Ons beskou die wêreld
Skadelike rekenaarspeletjies
Brasilië se Departement van Justisie “het ’n verbod geplaas op die verkoop van omstrede rekenaarspeletjies waarin spelers punte kry deur motors te steel en polisiemanne dood te maak”, sê ’n Reuters-verslag. Die speletjie word as “gevaarlik [beskou] omdat dit roof en moord as ’n kleinigheid uitbeeld en jonger spelers tot geweld kan aanspoor”. In 1997 het die Departement ’n verbod geplaas op ’n rekenaarspeletjie waarin “spelers beloon is wanneer hulle voetgangers doodmaak, wat bejaarde vroue en swanger vroue ingesluit het”. ’n Woordvoerster vir Procon, ’n organisasie vir verbruikersregte, het gesê: “Hierdie soort speletjies is gevaarlik en skadelik omdat hulle tot geweld lei. Kinders begin hierdie soort bedrywigheid as normaal beskou.”
Besoedelde oseane
“Meedoënlose oorbevissing, giftige chemikalieë en radioaktiewe afval in die oseane bedreig die grondslag van lewe op die hele aarde”, berig die koerant Nassauische Neue Presse. Volgens die koerant Kieler Nachrichten verkeer die Swart See in die grootste gevaar. Dit word beskou as een van die mees bedreigde ekosisteme in die wêreld, aangesien 90 persent daarvan heeltemal leweloos is. Onbewerkte rioolvullis het die golwe wat op die strande van die Oekraïne spoel in ’n groen-bruin slyk verander, en die strande om Odessa was verlede somer net een week lank oop. “Die Swart See is dodelik gewond”, het Roemenië se president Emil Constantinescu gesê. “As ons dit laat sterf, gaan die gevolge erger wees as wat ons ons kan voorstel.” Die Verenigde Nasies het 1998 die “Internasionale Jaar van die Oseaan” verklaar.
Nagemaakte medisyne
“Ongeveer 8 persent van die medisyne wat in die wêreld verkoop word, is nagemaak”, sê Le Figaro Magazine. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is die persentasie nagemaakte medisyne in Brasilië na raming 30 persent, en in Nigerië is dit na bewering ’n verstommende 60 persent. Handel in nagemaakte medisyne is volgens berig ’n bedryf met ’n omset van byna 1,5 biljoen rand, en georganiseerde misdaad speel ’n hoofrol daarin. Ten spyte van die pogings van farmaseutiese maatskappye om hierdie bedryf stop te sit, het polisie en internasionale organisasies nog nie ’n oplossing vir die probleem gevind nie. Nagemaakte medisyne kan in die gunstigste geval as troosmedisyne dien; in die ergste geval kan dit dodelik wees. “Nagemaakte medisyne speel Russiese roulette met die gesondheid van die siekes”, sê Le Figaro Magazine.
Liefde vir vuurwapens in die Verenigde State
“Die verskille tussen Amerika [die Verenigde State] en ander lande is geweldig groot”, sê The Economist. “In 1996 is handgewere gebruik om twee mense in Nieu-Seeland te vermoor, 15 in Japan, 30 in Brittanje, 106 in Kanada, 211 in Duitsland en 9390 in die Verenigde State.” Vuurwapens is elke jaar in die Verenigde State betrokke by ongeveer ’n halfmiljoen misdrywe en ongeveer 35 000 sterfgevalle, waaronder selfmoorde en ongelukke. En tog wil mense in die Verenigde State wat vuurwapens besit “hulle vuurwapens hou, ongeag wat dit kos”, sê die tydskrif. “Pleks van strenger beheermaatreëls toe te pas, soos so baie ander lande gedoen het, het hulle die teenoorgestelde rigting ingeslaan.” Nou reik 31 state permitte uit wat mense toelaat om versteekte vuurwapens te dra.
Wêreld se langste hangbrug
Die Akasji Kaikio-brug in Japan, wat Awadji-eiland met die stad Kobe verbind, is in April geopen en is onmiddellik opgeteken as die wêreld se langste hangbrug. “Die projek van $7,7 miljard [R38,3 miljard], wat ’n dekade lank in aanbou was, spog met ’n middelspanning van 6532 voet (1,2 myl) [1 991 m]—die afstand tussen die twee pilare”, sê die tydskrif Time. “Elkeen van die pilare, wat hoër is as ’n gebou met 90 verdiepings, is toegerus met 20 toestelle om trilling te beheer; as die wind die struktuur laat swaai, trek slingers die pilare terug.” Die brug is ook ontwerp om weerstand te bied teen aardbewings wat tot 8,0 op die Richterskaal meet. As die staalkabel van die brug uitgerek sou word, sou dit sewe keer om die aarde gaan.
Plante in gevaar
Ná 20 jaar se werk het plantkundiges en bewaringsgesindes regoor die wêreld tot die gevolgtrekking gekom dat 12,5 persent van die 270 000 bekende plantsoorte in die wêreld—1 uit elke 8—met uitwissing bedreig word. “Nege uit elke 10 plante op die lys is inheems in net een land, wat hulle veral kwesbaar maak vir nasionale of plaaslike ekonomiese en maatskaplike toestande”, sê The New York Times. Wetenskaplikes gee twee hoofredes waarom plante bedreig word: (1) grootskaalse vernietiging van landelike gebiede deur ontwikkeling, houtkappery en landbou en (2) indringing deur uitheemse plante wat handuit ruk en inheemse spesies verdring. Die artikel sê dat plante “van groter belang is vir die natuur om te funksioneer” as soogdiere en voëls. Dit sê verder aangaande plante: “Hulle onderhou die meeste ander lewensvorme op aarde, met inbegrip van menselewe, deur sonlig in voedsel om te sit. Hulle voorsien die grondstof vir baie medisyne en die genepoel om plantsoorte vir die landbou te kweek. En hulle vorm die grondslag van die natuurlike landskap, die raamwerk waarin alle ander dinge plaasvind.”
Infeksies in hospitale
“Infeksies wat in die hospitaal opgedoen word ná ’n operasie of mediese behandeling is werklik ’n openbare gesondheidsprobleem”, sê die Franse koerant Le Figaro. In Frankryk alleen word 800 000 mense elke jaar besmet, en die aantal sterfgevalle is na raming 10 000. Verskeie maatreëls kan die gevaar van besmetting verminder: deur kamers te ontsmet voordat elke nuwe pasiënt opdaag, deur sterilisasieprosedures na te gaan en deur hande deeglik te was voordat ’n pasiënt behandel word. Blykbaar word baie van hierdie dinge dikwels nie gedoen nie. ’n Studie wat in ’n hospitaal in Parys gedoen is, het getoon dat net 72 persent van hospitaalwerkers gesê het dat hulle hulle hande gereeld ná kontak met elke pasiënt was. Van hulle het 60 persent hulle hande nie lank en deeglik genoeg gewas nie. Met die oog op sulke somber statistiek maak die koerant die gevolgtrekking dat “dit lyk asof daar nog baie werk gedoen moet word”.
Sitplekgordels red lewens in die lug
Soos elke ervare lugreisiger weet, kan vliegtuie soms skielik en onverwags kwaai lugturbulensie ondervind wat beserings en selfs die dood van passasiers tot gevolg kan hê. Volgens deskundiges is die enigste doeltreffende voorsorgmaatreël wat jy kan tref om jou sitplekgordel te alle tye te dra wanneer jy in die vliegtuig sit. “Dit is uiters moeilik om helderlugturbulensie te voorspel, te bespeur en te vermy”, sê U.S.News & World Report. Terwyl wetenskaplikes ondersoek instel na die ontwikkeling van sensors wat sulke turbulensie kan bespeur, maak die meeste vliegtuie tans staat op verslae van vliegtuie wat voor hulle op dieselfde roete vlieg. Byna al die mense wat gedurende turbulensie beseer is, het nie sitplekgordels gedra nie. “Maar”, erken die artikel, “die lugrederye weet nog nie hoe hulle passasiers kan dwing om sitplekgordels te dra nie.”
Bespaar elektrisiteit
“Elf persent van die elektrisiteit wat in Duitse huise en kantore gebruik word, word deur toestelle verbruik wat nie gebruik word nie, maar in gereedmodus is”, berig die nuusbrief Apotheken Umschau. Volgens ramings vir Duitsland verbruik TV-stelle, hoëtroustelle, rekenaars en ander elektroniese toestelle wat in gereedmodus is elke jaar ongeveer 20,5 miljard kilowatt-uur elektrisiteit. Dit is meer as die jaarlikse elektrisiteitsverbruik van Berlyn, die land se grootste stad. Dit is dalk moontlik om elektrisiteit en jou geld te spaar deur party toestelle eerder heeltemal af te skakel as om hulle in gereedmodus te hou.
Dooie See aan die verdwyn
Die Dooie See, die laagste en brakste plek op die aarde, is vinnig besig om te verdwyn. In 1965 was die oppervlak van die Dooie See 395 meter onder seevlak. Dit is nou 413 meter onder seevlak, en ’n smal strook droë land het verskyn wat dit in twee verdeel. Hotelle wat aan die waterkant gebou is, is nou aansienlik verder van die water af. “Die see se watervlak daal ’n merkbare 2,5 voet [80 cm] per jaar, aangesien dit nie aangevul word nie weens die eise van mense en die politiek”, sê The Dallas Morning News. “Die Dooie See se moontlike afsterwe is ’n aanduiding van hoe ernstig die streek se watertekort is, terwyl die struikelblokke in die weg van ’n oplossing toon in watter mate water en vrede met mekaar verband hou in die dorre Midde-Ooste. . . . Die Dooie See kry hoofsaaklik sy water van die Jordaanrivier, wat vandag byna heeltemal weggekeer is . . . deur Israel, Sirië en Jordanië.” Aangaande die Dooie See se geskiedenis sê die artikel: “Die aanskoulikste verhaal is die Bybelverslag van hoe die stede van die vlakte ’n vrugbare streek geword het totdat God, wat hoop opgegee het oor hulle sedelike oortredinge, ‘swawel en vuur oor Sodom en Gomorra laat reën het’ sodat dit ’n woesteny geword het.”