Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 12/8 bl. 26-27
  • Die Hoela—Die dans van Hawaii

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Hoela—Die dans van Hawaii
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die invloed van sendelinge
  • Herlewing van die hoela
  • Die hedendaagse hoela
  • ’n Jordaan wat jy dalk nie ken nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Kom ons hou ’n Hawaise luau
    Ontwaak!—2002
  • Eilande word gevorm
    Ontwaak!—1998
  • Mag Christene dans?
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 12/8 bl. 26-27

Die Hoela—Die dans van Hawaii

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN HAWAII

WANNEER Hawaii gemeld word, dink ’n mens dikwels aan die hoela. Hoewel die hoela uitsluitlik met Hawaii geassosieer word, het dit in die Stille Suidsee ontstaan.

In die ou tyd het die Hawaiërs nie ’n geskrewe taal gehad nie; dus is liedere en dreunsang gebruik om hulle geskiedenis en gebruike oor te dra. Die hoela, met bewegings van die heupe, hande en voete tesame met gesigsuitdrukkings, is deur hierdie dreunsang en liedere begelei.

Dit is onmoontlik om enigiets te boekstaaf wat voor die aankoms van kaptein Cook en sy manne in 1778 met die hoela verband gehou het. Wat ons vandag weet, is hoofsaaklik gebaseer op laat 19de-eeuse gebruike, liedere en dreunliedere.

Die eerste hoelas was moontlik heilige ritusse. Nogtans word daar nie gemeen dat alle hoelas dade van aanbidding of deel van ’n godsdiensseremonie was nie.

Die invloed van sendelinge

Die hoela is in die 18de en 19de eeu uitgevoer vir ontdekkingsreisigers en matrose op besoekende skepe. Dit is moontlik dat hierdie betalende klante wou hê dat die hoelas seksueel eksplisiet moes wees.

Toe die sendelinge in 1820 daar aangekom het, het hulle goeie rede gehad om die hoela te veroordeel. Nadat hulle die toestemming van die hoofde verkry het, het die sendelinge teen die hoela te velde getrek en dit bestempel as heidens en vulgêr—en die werk van die Duiwel. Selfs vroeër, in 1819, is veranderinge in die eertydse godsdiensgebruike deur koningin-regentes Kaahumanu, die weduwee van koning Kamehameha I, aangebring. Dit het die verwydering van afgode en die afskaffing van gekompliseerde ritusse ingesluit. Tallose danse en dreunliedere het ook vir altyd verlore gegaan.

Kaahumanu is in 1825 in die kerk aangeneem. In 1830 het sy ’n edik uitgevaardig wat openbare uitvoerings van die hoela verbied het. Ná haar dood in 1832 het sommige hoofde die edik geïgnoreer. Toe gewetensdwang ’n paar jaar lank openlik deur jong koning Kamehameha III en sy metgeselle geminag is, het die hoela vir ’n rukkie weer gewild geword. Maar in 1835 het die koning erken dat sy weë verkeerd was en het die koninkryk weer onder die mag van die Calviniste gekom.

Herlewing van die hoela

Gedurende koning Kalakaua se bewind (1874-91) het ’n herlewing plaasgevind en het die hoela weer ten volle aanvaarbaar by openbare uitvoerings geword. Vir sy kroning in 1883 het maande van opleiding en opgewondenheid ’n hoogtepunt bereik in die openbare uitvoering van talle dreunliedere en hoelas, waarvan sommige spesiaal vir daardie geleentheid geskryf is. Teen die tyd dat hy in 1891 gesterf het, het die hoela al baie veranderinge in voet- en liggaamsbewegings ondergaan, en begeleiding met instrumente soos die ukelele, die kitaar en die viool is ingebring.

Nadat die monargie in 1893 tot ’n einde gekom het, het die hoela weer afgeneem. Teen die middel van die 20ste eeu het dit egter gefloreer. Baie veranderinge is aangebring om dit by ’n uiteenlopender gehoor byval te laat vind. Aangesien baie nie die Hawaise taal kon verstaan nie, is Engelse woorde gebruik. Die moderne hoela lê meer klem op die dans self—die bewegings van die hande en die voete, die swaai van die heupe en die gesigsuitdrukking.

Namate die aantal besoekers aan die eilande toegeneem het, het die hoela al hoe gewilder geword. Reisigers vanaf die vasteland het die danse wat hulle geleer het saam met hulle teruggeneem en dit in Hollywood-films met nie-Hawaise dansers begin vertoon. In 1935 het selfs Minnie Muis die hoela vir Mickey gedans, terwyl hy sy staalkitaar gespeel het.

Die hedendaagse hoela

Met die “Hawaise renaissance” in die sewentigerjare het die kennis van ’n paar dreunsangers, dansers en bobaasleermeesters as grondslag gedien vir die herlewing van ouer vorme van die hoela. Vandag is daar hoelameesters wat die ou danse reproduseer en ander wat nuwes skep. In beide gevalle het hulle pogings sensasionele en skouspelagtige vertonings tot gevolg.

’n Geestelike verbintenis met die talle Hawaise gode is in ’n mate na moderne tye oorgedra. Elke jaar, voor die aanvang van die Merrie Monarch-fees wat in Hilo, Hawaii, gehou word, onderneem hoelaskole ’n pelgrimstog na Pele se vuurput of na plekke waar daar onlangs lawastromings was. Hulle dreunsing, dans en bring offers van blomme, bessies en jenewer en vra haar seënwense op hulle pogings in die wedstryd. Groepe van regoor die wêreld neem deel aan ’n wedstryd wat drie aande duur en as die olimpiade van die hoela beskou word.

Die hoela het ’n groot rol in die kultuurherlewing in Hawaii gespeel. Dit sluit die droefgeestige danse in wat begelei word deur dreunsang ter verering van gode en godinne, sowel as die eenvoudige uitbeelding van die alledaagse lewe op die eilande wat hoegenaamd geen godsdiensbetekenis het nie.

Christene moet baie selektief wees ten opsigte van watter hoelas hulle na kyk of dans. Hulle moet daarvan seker wees dat hulle nie onwetend hulde aan ’n god of godin bewys nie. ’n Mens moet ook versigtig wees wanneer jy na liedere of dreunliedere luister of dit sing. Baie bevat woorde met verskuilde of dubbelsinnige betekenisse. Wanneer dít in gedagte gehou word, kan ’n toeskouer of ’n deelnemer die hoela as ’n heilsame vorm van ontspanning geniet.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel