Gevangenisse in ’n krisis
“Om meer gevangenisse te bou om misdaad te bestry, is soos om meer begraafplase te bou om ’n dodelike siekte te bestry.”—ROBERT GANGI, ’N DESKUNDIGE OP DIE GEBIED VAN KORREKTIEWE AANHOUDING.
IN ’N WÊRELD waar politieke korrektheid dikwels onaangename werklikhede verbloem, het ons versagtende alternatiewe vir die negatiewe woord “gevangenis”. Ons verkies “rehabilitasiesentrum” of “korrektiewe instelling”, waar “beroepsopleiding” en “maatskaplike dienste” voorsien word. Maar die werklikheid is dat gevangenisse vandag met ernstige probleme te kampe het, soos die stygende koste om oortreders agter die tralies te hou en die immer groeiende kloof tussen die doelwitte van gevangenisstraf en die eintlike resultate.
Party mense bevraagteken die doeltreffendheid van gevangenisse. Hulle wys daarop dat die misdaadsyfer in baie lande nie noemenswaardig afgeneem het nie, al het die aantal gevangenes tot meer as agtmiljoen wêreldwyd toegeneem. En hoewel baie gevangenes weens dwelmmisdade opgesluit is, is die beskikbaarheid van dwelms op straat nog steeds ’n groot bron van kommer.
Nietemin beskou baie mense gevangenisstraf as die beste vorm van straf. Hulle voel dat geregtigheid geskied wanneer die oortreder tronk toe gaan. Een joernalis beskryf die gretigheid om misdadigers agter die tralies te sit as “sluit-hulle-op-koors”.
Daar is vier hoofredes waarom wetsoortreders in gevangenisse gesit word: (1) om die oortreders te straf, (2) om die gemeenskap te beskerm, (3) om toekomstige misdade te voorkom en (4) om misdadigers te rehabiliteer deur hulle te leer om wetsgehoorsaam en produktief te wees nadat hulle vrygelaat word. Kom ons kyk of gevangenisse hierdie doelwitte bereik.