Die wye wêreld van die nederige grondboontjie
Hou jy van grondboontjies? Indien wel, is jy nie alleen nie. Grondboontjies, wat ook aardneute genoem word, word deur ’n groot deel van die mensdom geniet. Die twee lande met die grootste bevolkings op aarde—China en Indië—lewer saam meer as 50 persent van die wêreld se totale oes.
Die Verenigde State oes jaarliks derduisende tonne grondboontjies en lewer amper 10 persent van die wêreld se totale opbrengs. Argentinië, Brasilië, Malawi, Nigerië, Senegal, Soedan en Suid-Afrika is ook lande wat groot hoeveelhede grondboontjies verbou. Hoe het die grondboontjie so gewild geword? Is dit ooit verstandig om grondboontjies te vermy?
’n Lang geskiedenis
Die grondboontjie is vermoedelik van Suid-Amerika afkomstig. Een van die oudste bekende artefakte wat die mens se waardering vir die grondboontjie uitbeeld, is ’n pre-Columbiaanse vaas wat in Peru ontdek is. Die vaas is in die vorm van ’n grondboontjie en is ook met grondboontjievormige ontwerpe versier. Spaanse ontdekkingsreisigers, wat grondboontjies vir die eerste keer in Suid-Amerika teëgekom het, het gevind dat dit ’n uitstekende voedselbron vir hulle reise was. Hulle het dit toe na Europa teruggebring. Die Europeërs het ander gebruike vir die grondboontjie gevind en dit selfs as ’n plaasvervanger vir koffiebone gebruik.
Later het die Portugese grondboontjies Afrika toe gebring. Hier is grondboontjies gou as ’n waardevolle voedselbron geïdentifiseer wat in grond sou groei wat te onvrugbaar vir ander gewasse was. Trouens, die grondboontjie het in werklikheid die onvrugbare grond met noodsaaklike stikstof verryk. Die grondboontjie is uiteindelik gedurende die tyd van die slawehandel van Afrika na Noord-Amerika geneem.
In die 1530’s het die grondboontjie saam met die Portugese na Indië en Macao gereis, en saam met die Spanjaarde na die Filippyne. Handelaars het toe grondboontjies van hierdie lande af na China geneem. Daar het mense die grondboontjie beskou as ’n gewas wat die hongersnood in die land kon help verlig.
Plantkundiges van die 1700’s het navorsing oor die grondboontjie gedoen en besluit dat dit ’n uitstekende kos vir varke sou wees. Teen die vroeë 1800’s is grondboontjies in Suid-Carolina in die Verenigde State kommersieel verbou. Tydens die Amerikaanse Burgeroorlog, wat in 1861 begin het, het soldate aan beide kante van die konflik grondboontjies gekry om te eet.
Maar destyds het baie mense grondboontjies as kos vir die armes beskou. Hierdie beskouing verklaar deels waarom Amerikaanse boere destyds nie baie grondboontjies vir menslike gebruik verbou het nie. Voor die uitvinding van gemeganiseerde toerusting in om en by die jaar 1900 was die verbouing van grondboontjies baie arbeidsintensief.
Maar teen 1903 het die Amerikaanse landbouskeikundige George Washington Carver, wat baanbrekerswerk in hierdie veld gedoen het, navorsing oor nuwe gebruike vir die grondboontjie begin doen. Hy het uiteindelik meer as 300 produkte daaruit ontwikkel, insluitende drankies, skoonheidsmiddels, kleurstowwe, geneesmiddels, wasgoedseep, insekdoder en drukkersink. Carver het plaaslike boere ook aangespoor om nie meer net katoen te verbou nie, wat die grond uitgeput het, maar om dit met grondboontjies af te wissel. Destyds het die bolkewer verwoesting gesaai op katoenplase, wat baie boere beweeg het om Carver se raad te volg. Wat was die gevolg? Grondboontjies was so suksesvol dat dit ’n belangrike kontantgewas in die suidelike Verenigde State geword het. Vandag staan daar ’n standbeeld ter ere van Carver in Dothan, Alabama. En die dorp Enterprise, Alabama, het selfs ’n gedenkteken ter ere van die bolkewer opgerig, aangesien die verwoesting wat hierdie insek aangerig het, daartoe bygedra het dat boere grondboontjies begin verbou het.
Die verbouing van grondboontjies
Grondboontjies (peanuts) is eintlik nie neute nie maar in werklikheid die sade van die grondboontjieplant. Terwyl die plant groei, kry dit geel blomme wat hulleself bestuif.
Die bevrugte vrugbeginsel, waarin die embrio is, begin die grond binnedring met behulp van ’n stingelagtige struktuur wat die anker genoem word. Onder die grond ontwikkel die embrio parallel met die oppervlak, waar dit volwassenheid bereik en die bekende grondbootjievorm aanneem. Een plant kan tot 40 grondboontjies lewer.
Grondboontjies hou van ’n warm, sonnige klimaat met matige reënval. Dit kan van 120 tot 160 dae neem vandat die grondboontjies geplant is totdat dit geoes word, afhangende van die soort grondboontjie en die weerstoestande. Om grondboontjies te oes, moet boere die hele plant opgrawe, dit onderstebo draai en dit laat uitdroog sodat dit geberg kan word sonder dat dit bederf. Vandag gebruik baie boere moderne plaasimplemente waarmee hulle die plant op een slag kan opgrawe, die grond kan afskud en dit onderstebo kan draai.
Die veelsydige grondboontjie
Die voedingswaarde van die grondboontjie is indrukwekkend. Grondboontjies is ryk aan vesel, en dit bevat 13 vitamiene en 26 minerale, waarvan baie nie voorkom in die kos wat mense deesdae eet nie. “Grondboontjies bevat meer proteïen, minerale en vitamiene per [kilogram] as beeslewer”, sê The Encyclopædia Britannica. Maar as jy jou gewig dophou, moet jy versigtig wees. Grondboontjies het ook “meer vet as dik room” en “meer voedselenergie (kilojoules) as suiker”.
Grondboontjies word in die kookkuns van ’n groot verskeidenheid lande gebruik. En dit is maklik om die unieke smaak daarvan te herken. “Die grondboontjie se geur is so ryk en onmiskenbaar dat enige gereg wat met fyngemaalde grondboontjies gegeur is, ’n eenderse geur sal hê”, sê die kookkunsskrywer Anya von Bremzen. “Daarom sal daar ooreenkomste in smaak wees tussen ’n Indonesiese grondboontjiesous, ’n Wes-Afrikaanse sop, Chinese noedels, Peruaanse bredie en ’n grondboontjiebottertoebroodjie.”
Grondboontjies is ook wêreldwyd ’n geliefkoosde peuselhappie. In Indië word grondboontjies byvoorbeeld met ander droë peulvrugte gemeng en as ’n peuselhappie op straat verkoop. Dit is interessant dat grondboontjiebotter, ’n gewilde toebroodjiesmeer in sommige lande, na bewering “vir die eerste keer in ongeveer 1890 deur ’n dokter in St. Louis [VSA] as ’n gesondheidskos vir bejaardes gemaak is”, volgens die publikasie The Great American Peanut.
Maar buiten dat dit as kos dien, het grondboontjies ook baie ander gebruike. Grondboontjies is regdeur Asië ’n belangrike bron van kookolie. Grondboontjieolie kan gebruik word om kos teen baie hoë temperature gaar te maak, en dit absorbeer nie die geur van die kos wat gaargemaak word nie.
In Brasilië word grondboontjiemeel, ’n byproduk by die vervaardiging van grondboontjieolie, as dierevoer gebruik. En grondboontjieprodukte word ook in talle alledaagse verbruiksartikels gevind.—Sien bo.
Gevaar—Grondboontjieallergie!
Grondboontjies kan lank sonder verkoeling geberg word. Maar ’n mens moet versigtig wees. Grondboontjies wat gemuf het, bevat aflatoksien, ’n kragtige kankerverwekkende stof. Daarbenewens is party mense allergies vir grondboontjies. Die allergiese reaksie “kan verskillende simptome insluit, van ’n lopende neus en veluitslae tot lewensgevaarlike anafilaktiese skok”, sê die tydskrif Prevention. Verskeie studies toon dat al hoe meer jong kinders vir grondboontjies allergies raak.
As ’n kind se ouers albei asma, hooikoors of ekseem het, bestaan daar ’n groter gevaar dat die kind vir grondboontjies allergies sal raak, sê Prevention.
Dit geld ook vir babas wie se moeders ’n geskiedenis van allergieë het en vir babas wat gedurende hulle eerste jaar ’n allergie vir melk ontwikkel. “Dit is raadsaam vir hierdie gesinne om grondboontjiebotter van hulle babas af weg te hou en te wag dat hulle kinders ten minste drie jaar oud is voordat hulle vir hulle grondboontjiebotter gee”, sê dr. Hugh Sampson, professor van kindergeneeskunde aan die Johns Hopkins-universiteit se Mediese Sentrum, VSA.
Hetsy jy van grondboontjies hou of nie, miskien het hierdie bespreking van die talle maniere waarop dit gebruik word, jou waardering vergroot vir hierdie nederige maar uiters gewilde saad.
[Venster/Prent op bladsy 24]
Byprodukte van grondboontjies kan in talle alledaagse verbruiksartikels gevind word
• bekledingsbord
• kaggelstompe
• katsand
• papier
• skoonmaakmiddels
• salf
• metaalpolitoer
• bleikmiddel
• ink
• assmeermiddel
• skeerroom
• gesigsroom
• seep
• linoleum
• rubber
• skoonheidsmiddels
• verf
• plofstof
• sjampoe
• geneesmiddels
[Erkenning]
Bron: The Great American Peanut
[Diagram/Prent op bladsy 22]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Blare
Anker
Grondvlak
Wortels Grondboontjie
[Erkenning]
The Peanut Farmer magazine
[Prent op bladsy 22]
’n Standbeeld ter ere van George Washington Carver
[Prent op bladsy 23]
Verenigde State
[Prent op bladsy 23]
Afrika
[Prent op bladsy 23]
Asië
[Erkenning]
FAO photo/R. Faidutti
[Prent op bladsy 23]
’n Paar grondboontjiepeuselhappies
[Prent op bladsy 24]
Grondboontjiebotter is gewild in sommige lande