Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 7/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Tien aansteeklikste siektes
  • Drankmisbruik in Venezuela
  • Siek oseane
  • Ligte leesstof
  • Heilsame videospeletjies
  • Vigs saai verwoesting
  • Kategismus—’n mislukking
  • ’n Terugkeer na sedes?
  • Slenterdrag in die kerk
  • Tienerswangerskappe aanvaarbaar
  • Hou boek van goeie dade
  • Peste in die 20ste eeu
    Ontwaak!—1997
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1990
  • Is spelers in gevaar?
    Ontwaak!—2002
  • Aansteeklike siektes—Rampspoedige gevolge dog voorkombaar
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 7/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Tien aansteeklikste siektes

Elke jaar sterf miljoene mense regoor die wêreld aan aansteeklike siektes. Volgens die tydskrif Natural History het die volgende aansteeklike siektes in 1997 die meeste lewens geëis. Akute infeksies van die onderste lugweë, soos longontsteking, was boaan die lys met 3,7 miljoen sterfgevalle. Tuberkulose was tweede en het tot die dood van 2,9 miljoen mense gelei. Cholera en ander diarreesiektes was derde, met 2,5 miljoen sterfgevalle. Vigs het die dood van 2,3 miljoen tot gevolg gehad. Tussen 1,5 miljoen en 2,7 miljoen is dood aan malaria. Masels was vir die dood van 960 000 verantwoordelik. Hepatitis B het die dood van 605 000 veroorsaak. Kinkhoes het 410 000 lewens geëis. Nog 275 000 is dood aan klem-in-die-kaak. En 140 000 het aan denguekoors/dengue- hemorragiese koors gesterf. Ten spyte van die mens se beste pogings bedreig aansteeklike siektes van die verlede nog steeds vandag die mens se gesondheid in groot dele van die wêreld.

Drankmisbruik in Venezuela

Die mense van Venezuela drink meer alkohol per capita as in enige ander Latyns-Amerikaanse land, berig die koerant El Universal, van Caracas. Na raming drink elke persoon in Venezuela tussen 60 en 70 liter drank per jaar. Die Departement van Gesondheid bereken dat alkohol ’n faktor is by 50 persent van alle moorde en selfmoorde in die metropolitaanse gebied van Caracas. ’n Studie wat deur die Sentrale Universiteit van Venezuela, die Sentrum vir Vrede en die Regterlike Polisie gedoen is, beweer egter dat meer as 9 uit 10 gewelddadige sterfgevalle in daardie gebied met alkohol verband hou. Om drankmisbruik te bestry, is werkswinkels op die been gebring wat studente leer hoe om die druk te weerstaan wat hulle portuurs op hulle uitoefen om te drink, hoe om aanvaarbare alternatiewe te vind en hoe om doeltreffende kommunikasie tussen ouers en kinders aan te moedig.

Siek oseane

Koraalriwwe regoor die wêreld word vernietig en bedreig deur groeisels, siektes en infeksies berig Science News. Die marinebioloog James Cervino sê dat ten minste 15 nuwe koraalvernietigende verskynsels gedurende die laaste 20 jaar voorgekom het. Ander vorme van seelewe wat ook bedreig word, is onder meer seewier, skulpvis, seeskilpaaie en lamantyne. “Vyf-en-negentig persent van die biosfeer—die plek waar lewe gevind word—bestaan uit oseane”, sê die oseanograaf Sylvia Earle. “As die oseane in die moeilikheid is, is ons ook. En die oseane ís in die moeilikheid.”

Ligte leesstof

Nie almal wat rakke vol boeke het, is boekwurms nie. Die winkelier Chris Mattheus erken byvoorbeeld: “Ek hou daarvan om my met boeke te omring, maar ek lees selde.” Mattheus bied nou ’n goedkoop oplossing vir die probleem. Hy en ’n vennoot het Duitsland se eerste winkel vir nagemaakte boeke geopen, berig die koerant Weser-Kurier. Sowat 2 800 “vals boeke” oor die kuns, filosofie en wetenskap is te koop. Die nagemaakte boeke het verskillende ontwerpe, wat wissel van eenvoudige kartonboeke tot ryklik versierde replikas wat van net die beste kiaat gemaak is. Aantreklike namaaksels van kunsboeke, wat gewoonlik baie duur is, kos net R60 tot R90. Mattheus sê: “Die prys wissel volgens die grootte per sentimeter, en nie die inhoud nie.”

Heilsame videospeletjies

Noem die woord “videospeletjies” en baie mense stel hulle gewelddadige speletjies voor. Maar navorsers het gevind dat “die regte speletjies kinders met suikersiekte en asma kan leer om hulle toestand onder beheer te hou”, berig Technology Review. Die Stanford-universiteit se Mediese Sentrum het ’n studie gedoen van ongeveer 60 kinders tussen 8- en 16-jarige ouderdom wat suikersiekte het. Die helfte van die kinders het ’n gewone videospeletjie gespeel. Die ander helfte het Packy & Marlon gespeel, ’n speletjie waarin twee tekenprentolifante spelers help om die regte kos te kies, hulle bloedsuiker te toets en insulien korrek te gebruik. Oor ’n tydperk van ses maande moes die kinders wat die olifantspeletjie gespeel het “77 persent minder kere vir noodbehandeling na ’n dokter of ongevalleafdeling gaan” as die kinders wat die gewone speletjie gespeel het, sê Technology Review. Soortgelyke videospeletjies is ontwerp om kinders te help om asma te beheer en rook te vermy.

Vigs saai verwoesting

Gedurende die laaste dekade in Afrika suid van die Sahara het die lewensverwagting by geboorte met bykans ses jaar afgeneem, en ’n verdere afname word verwag. Waarom die verandering? Want in lande in hierdie gebied “saai die vigs-pandemie verwoesting”, berig The UNESCO Courier. Tans is meer as 10 persent van die bevolking in hierdie streek besmet met HIV, die virus wat vigs veroorsaak. Die lande wat die ergste geraak word, is Botswana, Malawi, Mosambiek, Namibië, Suid-Afrika, Zambië en Zimbabwe. Daarbenewens sê die Verenigde Nasies dat “daar elke dag in Afrika 5 500 vigs-verwante begrafnisse is”, berig The New York Times.

Kategismus—’n mislukking

In ’n onlangse herderlike brief het Gaetano Bonicelli, die Aartsbiskop van Siëna, gesê dat 20-jariges, selfs nadat hulle kategismusklasse bygewoon het, “nie weet wat die verskil tussen die Drie-eenheid en die Madonna is nie”. Sulke onkunde omtrent Katolieke leerstellings is ’n weerspieëling van wat ’n ander hooggeplaaste prelaat, kardinaal Ratzinger, “die mislukking van die huidige kategismus” genoem het, berig Corriere della Sera, van Milaan, Italië. Aartsbiskop Bonicelli beveel ’n terugkeer na evangelisasie aan. “Die sending, dit wil sê evangelisasie, word die kerk se enigste moontlike oplossing hiervoor in die derde millennium.”

’n Terugkeer na sedes?

In China het ’n onlangse opname aan die lig gebring dat “Chinese volwassenes verdraagsamer teenoor buite-egtelike geslagsomgang geword het, maar dat die meeste tieners nog steeds daarteen gekant is”, berig die tydskrif China Today. Hierdie bevindinge is gebaseer op ’n meningsopname onder ongeveer 8 000 mense. “Drie vyfdes van die tieners het saamgestem dat mense wat ander se huwelike deur ’n buite-egtelike verhouding verwoes óf finansieel, óf andersins gestraf moet word”, het die meningsopname getoon, “terwyl 70 persent van die mense wat tussen 37 en 45 jaar oud is nie gedink het dat daar enige straf daarvoor moet wees nie.”

Slenterdrag in die kerk

In die Verenigde State dra al hoe meer mense slenterdrag kerk toe, berig die Associated Press. Dit bekommer party predikante om te sien dat kerkgangers kortbroeke, jeans of ander slenterdrag na kerkdienste toe dra. Kerkamptenare weet nie wat om te doen nie—hulle wil nie nuwe lidmate verdryf of gereelde kerkgangers vervreem wat nie netjies wil aantrek nie. Volgens een meningsopname “verkies ongeveer 30 persent van Amerikaners kerkdienste wat informeel en kontemporêr is”, teenoor 21,5 persent wat ten gunste van meer tradisionele dienste is.

Tienerswangerskappe aanvaarbaar

“’n Belangrike faktor in die geleidelike toename in die aantal ongehude moeders [is] die feit dat die samelewing dit aanvaar”, sê The News, van Mexikostad. “Dit lyk of die samelewing baie moeite doen om die stigma van ongehude tienerswangerskappe uit te wis. Deur dit te doen, gaan hulle moontlik selfs verder deur dit aan te moedig.” Kan die toename omgekeer word? Die artikel sê: “As reklameagentskappe dit kon regkry om rokers wat eens ’n gesofistikeerde beeld gehad het ’n minderwaardige beeld te gee, as Amerika se dieet van ’n vetryke na ’n veselryke dieet kan verander, dan kán tieners se denke verander word om dit dwaas en teenproduktief te laat lyk om op hoërskool ’n baba te hê.”

Hou boek van goeie dade

“Kinders is selfgesentreerd tot op ten minste ongeveer vierjarige ouderdom, wanneer hulle die vermoë begin ontwikkel om empatie te betoon”, sê ’n verslag wat in The Toronto Star aangehaal is. Daar word voorgestel dat kinders by die huis geleer word om goeie dade te doen sodat hulle gehelp kan word om besorgdheid vir ander te ontwikkel. Miskien kan gesinslede elke dag op ’n tabel ten minste twee goeie dade merk wat hulle uit hulle eie verrig het. Ouers wat sien hoe hulle kinders ’n goeie daad verrig, kan dit ook op die tabel merk. Verskeie skole gebruik sulke tabelle om afknouery te probeer teëwerk. Leerlinge word gevra om ’n aantekening daarvan te maak wanneer hulle ander kinders goeie dade sien doen. Volgens die verslag “help dit kinders om medelye te herken, wat noodsaaklik is as ’n mens self wil leer om medelye te voel en te beoefen”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel