Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 10/22 bl. 25-27
  • Waarom kry my broer al die aandag?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom kry my broer al die aandag?
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom hulle partydig is
  • Verskillende behandeling—’n Onreg?
  • Leer om onderskeidingsvermoë aan die dag te lê
  • Waarom moet ek die jongste kind wees?
    Ontwaak!—1992
  • Voortrekkery—Wat kan ek daaromtrent doen?
    Ontwaak!—1997
  • Hoe kan ek ’n voorbeeld vir my jonger broers en susters wees?
    Ontwaak!—1991
  • Gaan ek eendag soos my broer wees?
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 10/22 bl. 25-27

Jongmense vra . . .

Waarom kry my broer al die aandag?

“Wat my pla, is dat my broers en susters baie aandag kry wanneer hulle stout is—of die aandag nou positief of negatief is. Maar aangesien ek geneig is om gehoorsaam te wees, word ek oor die hoof gesien.”—18-jarige Kay.a

“My broers en susters kry meer aandag en word beter behandel. Die enigste aandag wat ék kry, is wanneer ek raas kry. Ek sou beter voel as ek geweet het dat hulle ook raas kry.”—15-jarige Ruth.

“Dit lyk vir my asof my ouer broers en susters meer voorregte en aandag kry.” —13-jarige Bill.

VAN ons geboorte af het ons almal aandag van ons ouers nodig. Dit is dus te verstane dat jy seergemaak en kwaad sal voel as jy dink dat jy nie jou regmatige deel kry nie. Veral as dit lyk asof jou broer of suster—die oudste, die jongste, die soetste of selfs die ongehoorsaamste—voortdurend die middelpunt van belangstelling is. Jy kan selfs soos Dawid voel toe hy geskryf het: “Ek is vergeet uit die hart, soos ’n dooie; ek het geword soos ’n ding wat lê en vergaan.”—Psalm 31:13.

Dit kan pynlik wees om toe te kyk hoe ’n broer of suster die aandag kry wat jy self sou wou gehad het. Maar beteken dit noodwendig dat jy nie gelief is nie? Glad nie. Jongmense kry soms ekstra aandag omdat hulle buitengewone vermoëns het of baie spontaan is. Die 11-jarige Kenneth sê: “Selfs al is my jonger broer, Arthur, nou in graad drie, speel hy al in die graad vyf-orkes. Hy blink ook uit in sport en wiskunde. Om die waarheid te sê, hy kry A’s in al sy vakke op skool. Soms dink ek dat mense meer van hom hou as van my, maar ek is nie jaloers op hom nie. Wel, miskien so ’n bietjie.”

En dan is daar jongmense wat blykbaar die grootste deel van hulle ouers se tyd kry, net omdat hulle die oudste—of die jongste—is. Die Bybel sê van die jong man Josef: “Israel het Josef meer liefgehad as al sy seuns; want hy was vir hom ’n seun van die ouderdom” (Genesis 37:3, 4). Daarteenoor het die 18-jarige Todd gevoel dat sy broer voorgetrek word omdat hy die oudste is. Hy onthou: “Ons klas is eenkeer gevra om ’n gunstelingbabafoto vir ’n skooltaak te bring. Ek kon slegs ’n paar foto’s van myself kry, maar het opgemerk dat daar baie meer foto’s van my ouer broer is. Dit het my laat wonder waarom.”

Maar dikwels word ekstra aandag aan ’n broer of suster geskenk omdat hy of sy probleme het—probleme waarvan jy dalk onbewus is. “Toe ek omtrent 16 was, het my ouer broer ’n moeilike tyd deurgemaak”, verduidelik Cassandra, nou 22. “Hy was nie seker of hy Jehovah regtig wou dien nie, en my ouers het byna al hulle aandag op hom toegespits. Ek kon destyds nie die rede daarvoor verstaan nie. Ek het gevoel dat hulle glad nie vir my omgee nie. Dit het my hartseer en uitgesluit laat voel—en ook ’n bietjie kwaad.”

Waarom hulle partydig is

Ouers is egter soms skuldig aan openlike partydigheid. ’n Moeder het erken: “Ek weet dat my seun, Paul, pynlik bewus is van die feit dat ons baie trots is op ons dogter. Hy het reguit vir ons gesê: ‘Ma en Pa kyk altyd vir mekaar wanneer Liz iets sê.’ Ons het eers nie geweet wat hy bedoel nie. Toe het ons besef dat ons voortdurend met hierdie ‘is-sy-nie-te-pragtig-nie’-uitdrukkings na mekaar kyk. Sedert hy ons aandag daarop gevestig het, het ons regtig hard probeer om dit nie meer te doen nie.”

Maar waarom is ouers in die eerste plek partydig? Hulle eie opvoeding speel dalk ’n rol. As jou moeder byvoorbeeld as die jongste kind grootgeword het, sal sy dalk makliker met haar jongste kind identifiseer. Sy sal dalk geneig wees om daardie een se kant te kies sonder dat sy daarvan bewus is. Of ’n ouer kan aangetrokke voel tot ’n kind wat ’n soortgelyke geaardheid as hy het of met wie hy iets in gemeen het. Beskou wat die Bybel van Isak en Rebekka in verband met hulle tweelingseuns, Jakob en Esau, sê: “Die seuns het opgegroei: Esau het ’n ervare jagter geword, ’n man van die veld; maar Jakob was ’n vredeliewende man wat in tente gewoon het. En Isak het Esau liefgehad, want wildsvleis was na sy smaak; maar Rebekka het Jakob liefgehad.”—Genesis 25:27, 28.

Wat moet jy doen as dit lyk asof jou ouers een van jou broers of susters voortrek?b Jy kan probeer om op ’n kalm manier met hulle daaroor te praat, sonder om verwytend te wees (Spreuke 15:22). Deur eerbiedig na hulle te luister, sal jy dalk dinge uit hulle oogpunt kan sien. Dít kan jou frustrasie help verminder (Spreuke 19:11). Een tiener sê: “Dit het my regtig gepla dat my ma nader aan my broer as aan my is. Toe ek haar daaroor gevra het, het sy verduidelik dat sy ’n teer plekkie in haar hart vir hom het, aangesien hy baie soos my pa is. En aangesien ek baie soos sy is, is my pa nader aan my. Omdat ek en sy weer baie eenders is, werk ons op mekaar se senuwees. En omdat my pa en my broer baie eenders is, maak hulle mekaar gek. Nadat sy dit só verduidelik het, kon ek dit aanvaar—al was ek nie heeltemal in my skik daarmee nie.”

Verskillende behandeling—’n Onreg?

Waarom kan ouers dan nie eenvoudig almal presies dieselfde behandel nie? Beth, wat nou 18 is, sê: “Toe ek omtrent 13 was, het ek gevoel dat ek en my broer dieselfde—presies dieselfde—behandel moes word. Maar ek was die een met wie daar altyd geraas is, terwyl hy altyd skotvry daarvan afgekom het. En hy kon meer tyd saam met my pa deurbring terwyl hy aan die kar gewerk het. Dit het so onregverdig gelyk.”

Maar verskillende behandeling is nie noodwendig onregverdig nie. Beskou hoe Jesus Christus sy apostels behandel het. Hy het ongetwyfeld al 12 liefgehad, en tog het hy net 3 van hulle genooi om getuies van sekere spesiale gebeurtenisse te wees, waaronder die opwekking van Jaïrus se dogtertjie en Sy gedaanteverandering (Matteus 17:1; Markus 5:37). Daarbenewens het Jesus ’n besonder hegte vriendskap met die apostel Johannes gehad (Johannes 13:23; 19:26; 20:2; 21:7, 20). Was dit eenderse behandeling? Beslis nie. Was dit onregverdig? Glad nie. Want hoewel Jesus dalk besonder aangetrokke tot party van hulle gevoel het, het hy nie die behoeftes van sy ander apostels geïgnoreer nie.—Markus 6:31-34.

Dit kan eweneens wees dat een van jou broers of susters spesiale aandag kry vanweë hulle talente, persoonlikheid of behoeftes. Dit kan natuurlik pynlik wees om te sien. Maar die vraag is: Word jou behoeftes werklik geïgnoreer? Is jou ouers daar wanneer jy hulle raad, hulp of ondersteuning nodig het? Indien wel, kan jy werklik sê dat jy ’n slagoffer van onregverdigheid is? Die Bybel moedig ons aan om ander “na gelang van hulle behoeftes” te behandel (Romeine 12:13). Aangesien jy en jou broers en susters individue met verskillende behoeftes is, is dit eenvoudig net nie vir jou ouers moontlik om julle almal te alle tye dieselfde te behandel nie.

Beth, wat vroeër aangehaal is, het dus tot die besef gekom dat dit nie altyd regverdig is om kinders dieselfde te behandel nie. Sy sê: “Ek het begin sien dat ek en my broer twee verskillende mense is wat verskillend behandel moet word. As ek nou terugkyk, kan ek nie glo dat ek dit nie kon insien toe ek jonger was nie. Ek dink dit is seker maar hoe ’n mens dinge op daardie ouderdom beskou.”

Leer om onderskeidingsvermoë aan die dag te lê

Ja, die manier waarop ‘’n mens dinge beskou’, het baie te doen met hoe jy op jou omstandighede reageer. Net soos getinte lense kan jou emosies die manier waarop dinge vir jou lyk, kleur. En die emosionele behoefte aan ouerlike aandag en goedkeuring is sterk. Die navorsers Stephen Bank en Michael Kahn sê: “Selfs al sou ouers die onmoontlike droom bereik om hulle totaal uiteenlopende kinders onpartydig te behandel, sou elke kind steeds dink dat die ouers een van die ander kinders voortrek.”

Kyk byvoorbeeld weer na wat die drie jongmense gesê het wat aan die begin aangehaal is. Hulle situasie sou sleg gelyk het, as dit nie vir dié feit was nie: Hulle is broers en susters! Ja, elkeen dink dat die ander meer aandag kry en dat hy of sy die een is wat geïgnoreer word! Ons beskouing van sake is dus dikwels ’n bietjie verwronge. Spreuke 17:27 (NW) sê: “’n Man van onderskeidingsvermoë is kalm van gees.” ’n Mens lê onderskeidingsvermoë aan die dag deur dinge realisties en objektief te beskou, nie emosioneel nie. Onderskeidingsvermoë sal jou help om te besef dat jou ouers julle almal se belange op die hart dra al behandel hulle julle dalk nie almal dieselfde nie! Hierdie besef kan jou help om nie kwaad of verbitterd te wees nie.

Maar sê nou jy het grondige rede om te glo dat jy nie jou regmatige deel van die aandag kry nie? Wat kan jy doen? Dit sal in ’n toekomstige nommer van die Ontwaak! bespreek word.

[Voetnote]

a Van die name is verander.

b ’n Toekomstige artikel sal die onderwerp oor hoe om voortrekkery die hoof te bied breedvoeriger bespreek.

[Prent op bladsy 26]

Verskillende behandeling kan onregverdig lyk

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel