Habu—’n Slang wat met ontsag behandel moet word
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN OKINAWA
DIT was ’n bedompige aand sonder ’n luggie wat trek. Dit het so pas opgehou reën, en elkeen het homself liggies probeer koel waai. Skielik het mense geskreeu: “Habu!” “Daar’s ’n habu!” Die geskreeu het die dorpsmense gewaarsku. Die grootmense het stokke gegryp en begin hardloop; nuuskierige kinders het agter hulle aan gehardloop. Waar was hy? Almal was bevrees. As hierdie slang van ongeveer twee meter jou byt, kan dit noodlottig wees. Die dorpsmense was verlig toe die ouer mense die slang se kop met lang stokke geslaan het totdat hy bewusteloos was. Toe is hy vinnig in ’n sak gesit om lewendig verkoop te word.
In die Rioekjoe-eilande, wat in die Oos-Chinese See geleë is, respekteer almal, van kind tot grootouer, die habu—die slang met die geel kolle en lansvormige kop—’n put-adder wat in sommige maar nie in al hierdie eilande inheems is nie. Laat ons hierdie vreesinboesemende slang nou van nader bekyk. Maar onthou om hom met ontsag te behandel en om hom altyd op ’n afstand te hou!
Vreesinboesemende ontwerp
Daar is verskillende soorte habu’s. Die een soort het donker, groen-bruin vlekke wat hom uitstekend in gras en verrottende blare kamoefleer. Van die ander is donkerder wat goed pas by die habu se nagtelike bedrywighede en neiging om in donker plekke weg te kruip.
Hierdie dier het gawes wat ons nie het nie, hoewel hy ’n bietjie bysiende is. Hy het so genoemde sensoriese putte aan weerskante van sy kop. Dit is holtes tussen die neusgate en die oë wat baie gevoelig is vir hitte. Die twee putte help hom om infrarooi straling te “sien” wat mense as hitte waarneem. Dit stel ’n habu in staat om ’n warm muisie selfs in die stikdonkerte te vang.
Jy het miskien al gesien hoe ’n slang sy tong beweeg. Sy tong dien as ’n buitengewone tweede neus. Deur hierdie bewegings tel die habu chemikalieë in die lug op en druk dan sy tong teen ’n orgaan in sy verhemelte wat sensitief is vir chemikalieë. Met hierdie tweede neus versamel die habu ’n skat van chemiese kennis uit die lug.
“Ná ’n aanval gaan ’n habu voort om sy tong sonder ophou heen en weer te beweeg”, het navorsers R. M. Waters en G. M. Burghardt aan die Universiteit van Tennessee gesê. Waarom ná die aanval na chemiese prikkels in die lug soek? Aangesien die gevaar altyd bestaan dat die desperate prooi die habu ook kan aanval, laat die habu dikwels sy prooi gaan nadat hy hom gebyt en die gif ingespuit het. Namate die gif dan begin werk, spoor die adder die prooi op deur met sy tong te “ruik”.
Nadat die habu die nou hulpelose prooi opgespoor het, hetsy dit ’n muis, kuiken of voël is, sluk hy dit heel in—kop, pote, stert, pels, vere, alles. Sy onderkaak haak aan die agterkant uit om die kakebeen te laat oopgaan sodat groot prooi ingesluk kan word. ’n Hele kat is in een habu se maag gevind, en dit word by een van die habu-sentrums in Okinawa uitgestal.
Sê nou ’n habu verloor een van sy buisvormige giftande in ’n aanval? Dit sal deur ’n nuwe tand vervang word. Daar is dan al habu’s met twee giftande aan elke kant van hulle mond gesien! Al verloor ’n habu ook sy giftande sal hy nie van honger doodgaan nie. Volgens ’n verslag het een habu drie jaar lank net van water geleef.
Hoe om sy aanval te vermy
Terwyl die kobra van Suidoos-Asië en die swart mamba van Afrika neurotoksiese gif inspuit, spuit die habu baie sterk haemotoksiese gif in. Dit word haemotoksies genoem omdat dit bloeding veroorsaak deur die bloedvate te vernietig. Die gif veroorsaak ’n brandpyn en swelling, en dit kan dodelik wees.
Party mense dink dat die slange uit hulle skuilplek spring en mense jaag, maar dit is nie die geval nie. Mense is nie vir die habu ’n lekkerny nie. Net as jy onwetend op ’n habu trap of op sy gebied oortree, sal hy miskien aanval. Die meeste slagoffers was in gebiede waar habu’s na prooi gesoek het, soos in groentetuine of suikerrietplantasies. Eilandbewoners gaan nooit in die lang gras sonder behoorlike beskerming vir hulle bene nie, en hulle dra snags ’n flitslig saam. Die habu is veral gedurende die nag bedrywig. O, jy moenie vergeet dat hierdie slange baie goeie boomklimmers is nie, wat hulle in staat stel om in die somer koel te bly en naby niksvermoedende voëls te wees. Pas dus op vir jou kop sowel as jou voete wanneer jy naby hulle habitat is!
Die beste manier om hierdie adder te behandel, is om hom in die eerste plek nie te laat inkom nie. Maak alle gate in ’n gebou se fondasie en buitemure toe. Hou die gras in jou erf kort. Met ander woorde, moenie vir die habu ’n wegkruipplek gee nie.
Sê nou jy word gebyt?
Wat kan gebeur as jy een van hierdie giftige slange teëkom? Die habu sal homself miskien opkrul, met die boonste helfte van sy liggaam in ’n S-vorm. Hier kom hy! Twee derdes van sy liggaam skiet na jou toe, kake wyd oop, giftande eerste.
Moenie paniekerig raak nie. Maak seker dat dit wel ’n habu was wat jou aangeval het. ’n Habu se bytplek kan herken word aan twee rooierige kolletjies, ongeveer twee sentimeter uitmekaar, waar die giftande deur jou vel gesteek het. Party het miskien drie of vier giftande, wat maak dat daar meer rooierige kolletjies is. Spoedig vererger ’n branderige gevoel, asof iemand jou hand in ’n vuur gesit het. Wat kan jy doen? Ontbied hulp. Suig dan die gif uit en spoeg dit op die grond. “Suig bloed ten minste tien keer herhaaldelik uit”, sê die Handbook for the Control of Habu, or Venomous Snakes in the Ryukyu Islands. Gaan na ’n hospitaal wat toegerus is met serum vir habugif. Maar moet nooit hardloop nie. Dit sal die gif vinnig deur jou liggaam versprei, wat die skade erger maak en herstel vertraag. As jy nie binne 30 minute by ’n hospitaal kan kom nie, moet jy die arm of been wat gebyt is met ’n toerniket afbind by ’n plek nader aan die hart as die bytplek om verspreiding van die gif te vertraag. Maar moet dit nie te styf bind nie, want die bloedsomloop moet nie verhinder word nie. Verminder die druk elke tien minute om die bloed te laat sirkuleer.
Masatosji Nozaki en Seiki Katsoeren, van die Okinawa Prefektorale Instituut vir Gesondheid en die Omgewing se afdeling van habunavorsing, het aan Ontwaak! gesê dat mense, selfs nadat hulle gebyt is, nie permanente immuniteit teen habugif ontwikkel nie. In die verlede het ’n byt dikwels tot amputasie gelei, maar vandag is daar min mense wat ’n ledemaat verloor, wat nog te sê sterf, as gevolg van habubyte. Vandag herstel 95 persent van diegene wat gebyt word danksy doeltreffende medisyne en terapeutiese tegnieke. Net die oorgerustes of dié wat te ver van mediese behandeling is, sal miskien ernstige probleme ondervind.
Habu’s te koop
Die habu het min natuurlike vyande. Huiskatte en honde is geneig om met hulle te speel. ’n Niegiftige slang wat akamata genoem word, party wesels, wildevarke en valke is van sy vyande. Hoewel die muishond na die Rioekjoe-eilande gebring is om die habubevolking te help beheer, was dit nie baie doeltreffend om hulle uit te roei nie.
Die mens is die dodelikste van al sy natuurlike vyande. Net soos die dorpsmense wat uitgehardloop het die oomblik toe daar “Habu!” geskreeu is, is daar baie wat gretig is om ’n habu te vang die oomblik wat hy sy verskyning maak. Ten spyte van die gevaar is die markwaarde van tussen R300 en R400 vir een habu te veel van ’n versoeking vir baie.
Waarvoor word die habu gebruik? Habudrank en gedroogde slangpoeier, wat albei om gesondheidsredes geneem word, word van hom gemaak. Baie word lewendig in vertonings gebruik om toeriste te lok. Die vel is natuurlik goed vir notebeurse en gordels, terwyl die gif gebruik word om antitoksien te maak. Ongeag sulke gebruike is die raad steeds: Bly weg van die habu!
[Prent op bladsy 10]
Die habu met sy buisvormige giftande. Sy onderkaak haak uit om groter prooi in te sluk