Ons beskou die wêreld
Alkoholisme in Mexiko
Studies wat deur die Mexikaanse Instituut vir Bestaansekerheid gedoen is, het getoon dat daar in 1991 meer as viermiljoen alkoholiste in Mexiko was. Maar teen 1997 het daardie getal moontlik verdubbel, berig Mexikostad se koerant El Universal. Dit haal Alkoholiste Anoniem aan wat glo sê dat driemiljoen van die agtmiljoen alkoholiste wat in Mexiko is in Mexikostad gevind word. Volgens El Universal word die meeste misdade in Mexiko onder die invloed van alkohol gepleeg. Alkoholmisbruik lei daartoe dat mense van die werk af wegbly en dat kinders op skool swak presteer. José Manuel Castrejón, verteenwoordiger van die Nasionale Raad teen Verslawing, sê dat “50 persent van die gevalle van gesinsgeweld en ’n vyfde van die werksongelukke nou verwant is aan alkoholgebruik”.
Wenke vir lugreisigers
Langafstandlugreise plaas spanning op die verstand en liggaam, en die koerant The Times van Londen gee ’n paar wenke om dit te verlig. Dit sluit in dat ’n mens “alkohol vermy, maar baie koeldrank drink, net ligte maaltye nuttig en jou in ’n aangename plek voorstel”. As ’n mens lang tye stil sit, kan dit die voete laat swel en klere stywer laat voel. Daarom, berig The Times, “stel dokters voor dat klere losgemaak word, skoene uitgetrek word en jy ’n sitplek langs die paadjie vra sodat jy gereeld na die toilet toe kan loop”. As jy jou arms en bene gedurende die reis rek en strek, help dit om sirkulasieprobleme te voorkom. Om vlugtamheid teë te werk, “pas ervare reisigers hulle daaglikse roetine soms voor hulle reise aan. Diegene wat oos gaan reis, staan ’n week lank vroeër op en diegene wat wes gaan reis, gaan laat bed toe.”
Tokio se kraaie is pendelaars
Kraaie in Tokio, Japan, het die gewoonte aangeleer om elke dag van die voorstede na die stad te vlieg, berig The Daily Yomiuri. Voëlkundiges sê dat dit ’n paar jaar gelede begin het toe die kraaibevolking in Tokio se parke en tempelterreine so groot geword het dat kraaie gedwing is om neste êrens anders te bou. Dit is toe dat hulle die gerief van die voorstedelike lewe ontdek het. Die een ding wat hulle egter gemis het, was die gesofistikeerde stadskos—vullis en oorskietkos wat weggegooi is. Hulle het hierdie probleem te bowe gekom deur “pendelpatrone [te ontwikkel] wat soortgelyk is aan dié van besoldigde werkers. Hulle vlieg in die oggend na stedelike gebiede toe op soek na kos”, sê The Daily Yomiuri, “en keer dan in die aand terug na die voorstede toe.”
Natuurlike rykdom word bedreig
◆ Die noordoostelike streek van Indië, wat ryk is aan plant- en dierelewe, gee nou 650 plantsoorte en 70 diersoorte as bedreig aan. Die delikate ekosisteem in die staat Meghalaja, op die grens met Bangladesj, is as een van die 18 probleemgebiede geïdentifiseer waar biodiversiteit in gevaar is. Volgens ’n berig in The Asian Age word die ekosisteem, benewens ander faktore, ook bedreig deur menslike plundering en wilddiefstal. Die biodiversiteit van die sewe noordoostelike Indiese state word ekologies delikater en sensitiewer beskou as dié van ander dele van die land.
◆ In Italië neem die getal bedreigde plantsoorte en subspesies ook toe. In 1992 is 458 as bedreig beskou, maar teen 1997 het daardie getal tot 1011 gestyg. “Ongeveer ’n sewende van die soorte waaruit die Italiaanse flora bestaan, word op die een of ander manier bedreig, en tot 29 soorte het in die laaste paar jaar uitgesterf”, verduidelik Corriere della Sera. Meer as 120 soorte verkeer “in ernstige gevaar om in die onmiddellike toekoms uit te sterf”, en byna 150 loop moontlik in die nabye toekoms daardie gevaar. Na die mening van die plantkundige Franco Pedrotti, van die Universiteit van Camerino, “openbaar hierdie syfers ’n onrusbarende situasie”. Een plant het in sy natuurlike habitat uitgesterf toe die enigste gebied waarin dit gegroei het in ’n sokkerveld omskep is.
◆ In Argentinië verkeer 500 van die 2500 inheemse diersoorte in gevaar, berig die Buenos Aires-koerant Clarín. “Selfs al is die bewaring van biodiversiteit ’n sleutel tot die versekering van die huidige en toekomstige welstand van mense, loop baie diere die gevaar om te verdwyn”, volgens Claudio Bertonatti, koördineerder van die bewaringsafdeling van die Natuurstigting. Van die diere wat in Argentinië bedreig word, is verskillende soorte armadille, jaguars, vikoenjas, walvisse en landskilpaaie. “Ten spyte van [die feit] dat hulle nie verkoop mag word nie”, sê die verslag, word daar in groter Buenos Aires “elke jaar ongeveer 100 000 skilpaaie verkoop”. Bertonatti het gesê: “Die mens, wat hoofsaaklik daarin moet belangstel om hierdie bron van rykdom te beskerm, is verantwoordelik vir die meeste bedreigings wat baie spesies na die randjie van uitsterwing neem.”
Het Maria eerste die verrese Christus gesien?
Pous Johannes-Paulus II het beweer dat “dit geregverdig is om te dink dat die Moeder [van Jesus, Maria] waarskynlik die eerste persoon was aan wie die verrese Jesus verskyn het” (L’Osservatore Romano). Nie een van die vier Evangelieverslae meld dat Jesus se moeder teenwoordig was toe sy graf leeg gevind is nie. Maar die Pous het ook gesê: “Hoe kon die Geseënde Maagd, wat teenwoordig was in die eerste gemeenskap van dissipels (vgl. Handelinge 1:14), nie onder diegene wees wat haar Goddelike seun ontmoet het nadat hy uit die dood opgestaan het nie?” Die Pous het verskeie argumente gebruik om te probeer verduidelik waarom enige ontmoeting tussen Jesus en sy moeder nie in die Evangelies opgeteken is nie. Dit bly ’n feit dat die heilige gees nie die Evangelieskrywers geïnspireer het om so ’n gebeurtenis te meld nie. Sy word trouens ook nie in die apostoliese briewe gemeld nie.—2 Timoteus 3:16.
Gevaar in die suidelike somer
In die Suidelike Halfrond is Januarie een van die warmste maande. In warm weer is dit belangrik om teen sonsteek voorsorg te tref, verduidelik die tydskrif FDA Consumer. Hoewel sonsteek elke jaar honderde sterfgevalle veroorsaak, is dit heeltemal voorkombaar, sê endokrinoloog dr. Elizabeth Koller. Sonsteek kan voorkom as gevolg van inspanning in die hitte, maar dit tas ouer volwassenes ook aan wat nie lugversorging het nie en wat ’n onderliggende gesondheidsprobleem het, soos suikersiekte of hartsiekte. Wanneer die temperatuur styg, beveel FDA Consumer aan dat baie water gedrink word—’n liter per uur as ’n mens oefeninge doen. Sit sonbrandmiddel aan en dra ’n breërandhoed en lospassende klere in die son. As jy nie lugversorging het nie en daar ’n gevaar van sonsteek bestaan, kan jy “in koel water bad, jou gereeld met water spuit en voor ’n waaier sit. As jy voel dat jy gaan flou word, moet jy mediese noodbehandeling vra.” Dr. Koller waarsku: “As iemand se liggaamstemperatuur te hoog styg, het jy net minute om iets daaraan te doen.”
“Marteling” by die werk
“Hoofpyne, moegheid, verswakte geheue, gesigsversteuring, duiseligheid, asemhalingsprobleme, katarrale doofheid, tinnitus [en] veltoestande”—kan alles veroorsaak word deur siekgebousindroom, of SGS, sê Jack Rostron, ’n navorser van John Moores-universiteit. SGS, wat in 1986 amptelik deur die Wêreldgesondheidsorganisasie erken is, kan “die sleur van werk toe gaan, verander in iets wat byna marteling is”, beweer hy. Lugbesoedelstowwe, soos giftige gasse en deeltjies wat deur fotokopieermasjiene en drukkers afgegee word, kan versamel in geboue met verseëlde vensters en sentraalbeheerde lugversorging, berig The Independent van Londen. Om SGS te voorkom, moet lugversorgingstelsels gereeld en deeglik skoongemaak word. Rostron sê: “Werkverrigting verbeter wanneer klein groepies mense klein kantore deel met vensters wat oopmaak.”
Winterwaarskuwing
Enigiemand wat tyd buite in die winterkoue en wind deurbring, loop die gevaar om hipotermie te kry, ’n gevaarlike verlaging van liggaamstemperatuur, sê die koerant The Toronto Star. Dit gebeur “wanneer die liggaam sy hitte vinniger verloor as wat hy dit kan voortbring”, sê die verslag, en dit voeg by dat “temperature nie onder vriespunt hoef te wees vir hipotermie om voor te kom nie”. Die metabolisme van die bejaardes kan dikwels nie so maklik vir hitteverlies vergoed nie. Hulle, sowel as kinders, loop die grootste gevaar. Wanneer iemand “koud, nat, moeg, honger, bewerig, klaerig is [en] dit nie geniet om buite te wees nie”, loop hy dalk die gevaar om hipotermie te kry, sê die Wilderness First Aid Handbook. So iemand moet beskutting, droë klere, kos en vloeistowwe gegee word, maar nie alkohol of kafeïen nie. As hy nie tekens van herstel toon nie, moet mediese hulp onmiddellik verkry word.