Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 3/8 bl. 23-25
  • Die uitdagings van ’n verenigde Duitsland

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die uitdagings van ’n verenigde Duitsland
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Koue Oorlog is verby
  • Vryheid oplaas!
  • “Dit was goeie tye”
  • Wat kan ons leer?
  • Berlyn—’n Spieël van ons wêreld?
    Ontwaak!—1990
  • Jehovah het na ons omgesien terwyl die werk verbied was—Deel 2
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Jehovah se Getuies in Oos-Europa
    Ontwaak!—1991
  • ‘En toe val die muur’
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 3/8 bl. 23-25

Die uitdagings van ’n verenigde Duitsland

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DUITSLAND

“TOE ek en my ouers oor die grens van Oos-Duitsland na Wes-Berlyn gery het, het skares op die brûe bo die Autobahn gestaan en gewaai en gejuig”, vertel Ronny. “Ons het in die Ku’damm-winkelsentrum in Wes-Berlyn rondgeloop, en toe mense besef dat ons van Oos-Duitsland was, het hulle vir ons koeldrank gekoop. Almal was in ’n feestelike luim.” Dit was op 10 November 1989, een dag ná die Berlynse Muur oopgestel is.

Die feestelike stemming het verder as Berlyn gestrek en die hele Oos- en Wes-Duitsland ingesluit, wat toe as afsonderlike lande bestaan het. Die Wende—wat verwys na die keerpunt of die vreedsame revolusie wat tot die ineenstorting van die totalitêre Staat van Oos-Duitsland gelei het—het byna almal verras. Jare later beskou baie nog die Wende as die gelukkigste tydperk in die afgelope 50 jaar. Die euforie het natuurlik plek gemaak vir die werklikheid, wat ons laat vra: Hoe het die lewe sedert die Wende verander? Kan ons enigiets leer uit wat gebeur het?

Koue Oorlog is verby

Die oopstelling van die Berlynse Muur was vir die meeste Duitsers ’n groot verligting. Volgens party bronne het byna duisend mense se bloed op die grens tussen die Ooste en die Weste gevloei. In Oktober 1990 is die twee Duitslande herenig tot een Staat, die Bondsrepubliek Duitsland, met ’n bevolking van ongeveer 80 miljoen. Die Duitse Demokratiese Republiek (DDR)—wat as Oos-Duitsland bekend gestaan het—het net 41 jaar ná sy ontstaan aan sy einde gekom. Die gebied wat voorheen deur die DDR besit is, is nou in ses state verdeel en staan bekend as die nuwe federale state.

Die wêreld was verbaas namate die Wende die verbrokkeling van die Kommunistiese blok, die ontbinding van die Warskou-verdedigingsverdrag en die einde van die Koue Oorlog bespoedig het. Die troepe van die teenoorgestelde supermoondhede—wat mekaar ongeveer 40 jaar oor die grens in Duitsland dopgehou het—het hulle van Duitse grond onttrek. Hierdie gebeure het plaasgevind sonder dat ’n skoot gevuur is.

Ná die hereniging het dramatiese veranderinge vinnig deur Duitsland plaasgevind, wat hoofsaaklik die lewe in die nuwe federale state geraak het. Die verandering was vir baie mense dramatieser as wat hulle verwag het.

Vryheid oplaas!

Mense van die DDR wou baie graag hê dat die Wende tot hulle vryheid moes lei. Dit is geen wonder nie, aangesien die totalitêre Staat sy burgers ingeperk het. In die dae voor die Wende was dit moeilik of onmoontlik om ’n visum te kry om die grens in Duitsland oor te steek. Skielik het dit verander. Een vrou het uitgeroep: “Verbeel jou net, ons kan na Amerika toe gaan!” Vir baie is dit nog steeds ’n rede tot dankbaarheid omdat hulle weer met hulle familielede en vriende aan die ander kant van die grens herenig kan wees.

Vryheid laat nie net Oos-Duitsers toe om na die westekant toe te gaan nie, maar ook Westerlinge om na die oostekant toe te gaan. Toeriste-aantreklikhede kan dus weer in die nuwe federale state besoek word. Toeriste kan byvoorbeeld Wittenberg besoek, waar Martin Luther die Hervorming begin het, wat tot die ontstaan van die Protestantse geloof gelei het. Dan is daar Meissen, ’n stad wat beroemd is vir sy handgemaakte porselein, en Weimar wat vroeër die tuiste was van twee van Duitsland se beroemdste skrywers, Johann Wolfgang von Goethe en Friedrich von Schiller. In 1999 is Weimar die Kulturele Stad van Europa gemaak, die eerste stad in die voormalige Kommunistiese blok wat so vereer word.

Wat van vryheid van spraak? Mense in die nuwe federale state kan openlik praat sonder vrees dat hulle deur die Stasi, of staatsveiligheidsorganisasie, afgeluister sal word. En die man op straat is verheug omdat hy sy televisieprogramme en leesstof vryelik kan kies. Matthias sê: “Toe ek op skool was, is daar beslag gelê op alle publikasies van die Weste wat ons in die hande kon kry.”

Wat van godsdiensvryheid? In die DDR is mense afgeraai om ’n godsdiens te hê, en 2 uit elke 3 burgers het geen kerkverband gehad nie. Die hele herenigde Duitsland geniet godsdiensvryheid nou al meer as tien jaar lank, die langste tydperk sedert Hitler in 1933 op godsdiens begin toeslaan het. Maar godsdiensvryheid beteken nie dat godsdiens gewild is nie. Die hoofstroomkerke kla al ’n geruime tyd oor hulle invloed wat afneem, en die Wende het hierdie tendens versnel. Daarenteen het Jehovah se Getuies, wat deur die totalitêre regime verban en vervolg is, hulle bedrywighede uitgebrei. Gedurende die afgelope tien jaar is 123 Koninkryksale en 2 byeenkomssale deur die Getuies in die nuwe federale state gebou.

Allerhande bouwerk in die nuwe state het groot afmetings aangeneem. Berlyn is weer as die nasionale hoofstad ingestel en ondergaan tans ’n reuseopknapping. Regoor die nuwe federale state word die infrastruktuur verbeter, wat ontsaglike uitgawes aan paaie en spoorweë behels. Baie is al gedoen om die omgewing skoon te maak en om gesondheidsorg en sosiale welsyn aan Westerse standaarde te laat voldoen. Die meeste inwoners van die nuwe federale state sal saamstem dat hulle nou ’n hoër lewenstandaard geniet.

“Dit was goeie tye”

Nietemin verlang party terug na die dae voor die Wende. “Dit was goeie tye”, verduidelik een vrou. Wat kon so goed gewees het om onder ’n diktatorskap te lewe? Party sê dat die lewe voorspelbaar en veilig was. Baie het die hegte bande tussen vriende en bure waardeer, die gevoel dat hulp en ondersteuning altyd beskikbaar was. Volgens die Allensbach-meningsnavorsingsinstituut “gee diktatorskappe hulle burgers ’n gevoel van sedelike meerderwaardigheid en veiligheid”. Toe die diktatorskap van die DDR verdwyn, het die hegte gevoel verdwyn.

’n Ander voorbeeld: In die 1980’s het die pryse van basiese produkte en dienste laag gebly, en almal het ’n werk gehad. “’n Broodrolletjie het eens vyf pfennig gekos, maar nou kos dit ten minste tien keer meer”, kla Brigitte. Ná vrye mededinging in werking gestel is, het duisende staatsondernemings toegemaak, wat tot werkloosheid gelei het. Die voormalige Oos-Duitsland se werkloosheidsyfer is twee keer hoër as die westelike kant s’n.

Sover het die hereniging ’n geraamde R6 biljoen gekos. En daar is nog baie om te doen. Wie betaal vir alles? Die koste word gedeeltelik deur ’n spesiale belasting gedek. Gevolglik het die Wende nie net die Duitsers se harte geraak nie, maar ook die Duitsers se sakke! Was die poging die moeite werd en die geld goed bestee? Die meeste beskou die hereniging as voordelig en die moeite werd, ’n prestasie om op trots te wees.

Wat kan ons leer?

Die Wende het getoon dat die verandering van een soort regering na ’n ander nie alle mense tevrede stel nie. Baie mense—selfs diegene wat voel dat die Wende die moeite werd was—het gevind dat die lewe in ’n mededingende kapitalistiese gemeenskap net so frustrerend kan wees soos die lewe onder ’n totalitêre regime. Vryheid en vooruitgang is natuurlik wenslik. Maar wanneer die prys wat vir hierdie voordele betaal word ’n onvriendelike en onverskillige lewenswyse is, kan geluk van korte duur wees.

’n Onlangse verslag van Dessau, in die voormalige Oos-Duitsland, sê: “’n Dekade het verbygegaan sedert die hereniging; miljarde dollars is al bestee om die gebied van ’n veelbewoë verlede te verlos.” Maar baie lyk nie tevrede met die resultate wat al bereik is nie.

Die Allensbach-instituut sê baie mense hoop dat daar “tussen die keuse van ’n vrye mededingende ekonomie en ’n beheerde ekonomie ’n derde manier kan wees” om die mensdom se aangeleenthede te hanteer. Dit is ’n hoop wat Jehovah se Getuies het.

Hulle glo dat geen politieke of ekonomiese stelsel wat deur mense tot stand gebring word ooit die behoeftes van die hele mensdom sal bevredig nie. Die Getuies glo dat hierdie behoeftes net deur die Skepper se Messiaanse Koninkryk bevredig sal word. Binnekort sal hierdie hemelse regering, volgens die Bybel, ’n liefdevolle en regverdige heerskappy oor die hele aarde tot stand bring. Die Koninkryk sal alle nasies van die aarde verenig, en nie net Duitsland nie, maar die hele mensdom in staat stel om in vrede saam te leef. Wat ’n seën sal hierdie Koninkryk tog wees!—Daniël 2:44.

[Kaart op bladsy 23]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Bonn

Berlyn

Wittenberg

Weimar

[Prent op bladsy 24]

Die vernietiging van die Berlynse Muur en die verwydering van die grens is met algemene verligting begroet

[Erkenning]

Foto: Landesarchiv Berlin

[Prente op bladsy 24]

Checkpoint Charlie, Berlyn se simbool van die Koue Oorlog, voor en ná die tyd

[Erkenning]

Foto: Landesarchiv Berlin

[Prent op bladsy 25]

Berlyn, wat weer as die hoofstad ingestel is, word opgeknap

[Prent op bladsy 25]

Jehovah se Getuies het tot dusver 123 Koninkryksale in die nuwe federale state gebou

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel