Ongelukke—Die noodlot of omstandighede?
TERWYL Cristina, ’n mooi jong mannekyn, die besige Nove de Julho-laan in São Paulo, Brasilië, oorgesteek het, het sy nie die naderende bus gesien nie. Die bestuurder het desperaat probeer om sy voertuig tot stilstand te bring, maar dit was té laat. Cristina is doodgery.
Hierdie tragiese ongeluk was voorbladnuus in die Brasiliaanse koerant O Estado de S. Paulo (29 Julie 1990). Tog was dit maar een van 50 000 noodlottige verkeersongelukke wat elke jaar in Brasilië plaasvind. En hoewel nog duisende deur ongelukke vermink word, kom ander ongedeerd uit sulke ongelukke. Waarom het hierdie jong meisie dit dan nie oorleef nie? Was dit voorbestem dat sy daardie dag moes sterf?
Tallose mense sal beweer dat dit die geval is. Hulle glo aan die noodlot, dat belangrike gebeure, soos ’n mens se sterfdag, voorbestem is. Hierdie opvatting het aanleiding gegee tot uitdrukkings soos: “Die noodlot kan nie afgeweer word nie”, “Sy uur het gekom” of “Dit is nou eenmaal sy bestemming”. Steek daar enige waarheid in sulke gewilde gesegdes? Is ons maar net pionne van die noodlot?
Fatalisme, of die idee dat alle gebeure vooraf bepaal word, was ’n algemene opvatting onder die Grieke en die Romeine. Selfs vandag is dit by baie godsdienste ’n diepgewortelde idee. Die Islam glo byvoorbeeld vas aan die woorde van die Koran: “Geen siel kan sterf sonder die toestemming van Allah nie—die tyd daarvoor is vasgestel.” Geloof in die noodlot is ook algemeen onder die Christendom en is bevorder deur die leerstelling van predestinasie wat deur Johannes Calvyn geleer is. Dit is gevolglik ’n algemene gebruik onder geestelikes om aan treurende familielede te sê dat ’n sekere ongeluk “God se wil” was.
Die opvatting dat ongelukke deur die noodlot veroorsaak word, is egter in stryd met gesonde verstand, ondervinding en logika. Eerstens kan motorongelukke nie die gevolg van goddelike inmenging wees nie, aangesien ’n deeglike ondersoek gewoonlik toon dat daar ’n heeltemal logiese oorsaak vir die ongeluk was. Verder toon statistieke duidelik dat wanneer redelike voorsorgmaatreëls getref word—soos om ’n sitplekgordel te dra—die moontlikheid van ’n noodlottige ongeluk grootliks afneem. Kan sulke veiligheidsmaatreëls werklik God se voorafbepaalde wil verydel?
Wanneer iemand aan die noodlot glo, het dit egter ’n nadelige invloed op hom. Moedig dit nie roekelose dade aan, soos om snelheidsperke en verkeerstekens te ignoreer en onder die invloed van drank of dwelmmiddels te bestuur nie? Nog erger, geloof in fatalisme veroorsaak dat sommige mense God blameer wanneer ’n ongeluk hulle tref. Hulle geloof kan selfs skipbreuk ly omdat hulle kwaad en hulpeloos voel en oortuig is dat God nie omgee nie. Die digter Emerson het gepas gesê: “Die bitterste en tragiesste element in die lewe is die geloof in ’n wrede Noodlot.”
Maar wat sê die Bybel oor teenspoed en ongelukke? Leer dit werklik dat sulke dinge aan die noodlot te wyte is? Wat sê die Bybel boonop oor ons vooruitsigte op redding? Het ons enigsins ’n keuse in die saak?
[Lokteks op bladsy 4]
“Die bitterste en tragiesste element in die lewe is die geloof in ’n wrede Noodlot.”—Ralph Waldo Emerson