Jongmense vra . . .
Voortrekkery—Wat kan ek daaromtrent doen?
“My suster is twee jaar jonger as ek en sy kry al die aandag. . . . Ek dink nie dis regverdig nie.”—Rebecca.a
HOE meer aandag jou broer of suster kry, hoe meer voel jy dalk dat jy uitgesluit word. En as jy ’n broer of suster het wat uitstekende vermoëns het, ernstige probleme ondervind of belangstellings of karaktertrekke met julle ouers in gemeen het, kan dit vir jou werklik ’n stryd wees om enigsins aandag te kry! Hoe meer jy daaroor dink, hoe meer seergemaak en kwaad voel jy dalk.b
Die Bybel waarsku egter: “As jy ontsteld raak, moenie sondig nie; dink in stilte daaroor na as jy gaan lê, en laat dit daarby!” (Psalm 4:5). Wanneer ’n mens ontsteld en kwaad is, is jy baie meer geneig om iets te sê of doen waaroor jy later dalk spyt sal wees. Onthou hoe Kain ontsteld geraak het oor die begunstigde posisie wat sy broer, Abel, voor God gehad het. God het hom gewaarsku: “Die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jý moet daaroor heers” (Genesis 4:3-16). Kain het nie sy gevoelens beheers nie, en die gevolg was rampspoedig!
Jy staan weliswaar nie op die punt om ’n moordenaar te word soos Kain nie. Voortrekkery kan nietemin lelike gevoelens en emosies opwek. Daarom lê en loer gevare dalk voor jou deur! Wat is party van hulle? En hoe kan jy hierdie situasie baasraak?
Beteuel jou tong!
Toe Beth 13 was, het sy gevoel dat haar ouers haar broer voortrek en haar onregverdig behandel. Sy vertel: “Ek en my ma het baie op mekaar geskreeu, maar ons het niks daardeur bereik nie. Ek het nie geluister na wat sy gesê het nie en sy het nie geluister na wat ek gesê het nie, en dus het ons niks bereik nie.” Dalk het jy ook agtergekom dat ’n geskreeu net ’n slegte situasie vererger. Efesiërs 4:31 sê: “Laat alle kwaadwillige bitterheid en toorn en gramskap en geskreeu en smadende taal van julle af weggeneem word, saam met alle slegtheid.”
Jy hoef nie te skreeu om jou punt te stel nie. ’n Kalm benadering werk in elk geval gewoonlik beter. Spreuke 25:15 sê: “Deur lankmoedigheid word ’n vors oorgehaal, en ’n sagte tong verbreek die gebeente.” As dit dus lyk of jou ouers hulle aan voortrekkery skuldig maak, moet jy nie skreeu of aantygings maak nie. Wag vir ’n gepaste tyd, en praat dan op ’n kalm, eerbiedige wyse met hulle.—Vergelyk Spreuke 15:23.
As jy die aandag op jou ouers se tekortkominge vestig of hulle verwyt oor hoe “onregverdig” hulle is, sal jy hulle net van jou vervreem of hulle verdedigend laat optree. Vestig eerder die aandag op hoe hulle optrede jou geraak het. (‘Dit maak my werklik seer wanneer julle my ignoreer.’) Die kanse is groter dat hulle beweeg sal word om jou ernstig te neem. Wees ook ‘gou om te hoor’ (Jakobus 1:19). Jou ouers het heel moontlik gegronde redes waarom hulle jou broer of suster ekstra aandag gee. Dalk ondervind hy of sy probleme waarvan jy nie bewus is nie.
Maar sê nou jy is geneig om woedend te word en onbesonne dinge te sê wanneer jy kwaad is? Spreuke 25:28 vergelyk ’n “man wat sy gees nie kan inhou nie” met ’n stad “sonder muur”; hy sal waarskynlik deur sy eie onvolmaakte impulse oorweldig word. Aan die ander kant is die vermoë om jou gevoelens te beheers ’n teken van ware sterkte! (Spreuke 16:32). Waarom wag jy dan nie totdat jy gekalmeer het, dalk selfs tot die volgende dag toe, voordat jy sê hoe jy voel nie? Jy sal dit moontlik ook nuttig vind om van die situasie af weg te kom, deur miskien te gaan stap of ’n paar oefeninge te doen (Spreuke 17:14, NW). Deur ’n wag voor jou mond te sit, kan jy dit vermy om iets kwetsends of dwaas te sê.—Spreuke 10:19; 13:3; 17:27.
Subtiele ongehoorsaamheid
Nog ’n slaggat wat vermy moet word, is ongehoorsaamheid. Die 16-jarige Marie het opgelet dat haar jonger boetie nooit gestraf word wanneer hy die gesinsbybelstudie ontwrig nie. Gefrustreerd deur hierdie skynbare partydigheid, het sy “gestaak” deur te weier om aan die studie deel te neem. Het jy al ooit stilswye gebruik of geweier om jou samewerking te gee wanneer jy gemeen het dat iets onregverdig is?
Indien wel, moet jy besef dat sulke subtiele taktiek in stryd is met die Bybel se gebod om jou ouers te eer en te gehoorsaam (Efesiërs 6:1, 2). Daarbenewens ondermyn ongehoorsaamheid jou verhouding met jou ouers. Dit is beter om jou probleme met jou ouers uit te praat. Spreuke 24:26 (NW) toon dat die een “wat reguit antwoord” ander se respek kry. Toe Marie die saak met haar moeder bespreek het, het hulle tot ’n vergelyk gekom, en dinge het begin verbeter.
Die gevaar van afsondering
Nog ’n gevaarlike manier waarop jy op voortrekkery kan reageer, is om jou van jou gesin te onttrek of jou na ongelowiges te wend vir aandag. Dit is wat met Cassandra gebeur het: “Ek het my van my gesin afgesonder en my na wêreldse vriende gewend met wie ek by die skool bevriend geraak het. Ek het selfs kêrels gehad, en my ouers het nie daarvan geweet nie. Toe het ek baie terneergedruk geraak en ’n skuldige gewete gehad omdat ek geweet het dat ek nie die regte ding doen nie. Ek wou uit die situasie uitkom, maar kon net nie ’n manier sien waarop ek my ouers kon vertel nie.”
Dit is gevaarlik om jou van jou gesin en medegelowiges af te sonder—veral wanneer jy ontsteld is en nie helder dink nie. Spreuke 18:1 waarsku: “Hy wat hom afskei, soek sy eie begeerte; hy bestry alles wat waarlik tot voordeel strek.” As jy dit op hierdie tydstip moeilik vind om jou ouers te nader, kan jy met ’n Christenvriend praat soos die een wat in Spreuke 17:17 (NW) beskryf word: “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is.” Gewoonlik word so “’n ware metgesel” die maklikste onder volwasse lede van die gemeente gevind.
Cassandra het “’n ware metgesel” in haar tyd van nood gevind: “Toe die kringopsiener [reisende bedienaar] ons gemeente besoek het, het my ouers my aangespoor om saam met hom te werk. Hy en sy vrou was sulke doodgewone mense, en hulle het waarlik in my belanggestel. Ek kon werklik met hulle praat. Ek het nie gevoel dat hulle my sou veroordeel nie. Hulle het besef dat ’n mens nie volmaak is net omdat jy as ’n Christen grootgemaak is nie.” Hulle aanmoediging en wyse raad was net wat Cassandra nodig gehad het!—Spreuke 13:20.
Die gevaar van afguns
Spreuke 27:4 waarsku: “Woede is wreed, en toorn kook oor; maar wie kan voor jaloersheid standhou?” Afguns en jaloesie op ’n broer of suster wat voorgetrek word, het party jongmense onbesonne laat optree. Een vrou het erken: “Toe ek klein was, het ek dun, yl, bruin hare gehad, en my suster het ’n pragtige bos goue hare gehad wat tot by haar middel gegroei het. My pa het altyd ’n ophef van haar hare gemaak. Hy het haar sy ‘Raponsie’ genoem. Een nag terwyl sy geslaap het, het ek my ma se naaldwerkskêr gevat, op my tone na haar bed toe geloop en soveel hare afgesny as wat ek kon.”—Siblings Without Rivalry, deur Adele Faber en Elaine Mazlish.
Dit is dan geen wonder dat afguns in die Bybel as een van die bose “werke van die vlees” beskryf word nie (Galasiërs 5:19-21; Romeine 1:28-32). Maar ons het almal die “neiging tot afguns” (Jakobus 4:5). As jy dus vind dat jy planne beraam om jou broer of suster in die moeilikheid te bring, om hom of haar in ’n slegte lig te stel of op ’n ander manier op sy of haar plek te sit, kan dit wees dat afguns “lê en loer voor die deur” en jou probeer beheers!
Wat moet jy doen as jy vind dat jy sulke skadelike gevoelens koester? Probeer eerstens om tot God te bid vir sy gees. Galasiërs 5:16 sê: “Hou aan om deur gees te wandel, en julle sal hoegenaamd geen vleeslike begeerte uitvoer nie.” (Vergelyk Titus 3:3-5.) Dit kan ook help om na te dink oor jou ware gevoelens vir jou broer of suster. Kan jy werklik sê dat jy nie ’n bietjie liefde vir hom of haar voel nie—ten spyte van jou gegriefdheid? Wel, die Skrif sê vir ons dat ‘die liefde nie jaloers is nie’ (1 Korintiërs 13:4). Moet jouself dus nie toelaat om te bly dink oor negatiewe gedagtes wat afguns wek nie. Probeer om jou saam met jou broer of suster te verheug as julle ouers hom of haar spesiale aandag gee.—Vergelyk Romeine 12:15.
Jou gesprekke met jou ouers sal dalk ook in hierdie verband nuttig wees. As hulle kan insien dat jy meer aandag nodig het, sal dit jou baie help om jou afgunstige gevoelens teenoor jou broers of susters te oorkom. Maar sê nou dinge verbeter nie by die huis nie en die voortrekkery duur voort? Moenie kwaad raak, skreeu of teen jou ouers in opstand kom nie. Probeer ’n hulpvaardige, gehoorsame gesindheid behou. Indien nodig, kan jy volwasse persone in die Christengemeente vir hulp vra. Bowenal moet jy nader aan Jehovah God kom. Onthou die psalmis se woorde: “Ingeval my eie vader en my eie moeder my werklik verlaat‚ sou Jehovah self my opneem.”—Psalm 27:10, NW.
[Voetnote]
a Van die name is verander.
b Sien die artikel “Waarom kry my broer al die aandag?” in die Ontwaak! van 22 Oktober 1997.
[Prent op bladsy 19]
Dit sal dalk die probleem oplos as jy verduidelik dat jy dink jy word oor die hoof gesien