Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 12/8 bl. 16-17
  • Bekoorlike duetsangertjies

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bekoorlike duetsangertjies
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die klokkiesvoël
  • Lewenslange maats
  • Hulle fluit terwyl hulle werk
  • Voëlgesang—Net nog ’n mooi melodie?
    Ontwaak!—1993
  • Herken jy daardie liedjie?
    Ontwaak!—1999
  • Sangvoëls—Virtuose wat die verstand te bowe gaan
    Ontwaak!—1991
  • Wanneer voëls in geboue vasvlieg
    Ontwaak!—2009
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 12/8 bl. 16-17

Bekoorlike duetsangertjies

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KENIA

DIE twee sangers het teenoor mekaar gestaan, gereed vir hulle vertoning. Die hoofsanger het ’n klein buiginkie gemaak en ’n sagte, helder noot gesing wat so soetvloeiend en suiwer was dat dit baie ver in die oggendlug weerklink het. Die tweede sanger het toe grasieus gebuig en met volmaakte tydsberekening net so ’n soetvloeiende noot ’n oktaaf hoër gesing. Namate die duet in momentum toegeneem het en hulle harder gesing het, het die twee stemme soos een begin klink. Ek het met ingehoue asem geluister en my verwonder oor hulle uitstekende vaardigheid en stemgehalte.

Hierdie meesterlike uitvoering is nie in die een of ander stampvol konsertsaal gelewer nie. Dit is eerder op ’n boomtak naby my huis hier in Kenia uitgevoer—deur twee voëltjies. Toe hulle klaar gesing het, het die geveerde sangertjies regop gestaan, hulle vlerke oopgesprei en weggevlieg.

Daar is al dikwels opgemerk dat voëls daarvan hou om dinge saam te doen. Dit is ook opmerkenswaardig dat party voëls dit blykbaar geniet om saam te sing—en hulle doen dit met ongelooflike presisie! Hulle sing hulle duette so goed saam dat dit dikwels onmoontlik is vir die luisteraar om agter te kom dat dit twee verskillende voëls is wat sing as hy hulle nie kan sien nie! Selfs wetenskaplikes is al om die bos gelei. Gevolglik is duetsang eers betreklik onlangs as ’n gedragspatroon van voëls erken.

Die klokkiesvoël

Die tropiese waterfiskaal is byvoorbeeld ’n besonder talentvolle sangertjie. Hy kom in Afrika voor en het ’n unieke fluitagtige roep wat dikwels klink soos die trilling van twee stukke metaal wat teen mekaar geslaan word. Daarom staan hy algemeen bekend as die klokkiesvoël. Die waterfiskaal is fyn uitgevat met sy blinkswart kroon, nek en vlerke. Sy spierwit borsvere en wit vlerkstreep vorm ’n pragtige kontras hiermee. Waterfiskale word altyd in pare gesien, en die mannetjie en wyfie het eenderse merke en kleure.

Enigiemand wat in ’n digte woud of bos loop, sal van die waterfiskale se teenwoordigheid bewus word lank voordat hy hulle raaksien. Die mannetjie sal dikwels drie vinnige klokagtige note sing. Dit word onmiddellik beantwoord deur ’n krysende kweee van die wyfie. Soms sing een voël ’n ononderbroke reeks note terwyl sy maat inval met ’n enkele toon—’n melodieuse noot wat by die lied ingevoeg word sonder dat ’n onderbreking gehoor kan word.

Wetenskaplikes verstaan nie presies hoe hulle dit regkry om so goed gekoördineer te wees nie. Party dink dat dit, ten minste in party gevalle, bloot ’n kwessie is van “al doende leer ’n mens”, soos die gesegde lui. Die mannetjie en wyfie sing dag na dag saam en bereik sodoende die hoë vlak van presisie in hulle uitvoerings.

Dit is interessant dat dit dikwels klink of waterfiskale ’n “aksent” het wat van plek tot plek verskil. Blykbaar gebeur dit omdat hulle plaaslike klanke of ander voëlsang naboots. Hierdie proses word stemnabootsing genoem. Gevolglik kan die sang van waterfiskale wat in die Suid-Afrikaanse bosveld gehoor word heel anders klink as dié wat in die Groot Skeurvallei van Oos-Afrika gehoor word.

Lewenslange maats

In die boek The Trials of Life sê David Attenborough: “Dit is nogal aandoenlik om uit te vind dat sangpare oor die algemeen seisoen na seisoen, indien nie lewenslank nie, bymekaarbly.” Wat is die rede vir hierdie sterk band? Attenborough sê verder: “Hulle gebruik ook die tegniek wat hulle ontwikkel het as ’n manier om die band tussen hulle te versterk, en hulle sing hulle ingewikkelde duette selfs terwyl hulle langs mekaar op ’n tak sit; en soms, as een van die maats weg is, sal die eensame voël die hele ingewikkelde melodie sing en self die ontbrekende dele invoeg.”

Die sang help moontlik ook die voëls om mekaar in digte plantegroei op te spoor. Wanneer die mannetjie wil weet waar sy maat is, begin hy ’n reeks welluidende note sing, en die wyfie val in, al is sy dalk ’n hele ent weg. Hulle tydsberekening is so presies dat dit klink asof hulle die uitvoering vooraf geoefen het.

Hulle fluit terwyl hulle werk

Hou jy daarvan om te werk terwyl jy na musiek luister? Wel, baie voëls geniet dit blykbaar ook. Die boek The Private Life of Birds, deur Michael Bright, sê dat voëlsang ’n stimulerende fisiese uitwerking op luisteraars het, en hy sê dat “die polsslag van mannetjies sowel as wyfies versnel het” nadat hulle voëlsang gehoor het. Daarbenewens het party wyfies “hulle neste vinniger gebou” en “was hulle ook geneig om meer eiers te lê” wanneer hulle na die sang van mannetjies geluister het.

Wetenskaplikes sal ongetwyfeld nog meer fassinerende dinge uitvind omtrent duetsangers soos die tropiese waterfiskaal. Maar wat die funksionele waarde van hulle trillende sang ook al is, laat ons nie die feit uit die oog verloor dat hulle aan nog ’n verhewe doel beantwoord nie. Hulle verskaf plesier aan waarderende mans en vroue wat na hulle luister! Trouens, sulke asemrowende musiek beweeg ons om die Skepper van “die voëls van die hemel” te loof.—Psalm 8:9.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel