Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 12/22 bl. 25-27
  • Hoe kan ek sonder my ouers regkom?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan ek sonder my ouers regkom?
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Wie sal vir my sorg?’
  • Gesinsverantwoordelikhede
  • Hoe om in jou eie behoeftes te voorsien
  • Bied die uitdaging die hoof
  • Hoe kan ek ’n voorbeeld vir my jonger broers en susters wees?
    Ontwaak!—1991
  • Beoefen godvrugtige toegewydheid teenoor bejaarde ouers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Waarom moet ek sonder my ouers leef?
    Ontwaak!—1998
  • Waarom moet ek die jongste kind wees?
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 12/22 bl. 25-27

Jongmense vra . . .

Hoe kan ek sonder my ouers regkom?

“My ouers is geskei toe ek drie was en my suster vier. Hulle het in die hof baklei om toesig oor ons te kry, en ons het uiteindelik by my ma beland. Maar toe ek sewe was, het ek en my suster besluit om by my pa te gaan bly.”—Horacio.

ETLIKE jaar later het Horacio se pa en die vrou saam met wie hy gebly het hom en sy suster verlaat. Horacio vertel: “Dis hoe ek op 18 die hoof van ’n gesin geword het wat bestaan het uit myself, my 19-jarige suster en my 12-jarige halfsuster—wat besluit het om by ons te bly.”

Soos ’n vorige artikel getoon het, is daar miljoene jongmense regoor die wêreld wat sonder ouers is.a Soos Horacio is sommige jongmense deur hulle ouers verlaat. Ander het weer hulle ouers aan die dood afgestaan of is deur oorloë of natuurrampe van hulle geskei. Wat ook al die situasie, om sonder ouers te wees, kan moeilik en traumaties wees. En dit kan jou met oorweldigende verantwoordelikhede laat.

‘Wie sal vir my sorg?’

Hoe goed jy die mas sal kan opkom, hang grootliks van jou ouderdom en omstandighede af. Die situasie is natuurlik baie moeiliker as jy nog in jou kinderjare of vroeë tienerjare is. Maar selfs dan is jy moontlik nie heeltemal aan jou eie lot oorgelaat nie. Dalk is ’n oom, of tannie, of ’n ouer broer of suster bereid om jou in te neem.

Jehovah se Getuies beskou dit as deel van hulle aanbidding om vir wese en weduwees te sorg (Jakobus 1:27; 2:15-17). En dikwels sal individue in die gemeente hulp verleen. Horacio en sy susters het byvoorbeeld die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer en hulle vergaderinge bygewoon. Daar het hulle ’n Christengesin ontmoet wat hulle begin help het. “Hoe dankbaar is ek tog teenoor Jehovah vir sy leiding en liefdevolle sorg dag na dag!” sê Horacio. “Ons was geseën met die hulp van ’n baie geestelike gesin in die gemeente wat kinders van ons ouderdom gehad het. Hulle het ons so te sê aangeneem, en daarom het ons, meer as ooit tevore, gevoel dat ons deel van ’n gesin was, een waarop ons kon staatmaak.”

Maar nie alle jongmense is so gelukkig nie. ’n Verslag deur die Verenigde Nasies-kinderfonds sê: “Soms word kinders wat op hulle eie is deur ’n gesin ingeneem wat hulle fisies mishandel, hulle dwing om te werk sonder vergoeding of die geleentheid om vooruitgang te maak, hulle vir prostitusie gebruik of selfs slawe van hulle maak.” As jy dus iemand het wat redelik goed vir jou sorg, moet jy dankbaar wees.

Dit is weliswaar ’n verskriklike verlies om sonder jou ouers te wees. En dit is net natuurlik om ontsteld te voel omdat hulle nie daar is om vir jou te sorg nie. Om deur ’n familielid of ’n ouer broer of suster aangesê te word wat om te doen, kan jou net nog verder omkrap. Maar moenie jou gegriefdheid uithaal op diegene wat vir jou probeer sorg nie. Die Bybel sê: “Pas op dat woede u nie tot kwaadwillige [dade] verlok nie . . . Wees op u hoede dat u u nie wend tot wat skadelik is nie” (Job 36:18, 21, NW). Neem byvoorbeeld die jong vrou in die Bybel, genaamd Ester. As ’n weeskind is sy deur haar ouer neef Mordegai grootgemaak. Hoewel hy nie haar ouer was nie, het Mordegai haar sekere dinge “beveel” wat sy gehoorsaam het, selfs toe sy ’n volwassene geword het! (Ester 2:7, 15, 20). Probeer om gehoorsaam te wees en jou samewerking te gee. Dit sal baie help om spanning te verlig en die lewe vir almal wat betrokke is makliker te maak.

Gesinsverantwoordelikhede

As jy ’n ouer broer of suster het—of as jy self oud genoeg is—sal julle moontlik op julle eie kan woon. Jy sal dalk selfs die rol van gesinshoof moet oorneem—’n verantwoordelikheid wat oorweldigend kan lyk! In sulke omstandighede het talle jongmense hulle egter baie goed van hulle taak gekwyt om hulle broers en susters groot te maak.

Dit is te verstane dat jy ’n mate van gegriefdheid te bowe sal moet kom. Die feit dat jy jou broers en susters liefhet en vir hulle omgee, kan jou help om ’n positiewer uitkyk te hê. Dit kan ook help as jy hulle versorging as ’n godgegewe plig beskou. ’n Christen word immers beveel om vir dié wat syne is te sorg (1 Timoteus 5:8). Maar al probeer jy ook hoe hard om ’n pa of ma vir jou broers en susters te wees, jy kan nooit werklik vir hulle ’n ouer wees nie.

Dit is onrealisties om te verwag dat jou broers en susters na jou sal luister soos hulle na jou ouers geluister het. Trouens, dit kan baie lank neem voordat hulle aanpas en jou hoegenaamd ernstig opneem. Probeer dus intussen om nie gefrustreerd te raak nie. Vermy “kwaadwillige bitterheid en toorn en gramskap en geskreeu en smadende taal”. Leer jou broers en susters deur jou voorbeeld om ‘goedhartig teenoor mekaar te word, vol tere medelye, en mekaar vryelik te vergewe’.—Efesiërs 4:31, 32.

Horacio erken dat hy foute gemaak het: “Soms was ek baie streng met my susters. Maar in sekere mate was dit ’n beskerming, en ons het gedoen wat reg was in Jehovah se oë.”

Hoe om in jou eie behoeftes te voorsien

As jou ouers nie daar is om vir julle te sorg nie, is dit sekerlik ’n groot bekommernis om in julle eie materiële behoeftes te voorsien. Miskien kan sommige volwasse lede van die Christengemeente help deur jou en jou broers en susters, as jy enige het, te leer kook, skoonmaak en na ander huishoudelike take wat julle nou het om te sien. Maar wat gaan julle omtrent geld doen? Dalk sal jy noodgedwonge werk moet gaan soek.

Werk is egter skaars vir jongmense wat nie veel geleerdheid, ondervinding of werksvaardighede het nie. As dit dus enigsins vir julle moontlik is om julle basiese opvoeding te voltooi—of selfs die een of ander aanvullende werksopleiding te kry—moet julle dit doen. Horacio vertel: “Ek en my ouer suster het gewerk om vir my en my halfsuster se skoolopleiding te betaal.” As jy in ’n ontwikkelende land woon, moet jy dalk vindingrykheid aan die dag lê om werk te vind.—Sien “Hoe om in ontwikkelende lande werk te skep”, in die Ontwaak! van 22 Oktober 1994.

In lande wat ekonomies beter ontwikkel is, kan julle moontlik selfs finansiële hulp van die regering kry. Daar is dikwels regerings- of privaatinstansies wat hulle daarop toelê om ouerlose kinders of kinders wat deur hulle ouers verlaat is te help. Sommige instansies kan julle byvoorbeeld help om voedsel of ’n woonplek te kry. Enige finansiële hulp wat julle ontvang, moet natuurlik verstandig gebruik word. “Geld is ’n beskutting”, sê die Bybel (Prediker 7:12). En tensy jy begroot en die geld verstandig gebruik, kan dit ‘vir hom vlerke maak en wegvlieg’.—Spreuke 23:4, 5.

As ’n volwassene vir julle sorg, sal dit dalk nie so ’n groot probleem wees om in julle materiële behoeftes te voorsien nie. Maar die tyd sal kom wanneer jy in jou eie behoeftes sal moet voorsien. Aangesien jy nie meer ouers het wat jou sal aanspoor om te leer nie, kan dit werklik inspanning verg om jou op jou skoolwerk toe te lê. Die Christenapostel Paulus se raad aan Timoteus aangaande geestelike vooruitgang kan ook op jou skoolwerk toegepas word: “Bepeins hierdie dinge; wees verdiep daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees” (1 Timoteus 4:15). Sodoende sal jy ’n goeie voorbeeld vir diegene om jou stel en self ook daarby baat vind.

Die heel belangrikste is dat jy in jou eie geestelike behoeftes moet voorsien. Probeer om ’n gebalanseerde roetine van geestelike bedrywighede te hê (Filippense 3:16). Onder Jehovah se Getuies is dit byvoorbeeld gebruiklik dat gesinne elke dag ’n Bybelteks bespreek. Waarom maak julle dit nie ’n deel van julle roetine nie? ’n Roetine van Bybelstudie en gereelde bywoning van Christelike vergaderinge sal jou ook help om geestelik sterk te bly.—Hebreërs 10:24, 25.

Bied die uitdaging die hoof

Dit is moeilik om sonder ’n mens se ouers te lewe, maar dit is nie ’n algehele ramp nie. Die 20-jarige Paola se ma is dood toe sy maar net ses was. Haar pa is dood toe sy tien was. ’n Goedhartige vrou het haar en haar vier susters ingeneem. Was haar lewe een groot ellende? Nee. Paola sê: “Ons is miskien nie ’n tipiese gesin nie, maar ons lei ’n heel normale lewe. Trouens, die liefde wat ons onder mekaar het, is sterker as in die meeste gesinne.”

Paola se suster Irene voeg by: “Al is ons sonder ons ouers, is ons net soos ander jongmense.” Haar raad aan ander in hierdie situasie? “Moenie voel dat jy veronreg is nie.” Horacio sê ook: “Hierdie situasie het my baie gou volwasse gemaak.”

Om ’n mens se ouers te verloor, is een van die pynlikste gebeure denkbaar. Maar wees verseker dat jy dit met Jehovah se hulp kan oorleef en sy seëninge kan ontvang.

[Voetnoot]

a Sien die artikel “Jongmense vra . . . Waarom moet ek sonder my ouers lewe?”, in die Ontwaak! van 22 November 1998.

[Prent op bladsy 26]

Jy kan ondersteuning van Christen- ouer manne kry

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel