Dinge waarteen jy moet waak
“DIE vernaamste doel van ’n vakansie is kontras, afleiding, ’n verandering van pas”, het joernalis Lance Morrow geskryf. Hy het egter opgemerk dat sommige ná hulle vakansie so gespanne terugkeer dat hulle plegtig belowe om “dit nooit weer te doen nie”.
Maar voor jy besluit om nooit weer met vakansie te gaan nie, sal dit wys wees om eerder die moontlike valstrikke vooraf in oënskou te neem en stappe te doen om hulle te vermy.
Beveilig jou waardevolle artikels
Baie het al van hulle vakansie af teruggekeer en gevind dat diewe by hulle huis ingebreek het terwyl hulle weg was. Voordat jy dus met vakansie vertrek, moet jy jou vriende of bure vra om gereeld by jou huis ’n draai te maak. Hulle kan dalk selfs ’n hele tydjie daar vertoef om jou afwesigheid minder ooglopend te maak. Vra hulle om jou koerante te verwyder en jou posbus daagliks leeg te maak, want niks anders verklap die feit dat jy weg is so goed soos ’n hoop koerante of ’n oorvol posbus nie.
Jy moet ook jou waardevolle artikels by jou vakansieplek beveilig. In party lande word buitelanders as ryk beskou, en elke toeris loop die gevaar om beroof te word. Dit is dus ’n goeie gewoonte om ekstra kontant en waardevolle dokumente in die hotel se brandkluis of op ’n ander veilige plek te laat. Wees op jou hoede vir vreemdelinge, sonder om onvriendelik te wees.
Elke jaar word Miami, Florida, VSA, deur miljoene vakansiegangers uit die buiteland en van die land self besoek. Misdadigers is veral aktief in sulke toeristegebiede. Die tydskrif Time het berig dat daar gedurende 1992 “in Florida alleen 36 766 besoekers, uit die buiteland en van die land self, vermoor, verkrag, beroof of op ander maniere die slagoffer gemaak is”.
Wanneer jy met vakansie is, moet jy veral versigtig wees vir sakkerollers. Mans moet hulle notebeurs in ’n onopsigtelike en veilige plek dra, soos in die binnesak van hulle baadjie of die voorste sak van hulle broek. Ervare reisigers versteek geld dikwels op vindingryke maniere op hulle. Sommige dra byvoorbeeld hulle geld, paspoorte en visums in ’n klein, plat sakkie wat om hulle nek hang en onder hulle klere ingesteek word. Vroue moet versigtig wees dat fiets- of bromponieryers nie ’n handsak wat nie styf vasgehou word by hulle gryp nie.
Misdadigers vind voortdurend nuwe maniere om toeriste te beroof. Op sneltreine wat oor lang afstande reis, is slapende passasiers in Europese lande al gedurende die nag beroof. ’n Slaapmiddel word moontlik in die kompartemente vrygelaat om te verseker dat die reisigers nie wakker word terwyl hulle besittings gesteel word nie. By een geleentheid “het rowers glo ewe kalm van die trein afgeklim met meer as $845 000 [R3067 000] [aan] kontant en gesteelde goedere”, sê The European.
Vermy ongelukke
“Die enigste oplossing wat ek vir die probleem van gewoonteongelukke het”, het grapmaker Robert Benchley gesê, “is om heeldag in die bed te bly.” Maar toe het hy bygevoeg: “Selfs dan is daar altyd die moontlikheid dat jy kan afval.” Met ander woorde, ongelukke gebeur oral! Vrees dat jy gedurende jou vakansie ’n ongeluk sal hê, hoef jou dus nie af te skrik sodat jy by die huis bly nie. Maar daar bestaan goeie rede waarom ’n mens veral wanneer jy met vakansie is versigtig moet wees.
Verkeersituasies kan gedurende vakansietye gevaarlik wees. Duitsers is al gewoond aan 80 kilometer lange verkeersknope gedurende sulke tye. Die tydskrif Time van 14 Augustus 1989 het gesê: “Verlede week het miljoene gesinne dwarsdeur Europa hulle tradisionele Augustusvakansie begin—en hulle almal het ’n onaangename en uitputtende tyd deurgemaak. . . . Feitlik elke vername hoofweg uit Parys was so besig dat die verkeer tot stilstand gebring is. . . . Tussen 28 Julie en 1 Aug. het 102 mense in botsings op hoofweë gesterf.” Wees dus verstandig en hou vir kort rukkies stil om senuwees wat oorspanne is weens die stadig bewegende verkeer te laat kalmeer.
The European het berig dat motoriste aangeraai word om “hulle reistog tot Sondag uit te stel—of om deur die nag te reis”. Tog het dit erken dat die meeste vakansiegangers “steeds voortgaan om op dieselfde tyd te vertrek”. Die gevolg? Europa sit met ’n verkeersknoop. Hoewel dit verstandig is om te reis wanneer paaie nie so besig is nie, moet die feit dat dit gevaarlik kan wees om in die nag te reis nie oor die hoof gesien word nie. ’n Mens sien nie so goed in die nag nie, en dit kan dus die moontlikheid van ongelukke vergroot. Dit is dalk beter om vroeg in die oggend te reis.
Moenie ander moontlike oorsake van ongelukke ignoreer nadat jy jou vakansiebestemming bereik het nie. As jou spiere die grootste deel van die jaar met vakansie was, sal hulle in opstand kom as hulle gedwing word om te werk sonder dat hulle behoorlik daarvoor voorberei is. Beperk sportaktiwiteite dus die eerste paar dae wanneer jou liggaam dalk besonder vatbaar vir besering is.
Bly gesond
Volgens die boek 2,000 Everyday Health Tips for Better Health and Happiness “draai die algemeenste gesondheidsprobleme waarmee toeriste op oorsese reise te kampe het om kos, water en ’n paar besmetlike siektes”. Reisagente sal jou dalk raad gee oor hoe om sulke probleme te vermy, en dit sal tot jou voordeel wees om hulle wenke te volg.
In baie gebiede is dit raadsaam om nie kraanwater te drink nie. En onthou, ysblokkies word heel waarskynlik van dieselfde water gemaak. Dit sal miskien ook wys wees om nie blaargroente, mayonnaise, geregte wat room bevat, rou of halfgaar vleis, skulpvis en vars vrugte, tensy jy dit self kan skil, te eet nie. In die trope moet vars melk gekook word voordat jy dit drink.
’n Groot gevaar vir dungeklede vakansiegangers is die son, en in die laaste jare het die gevaar geweldig toegeneem weens die afname van osoon in die atmosfeer. Die aantal nuwe gevalle van kwaadaardige melanome, die dodelikste vorm van velkanker, het tussen 1980 en 1993 in die Verenigde State verdubbel. T-hemde is in Australië gesien met ’n slagspreuk soos ‘Sit aan! Smeer aan! Sit op!’ (Sit ’n hemp aan, smeer sonbrandmiddel aan en sit ’n hoed op.) Maar moenie oorgerus voel nie. Sonbrandmiddels is nie onfeilbaar nie.
Lugvervoer wat verskeie tydsones kruis, kan lugtamheid tot gevolg hê. Hoewel dit op sigself nie ’n siekte is nie, kan lugtamheid ’n mens se fisiese welstand beïnvloed, veral as jou gesondheid in die eerste plek nie goed is nie. ’n Studie van lugreisigers tussen Londen en San Francisco, ’n agt uur tydsverskil, het aan die lig gebring dat “fisiologiese aanpassing . . . niks minder as sewe tot tien dae geduur het nie”. Die boek The Body Machine het ook berig dat party reisigers wat verskeie tydsones vinnig gekruis het, “geneig [was] om onduidelik te praat en te aarsel, en hulle kanse was twee keer groter om foute te maak. Konsentrasie en geheue het ook daaronder gely.”a
Daarbenewens maak stralervervoer dit maklik vir siekte om binne ’n paar uur van een kontinent na ’n ander te versprei. Die Duitse koerant Nassauische Neue Presse het gesê: “Dokters is veral bekommerd oor ‘eksotiese’ siektes, soos malaria of hepatitis, wat vakansiegangers saam met hulle terugbring van Afrika, Asië of Suid-Amerika. Elke jaar keer sowat 2000 Duitsers terug huis toe met malaria.” Nadat die builepes in 1994 sterfgevalle in Indië veroorsaak het, is streng voorkomingsmaatreëls geneem om te verhoed dat dit na ander lande versprei.
Mense met chroniese gesondheidsprobleme, sowel as swanger vrouens, moet ekstra voorsorg tref wanneer hulle reis. Hoewel daar in die meeste gevalle geen dwingende rede is waarom sulke mense nie kan reis nie, moet hulle vooraf hulle dokter raadpleeg. Dit sal vir alle reisigers verstandig wees om die naam, adres en telefoonnommer van ’n vriend of familielid by hulle te hê met wie daar in ’n noodgeval in aanraking gekom kan word.
Iemand wat gereeld insulieninspuitings moet kry om sy bloedsuiker konstant te hou, moet onthou dat sy streng rooster vir maaltye en inspuitings ontwrig sal word as hy verskeie tydsones kruis. Hy sal daarvolgens moet beplan. Of ’n reisiger met ’n pasaangeër moet seker maak dat hy sy hartspesialis se telefoonnommer het.
Verder moet enigeen wat van sekere geneesmiddels afhanklik is dit eerder in sy handbagasie dra, omdat dit andersins rampspoedig kan wees as bagasie verlore raak of ’n verkeerde bestemming bereik. Dit sal miskien onaangenaam wees om ’n paar dae sonder skoon klere te wees; dit kan egter lewensgevaarlik wees om net ’n paar uur sonder noodsaaklike geneesmiddels te wees.
Die gevare van vakansiereise moet nie onderskat word nie. Tog is daar geen grondige rede waarom dit jou moet afskrik sodat jy tuisbly nie. Wees net versigtig. Onthou: Behoorlike voorbereiding help om moontlike gevare af te weer. Volg gerus die wyse raad: “’n Verstandige mens sien onheil kom en vermy dit; onervare mense loop oop oë daarin en boet daarvoor.”—Spreuke 22:3, NAV.
[Voetnoot]
a Sien die Ontwaak! van 8 Junie 1986, bladsye 19-21, vir wenke oor hoe om lugtamheid te bowe te kom.
[Prent op bladsy 7]
Let op wat jy eet wanneer jy met vakansie is