Waarom musiek ons beïnvloed
MUSIEK en taal is eie aan die mens. Dit sou moeilik wees om jou ’n wêreld sonder een van die twee voor te stel. “Taal sowel as musiek is kenmerke van die mensespesie wat blykbaar universeel is”, sê die boek The Musical Mind. Dit is maniere waarop ons uiting gee aan ons behoefte om te kommunikeer. Net soos met taal kan daar dus gesê word dat ons emosies “luister” wanneer musiek “praat”.
Waarom en hoe spreek musiek tot ons emosies? Om dit te beantwoord, moet ons kyk na: (1) die musikale elemente en die manier waarop ons brein dit verwerk; (2) ons emosionele samestelling en kulturele agtergrond, wat die manier beïnvloed hoe ons op musiek reageer, en (3) taal, wat ook ons reaksie daarop kan beïnvloed.
Die musikale elemente
Die eienskappe van musiek word dikwels “musikale elemente” genoem. Hierdie elemente sluit die toon, of timbre, van ’n instrument in. Die Franse horing is byvoorbeeld al beskryf as “aanstellerig”, of swaar, en sy klank as heeltemal anders as dié van die “trotse” trompet. Hoewel albei aan dieselfde familie, of groep, naamlik die blaasinstrumente behoort, bring elkeen van hulle botone, of harmoniese tone, voort wat in krag verskil. Dit is wat elke instrument sy unieke “stem” gee. Komponiste gebruik hierdie eienskappe om sekere klankeffekte te skep sodat hulle die emosies van hulle luisteraars kan wek.
Een van die eerste elemente wat ons waarskynlik leer ken, is ritme—miskien terwyl ons nog in die baarmoeder is en na ons ma se hartklop luister. Daar is al beweer dat ons reaksie op musikale ritme moontlik onbewustelik deur ons hartklop of selfs ons asemhaling beïnvloed word. Daarom is dit miskien nie toevallig nie dat die meeste mense blykbaar musiek verkies met ’n tempo wat wissel tussen 70 en 100 maatslae per minuut—dieselfde tempo as die gemiddelde hartklop van ’n gesonde volwassene. Dit is wat die tydskrif Perceptual and Motor Skills altans beweer.
’n Mens word bewus van die groot musikale verskeidenheid wat hierdie elemente kan voortbring, wanneer jy ’n aantal instrumente en die klanke en melodieë wat hulle voortbring, ontleed. Die hartseer klank van die fagot in die tweede beweging van Mozart se fagotkonsert kan diepe emosies en gevoelens opwek. Die klaende klank van ’n Japannese sjakoehatsji-fluit kan die hart roer. Die sagte warm klank van die tenoorsaksofoon maak dat ’n blues-melodie nog lank in die gedagtes van baie bly. Die oempa van ’n tuba in ’n Duitse orkes wek gewoonlik gevoelens van uitbundigheid. Die vrolike klank van viole wat een van Strauss se walse speel, laat baie mense se voete jeuk om te dans. Sulke resultate word verkry omdat “musiek tot die hele mens spreek”, sê Clive E. Robbins, van die Nordoff-Robbins-musiekterapiesentrum, in New York.
Harmonie, dissonansie en melodie
Harmonie bring aangename klanke voort, terwyl dissonansie onaangename klanke voortbring. Maar het jy geweet dat hierdie elemente mekaar in party soorte musiek aanvul? ’n Musiekstuk wat harmonieus klink, het waarskynlik meer dissonansie in as wat jy dalk dink. Die voortdurende interaksie tussen harmonie en dissonansie voorsien ’n wisselende, maar meestal onmerkbare, toename in spanning, wat ’n uitwerking op ons emosies het. Hierdie ligte emosionele prikkeling is strelend, terwyl dissonante musiek op sy eie op ’n mens se senuwees kan werk en onaangename gevoelens kan wek—baie soos wanneer jy jou naels teen ’n lei of skoolbord skraap. Daarenteen kan musiek vervelig wees as dit net op harmonie gebaseer is.
Melodie is die welluidende rangskikking van opeenvolgende enkelnote. Volgens party gesaghebbende bronne is die woord afkomstig van die Griekse woord meʹlos, wat “lied” beteken. Melodie is, volgens woordeboeke, soet musiek, enige soet klank.
Dit is egter nie net enige opeenvolging van klanke wat ’n soet melodie maak nie. As daar byvoorbeeld gereelde groot intervalle tussen opeenvolgende note is, maak dit ’n melodie dalk dramaties, maar nie soet nie. Daarenteen kan note wat met min groot intervalle verbyvloei ’n melodie aangenaam maak. Die verskillende rangskikkings van note en intervalle gee ’n melodie ’n hartseer of gelukkige karakter. Soos met harmonie skep ’n melodie sy eie spanning en verligting, wat ons emosies beïnvloed weens die styging en daling van die toonhoogte—met ander woorde hoe hoog of laag ’n noot klink.
Wanneer al hierdie elemente saamgevoeg word, bring dit kragtige klanke voort wat ons emosies kan prikkel of streel. Dit is weens die verskillende maniere waarop ons brein die musiek waarneem en verwerk.
Musiek en die brein
Party beweer dat taal en logika oorwegend funksies van die linkerkant van die brein is, terwyl musiek aan die regterkant van die brein verwerk word, wat hoofsaaklik met gevoelens en emosies te doen het. Of dit nou die geval is of nie, dit is duidelik dat musiek spontane reaksies by mense uitlok. Die tydskrif Perceptual and Motor Skills stel dit so: “Musiek het die krag om gevoelens en emosies vinnig en doeltreffend te wek. Wat in ’n boek baie sinne sou neem om te beskryf . . . , kan in musiek dikwels deur net een maat of een akkoord oorgedra word.”
Wat die wisselwerking betref tussen wat ons sien en hoor en ons reaksies daarop, maak die boek Music and the Mind die volgende interessante opmerking: “Daar is ’n nouer verband tussen wat ons hoor en emosionele prikkeling as wat daar is tussen wat ons sien en emosionele prikkeling. . . . Wanneer ’n mens ’n gewonde dier sien of iemand sien wat ly, wek dit dalk min emosionele reaksie by jou op as hulle stil is. Maar wanneer hulle begin skreeu, word ’n mens gewoonlik diep geraak.”
Musiek, lirieke en jy
Volgens een denkrigting het ’n gegewe musiekstuk dieselfde uitwerking op almal wat daarna luister. Maar ’n ander een sê dat ’n persoon se reaksie op ’n melodie of ’n liedjie afhang van sy gemoedstoestand op daardie oomblik of sy vorige ondervinding. ’n Voorbeeld hiervan is dalk wanneer iemand wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het ’n sekere lied hoor, miskien by ’n plek van aanbidding. Die lied bring dalk herinneringe terug en kan die persoon hartseer maak of selfs trane in sy of haar oë laat opwel. Ander wat nie in daardie situasie is nie, sing moontlik dieselfde lied met ’n vrolike hart.
Neem ook die beskrywing van die Franse horing en die trompet wat vroeër gegee is. Jy stem dalk nie saam dat ’n Franse horing aanstellerig klink nie. Vir jou klink dit dalk uitbundig of opgeruimd, terwyl die trompet moontlik meer aandoenlik vir jou is. Binne-in elkeen van ons is daar dus ’n unieke fontein van gevoelens wat deur musiek in ons kan opwel—daarom reageer elkeen van ons op ons eie manier.
Musiek help ons om woorde of idees met emosies te verbind. Gevolglik word min televisie- of radioadvertensies sonder musiekbegeleiding aangebied. Dikwels maak die woorde nie baie sin nie. Maar as die regte agtergrondmusiek gespeel word, sal die advertensie die emosies van die luisteraar beïnvloed. Hoe waar is dit tog dat die meeste reklame hoofsaaklik daarop gemik is om mense te kry om deur hulle emosies eerder as hulle verstand gelei te word wanneer hulle dinge koop!
Hoewel reklame dalk ’n negatiewe uitwerking op die publiek se sak het, hou die krag van lirieke en musiek ’n baie ernstiger gevaar in. Die Journal of Youth and Adolescence meen dat liedjieskrywers vir adolessente leer om ander se menings in die wind te slaan en hulle eie kop te volg deur lirieke te skryf wat oor en oor herhaal word. ’n Ander bron sê dat die boodskappe in “kontroversiële rap-lirieke . . . , wat eksplisieter is as hulle heavy metal-ekwivalente,” tot die emosies van die luisteraar kan deurdring en tot antisosiale gedrag kan lei.
Kan ’n mens negatiewe reaksies vermy deur net na die musiek te luister en die lirieke te ignoreer? Wel, dit is seker so dat baie van die woorde in heavy metal- en rap-musiek moeilik is om te hoor. Trouens, dikwels word dit amper onverstaanbaar bo die oorverdowende musiek. Maar hetsy die woorde gehoor kan word of nie, die boodskap is nog steeds daar in die polsende ritme en die melodie wat keer op keer herhaal word!
Hoe so? Wel, party van die titels skep op sigself sekere beelde. Daarbenewens is die soort musiek self dikwels die boodskap. Wat is die boodskap wat oorgedra word? Een tydskrif vir jongmense sê: “Dit lyk of dit ’n boodskap van krag, mag en seksuele verowering oordra.” ’n Ander een sê: “Die basiese temas . . . is uiterste opstandigheid, geweld, dwelm- en alkoholmisbruik, seksuele promiskuïteit, perversie en Satanisme.”
Party jongmense erken dat dit waar is, maar sê dat dit hulle nie negatief beïnvloed nie. Hulle redeneer dat sulke musiek voordelig is omdat dit hulle help om ‘hulleself as individue te vind’. Is dit so? Die Journal of Youth and Adolescence sê: “Die woede, vyandige temas en krag in heavy metal waarmee party seuns hulleself identifiseer, is dalk aan die einde van die dag veral welkom vir seuns wat nie goed presteer nie en wat die hele dag lank by die skool gehoor het dat hulle nie goed genoeg is nie.” Dit voeg dan by: “Die ironie of raaisel is dat adolessente in hulle soeke na ’n veiliger en ware self gebruik maak van ’n openbare medium wat hulle met ander deel. Pleks van waarlik unieke ondervindinge te soek wanneer hulle alleen is, wend adolessente hulle tot ‘verpakte’ beelde wat deur ’n kommersiële bedryf voorsien word.” Met ander woorde, iemand anders sê vir hierdie jongmense wat om te dink en hoe om te voel.
Neem byvoorbeeld rockkonserte. Watter uitwerking het hulle op die massas wat dit bywoon? Die boek Music and the Mind antwoord: “Daar kan geen twyfel bestaan nie dat musiek, deur die emosies van skares op te wek en te verseker dat daardie emosies saam en nie afsonderlik nie ’n hoogtepunt bereik, op ’n kragtige wyse tot die verlies van goeie oordeel, die blinde oorgawe aan die gevoelens van die oomblik, kan bydra, wat so ’n gevaarlike kenmerk van toeskouergedrag is.” Party van die tonele van wilde oorgawe by rockkonserte bewys hoe waar dit is.
Ons moet dus baie selektief wees in ons keuse van musiek om besoedeling van die verstand en hart te vermy. Hoe kan ons dit doen? Ons slotartikel sal hierdie vraag beantwoord.
[Prent op bladsy 7]
Musiek laat dikwels mense se voete jeuk om te dans