“Ons beskou die wêreld” gaan skool toe
EDELMIRA, ’n 15-jarige meisie in die Verenigde State, maak goed gebruik van die Ontwaak! by die skool. In ’n brief aan die uitgewer het sy geskryf:
“Elke Vrydag moet ons ’n praatjie oor ’n aktuele gebeurtenis hou. Ek het die Ontwaak! van 22 April 2000 gelees en besluit om my praatjie te baseer op die nuusbrokkie in ‘Ons beskou die wêreld’ met die titel ‘Tabakmaatskappye erken rook veroorsaak kanker’. Ek het ’n opsomming daarvan gemaak en dit vir die klas voorgelees. Die onderwyseres en die leerlinge het aandagtig geluister. Toe ek klaar was, het ’n klasmaat my voor die hele klas gevra of dit my lank geneem het om my inligting te kry. Ek het vir haar die Ontwaak! gegee. Sy het dit geesdriftig begin lees, en ’n seun in ons gemeente wat in haar volgende klas is, het gesê dat sy nog steeds besig was om dit te lees toe hy haar gesien het. Nou sê die meisie dat sy elke nommer van die Ontwaak! en sy medetydskrif Die Wagtoring wil ontvang.
“Hierdie ondervinding het my trots daarop gemaak om een van Jehovah se Getuies te wees. Dit het my geleer dat ons soveel geleenthede het om oor Jehovah te praat.” Edelmira sluit haar brief so af: “Ek wil julle bedank vir julle harde werk om hierdie tydskrifte uit te gee. Hou asseblief aan om ‘Ons beskou die wêreld’ te druk!”