’n Gemeenskap wat op pale woon
Deur Ontwaak!-medewerker in Benin
“GANVIÉ is een van Benin se vernaamste toeriste-aantreklikhede”, sê ’n reisgids vir Wes-Afrika. ’n Ander een sê: “Afrikane self word deur Ganvié gefassineer; jy sal net soveel toeriste van Afrika as Westerlinge sien.”
Ganvié is inderdaad uniek. Dit is ’n dorpie wat 15-000 inwoners het en op pale gebou is bokant die water van die Nokouémeer, noord van Cotonou, Benin. In Ganvié is daar geen fietse, geen motors, geen sypaadjies en geen paaie nie. As die mense wat daar woon na die skool, die mark, die gesondheidskliniek, die bure se huis of enige ander plek wil gaan, klim hulle in ’n kano wat uit ’n uitgeholde irokoboom gemaak is.
Die meeste gesinne besit ’n paar kano’s—een vir die vader, een vir die moeder en soms een vir die kinders. Kinders leer vroeg reeds om te roei. Op vyfjarige ouderdom kan ’n kind reeds ’n boot alleen hanteer. Weldra het hy of sy genoeg vertroue om in ’n kano te staan om ’n klein visnet uit te gooi. Party kinders geniet dit om besoekers te beïndruk deur in hulle kano op hulle kop te staan.
By Ganvié se drywende mark sit handelaars, meestal vroue, in hulle kano’s met hulle ware wat hoog voor hulle opgestapel is—speserye, vrugte, vis, medisyne, vuurmaakhout, bier en selfs radio’s. Strooihoede met yslike rande voorsien skaduwee teen die tropiese son terwyl hulle hulle ware aan ander verkoop wat met hulle kano’s daarheen roei om te koop. Soms is die verkopers jong dogters. Moenie jou deur hulle ouderdom laat bedrieg nie! Hulle leer vroeg reeds die verkoopkuns om vernuftig te onderhandel.
Terwyl die vroue by die mark koop en verkoop, hou die mans hulleself besig met visvang, of visboerdery om presieser te wees. Hulle visvangmetode behels dat honderde takke in die modderige bodem van die meer ingesteek word, wat ’n digte stokversameling vorm. Dit lok skole visse, wat die verrottende takke eet. Ná etlike dae keer die mans terug met hulle nette om die vangs in te samel.
Van skuilplek tot toeriste-aantreklikheid
Die Toffinu van Ganvié was nie altyd die “Mense van die water”, soos hulle vandag bekend staan, nie. Vroeg in die 18de eeu het hulle na die meer en moerasse gevlug om weg te kom van vervolging deur ’n naburige koninkryk in Afrika. Kenners sê dat die naam Ganvié hierdie geskiedenis weergee, want in die Toffin-taal kan die woord gan vertaal word met “ons is gered” en die woord vie beteken “gemeenskap”. Die naam van hierdie hoofstad van die dorpies op die meer kan dus vry vertaal word as “die gemeenskap van mense wat uiteindelik vrede gevind het”.
Dit was ’n doeltreffende strategie om na die moerasagtige gebied om die Nokouémeer te vlug, aangesien die godsdiensopvattings van die vyandelike koninkryk geen soldaat toegelaat het om dit in die water of in gebiede wat aan oorstromings onderhewig was te waag nie. Die meer het hulle dus van lewensonderhoud sowel as ’n skuilplek teen die vyand voorsien. Dit is ironies dat hierdie gemeenskap, wat nou welbekend is en deur menigtes toeriste in motorbote besoek word, vroeër ’n skuilplek was.