Veilige verkenning van die wêreld onder die golwe
Deur Ontwaak!-medewerker in Australië
DAAR is ’n fassinerende wêreld wat betreklik min mense al self gesien het. Dit lê net onder die oppervlak van die see. Dit is die wêreld onder die golwe wat net wag dat jy dit moet verken. ‘Hoe veilig is so ’n verkenningstog?’ vra jy dalk. ‘Moet ek goed kan swem voordat ek hierdie fassinerende wêreld onder die water kan besoek? En kan ek daaraan deelneem, al kan ek glad nie swem nie?’
Twee verkenningsmetodes
Twee basiese metodes om die wêreld onder die water te verken, is gewild—snorkelduik en skubaduik.a
’n Snorkel is ’n apparaat wat bestaan uit ’n gebuigde buis wat in die swemmer se mond pas en bo die water uitsteek as hy met sy gesig onder die oppervlak van die water swem. Dit stel die swemmer in staat om asem te haal sonder om sy kop bo die water uit te lig. ’n Duikbril beskerm sy oë.
Daarenteen verwys skuba na toerusting wat bestaan uit ’n silinder of silinders wat druklug bevat en aan ’n asemhalingsapparaat gekoppel is. Skubaduik is dus ongetwyfeld vir diegene wat daarin belangstel om ver onder die oppervlak te gaan, is baie ingewikkelder en kan taamlik duur wees.
Snorkelduik, ’n eenvoudiger en baie goedkoper vorm van ontspanning, sal jou in staat stel om die wonders van die wêreld onder die water selfs van die oppervlak af te sien. ’n Geesdriftige snorkelduiker beskryf sy eerste ondervinding soos volg: “Ek onthou nog duidelik hoe ek as ’n 14-jarige seun vir die eerste keer deur ’n massiewe skool van duisende vissies gesnorkelduik het. Dit het gelyk asof die visse vir my ’n lewende tonnel gevorm het terwyl ek deur geswem het. Hulle silwerkleurige liggame het die son weerkaats en ’n pragtige gesig geskep. Ek was in vervoering. En so het ’n lewenslange entoesiasme vir snorkelduik begin.”
Maar is dit werklik veilig?
’n Entoesias wat al meer as 20 jaar lank veilig snorkelduik, sê dat die rit na die strand die gevaarlikste deel van snorkelduik is! Wanneer ’n mens in die water is, hang veiligheid meer van jou as van die bedrywigheid af. As jy nie ’n goeie swemmer is nie, moet jy dit nie verder as die kalm, vlak water waag nie, en jy moet nooit dieper gaan as waar jy kan staan nie. Trouens, in net ’n meter water kan daar baie gesien word. Namate jy vaardigheid en vertroue kry, sal jy veilig in dieper water kan ingaan, maar selfs dan moet jy altyd ’n bekwame maat saam met jou hê. Die meeste ervare duikers waag dit as ’n reël nooit alleen ver van die strand af of in diep water nie. En benewens die veiligheidsfaktor is dit lekkerder en aangenamer om saam met iemand te snorkelduik.
Dit neem dalk wel ’n rukkie om daaraan gewoond te raak om met jou gesig onder die water deur ’n snorkel asem te haal, maar as jy aanhou, sal jy vind dat dit nie werklik moeilik is nie. Party beginners oefen in ’n swembad of in die vlak water van die see waar daar nie golwe is nie. Party oefen selfs in ’n bad.
Toerusting wat jy nodig sal hê
Die toerusting wat jy vir snorkelduik nodig het, is betreklik eenvoudig en nie duur nie: ’n duikbril, twee swemvinne (paddavoete) en ’n snorkel. As jy natuurlik beplan om in die winter of in water wat te koud vir normale swem is te snorkelduik, sal jy moontlik ’n duikpak nodig hê, en dit sal die koste aansienlik verhoog. Kom ons kyk na net die drie basiese items wat nodig is om mee te begin.
Die duikbril moet goed pas, waterdig wees en gemaklik voel. Dit moet ook ’n neusklem hê, met ander woorde, ’n reeks induikings sodat jy jou neus van buite die duikbril kan toedruk. Die rede hiervoor sal later verduidelik word. Die duikbril moet ’n goeie gesigsveld hê en dit moet ’n lae volume hê, wat beteken dat die glas na aan jou gesig moet wees wat die volume lug binne-in minder maak. Die gemaklikste duikbrille word van silikoon gemaak. Dit is deesdae selfs moontlik om duikbrille te kry wat visueel reggestel is vir diegene wat bysiende is.
Vervolgens die vinne, een vir elke voet. Hulle word gewoonlik van rubber gemaak en is soos roeispane wat aan die voete gedra word om jou vinniger te laat swem. Daar is twee soorte om van te kies: die skoentipe en die oophaktipe. As jy skoene nodig het omdat jy oor rotse vol eendmossels of oor vlak koraalbodems moet loop voordat jy by dieper water kom, sal jy die oophaktipe nodig hê. Dit stel jou in staat om jou paddavoete sommer oor jou skoene aan te trek en te begin snorkelduik. Die skoentipe pas direk aan jou voet en kan gebruik word as geen ander skoen ook nodig is nie.
Ten laaste, die snorkel. ’n Eenvoudige J-vormige snorkel is die beste, veral vir die beginner, aangesien maklike asemhaling die belangrikste kenmerk is. Een handleiding oor duik stel voor dat die aanvaarbaarste tipe ’n binnemaat van ten minste 2 sentimeter in deursnee moet hê en 30 tot 35 sentimeter lank moet wees.
Nuttige wenke om ’n snorkel te gebruik
Soos reeds verduidelik is, stel die snorkel jou in staat om asem te haal terwyl jy op die oppervlak van die water swem sonder om jou kop op te lig. Sê nou jy wil onder die oppervlak duik. Dit is ook moontlik, maar jy moet eers diep asemhaal. Water sal natuurlik in die snorkel kom wanneer dit onder die oppervlak gaan. Jy het dalk al gesien dat ’n straal water dikwels by ’n duiker se snorkel uitspuit wanneer hy na die oppervlak kom. Om die water op dié manier uit te kry, word die blaasmetode genoem. Dit kan eintlik baie maklik geleer word, maar jy moet hard uitblaas, wat beteken dat jy nog met genoeg lug in jou longe na die oppervlak moet kom om al die water uit die snorkel te kry.
Party dink dat die verplasingsmetode beter is, maar dit verg ’n bietjie meer oefening. Hoe werk hierdie metode? Terwyl jy ná jou duik die oppervlak nader, moet jy reguit opkyk. Die punt van jou snorkel behoort nou effens na onder te wys. Met jou kop in hierdie posisie sal net ’n bietjie lug nodig wees om die water in jou snorkel te verplaas. Hou jou kop in hierdie posisie tot jou gesig byna uit die water uit is. Swaai op daardie oomblik jou gesig na onder en asem uit. Die oop snorkel sal dan oop bly en jy sal vind dat jy maklik kan asemhaal.
Moenie skrik as jy nou en dan water in die snorkel kry vanweë ’n verbygaande golf selfs terwyl jy nog op die oppervlak is nie. As dit gebeur, moet jy eenvoudig hard blaas en al die water sal uit die snorkel uit wees.
Geniet jou snorkelduikery
Terwyl jy op die oppervlak is, moet jy probeer leer om egalig asem te haal—asem diep in, blaas dan hard uit. Jou longe sal die nut daarvan voel. Onthou die geheim van genotvolle snorkelduik is nie hoe ver of hoe vinnig jy swem nie, maar hoeveel jy sien en verken terwyl jy duik. Wanneer jy onder die oppervlak wil duik, moet jy leer om te ontspan en soveel suurstof moontlik te spaar, want dan sal jy langer onder kan bly. Maar moenie enige uithouvermoërekords probeer opstel nie!
Terwyl jy dryf, moet jy nie jou arms beweeg nie, maar dit langs jou sye hou. Gebruik jou paddavoete net met lang, egalige hale en hou jou knieë effens gebuig. Aanvanklik sal dit konsentrasie verg om dit sonder inspanning en glad te doen, maar ná ’n rukkie sal jy dit outomaties kan doen. Maar wat moet jy doen as jou duikbril aanhoudend wasig word? ’n Eenvoudige manier om dit te voorkom, is om ’n bietjie speeksel op die glas te vryf voordat jy die duikbril aansit. Spoel eenvoudig die speeksel ná ’n rukkie af, en jy sal vind dat die glas taamlik lank skoon sal bly.
Soms sal jy dalk pyn in jou middeloor voel wanneer jy duik. Dit word middeloor-induikdruk genoem. Dit word veroorsaak deur ’n drukverskil in jou oortromme. Dit gebeur gewoonlik nadat jy een of twee meter gedaal het. Moenie hierdie pyn ignoreer en aanhou daal met die hoop dat dit sal weggaan nie. Dit sal erger word hoe dieper jy gaan en jy kan selfs ’n oortrom laat bars. Die tydskrif Padi Diver Manual vir duikers beveel aan dat die drukewewig herstel moet word voor enige pyn gevoel word, ten minste elke meter. Dit word gedoen deur jou neus toe te druk en saggies daardeur te blaas. Dit is waarom daar ’n neusklem aan die duikbril moet wees sodat jy jou neus kan toedruk terwyl die duikbril nog aan is. Met ondervinding word hierdie metode al hoe makliker, byna ’n tweede natuur. Sodra jy pyn voel, is dit beter om na die oppervlak te kom, want nadat die pyn begin, sal volgehoue pogings om die drukewewig te herstel nie doeltreffend wees nie.
As ’n vorm van ontspanning is snorkelduik heilsaam, opvoedkundig en opwindend. Dit is vir feitlik alle ouderdomsgroepe ’n uitstekende manier om oefening, vars lug en sonskyn tegelykertyd te kry. Om net ’n paar van die seediere onder die water te herken en te identifiseer, maak snorkelduik ’n uitdaging vir diegene wat daarvan hou. Maar vir die meeste mense, soos Tony wat onlangs teruggekom het nadat hy in Fidji gesnorkelduik het, is die plesier om “in ’n ander wêreld van asemrowende kleure te wees” die grootste aantrekkingskrag. Sy vriendin Lena stem saam: “Ek was so opgewonde oor die skoonheid om my dat ek vergeet het waar ek was!”
Wat van skubaduik?
Vir diegene wat goed kan swem en deur die wonders van dieper water aangetrek word of wat dalk onderwaterfotografie wil probeer, is skubaduik die volgende stap. As jy gesond bly, jou toerusting goed versorg en die basiese reëls volg, kan jy met selfvertroue in die water gaan. Maar jy moet nooit gaan skubaduik voor jy nie eers ’n deeglike kursus gevolg het en, indien dit vereis word, ’n lisensie deur ’n instrukteur met ’n goeie reputasie verkry het nie. Selfs dan moet jy nie die diepteperke oorskry wat jou lisensie toelaat nie. En jy moet altyd saam met iemand duik. In party lande, soos Australië, vereis die wet dat jy ’n mediese ondersoek vir duikers slaag voordat jy met so ’n kursus begin.
Skubatoerusting kan taamlik duur wees. Benewens die basiese toerusting wat jy vir snorkelduik gebruik—duikbril, vinne en snorkel—sal jy ongetwyfeld ’n duikpak nodig hê, behalwe miskien in warm, tropiese water. Jy sal ook die volgende nodig hê: ’n apparaat om jou dryfvermoë te beheer, ’n gewigband, ’n duikmes, ’n asemhalingsapparaat (asook ’n ekstra een vir jou maat as hy probleme met sy lugtoevoer ondervind) en ’n skubatenk. Jy moet ook noodsaaklike instrumente hê, soos ’n duikhorlosie, ’n dieptemeter en ’n onderwaterdrukmeter vir jou tenk sodat jy weet hoeveel lug jy oor het. Hierdie toerusting kan maklik by talle gewilde duikplekke gehuur word wat, as jy nie dikwels duik nie, soms ekonomieser is as om jou eie toerusting te koop.
Eerbied vir die oseaan en sy diere
“Ek het op ’n rif naby Caloundra aan die Sonskynkus van Queensland gesnorkelduik en ’n kleurvolle vlindervis dopgehou wat omtrent ses voet [twee meter] van my af was”, vertel die snorkelduikentoesias Peter. “Skielik het ’n blink staalpyl voor my verskyn en met ’n dowwe slag tot stilstand gekom. Die vissie het tevergeefs gespartel—hy is deur die kieue teen ’n rots deurboor. Die seun wat daarvoor verantwoordelik was, het erken dat hy die pragtige vis doodgeskiet het net om te kyk of hy kon! Dit was te klein om te eet.” Ongelukkig neem sulke onbesonne dade regoor die wêreld toe.
Besoedeling is ook iets algemeens. Gewilde plekke is dikwels maar soos vullishope, aangesien dit deur plastieksakke en leë koeldrankblikke bemors word. Selfs vernietigende chemiese afvalstowwe word ’n toenemende probleem in party lande. Namate die rommel en vullis ophoop, trek die vis weg en gaan die koraal dood.
Dit is ’n goeie gewoonte om altyd handskoene te dra wanneer jy skubaduik. Selfs dan is dit raadsaam om versigtig te wees waaraan jy vat. Die immerteenwoordige seekastaiing het byvoorbeeld naaldagtige penne wat onbeskermde hande kan deurdring. En die flambojante skerpioenvis, hoewel klein, waarsku blykbaar: ‘Nie te naby nie. Hierdie is my gebied!’ terwyl hy trots sy helder rooi en wit strepe vertoon. Tussen sy valletjies word lang penne weggesteek wat met giftige slym bedek is. Dit kan seer wees om net liggies daaraan te raak.
Ander diere word nie maklik gesien nie. Die tingerige seeperdjie kan homself byvoorbeeld baie goed kamoefleer. Dit lyk net soos ’n deel van die plantegroei en is ’n uitdaging vir enige duiker se skerpsiendheid. In teenstelling hiermee trek die pragtige, helder kleure van die kaalslak, ’n seenaakslak, onmiddellik jou aandag. Maar is dit ’n lekker stukkie kos? Potensiële roofdiere leer gou dat dit nie is nie, want dit is met nare chemikalieë gewapen.
Talle lonende besienswaardighede
Die oseaan is vir beide die snorkel- en skubaduiker beslis ryk aan lewe. Koraalriwwe is ’n panorama van tallose diere en kleure wat ’n mens sommer gou met jou swemvinne kan bereik. “Die opwinding wat dit meebring wanneer jy omring word deur kleurvolle visse van alle vorms en groottes, waarvan party selfs uit jou hand eet, kan nie oortref word nie. Dit is ’n wonderlike ondervinding”, het ’n duiker gesê. Toe het hy bygevoeg: “Om daar te wees soos een van hulle, terwyl jy byna nie deur swaartekrag beïnvloed word nie, is amper onwerklik.”
As jy derhalwe ooit die kans kry om te gaan snorkelduik of skubaduik, moet jy onthou dat dit heel veilig gedoen kan word indien jy die eenvoudige voorsorgmaatreëls tref wat deur ervare duikers aanbeveel word. Miskien sal jy ook eendag hierdie verrykende ervaring kan hê om die skoonheid van die wêreld onder die golwe te verken.
[Voetnoot]
a Die huidige internasionale vlag wat waarsku dat daar skubaduikers is, is die wit-blou alfavlag. Party lande gebruik nog die rooi vlag met ’n wit streep, soos hierbo aangetoon.
[Prent op bladsy 16]
Skerpioenvis
[Prent op bladsy 17]
Flaminktongslak
[Prent op bladsy 17]
Blou doktervis
[Prent op bladsy 17]
Kaalslak op koraal
[Foto-erkenning op bladsy 15]
By courtesy of Australian International Public Affairs