Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 5/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Rook kos miljarde
  • Beskerm jou hart
  • Harde musiek as ’n ontvlugting
  • Tale wat uitsterf
  • Praat met jou baba
  • Vermy padwoede
  • Beserings en sterftes weens aborsies
  • Dra jou boodskap oor
  • Ooretery verhoog die risiko van voedselvergiftiging
  • Ons lag te min
  • Die reg op mediese behandeling word beskerm
  • Jy het die reg om te kies
    Hoe kan bloed jou lewe red?
  • Ongesonde lewenswyses—Hoe hoog is die koste?
    Ontwaak!—1997
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1996
  • Is jy voorbereid op ’n mediese situasie wat jou geloof kan toets?
    Ons Koninkryksbediening—1992
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 5/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Rook kos miljarde

Hoewel die aantal rokers in baie lande afneem, bly dit konstant in Switserland, sê die koerant Berner Oberländer. Ongeveer ’n derde van die bevolking rook. Meer as 8 000 sterfgevalle per jaar is rookverwant—meer sterfgevalle as wat deur vigs, heroïen, kokaïen, alkohol, brande, motorongelukke, moorde en selfmoorde gesamentlik veroorsaak word. ’n Studie wat deur die Federale Departement van Openbare Gesondheid in Switserland voorgelê is, het tot die slotsom gekom dat die maatskaplike koste van tabakverbruik in 1995 tienmiljard Switserse frank was, meer as ses-en-dertigmiljard rand. Die studie het die koste probeer bereken van mediese en hospitaalsorg, verlies aan produksie by die werk, die laer lewensgehalte van sieklike rokers en hulle afhanklikes en die lyding van die oorledenes se familielede.

Beskerm jou hart

“Ons het altyd geweet dat warmer weer die risiko van hartaanvalle verhoog—maar nou weet ons dat koue weer dit ook doen”, sê dr. Anthony Graham, ’n hartspesialis en ’n woordvoerder vir die Hart- en Beroertestigting van Ontario, Kanada. Soos berig is in die koerant The Globe and Mail het ’n tien jaar lange studie van 250 000 mans in Frankryk getoon dat ’n temperatuurverandering van tien grade op of af “die risiko van ’n eerste hartaanval met 13 persent verhoog”. Wanneer die temperatuur daal, werk die hart harder en vinniger omdat bloed weg van die vel af in die dieper dele van die liggaam gesirkuleer word om hitte te behou. Die risiko word vererger wanneer mense hulle te veel inspan of nie warm genoeg aantrek nie. Dr. Graham waarsku: “Jy kan nie vyf maande lank ’n sofapatat wees en dan skielik in die koue uitgaan om die sneeu weg te skep nie. Jy moet fiks word daarvoor.”

Harde musiek as ’n ontvlugting

Ten spyte van dokters se waarskuwings dat baie harde musiek “’n negatiewe uitwerking op die hele liggaam het”, lyk dit of al hoe meer jongmense nie sonder hulle persoonlike stereospelers kan klaarkom nie, berig die Poolse weekblad Przyjaciółka. Die rede? Party gebruik persoonlike stereospelers om “hulle van die omgewing te onttrek. Met oorfone op het ’n tiener nie meer nodig om na sy ouers se geneul te luister of om te reageer wanneer hulle hom byvoorbeeld vra om iets te doen nie”, sê die koerant. Przyjaciółka meld dat baie harde musiek ook “moegheid, hoofpyn, swak konsentrasievermoë of slaaploosheid” kan veroorsaak, en beveel ouers nie aan om die gebruik van persoonlike stereospelers te verbied nie, maar gee eerder aan die hand dat ouers hulle kinders leer om matigheid voor oë te hou. “Leen van tyd tot tyd die Walkman by jou kinders”, stel die blad voor. “Dit sal hulle ’n geleentheid gee om die oorfone bietjie af te haal, en jy sal die wêreld leer ken waarin hulle lewe.”

Tale wat uitsterf

“Partykeer kan ek my hare uit my kop trek omdat ek nie my kinders die taal geleer het nie”, sê stamhoof Marie Smith Jones, die laaste lid van haar kultuur wat die Ejak-taal, van Alaska, praat. Tendense toon dat tussen 40 en 50 persent van die ongeveer 6 000 tale wat wêreldwyd gepraat word in die volgende eeu kan verdwyn. Australië, wat op een tydstip 250 tale gehad het, het nou maar net ongeveer 20. Waarom gebeur dit? Die tydskrif Newsweek sê dat tale “tot uitsterwing gedwing word deur die verspreiding van Engels en ander ‘groot’ tale”. Professor Stephen Wurm, redakteur van Atlas of the World’s Languages in Danger of Disappearing, wat deur die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur uitgegee word, voeg by: “Daar is dikwels ’n beskouing dat jy die ‘klein’ tale moet vergeet, die tale van die minderhede, omdat hulle geen waarde het nie.”

Praat met jou baba

’n Mens kan die intelligensie en taalvaardighede van babas meetbaar verhoog as jy elke dag ten minste 30 minute met hulle praat, berig Londen se Daily Telegraph. Navorsers het 140 nege maande oue babas bestudeer. Die helfte van die ouers in die groep het raad gekry oor die beste manier om met hulle babas te praat, terwyl die ander helfte geen wenke ontvang het nie. Ná sewe jaar “was die gemiddelde intelligensie van die groep [met wie gepraat is] ’n jaar en drie maande voor die ander groep”, en hulle taalvaardighede was “aansienlik beter”, sê die berig. Die navorser dr. Sally Ward glo dat ouers vandag minder met hulle babas praat as in die verlede weens groot veranderinge in die samelewing. Byvoorbeeld, meer ma’s werk, en in baie huise het videobande gesprekke vervang.

Vermy padwoede

“Motoriste wat baie aggressief is, moenie ligtelik beskou word nie”, raai ’n veteraanrenjaer aan wat in die tydskrif Fleet Maintenance & Safety Report aangehaal is. Die risiko van padwoede kan verminder word deur kalm te bly en slegte situasies te vermy. Voorstanders van veiligheid beveel die volgende aan:

◼ Wees te alle tye hoflik wanneer jy bestuur.

◼ Kom uit die pad van ’n aggressiewe motoris as jy dit veilig kan doen.

◼ Moet nooit ’n ander motoris uitdaag deur te naby te ry of resies te jaag nie.

◼ Moenie op aggressiewe gebare reageer nie, en moenie gebare maak wat misverstaan kan word nie.

◼ Vermy oogkontak met ’n motoris wat kwaad is.

◼ Moenie aftrek om ’n ander motoris te konfronteer nie.

Beserings en sterftes weens aborsies

Byna 500 000 aborsies word elke jaar in Mexiko uitgevoer, sê Francisco Javier Serna Alvarado, president van die Kommissie vir Gesondheids- en Maatskaplike Dienste in Mexikostad. Soos berig is in die koerant El Universal lei ’n groot persentasie van hierdie aborsies tot die moeder se dood, en baie ander het ernstige komplikasies wat mediese aandag en selfs hospitaalbehandeling vereis. Onwettige aborsies is die derde grootste doodsoorsaak onder moeders in Mexiko. In party gevalle word wrede aborsietegnieke toegepas—deur skerp voorwerpe te gebruik, vrugafdrywende medikasie of kruietee te drink, selfs deur by trappe af te val. Dikwels is die gevolge onder meer “ernstige bloeding, beskadiging van die uterus, onvrugbaarheid, infeksie en die verlies van die baarmoeder”, sê die verslag.

Dra jou boodskap oor

Ongeag hoe belangrik jou boodskap is, die meeste mense sal nie na jou wil luister as hulle nie hou van hoe jy praat nie, sê die spraakkenner dr. Lillian Glass. Soos berig is in die koerant The Citizen van Suid-Afrika, word luisteraars onder meer ontmoedig deur ’n gemompel, swak grammatika, ’n eentonige stemtoon, te vinnig te praat, vloektaal en oorheersing van die gesprek. Daarenteen sal mense gewoonlik luister as jy glimlag om hulle op hulle gemak te laat voel, duidelik en stadig praat, hulle in die oë kyk en noukeurig na hulle standpunt luister sonder om hulle in die rede te val. “Dink voor jy praat”, voeg die artikel by, “en jy sal jou met meer selfvertroue uitdruk.”

Ooretery verhoog die risiko van voedselvergiftiging

Die risiko om siek te word van besmette voedsel is groter as ’n mens jou ooreet, sê dr. Adolfo Chávez, van die Salvador Zubirán- Nasionale Voedingsinstituut in Mexiko. Hy sê dat elemente van bakterieë in die voedsel wat ons eet gewoonlik deur ons maagsappe vernietig word. Maar ná ’n eetstorm oorheers die ekstra volume voedsel die suur in die maag, wat die maag se vermoë om bakterieë dood te maak, verminder. Dr. Chávez het vir Ontwaak! gesê: “As iemand 15 taco’s eet en een van hulle is besmet, sal die persoon waarskynlik siek word as gevolg van die hoeveelheid wat geëet is. As daardie persoon net een taco eet wat besmet is, sal daar moontlik geen probleem wees nie.”

Ons lag te min

Volgens getuienis wat voorgelê is by die onlangse Internasionale Kongres oor Humor, wat in Switserland gehou is, het die gemiddelde man gedurende die moeilike ekonomiese tye van die vyftigerjare 18 minute per dag gelag, in vergelyking met 6 minute per dag gedurende die voorspoedige negentigerjare. Waarom die afname? “Kenners blameer die voortdurende strewe na materiële, loopbaan- en persoonlike sukses vir die neiging, wat die ou spreekwoord bevestig dat geld nie geluk kan koop nie”, verduidelik Londen se Sunday Times. Die skrywer Michael Argyle kom gevolglik tot die slotsom: “Diegene wat die grootste waarde aan geld heg, is minder tevrede en het swakker geestesgesondheid. Dit is dalk omdat geld net oppervlakkige tevredenheid bring.”

Die reg op mediese behandeling word beskerm

El Salvador se Hooggeregshof het onlangs ’n Welsynshospitaal se voorskrif ongeldig verklaar wat vereis het dat pasiënte bloed skenk sodat hulle mediese behandeling kan ontvang. Voorheen het die hospitaalbeleid geverg dat alle pasiënte twee eenhede bloed voor ’n operasie skenk. Nou het diegene wat mediese behandeling in die Welsynshospitaal wil ontvang die wetlike reg om te kies dat hulle nie bloed wil skenk nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel