Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 11/8 bl. 31
  • Bespaar jy energie of vermors jy dit?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bespaar jy energie of vermors jy dit?
  • Ontwaak!—1999
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat jy moet weet omtrent energiebesparing
    Ontwaak!—2017
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1998
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2003
  • Wat gebeur met die weer?
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 11/8 bl. 31

Bespaar jy energie of vermors jy dit?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE

NA RAMING word energie ter waarde van $1 miljard (R6 miljard), genoeg om ’n stad so groot soos Chicago van krag te voorsien, elke jaar in die Verenigde State vermors. Hoe? Toestelle soos rekenaars, faksmasjiene, video-opnemers, CD-spelers en selfs koffiemasjiene word in gereedmodus gehou. Dit word gedoen om hulle horlosies te laat werk, hulle geheues te behou en hulle instellings te vertoon—of net sodat hulle onmiddellik gereed is vir gebruik.

Volgens berekening word daar in Brittanje jaarliks ’n halfmiljoen ton kweekhuisgasse gevorm deur die energie wat in elektriese kragsentrales vir sulke ongebruikte toestelle opgewek word. Hierdie gasse word in die atmosfeer vrygestel en dra moontlik by tot die gevolge van aardverwarming. “Ongeag hoe gewild die groen ideologie onder jong verbruikers is, baie min van hulle sien die verband tussen die opwekking van elektrisiteit en die verwarming van die planeet”, sê die Londense koerant The Times.

Mense is oor die algemeen nie bewus van die feit dat baie elektroniese toestelle byna net soveel energie gebruik wanneer hulle in gereedmodus is as wanneer hulle ten volle in gebruik is nie. ’n Satelliet-TV-stelsel kan byvoorbeeld 15 watt gebruik wanneer dit aangeskakel is en net 1 watt minder in die gereedmodus. Swak ontwerp speel ook ’n rol. Een CD-speler wat getoets is, het 28 watt in die gereedmodus gebruik, maar ’n ander model met soortgelyke kenmerke het net 2 watt gebruik. Daar is egter nou ’n nuwe rekenaarskyfie ontwerp wat glo die energieverbruik in die gereedmodus van 10 watt tot 1 watt of selfs tot net 0,1 watt kan verminder. Hopelik sal vervaardigers regoor die wêreld, in die voortgesette stryd teen besoedeling, uiteindelik hierdie skyfie, wat R15 kos, as ’n standaardkomponent gebruik. Wat kan jy intussen doen?

Brittanje se Minister van Omgewingsake sê: “Dit lyk dalk of elke toestel net ’n klein hoeveelheid elektrisiteit gebruik. Maar omdat daar 60 miljoen van ons op hierdie eilande [Brittanje] is, kom dit altesaam op nogal ’n groot hoeveelheid neer.” Dit spreek vanself dat huishoudelike toestelle soos yskaste nie afgeskakel kan word nie. Maar dit is goed om die gewoonte aan te leer om ligte af te skakel wat nie gebruik word nie en om ander toestelle eerder af te skakel as om dit in die gereedmodus te hou. Dit sal jou nie net geld spaar nie, maar dit sal ook help om ons planeet teen onnodige besoedeling te beskerm.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel