Ontvoering—gekommersialiseerde terreur
“ONTVOERING is nie soos misdaad teen eiendom nie. Dit is slinkse, wrede en onverskillige behandeling van die gemeenskap se mees basiese eenheid, die gesin”, sê Mark Bles in sy boek The Kidnap Business. ’n Ontvoering veroorsaak emosionele ontsteltenis vir gesinslede. Terwyl die minute en ure voortsleep, word hulle heen en weer geslinger tussen hoop en wanhoop, terwyl hulle worstel met gevoelens van skuld, haat en hulpeloosheid. Die nagmerrie kan dae, weke, maande of soms selfs jare lank voortduur.
In hulle onversadigbare honger na geld slaan ontvoerders munt uit gesinne se gevoelens. ’n Bende wat mense ontvoer, het hulle slagoffer gedwing om die volgende in ’n ope brief aan die pers te skryf: “Ek vra die Pers om hierdie brief oral te publiseer sodat dit nie net my ontvoerders se skuld sal wees as ek nie terugkom nie, maar ook my gesin s’n wat bewys het dat hulle geld bo my verkies.” Italiaanse ontvoerders het druk op familielede en ander uitgeoefen om ’n losprys te betaal deur liggaamsdele van hulle slagoffers af te sny en dit aan familielede of TV-stasies te stuur. ’n Mexikaanse ontvoerder het selfs sy slagoffers gemartel terwyl hy oor die telefoon met hulle gesin onderhandel het.
Dan is daar weer ontvoerders wat hulle slagoffers se guns probeer wen. In die Filippyne is ’n ontvoerde sakeman byvoorbeeld in ’n luuksehotel in Manila aangehou, waar sy gevangenemers hom drank gegee en vir hom prostitute gebring het totdat die losprys betaal is. Maar die meeste slagoffers word opgesluit sonder dat daar na hulle fisiese of higiëniese behoeftes omgesien word. Baie word wreed mishandel. Hoe dit ook al sy, vir die slagoffer is dit altyd ’n nagmerrie omdat hy nie weet wat met hom gaan gebeur nie.
Hoe om die trauma te verwerk
Selfs nadat slagoffers vrygelaat is, hou hulle moontlik nog steeds emosionele letsels oor. ’n Sweedse verpleegster wat in Somalië ontvoer is, het gesê: “Een ding is belangriker as enigiets anders. Jy moet met vriende en familielede praat en professionele hulp kry as jy dit nodig het.”
Terapeute het ’n metode ontwikkel om sulke slagoffers te help. In verskeie kort sessies ontleed die slagoffers hulle ondervindings met professionele hulp voordat hulle met hulle gesin herenig word en met hulle gewone lewe voortgaan. “Wanneer ’n slagoffer kort ná die voorval behandel word, word die risiko van permanente skade beperk”, sê Rigmor Gillberg, ’n deskundige in krisisterapie by die Rooi Kruis.
Ander gevolge
Slagoffers en hulle gesinne is nie die enigstes wat deur ontvoerings geraak word nie. Die vrees vir ontvoering kan die toeristebedryf ’n knou gee en beleggings laat afneem; dit kan ook ’n gevoel van onveiligheid in die gemeenskap laat ontstaan. In 1997 het ses internasionale maatskappye hulle binne net ’n paar maande aan die Filippyne onttrek weens die gevaar van ontvoering. ’n Filippynse vrou wat vir die groep Burgers teen Misdaad werk, het gesê: “Ons lewe is ’n nagmerrie.”
’n Artikel in The Arizona Republic sê: “Onder Mexikaanse bestuursamptenare grens die vrees vir ontvoering aan histerie, en ook nie sonder goeie rede nie.” Die Brasiliaanse tydskrif Veja berig dat ontvoerders en rowers nou die monsters in die nagmerries van Brasiliaanse kinders vervang het. In Taiwan word kinders op skool geleer hoe om te voorkom dat hulle ontvoer word, en in die Verenigde State is sekuriteitskameras in kleuterskole geïnstalleer om ontvoerings te voorkom.
’n Oplewing vir sekuriteitsraadgewers
Die toename in ontvoerings en die netelige kwessies wat daarmee gepaardgaan, het tot ’n oplewing vir privaat sekuriteitsmaatskappye gelei. In die Brasiliaanse stad Rio de Janeiro is daar meer as 500 van hierdie maatskappye, met ’n inkomste van R11 miljard.
’n Groeiende aantal internasionale sekuriteitsmaatskappye leer mense hoe om te voorkom dat hulle ontvoer word, publiseer verslae oor gevaarlike plekke en onderhandel oor losprysgeld. Hulle gee raad aan gesinne en maatskappye, leer hulle hoe ontvoerders te werk gaan en help hulle om dit sielkundig te verwerk. Party maatskappye probeer selfs om die ontvoerders te vang en die losprysgeld terug te kry nadat die gyselaar vrygelaat is. Maar hulle dienste is nie gratis nie.
Ten spyte van sulke pogings is daar al hoe meer ontvoerings in baie lande. Richard Johnson, visepresident van Seitlin & Company, sê die volgende oor die situasie in Latyns-Amerika: “Na alle verwagting sal die aantal ontvoerings toeneem.”
Redes vir die toename
Deskundiges gee heelwat redes vir die onlangse toename. Die hopelose ekonomiese situasie in sommige gebiede is een rede. ’n Noodlenigingswerker in die dorp Naltsjik, Rusland, het gesê: “Die beste manier om geld te maak, is deur hierdie berugte metode, ontvoering.” In sommige voormalige Sowjetrepublieke word ontvoerings na bewering gebruik om die privaat leërs van plaaslike krygshere te finansier.
Meer mense as ooit tevore gaan op sakereise of reis as toeriste en skep dus nuwe moontlikhede vir ontvoerders op soek na slagoffers. Die aantal buitelanders wat ontvoer word, het binne vyf jaar verdubbel. Tussen 1991 en 1997 is toeriste in sowat 26 lande ontvoer.
Waar kom al hierdie ontvoerders vandaan? Sommige militêre konflikte is besig om hulleself uit te woed en laat voormalige soldate werkloos, en platsak. Dié mense het al die vaardighede wat nodig is vir hierdie winsgewende bedryf.
Die feit dat doeltreffender maatreëls teen bankrowery gebruik word en dat dwelmhandel hokgeslaan word, het eweneens daartoe gelei dat misdadigers ontvoering as ’n alternatiewe bron van inkomste begin sien het. Mike Ackerman, ’n deskundige op die gebied van ontvoerings, het verduidelik: “Namate ons misdade teen eiendom in alle gemeenskappe moeiliker maak, moedig dit misdade teen mense aan.” Wanneer dit in die media bekend gemaak word dat groot bedrae as losprys betaal is, kan dit ook potensiële ontvoerders aanmoedig.
Beweegredes nie altyd dieselfde nie
Die meeste ontvoerders is net agter die geld aan. Lospryseise wissel van ’n paar rand tot die rekordbedrag van R364 miljoen wat betaal is vir ’n Hongkongse eiendomsmagnaat wat nooit eens vrygelaat is nie al is die losprys betaal.
Aan die ander kant het sommige ontvoerders hulle slagoffers gebruik om publisiteit, kos, medisyne, radio’s en motors te eis, asook nuwe skole, paaie en hospitale. Een bestuursamptenaar wat in Asië ontvoer is, is vrygelaat nadat basketbaluniforms en -balle aan die ontvoerders gegee is. Sekere groepe gebruik ook ontvoerings om buitelandse beleggers en toeriste af te skrik en te intimideer, met die doel om die uitbuiting van grond en natuurlike hulpbronne stop te sit.
Daar is dus geen tekort aan beweegredes, geen tekort aan metodes, geen tekort aan potensiële ontvoerders of slagoffers nie. Is daar net soveel oplossings? Wat is van die oplossings, en kan hulle werklik die probleem oplos? Voordat ons hierdie vrae beantwoord, laat ons van die dieper, onderliggende redes ondersoek waarom die ontvoeringsbedryf so gegroei het.
[Venster op bladsy 5]
As jy ontvoer word
Diegene wat die onderwerp bestudeer het, gee die volgende wenke vir mense wat ontvoer word.
• Gee jou samewerking; moenie koppig wees nie. Teëstribbelrige gyselaars word meer dikwels aan wrede behandeling onderwerp, en hulle loop groter gevaar om doodgemaak of vir straf uitgesonder te word.
• Moenie paniekerig word nie. Hou in gedagte dat die meeste slagoffers die ontvoering oorleef.
• Dink aan ’n manier om tred te hou van die tyd.
• Probeer op een of ander manier ’n daaglikse roetine vir jouself uitwerk.
• Doen oefeninge, selfs al het jy dalk min geleenthede om te beweeg.
• Wees oplettend; probeer besonderhede, klanke en reuke onthou. Vind dinge omtrent jou ontvoerders uit.
• Praat met hulle oor alledaagse dinge indien moontlik en probeer hulle aan die gesels kry. As die ontvoerders jou as ’n individu sien, sal hulle minder geneig wees om jou seer te maak of dood te maak.
• Stel hulle op ’n beleefde manier van jou behoeftes in kennis.
• Moet nooit self oor jou losprys probeer onderhandel nie.
• As jy jou in die middel van ’n reddingspoging bevind, moet jy op die vloer neerval en doodstil lê en wag.
[Venster op bladsy 6]
Ontvoeringsversekering—’n omstrede kwessie
’n Florerende bedryf wat saam met die toename in ontvoerings gegroei het, is die versekeringsbedryf. Lloyd’s of London het gedurende die negentigerjare jaarliks ’n toename van 50 persent in ontvoeringsversekering gehad. Al hoe meer maatskappye bied sulke versekering aan. Die versekering dek die diensfooie van ’n ontvoeringsonderhandelaar, losprysbetaling en soms professionele pogings om die losprys terug te kry. Maar die versekeringskwessie is hoogs omstrede.
Dié wat gekant is teen ontvoeringsversekering sê dat dit die misdaad kommersialiseer en dat dit oneties is om geld te maak uit ontvoering. Hulle sê ook dat ’n versekerde persoon dalk onverskillig sal wees wat sy eie veiligheid betref en dat die versekering dit vir die ontvoerders makliker sal maak om geld af te dwing, en sodoende word hierdie misdaad aangemoedig. Party vrees selfs dat die beskikbaarheid van versekering mense sal aanmoedig om hulle eie ontvoering te reël sodat hulle die versekeringsgeld kan kry. Ontvoeringsversekering is onwettig in Colombia, Duitsland en Italië.
Voorstanders van ontvoeringsversekering wys daarop dat dit baie mense vir die verliese van ’n paar laat betaal, net soos met enige ander versekering. Hulle redeneer dat versekering ’n mate van sekuriteit bied, aangesien dit versekerde gesinne en maatskappye in staat stel om die hulp van bekwame professionele persone te bekostig, wat die spanning kan verlig, oor laer lospryse kan onderhandel en dit makliker kan maak om die ontvoerders vas te trek.
[Venster op bladsy 7]
Die Stockholm-sindroom
In 1974 het die ontvoering van Patty Hearst, die dogter van die multimiljoenêr-koeranteienaar Randolph A. Hearst, ’n verbasende wending geneem toe sy by haar ontvoerders aangesluit het en saam met die groep aan gewapende rooftogte deelgeneem het. In ’n ander geval het ’n ontvoerde Spaanse sokkerspeler sy ontvoerders vergewe en hulle alles van die beste toegewens.
In die vroeë sewentigerjare is hierdie verskynsel die Stockholm-sindroom genoem, ná ’n gyselaarsdrama in 1973 by ’n bank in Stockholm, Swede. By daardie geleentheid het van die gyselaars ’n buitengewone vriendskap met hulle gevangenemers aangeknoop. Sulke interaksie was al ’n beskerming vir die ontvoerde, soos die boek Criminal Behavior verduidelik: “Hoe beter die slagoffer en die gevangenemer mekaar leer ken, hoe meer is hulle geneig om van mekaar te hou. Hierdie verskynsel toon dat die oortreder ná verloop van tyd minder geneig sal wees om die gyselaar seer te maak.”
’n Engelse slagoffer in Tsjetsjnja wat verkrag is, het gesê: “Toe die wag ons as individue leer ken het, dink ek het hy besef dat dit verkeerd was om my te verkrag. Hy het opgehou om my te verkrag en hy het om verskoning gevra.”
[Prent op bladsy 4]
Vir gesinslede is ’n ontvoering een van die senutergendste en emosioneel ontstellendste ervarings denkbaar
[Prent op bladsy 5]
Slagoffers het vertroosting nodig
[Prent op bladsy 7]
Die meeste slagoffers word opgesluit sonder dat daar na hulle fisiese of higiëniese behoeftes omgesien word