese afwyking” (PMDA) in die hoofteks van die volgende uitgawe moet verskyn. As dit in die handleiding verskyn, sal dit ’n amptelike psigiatriese afwyking word.
“Dit hoort glad nie in die boek nie omdat dit nie ’n verstandelike afwyking is nie”, sê dr. Paula Kaplan, voormalige raadgewer van die drukgroep. “Die volgende keer wat ’n vrou vir prokureur-generaal benoem word, sal sy gevra word: ‘Het jy al PMDA gehad?’” het sy gesê.
’n Soeke na verligting
Die mediese beroep debatteer steeds oor die kwessie van PMS. Baie teorieë oor die presiese oorsaak en behandeling van PMS kom nou na vore. Party dokters meen dat daar moontlik 18 soorte PMS is wat elkeen ander simptome veroorsaak. Een onlangse studie het berig dat sink dalk ’n rol daarin speel om PMS-simptome aan die gang te sit. ’n Ander studie het aan die hand gedoen dat ’n tekort aan vitamien-B6 tot die probleem aanleiding kan gee en ligte depressie by party kan veroorsaak.
Behandelings soos ligte terapie, slaapmanipulasie, diepe ontspanningstegniek, gemoedsverligtende middels en progesteroon-setpille word deur vroue probeer wat verligting soek van PMS-simptome wat herhaaldelik voorkom. Tot nou toe is daar nog geen behandeling gevind wat konsekwent gewerk het nie.
Vroue wat voor menstruasie aan onbeheerbare simptome ly, moet ’n dokter raadpleeg. Elke geval van PMS in uniek, en elke vrou verdien betroubare mediese raad en behoorlike sorg. ’n Fisiese ondersoek is belangrik omdat PMS ander ernstige kwale kan namaak, soos skildkliersiekte, endometriose en depressie.
Daar word aanbeveel dat ’n vrou voor haar eerste besoek aan die dokter ’n breedvoerige dagboek hou of ’n lys maak van fisiese en emosionele simptome wat sy voor menstruasie ondervind. As sy weet watter dae sy geneig is om buierig, prikkelbaar of terneergedruk te wees, kan dit haar help om haar program dienooreenkomstig aan te pas. Dit kan haar ook help om vas te stel of sy aan PMS ly.
Dokters sal dalk voorstel dat sy faktore verminder wat spanning in haar lewe veroorsaak. ’n Voedsame dieet en gereelde oefening kan ook PMS teëwerk. ’n Dieet wat baie koolhidrate en min proteïene bevat, het die gemoedstemming van party terneergedrukte premenstruele vroue verbeter, het ’n universiteitstudie gesê. ’n Gereelde oefensessie of ’n vinnige stappie gedurende die dag kan ook help om uitputting en neerslagtigheid te verhoed.
Natuurlik kan gesinslede, veral ’n man, van hulp wees. Hulle moet daarna streef om veral vriendelikheid, bedagsaamheid en begrip te toon wanneer ’n vrou se maandelikse siklus vir haar probleme veroorsaak.
Die debat duur voort
Party beweer dat dit verkeerd is om normale emosionele en fisiese veranderinge wat ’n vrou gedurende haar menstruele siklus ondervind as ’n “sindroom” te bestempel. En ander trek PMS in twyfel en beweer dat dit vroue ’n stigma gee.
Maar vir ’n aantal vroue is PMS ’n werklikheid. Elke maand ondervind hulle simptome wat dit moeilik maak om ’n gesin en ’n werk te hanteer. ’n Soeke na verligting en begrip kan frustrerend wees terwyl baie in die mediese beroep, sowel as leke, steeds oor die werklikheid van PMS debatteer.
[Prent op bladsy 15]
Gesinslede kan help deur veral vriendelik en bedagsaam te wees