Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 4/8 bl. 19-22
  • Ek het uiteindelik die waarheid gevind

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek het uiteindelik die waarheid gevind
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Intensiewe godsdiensonderrig
  • Te midde van onrus
  • ’n Wêreld wat in oorlog verkeer
  • Ek vind die waarheid
  • ’n Kosbare voorreg
  • Wonderlike seëninge
  • Verbaas oor wat hulle gesien het
    Ontwaak!—1991
  • My hoop het ondanks beproewinge sterk gebly
    Ontwaak!—2002
  • Jehovah se Getuies in Oos-Europa
    Ontwaak!—1991
  • Ek Het Geleer Om Op Jehovah Te Vertrou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 4/8 bl. 19-22

Ek het uiteindelik die waarheid gevind

Teen die einde van Augustus 1939 het ek op pad na my huis in Boedapest, Hongarye, by Moskou aangegaan. Die nieaanvalsverdrag tussen Duitsland en die Sowjetunie is ’n paar dae vantevore, op 23 Augustus, onderteken, en die Kremlin se mure was met Nazi-swastikavlae versier. Waarom was ek in Rusland, en wat het by die huis op my gewag?

MAAR laat ek eers teruggaan na die klein Hongaarse dorpie Veszprém, waar ek op 15 Januarie 1918 gebore is. Ek was die oudste van vier kinders, en ons ouers het toegesien dat ons gereeld kerk toe gaan. Teen die tyd dat ek vyf was, het ek in ’n Rooms-Katolieke klooster met die mis gehelp. Tuis het ek kamstig die mis vir my broers en susters gehou en ’n papierkleed gedra wat ek vir die diens gemaak het.

Toe ek agt was, het my pa die gesin verlaat, en my ma het met haar ma se hulp na ons omgesien. Die jaar daarna het my ma aan kanker gesterf. In die daaropvolgende jare is ons kinders geskei en in verskillende weeshuise en by verskillende pleegouers geplaas. Die laaste weeshuis waarin ek was, was naby Boedapest. Dit is deur die Frères Maristes (Broeders van Maria) bestuur, ’n Franse orde van Katolieke onderwysers. Ek het ’n ware liefde vir God gehad en het dus, toe ek 13 word, die aanbod aanvaar om deur hulle godsdiensorde opgelei te word.

Intensiewe godsdiensonderrig

Die volgende jaar is ek Griekeland toe gestuur, waar ek ’n Frères Maristes-skool bygewoon het wat in Frans gehou is en my voorberei het om ’n onderwyser te word. Vier jaar later, in 1936, het ek gegradueer en ’n sertifikaat ontvang wat getoon het dat ek as laerskoolonderwyser gekwalifiseer het. Ná my graduering het ek ’n broeder in die godsdiensorde geword en die drievoudige eed van armoede, gehoorsaamheid en kuisheid afgelê. Hoewel die broeders godsdiensgewade gedra het en katkisasieklasse gegee het, het ons nooit die Bybel bestudeer nie.

Daardie somer het ek aansoek gedoen om in China te gaan onderwys gee, en my aansoek is goedgekeur. Op 31 Oktober 1936 het ek met ’n oseaanboot vanaf Marseille, Frankryk, vertrek. Op 3 Desember 1936 het ek in Sjanghai aangekom. Daarvandaan is ek per trein na Beijing, die hoofstad, in die noorde van China.

In ’n bergagtige streek ongeveer 25 kilometer van Beijing af het die Frères Maristes-godsdiensorde ’n groot skool, slaapsale en plaasgeboue gehad. Dit was naby die keiser se somerwoning geleë en het onder meer lieflike tuine en vrugteboorde gehad. Daar het ek by ’n intensiewe studie van Chinees en Engels betrokke geraak. Maar ons het nooit die Bybel bestudeer nie.

Te midde van onrus

In die vroeë dertigerjare het Japan Mantsjoerye beset, wat ’n deel van China was. In Julie 1937 was daar naby Beijing gevegte tussen Japannese en Chinese troepe. Die seëvierende Japannese het ’n nuwe regering saamgestel met Chinese van hulle keuse. Dit het tot gevegte tussen Chinese guerrillas en die nuwe regering gelei.

Aangesien ons klooster buite Beijing as Franse gebied erken is, het dit direkte gevegte vrygespring. Tog het verdwaalde kanonkoeëls en geweervuur ons getref en party van die meer as 5000 Chinese gewond wat by ons klooster skuiling gesoek het. Intussen het Chinese guerrillas die platteland beheer.

In September 1937 het ongeveer 300 gewapende Chinese guerrillas ons geboue aangeval op soek na wapens, geld en voedsel. Ek was een van tien Europeërs wat as gyselaars geneem is. Nadat ons ses dae lank aangehou is, was ek onder die eerste gyselaars wat vrygelaat is. Ek het siek geword omdat ek besmette kos geëet het en het gevolglik ’n maand in die hospitaal deurgebring.

Nadat ek uit die hospitaal ontslaan is, is ek oorgeplaas na ’n ander skool wat deur die godsdiensorde bestuur is en in ’n veiliger deel van Beijing was. In Januarie 1938 is ek na Sjanghai gestuur om daar onderwys te gee, maar het in September na Beijing teruggekeer om daar klas te gee. Aan die einde van die skooljaar het ek egter nie my godsdienseed hernieu nie. Sewe jaar lank het ek ’n godsdienstige lewe en opleiding nagestreef, maar geen bevrediging gevind in my soeke na die waarheid nie. Ek het dus die godsdiensorde verlaat en na my huis in Boedapest teruggekeer.

Teen daardie tyd het die stormwolke van die Tweede Wêreldoorlog begin saampak. My Franse kloostervoogde het my aangemoedig om die Trans-Siberiese trein te neem, wat deur dele van die Sowjetunie gegaan het. Dit was op hierdie reis dat ek Moskou op 27 Augustus 1939 bereik het en gesien het hoe die Kremlin met Nazi-vlae versier is.

’n Wêreld wat in oorlog verkeer

Ek het op 31 Augustus 1939 in Boedapest by die huis aangekom. Die volgende dag het Duitsland Pole binnegeval, en so die Tweede Wêreldoorlog begin. Later het Duitsland sy nieaanvalsverdrag met die Sowjetunie verbreek, en op 22 Junie 1941 het Hitler se leërs die Sowjetunie binnegeval. Hulle het tot by Moskou se voorstede gevorder, maar hulle kon nie die stad inneem nie.

Die goewerneur van Hongarye het ’n vredesooreenkoms met Duitsland onderteken, en die Duitse leërs is die vryheid verleen om deur Hongarye te gaan. Ek is in 1942 getroud, en in 1943 is ek opgeroep om in die Hongaarse leër te dien. In Maart 1944 het Duitsland Hongarye binnegeval omdat Hitler ontevrede was met die manier waarop Hongarye sy oorlogspoging gesteun het. Daardie jaar is ons seun gebore. Om die swaar bombardement van Boedapest te vermy, het my vrou en seun na die platteland gegaan om by haar ouers te gaan woon.

Daar het ’n wending in die verloop van die oorlog gekom, en die Sowjetleër het na Boedapest opgeruk en dit op 24 Desember 1944 bereik. Die Russe het my gevange geneem, en ek het ’n krygsgevangene geword. Duisende van die gevangenes is gedwing om ongeveer 160 kilometer na Baja, Hongarye, te loop. Daar is ons in beestrokke ingebondel, na Timisoara geneem en in ’n groot kamp geplaas. Ten minste 20 000 van die 45 000 gevangenes het vroeg in 1945 gedurende ’n buiktifusepidemie gesterf.

In Augustus is die 25 000 kampoorlewendes na die Swart See geneem. Daarvandaan is ongeveer 20 000 na die Sowjetunie gedeporteer. Maar ongeveer 5000 ander, wat siek was, ek inkluis, is na Hongarye teruggeneem en vrygelaat. Agt vreeslike maande van gevangenskap het dus ten einde geloop. ’n Paar weke later is ek met my vrou en seun herenig, en ons het na Boedapest teruggekeer om daar te woon.

Ná die oorlog het die lyding vir baie voortgeduur. Kos was skaars en die inflasie was verskriklik hoog. Wat een Hongaarse pengö in 1938 kon koop, het in 1946 meer as eenkwintiljoen (1000 000 000 000 000 000-000000 000 000) pengö’s gekos! Toe ek kantoorwerk by die spoorweg kry, het ons lewe mettertyd verbeter.

Ek vind die waarheid

In 1955 het een van Jehovah se Getuies wat in ons woonstelblok in Boedapest gewoon het met my vrou, Anna, oor die Bybel begin praat. My belangstelling is gewek toe Anna vir my vertel het dat die Bybel nie leer dat die hel ’n plek van foltering is nie (Prediker 9:5, 10; Handelinge 2:31). As ’n Katoliek het ek nooit die Bybel bestudeer nie, selfs nie eens terwyl ek spesiale opleiding in kerkskole ontvang het nie. Ek het eenvoudig die onskriftuurlike Katolieke leerstellings, soos die helse vuur, aanvaar. Nou het ek Bybelwaarhede liefgekry, veral dié aangaande God se Koninkryk en hoe dit God se voorneme sal vervul om die aarde ’n paradys te maak (Matteus 6:9, 10; Lukas 23:42, 43; Openbaring 21:3, 4). Ek het ’n wonderlike geluk gesmaak wat ek nooit tevore ervaar het nie.

Destyds is Jehovah se Getuies in Hongarye vervolg en opgesluit omdat hulle moedig die waarhede oor God se Koninkryk aan ander geleer het. Ek het al die Hongaarse lektuur van die Getuies gelees wat ek kon kry, en ek kon ook hulle Engelse en Franse publikasies wat nie in Hongaars vertaal is nie in die hande kry. Hoe dankbaar was ek tog dat ek hierdie ander tale geleer het!

In Oktober 1956 het die Hongare in opstand gekom teen die Kommunistiese bewind wat deur die Russe ingestel is. Daar was hewige gevegte in Boedapest. Baie wat in die gevangenis was, onder andere Jehovah se Getuies, is vrygelaat. Dit was gedurende hierdie tyd dat ek en my vrou ons laat doop het as simbool van ons toewyding aan Jehovah God. ’n Week later het Russiese troepe die opstand onderdruk. Die Getuies wat vrygelaat is, is na die gevangenis teruggestuur.

’n Kosbare voorreg

Aangesien die meeste Getuies wat vir die predikingswerk verantwoordelik was in die gevangenis was, het ’n mede-Christen my genader en gevra of ek van ons Bybellektuur kan vertaal. Aanvanklik is ek persoonlike briewe van Switserland af gegee wat getikte Wagtoring-artikels in Frans bevat het. Ek het dit in Hongaars vertaal, en afskrifte van die vertaalde artikels is dan aan die gemeentes beskikbaar gestel.

Toe die Hongaarse takkneg, János Konrád, in 1959 vrygelaat is, nadat hy 12 jaar lank weens sy Christelike neutraliteit in die gevangenis was, is ek as ’n vertaler aangestel. Toe is ek Engelse materiaal gegee om te vertaal. ’n Vrouekoerier wie se naam ek nie geken het nie, het dit gewoonlik vir my gebring. As ek dus ooit gevang en gemartel sou word, sou ek nie haar naam kon gee nie.

Nadat ek Die Wagtoring vertaal het, het broer Konrád dit vir juistheid nagesien. Dan het susters die vertaalde artikels op baie dun papier getik en deurslagpapier gebruik om tot 12 afskrifte te maak. Met tye het elkeen wat die Wagtoring-studie bygewoon het dus hulle eie getikte afskrif van die les gehad. Daarna het hulle hulle afskrifte vir ’n ander studiegroep gegee. Maar dikwels kon ons net een afskrif van Die Wagtoring vir elke studiegroep voorsien. Dan moes almal teenwoordig baie goed aandag skenk en aantekeninge maak om ten volle by die Bybelbespreking baat te vind.

Vandat ek in 1956 begin vertaal het tot in 1978 was Die Wagtoring in Hongaars slegs in getikte vorm versprei. Vanaf 1978 tot 1990 is afskrifte van Die Wagtoring op ’n afrolmasjien gemaak. En wat ’n seën is dit tog dat Die Wagtoring en Ontwaak! sedert Januarie 1990 in pragtige volkleur gedruk word!

Onder die Kommunistiese bewind moes almal ’n sekulêre werk hê. Daarom het ek 22 jaar lank, totdat ek in 1978 afgetree het, vertaling gedoen in die ure wat ek nie sekulêr gewerk het nie. Dit was gewoonlik vroeg soggens en tot laat snags. Ná my aftrede het ek voltyds as ’n vertaler gedien. Destyds het elke vertaler by die huis gewerk, en weens die verbod was dit vir ons moeilik om met mekaar te kommunikeer. In 1964 het die polisie tegelykertyd ’n klopjag op al die vertalers se huise uitgevoer en ons materiaal gekonfiskeer. Jare daarna is ons huise nog dikwels deur die polisie deursoek.

Wonderlike seëninge

In 1969 is my aansoek om ’n paspoort goedgekeur, en ek en János Konrád kon dus van Hongarye af reis om die “Vrede op Aarde”- Internasionale Byeenkoms van Jehovah se Getuies in Parys by te woon. Wat ’n seën was dit tog om mede-Getuies uit ander lande te ontmoet en ’n paar dae by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Bern, Switserland, deur te bring! In die sewentigerjare kon baie Getuies uit Hongarye na Oostenryk en Switserland gaan vir byeenkomste.

Ná jare van regeringsbeperkings het ons in 1986 met die staat se toestemming ons eerste byeenkoms by die Kamaraerdő-jeugpark in Boedapest gehou. Die meer as 4000 wat teenwoordig was, het trane van vreugde in hulle oë gehad toe hulle hulle broers en susters groet en die verwelkomingswoorde lees wat bokant die ingang van die park gepryk het.

Uiteindelik, op 27 Junie 1989, het die regering wetlike erkenning aan Jehovah se Getuies verleen. Die nuus hiervan is oor die Hongaarse televisie- en radiodiens aangekondig tot die vreugde van ons broers en susters. Daardie jaar het ons, sonder enige beperkings, ons eerste streekbyeenkomste gehou sedert die verbod byna 40 jaar vroeër op ons werk geplaas is. Meer as 10 000 het die samekoms in Boedapest bygewoon en nog duisende was by die vier ander byeenkomste in die land teenwoordig. Hoe verheug was ek tog om te sien hoe my jongste broer, László, en sy vrou in Boedapest gedoop word!

Toe, in Julie 1991, het ons ’n seëning ontvang wat ons hoogste verwagtinge oortref het—’n byeenkoms by Boedapest se groot Nép-stadion, wat deur meer as 40 000 afgevaardigdes bygewoon is. Daar het ek die voorreg gehad om toesprake te tolk wat deur lede van die hoofkwartierpersoneel van Brooklyn gehou is.

Vandag werk ek en Anna, asook meer as 40 van ons dierbare broers en susters, by die pragtige takkantoor van Jehovah se Getuies in ’n voorstad van Boedapest. Hier dien ek in ons Vertaaldepartement, saam met ’n puik span jonger mense, en Anna doen huiswerk.

Ondanks ons pogings om Bybelwaarhede aan ons seun te leer, het hy, toe hy groot geword het, dit nie aangeneem nie. Maar hy is die waarheid nou goedgesind, en ons hoop dat hy Jehovah mettertyd sal dien.

Ek en my vrou is waarlik dankbaar dat ons die waarheid oor ons liefdevolle God, Jehovah, gevind het en hom nou al meer as 40 jaar kon dien.—Soos vertel deur Endre Szanyi.

[Prent op bladsy 21]

Saam met my vrou

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel