Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 6/8 bl. 14-15
  • Karnavalfeesvieringe—Reg of verkeerd?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Karnavalfeesvieringe—Reg of verkeerd?
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Pret of swelgery?
  • ’n Skets van swelgery
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1997
  • Dié met “die regte gesindheid” reageer gunstig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1998
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 6/8 bl. 14-15

Die Bybelse beskouing

Karnavalfeesvieringe—Reg of verkeerd?

“JY KAN dit net nie weerstaan nie”, sê Michael. “Die musiek ruk jou uit jou stoel uit, laat jou voete beweeg, benewel jou verstand—jy het karnavalkoors!” Ja, die karnaval laat elke jaar die harte van miljoene mense regoor die wêreld vinniger klop, maar nêrens is die koors so hoog soos in die land waar Michael woon nie, Brasilië. Gedurende die week voor Aswoensdag trek Brasiliane hulle mooiste klere aan, gooi hulle horlosies en kalenders weg en word sonder meer deel van ’n skouspel wat die land skud van die Amasone-woude tot by die strande van Rio de Janeiro. Dis ’n tyd om te sing, te samba en te vergeet.

“Dis een van die redes waarom dit so gewild is”, verduidelik Michael, wat jare lank ’n ywerige karnavalfeesganger was. “Die karnaval bied mense die geleentheid om van hulle ellende te vergeet.” En veral vir miljoene armes—wat sonder genoeg water, sonder elektrisiteit, sonder werk en sonder hoop lewe—is daar baie om te vergeet. Vir hulle is die karnaval soos ’n aspirien: dit los miskien nie die probleem op nie, maar dit verdoof ten minste die pyn. Voeg hierby die beskouing wat sommige Rooms-Katolieke geestelikes van die karnaval het—een biskop het gesê dat die karnaval “baie nuttig vir mense se sielkundige balans” is. Dit is dus maklik om te sien waarom baie meen dat die karnaval heilsame en goedgekeurde afleiding is. Maar wat is die Bybel se beskouing van karnavalfeesvieringe?

Pret of swelgery?

God se Woord sê daar is “’n tyd om te lag, . . . en ’n tyd om van vreugde rond te spring” (Prediker 3:4). Aangesien die Hebreeuse woord vir “lag” ook as “vier” vertaal kan word, is dit duidelik dat dit in ons Skepper se oë nie verkeerd is as ons heilsame vermaak geniet nie. (Sien 1 Samuel 18:6, 7.) Trouens, God se Woord sê dat ons ons moet verheug en vrolik moet wees (Prediker 3:22; 9:7). Die Bybel keur dus gepaste pretmakery goed.

Maar die Bybel keur nie alle soorte pret goed nie. Die apostel Paulus sê dat swelgerye, of luidrugtige pret, tot “die werke van die vlees” behoort en dat mense wat swelgery beoefen “God se koninkryk nie sal beërf nie” (Galasiërs 5:19-21). Daarom het Paulus Christene vermaan om ‘welvoeglik te wandel, nie in swelgerye nie’ (Romeine 13:13). Die vraag is dus: Onder watter kategorie val die karnaval—onskuldige pret of losbandige swelgery? Om dit te beantwoord, laat ons eerstens verder verduidelik wat die Bybel as swelgery beskou.

Die woord “swelgery”, of koʹmos in Grieks, kom drie keer in die Christelike Griekse Geskrifte voor en altyd in ongunstige sin (Romeine 13:13; Galasiërs 5:21; 1 Petrus 4:3). En geen wonder nie, want koʹmos kom van berugte feesvieringe waarmee Griekssprekende vroeë Christene bekend was. Watter feesvieringe?

Geskiedskrywer Will Durant verduidelik: “’n Groep mense wat heilige fallusse [simbool van die manlike geslagsorgaan] dra en ditirambes [lofsange] ter ere van Dionisus sing . . . , het, in Griekse terminologie, ’n komos, of swelgparty, uitgemaak.” Dionisus, die god van die wyn in Griekse mitologie, is later deur die Romeine aangeneem, wat hom Bacchus genoem het. Maar die verband met koʹmos het die naamsverandering oorleef. Bybelkenner dr. James Macknight skryf: ‘Die woord koʹmois [’n meervoudsvorm van koʹmos] kom van Comus, die god van feesviering en swelgery. Hierdie swelgerye was ter ere van Bacchus, wat om daardie rede Comastes genoem is.’ Ja, vieringe ter ere van Dionisus en Bacchus was die beliggaming van swelgery. Waardeur is hierdie feeste gekenmerk?

’n Skets van swelgery

Gedurende die Griekse feesvieringe ter ere van Dionisus het skares feesgangers, volgens Durant, “vryelik gedrink, en het . . . die een wat nie sy kop wou verloor nie as dwaas beskou. Hulle het aan wilde optogte deelgeneem, . . . en terwyl hulle gedrink en gedans het, het hulle so dol geraak dat hulle alle selfbeheersing oorboord gegooi het.” Romeinse feeste ter ere van Bacchus (wat die Bacchanalieë genoem word), is in ’n soortgelyke gees deur drinkery en wellustige liedjies en musiek gekenmerk en was die toneel van “baie oneerbare dade”, skryf dr. Macknight. Roekelose skares, dronkenskap, wellustige dansery en musiek asook geslagsonsedelikheid was die basiese kenmerke van Grieks-Romeinse swelgerye.

Bevat vandag se karnavalle hierdie elemente wat tot swelgery aanleiding gee? Let op ’n paar aanhalings uit nuusberigte oor karnavalfeesvieringe: “Uiters rumoerige skares.” “’n Vier dae lange drinkparty en partytjies regdeur die nag.” “Vir party feesgangers kan karnavalbabbelas ’n paar dae lank duur.” Die “amper oorverdowende klanke op kort afstand laat die uitvoerings van ‘heavy metal’-groepe . . . na sagte musiek klink”. “Vandag is enige karnavalfeesviering sonder homoseksuele soos ’n steak au poivre sonder peper.” “Die karnaval het sinoniem met naaktheid geword.” Karnavaldanse is gekenmerk deur “tonele van masturbasie . . . en verskeie vorme van seks[uele] omgang”.

Die ooreenkomste tussen vandag se karnavalle en daardie feeste in die ou tyd is so opvallend dat ’n Bacchusfeesganger nie eens die verskil sal agterkom as hy in die middel van ’n hedendaagse karnavalparty moet wakker word nie. En dit behoort ons nie te verbaas nie, sê die Brasiliaanse televisieregisseur Cláudio Petraglia, want volgens hom is vandag se karnaval “’n afstammeling van die feeste van Dionisus en Bacchus, en dít is eintlik die aard van die karnaval”. The New Encyclopædia Britannica sê dat die karnaval aan die heidense Saturnalieë van eertydse Rome gekoppel kan word. Al behoort die karnaval dus tot ’n verskillende tydperk, behoort dit tot dieselfde familie as sy voorgangers. Die familie se naam? Swelgery.

Watter uitwerking behoort hierdie kennis vandag op Christene te hê? Dieselfde uitwerking as wat dit op vroeë Christene gehad het wat in die provinsies in Klein-Asië wat onder Griekse invloed was, gewoon het. Voordat hulle Christene geword het, het hulle hulle oorgegee aan “losbandige dade, welluste, oordadighede met wyn, swelgerye [koʹmois], drinkpartye en onwettige afgoderye” (1 Petrus 1:1; 4:3, 4). Maar nadat hulle geleer het dat God swelgerye beskou as “werke wat tot die duisternis behoort”, het hulle opgehou om aan feesvieringe soos die karnaval deel te neem.—Romeine 13:12-14.

Michael, wat vroeër genoem is, het dit ook gedoen. Hy verduidelik waarom: “Namate my Bybelkennis toegeneem het, het ek gesien dat karnavalfeesvieringe en Bybelbeginsels soos water en olie is—hulle meng eenvoudig net nie.” In 1979 het Michael sy besluit geneem. Hy het eens en vir altyd opgehou om aan karnavalfeesvieringe deel te neem. Watter keuse gaan jy maak?

[Prent op bladsy 14]

Voor-Christelike Griekse amfoor met ’n uitbeelding van Dionisus (figuur aan linkerkant)

[Erkenning]

Met vergunning van die Britse Museum

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel