Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 6/22 bl. 3-4
  • Is jy gereed vir ’n vakansie?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is jy gereed vir ’n vakansie?
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vakansie het sy plek
  • Reistogte is op sigself opvoedkundig
  • Behoorlike voorbereiding
  • Geniet jou vakansie sonder om spyt te wees!
    Ontwaak!—1996
  • Probeer gerus ’n vakansie tuis
    Ontwaak!—1990
  • Hoe jy teëspoed op jou vakansie kan vermy
    Ontwaak!—1998
  • Dinge waarteen jy moet waak
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 6/22 bl. 3-4

Is jy gereed vir ’n vakansie?

DIT is amper somer in die Noordelike Halfrond. Miljoene sal binnekort met vakansie gaan. Maar vakansies word geensins tot die somer beperk nie. Toerisme het ’n heeljaarse bedryf geword, wat jaarliks miljarde rande inbring. Hoewel die meeste vakansiegangers in hulle eie land rondreis, is buitelandse reise, wat eers tot die rykes beperk was, nou iets alledaags.

Die vakansieverlof wat deur werkgewers toegeken word, verskil van land tot land. In 1979 het net 2 persent van die Duitse werkkragte ses weke vakansie gekry, maar nou kry verreweg die meeste dit. Die gemiddelde vakansieverlof vir nywerheidswerkers in Wes-Europa is meer as vyf weke.

Vakansie het sy plek

Vakansie het oorspronklik iets heel anders beteken as wat vandag die geval is. The New Encyclopædia Britannica verduidelik: “Die hedendaagse gewoonte om met vakansie te gaan . . ., kom van die eertydse Romeinse godsdienskalender, maar in omgekeerde vorm. Meer as 100 dae van die jaar was feesdae wat aan verskeie Romeinse gode en godinne gewy is. Die dae waarop heilige feeste gehou is, en wat dus heilige dae was, het mense hulle gewone daaglikse bedrywighede onderbreek om te rus. Dae wat nie as heilig beskou is nie, is dies vacantes, vakante dae, genoem, waartydens mense gewerk het.” Die “vakante dae” in hedendaagse tye is dae van rus in plaas van dae van werk.

Duitsers hou daarvan om vakansietye “die beste weke van die jaar” te noem. Daarteenoor beskou werkslawe vandag se “vakante dae” dalk as waarlik leeg, sonder enige sinvolle werksaamhede. Maar dit sal ’n uiterste beskouing wees. ’n Gebalanseerde beskouing sien die wysheid daarvan in om gereeld weg te kom van die normale roetine, om iets anders en iets ontspannends te doen.

Die positiewe aspekte van vakansie is bevestig deur ’n opname in 1991 onder Europese sakemanne, waarvan 78 uit elke 100 gesê het dat vakansie “absoluut noodsaaklik [is] om uitbranding van direkteure te voorkom”. ’n Volle 75 persent het gemeen dat vakansie werkverrigting verbeter, en meer as twee derdes het gesê dat vakansie skeppingsvermoëns verbeter. Om dit kleurryker te stel, 64 persent van die vroue en 41 persent van die mans het saamgestem met dié bewering: “Ek sal van my kop af raak as ek nie gereeld met vakansie gaan nie.”

Reistogte is op sigself opvoedkundig

Die 17de-eeuse Engelse geneesheer en skrywer Thomas Fuller het geskryf: “Iemand wat baie rondreis, weet baie.” Wanneer ons rondreis, kan ons nader kennis maak met mense van ander plekke en hulle gewoontes en lewenswyse leer ken. Reistogte in lande met laer lewenstandaarde as ons s’n kan ons leer om dankbaar te wees vir wat ons het en kan by ons empatie wek vir mense wat minder bevoorreg as ons is.

As ons ’n oop gemoed het, kan toere wanbegrippe regstel en vooroordele verminder. Dit bied ’n mens die geleentheid om eerstehands ten minste ’n paar woorde in ’n nuwe taal te leer, om nuwe geregte te probeer wat moontlik ons smaak streel of om ons familiefotoalbum, skyfie- of videoversameling te vergroot met voorbeelde van die prag van God se skeppingswerke.

Om natuurlik die meeste voordeel uit ’n vakansie te trek, moet ons meer doen as net reis. Die toeris wat halfpad deur die wêreld toer om maar net in ’n hotel te sit tussen toermaats—waarvan baie sy eie landgenote is—by die hotel se private swembad of strand te swem en dieselfde kos te eet as by die huis, sal min leer. Hoe jammer tog! Na wat berig word, stel die meeste reisigers blykbaar nie opreg belang in die lande wat hulle besoek of in die mense daar nie.

Behoorlike voorbereiding

Samuel Johnson, ’n 18de-eeuse Engelse essayis en digter, het gesê dat ’n man wat reis “kennis met hom moet saamneem as hy kennis wil terugbring”. As jy dus die geleentheid kry om te reis, moet jy vir jou reistog voorberei. Lees oor jou bestemming voordat jy gaan. Beplan wat jy wil sien en besluit wat jy wil doen. Berei dan daarvolgens voor. As jy byvoorbeeld op die strand wil stap of op ’n staptoer in die berge wil gaan, moet jy gepaste skoene en klere saamneem.

Moenie te veel dinge in jou program probeer inpas en sodoende die spanning van die alledaagse lewe na jou vakansie oordra nie. Sorg dat jy genoeg vrye tyd laat om onbeplande dinge te doen. Een van die wesenlike voordele van vakansie is dat ’n mens tyd het om te dink en te peins sonder die druk van ’n vol program, met die gevoel dat jy vry is van die spanning en beperkings wat dit meebring om volgens die klok te lewe.

’n Uiters bevredigende vakansie kan selfs harde werk insluit. Om iets anders te doen, is dikwels die sleutel tot ’n goeie vakansie. ’n Organisasie sonder winsoogmerk in die Verenigde State genaamd Volunteer Vacations reël byvoorbeeld dat vrywilligers hulle vakansie gebruik om nasionale parke en woude in stand te hou. Een vrywilliger het gesê dat hy baie hard gewerk het, maar hy het dit só geniet dat hy besluit het om dit ’n jaar later weer te doen.

Jehovah se Getuies gebruik dikwels hulle vakansie om na Christelike byeenkomste te reis of om hulle aandeel aan die openbare bediening te vergroot. Party gebruik hulle vakansie om by die hoofkwartier of takkantore van Jehovah se Getuies in hulle onderskeie lande te werk, en hulle geniet die ondervinding. Baie van hulle skryf daarna briewe om hulle waardering vir die voorreg uit te spreek.

Ja, vakansie kan uiters genotvol wees, selfs die beste weke van die jaar. Dit is geen wonder dat kinders die dae aftel voor dit aanbreek nie! Tog is daar dinge waarteen jy moet waak. Die volgende artikel sal verduidelik.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel