Ons beskou die wêreld
’n Rekordgetal rampe in 2000
’n Rekordgetal natuurrampe het in die jaar 2000 regoor die wêreld plaasgevind, sê die herversekeraar Munich Re. Altesaam meer as 850 rampe is aangemeld, waarin meer as 10 000 mense dood is en wat meer as R240 miljard se skade aangerig het. Hoewel daar meer natuurrampe was, was die ekonomiese verlies kleiner en het minder mense gesterf as in die vorige jaar. Dit is omdat die meeste van die rampe in gebiede plaasgevind het wat nie so dig bevolk is nie, sê die maatskappy se persverklaring. Storms was vir 73 persent en oorstromings vir 23 persent van die versekerde verliese verantwoordelik. Die verslag sê dat “daar verwag moet word dat verliese weens natuurrampe in die toekoms sal toeneem” as gevolg van die bevolkingsaanwas en styging in die waarde van eiendom.
Deurskynende koeverte
’n Amerikaanse maatskappy het ’n spuitmiddel ontwikkel wat “ongeopende koeverte deurskynend maak” sonder om enige merke agter te laat, berig die tydskrif New Scientist. Die spuitmiddel werk op koeverte van alle kleure en is ’n “niegeleidende, niegiftige, omgewingsvriendelike vloeistof”, sê Bob Schlagel, ’n maatskappywoordvoerder. Hoewel dit 10 of 15 minute lank geruik kan word, “laat dit geen inkkolle op die koevert of op die brief nie, geen watermerk, geen bewyse hoegenaamd nie”, voeg Schlagel by. Die produk is ontwikkel om wetstoepassingsinstansies te help om briefbomme en ander potensieel gevaarlike pakkies op te spoor. Maar die spuitmiddel kan ook gebruik word om ongeopende briewe te lees, wat een menseregteamptenaar twyfel laat uitspreek het oor die etiese aanvaarbaarheid van die produk.
Bye se navigasievermoë
Die vermoë van bye om hulle pad te vind van die korf na blomme en weer terug huis toe, is welbekend. Maar kolonies trekbye van Assam, noordelike Indië, trek blykbaar honderde kilometers en keer dan nie net na dieselfde boom terug nie, maar ook na dieselfde tak waar hulle voorouers ongeveer twee jaar tevore hulle nes gehad het! Wat dit so merkwaardig maak, is dat werkerbye net drie maande of minder lewe. Die bye wat terugkeer, is dus die agter-agterkleinkinders van die bye wat die oorspronklike korf gebou het. Hoe hulle hulle pad terug vind, is ’n raaisel. Die koerant The Sydney Morning Herald berig dat dit dalk iets met hulle reuksin te doen het. Nog ’n moontlikheid is dat die koningin, wat baie langer lewe, op die een of ander manier inligting aan die verkennerbye oordra deur ’n dans waarin sy vir hulle wys in watter rigting om te vlieg.
Taal en die brein
Twee dele van die brein wat deur horende mense gebruik word wanneer hulle taal verstaan en praat, is ook by dowe mense bedrywig wanneer hulle gebaretaal gebruik, berig Science News. Breinskanderings toon dat “hierdie bondels senuweefsel dadelik in dowe mense in werking tree wanneer hulle gebaretaal gebruik”, sê die verslag. Volgens Laura-Ann Petitto van McGill-universiteit in Montreal, wat die studie gelei het, toon dit dat hierdie dele van die brein “basiese aspekte van taal [beheer] wat deur spraak of gebare uitgedruk kan word”. Dit beklemtoon die behoefte aan verdere navorsing oor die mensebrein se aanpasbaarheid om verskillende tale te hanteer. Science News sê: “Groot dele van die brein wat met gesproke en gebaretaal te doen het, oorvleuel.”
Prostitusie vergoelik
’n Duitse hof het beslis dat prostitusie “nie wesenlik onsedelik” is nie, mits daar geen dwang uitgeoefen word nie, berig die Frankfurter Allgemeine Zeitung. Berlyn se administratiewe hof het beslis dat ’n restaurant in Berlyn-Wilmersdorf kan voortgaan om sake te doen, al gebruik prostitute dit om met hulle kliënte in aanraking te kom, waarna hulle kamers daar naby huur. Die regters het gesê dat hulle beslissing ’n weerspieëling is van hoe die gemeenskap se gesindheid teenoor prostitusie verander het. ’n Meningsopname onder 1 002 mense het getoon dat 62 persent meen dat prostitusie as ’n gewone beroep erken moet word. Volgens die regters het ’n tweede opname getoon dat die meeste respondente meen dat “die inskakeling van seksuele dienste by die ekonomiese stelsel” van Duitsland lank gelede plaasgevind het.
Slaap en geheue
Slaapnavorsers het gevind dat ’n goeie nagrus, en nie om tot laat in die nag te studeer nie, “’n voorvereiste is om [inligting] in latere weke doeltreffend te herroep”, sê The Independent van Londen. Professor Robert Stickgold van die Mediese Fakulteit van die Harvard-universiteit het 24 vrywilligers gebruik—die helfte van hulle is toegelaat om ná ’n leersessie ’n nag se slaap in te kry, terwyl die res die hele nag lank wakker gehou is. Daarna het albei groepe die volgende twee nagte normaal geslaap om dié wat nie die eerste aand slaap gekry het nie, te help om oor hulle moegheid te kom. ’n Geheuetoets het getoon dat diegene wat die eerste nag geslaap het, inligting “aansienlik en konsekwent beter onthou het, terwyl die tweede groep geen verbetering getoon het nie, al het hulle hulle slaap probeer inhaal”. Omdat slaap blykbaar help om dinge in ons geheue te graveer, toon hierdie bevindinge dat dit min waarde het om slaap met studie te vervang—veral die vroeë diepe, of “stadige-golf”-, slaap.
Mutasiegevare by Tjernobil
“Plante wat naby die kernaanleg by Tjernobil in die Oekraïne groei, het ses keer meer genetiese skade as normale flora”, berig The Independent van Londen. Navorsers van Switserland, Brittanje en die Oekraïne het twee identiese soorte koring geplant—die een in besoedelde grond en die ander 30 kilometer daarvandaan in soortgelyke maar onbesoedelde grond. Toe het hulle die sade van hierdie oeste gebruik om nog koring op dieselfde twee plekke te plant. Hoewel die koring naby die reaktorterrein aan betreklik min bestraling blootgestel is, was daar ’n sorgwekkend hoë voorkoms van genetiese skade, of mutasie. Besorgde wetenskaplikes waarsku dat langdurige blootstelling aan sulke bestraling gevolge kan hê wat nog onbekend is. Hierdie bevindinge wek groot besorgdheid oor toekomstige geslagte plante, diere en mense wat aan Tjernobil-bestraling blootgestel word.
Mans en vroue luister verskillend
Navorsers het uitgevind dat vroue albei kante van hulle brein gebruik om te luister, terwyl mans net een kant van hulle brein gebruik, berig Discovery.com News. In ’n studie het 20 mans en 20 vroue ’n breinskandering ondergaan terwyl hulle na ’n bandopname van ’n boek geluister het. Die breinskanderings het getoon dat die mans meestal met die linkerkant van hulle brein geluister het, wat met gehoor en spraak verbind word. Die vroue het daarenteen bedrywigheid aan albei kante van die brein getoon. Dr. Joseph T. Lurito, ’n assistent-radiologieprofessor aan die Universiteit van Indiana se Mediese Fakulteit, sê: “Ons navorsing dui daarop dat mans en vroue taal verskillend verwerk, maar dit beteken nie noodwendig dat die een groep beter luisteraars as die ander gaan wees nie.” Ander studies toon blykbaar dat vroue “gelyktydig na twee gesprekke kan luister”, sê dr. Lurito.
Skep jou eie godsdiens
Godsdiens kwyn al hoe meer in Frankryk. Dit is een van die gevolgtrekkings van ’n opname wat deur die Katolieke nuustydskrif La Vie geborg is. Toe mense gevra is om uit ’n lys van 14 prioriteite te kies, het net 7 persent van hulle “geestelike strewes” gekies as iets wat vir hulle belangrik is. Bo geestelike strewes is vrye tyd, beroepswelslae, persoonlike vryheid, kulturele lewe, sekslewe en materiële welvaart gekies. Volgens sosioloë Pierre Bréchon en Gérard Mermet toon die meningsopname dat godsdiens aan individualisering onderworpe is. In watter sin? Mense “lap” verskillende oortuigings saam en kies daaruit “wat by hulle eie lewenswyse en denkwyse pas”, sê Bréchon.
Wettige selfmoord
Verlede April het Nederland die eerste land geword wat ondersteunde selfmoord formeel wettig verklaar het, berig Rotterdam se NRC Handelsblad. Die Nederlandse Senaat het die sogenaamde genadedoodwetsontwerp met ’n meerderheidstem van 46 teen 28 goedgekeur. Die wetgewing laat geneeshere toe om pasiënte wat terminaal siek is of onophoudelike en ondraaglike “lyding” ondervind, te help om hulle lewe te beëindig. Nederlandse wetgewers vereis dat genadedoodpasiënte aan die volgende streng riglyne voldoen: Die pasiënt se versoek moet uit vrye wil wees. Die pasiënt en die dokter moet saamstem dat daar geen redelike alternatiewe oplossing is wat vir die pasiënt aanvaarbaar is nie. Ten minste een onafhanklike dokter moet die pasiënt ondersoek. En die genadedood moet op ’n medies aanvaarbare manier uitgevoer word.