Ons beskou die wêreld
Televisiekykgewoontes op mediese verslae ingesluit?
’n Kind se mediese verslae behoort sy televisiekykgewoontes in te sluit, stel ’n groep pediaters in Spanje voor. Volgens die Spaanse koerant Diario Médico meen die dokters dat hulle behoort te weet hoeveel uur per dag ’n kinderpasiënt TV kyk, sowel as die soort programme waarna hy kyk en saam met wie hy daarna kyk. Waarom? Want ’n opname wat die pediaters gedoen het, het getoon dat TV-kykery tot ’n onaktiewe lewenswyse en aggressiwiteit lei, dat dit kooplus verhoog, kinders swakker laat vaar op skool en dat dit ’n mens ’n TV-verslaafde kan laat word. “Die pediaters sê dat ouers nie ’n televisie in die kinders se slaapkamer moet sit of op ’n plek waar [die kinders] beheer oor die programme het nie”, sê die verslag. “Daarbenewens moet daar nie gedurende maaltye televisie gekyk word nie, en ouers moet die hoeveelheid tyd wat die kinders televisie kyk, tot minder as twee uur per dag beperk, hoewel minder as een uur per dag verkieslik sal wees.”
China se bevolkingsaanwas
“China se bevolking het tot 1,26 miljard mense toegeneem, en die bevolking word ouer, is beter geskool en meer verstedelik”, sê abcNEWS.com. Volgens Zhoe Zhixin, direkteur van die Nasionale Buro van Statistiek, het die bevolking sedert 1990 met 132,2 miljoen toegeneem. Die laer groeikoers van 1,07 persent per jaar is toe te skryf aan China se geboortebeperkingsbeleid van een kind per gesin wat in die laat 1970’s ingestel is. Maar amptenare is bekommerd omdat die opname van 1999 getoon het dat daar vir elke 100 dogtertjies 117 seuntjies gebore word, moontlik as gevolg van die selektiewe aborsie van meisies. “Sosioloë vrees dat die onreëlmatige geboortesyfer tot ’n tekort aan bruide, ’n groter probleem met prostitusie en die ontvoering asook verkoop van hubare vroue sal lei”, sê die verslag.
“Ondergrondse skat”
Navorsers het onder leiding van die Brasiliaanse hidrogeoloog Heraldo Campos ’n sewe jaar lange projek voltooi om Suid-Amerika se grootste grondwaterreservoirs te karteer. Die Guarani- waterhoudende grondlaag, wat onder dele van Brasilië, Uruguay, Paraguay en Argentinië geleë is, beslaan ’n totale oppervlakte van nagenoeg 1,2 miljoen vierkante kilometer en bevat volgens skatting 40 000 kubieke kilometer water. Volgens ’n verslag deur die Wêreldomgewingsfasiliteit “sal die volume van die waterreserwes van vandag genoeg wees om 3 500 jaar lank in die behoeftes van die hele bevolking van Brasilië te voorsien”. In die toekoms kan hierdie “ondergrondse skat” ook gebruik word om woestynvorming te bekamp, en dit kan, weens die watertemperatuur, as ’n alternatiewe energiebron gebruik word. Deur die waterhoudende grondlaag te karteer, hoop navorsers om die gebiede waar die water aangevul word, teen besoedeling deur plaagdoders en kunsmis te beskerm.
’n Toename in velkanker
Daar was ’n drastiese toename in melanoom, die gevaarlikste velgewas, volgens die Spaanse nuusdiens El Pais Digital. Teen die middel van die 20ste eeu is 1 uit elke 1 500 mense deur melanoom aangetas. Maar hierdie syfer het teen die jaar 2000 tot 1 uit elke 75 mense toegeneem, hoofsaaklik weens sonbrand. By ’n kongres van die Europese Vereniging vir Mediese Onkologie het professor J. Kirkwood gesê dat 40 persent van melanoomgewasse toegeskryf kan word aan genetiese faktore, terwyl die oorblywende 60 persent voorkom weens te veel blootstelling aan die son. Vroue tussen die ouderdomme van 23 en 50 word die meeste hierdeur geraak. Kirkwood het verduidelik dat mutasies in velpigmentselle gedurende die kinderjare en adolessensie deur sonstraling veroorsaak kan word, hoewel kanker moontlik eers jare later verskyn. “Die vel onthou aan hoeveel sonstraling dit blootgestel is”, het Kirkwood gesê.
Suiker omgesit in plastiek
Wetenskaplikes aan die Brasiliaanse Instituut vir Tegnologiese Navorsing het ’n nuwe soort bakterie ontdek wat suiker in plastiek kan omsit. Soorte wat vroeër ontdek is, verteer en sit suiker om slegs nadat dit in kleiner molekules afgebreek is, maar “die groot potensiaal van hierdie [pas ontdekte bakterie] lê in sy vermoë om suiker direk te verwerk”, sê ingenieur Carlos Rossell. Wanneer die bakterieë ’n oormaat voedsel ingeneem het, gebruik hulle die ekstra suiker om piepklein korreltjies bioafbreekbare plastiek te vervaardig, wat die wetenskaplikes met behulp van ’n oplosmiddel daarvan afskei. Volgens die navorsers “kan een kilogram plastiek uit drie kilogram suiker verkry word”, sê die koerant O Estado de S. Paulo.
’n Vetryke dieet maak ’n mens dom
“’n Vetryke dieet kan jou brein sowel as jou kroonslagare verstop”, sê die tydskrif New Scientist. Om te verstaan watter uitwerking ’n vetryke dieet op die brein het, het navorsers in Kanada “rotte van ’n maand oud kos gegee wat ryk aan dier- of plantvet is, totdat hulle vier maande oud was”. ’n Kontrolegroep is ’n vetarm dieet gegee. Albei groepe se leervermoë is toe getoets. Die resultaat? Die rotte op die twee vetryke diëte “het baie slegter gevaar as die maer rotte”. Navorser Gordon Winocur het gesê: “’n Vetryke dieet verswak werkverrigting in byna elke opsig. Dit is verbasend hoe erg hierdie diere benadeel is.” Volgens die verslag meen die navorsers dat “vet die brein verhinder [om] glukose op te neem, moontlik deur die werking van insulien te belemmer, wat help om bloedsuikervlakke te reguleer”.
Foltering te koop
“Die handel in folterwerktuie neem toe”, sê ’n artikel in die Duitse koerant Südwest Presse. Volgens die menseregte-organisasie Amnestie Internasionaal het 150 maatskappye regoor die wêreld na bewering by hierdie grusame bedryf aangesluit, insluitende 30 in Duitsland en 97 in die Verenigde State. Hulle ware sluit nie net voetboeie en getande duimboeie in nie, maar ook hoëspanningselektroskoktoestelle. Een maatskappy in die Verenigde State het glo afstandbeheerde gordels aangebied wat elektriese skokke van tot 50 000 volt deur die slagoffer se liggaam stuur. Folteraars verkies sulke hipertegnologiese instrumente, aangesien dit byna geen merke op hulle slagoffers laat nie.
Spinnekoppe in die sneeu
Die Duitse navorser Peter Jaeger van die Universiteit van Mainz het in sy studie van krapspinnekoppe “50 nuwe soorte geïdentifiseer wat in die sneeu en ys van die Himalajas op hoogtes van tot 3 800 meter floreer”, sê die koerant The Asian Age. “Hoewel hulle tot vier cm groot kan wees, hou die reusekrapspinnekoppe hoegenaamd geen gevaar in vir mense nie.” Hulle kruip weg in rotsskeure of onder boombas en leef van insekte, wat hulle maklik kan opspoor weens hulle sensitiewe gehoorsin. Maar waarom verkluim hierdie spinnekoppe dan nie in die winter nie? In teenstelling met ander soorte wat in warmer klimate voorkom, is die soort in die Himalajas met ’n “biologiese vriesweermiddel” toegerus, sê Jaeger. “Hulle berg hoogs gekonsentreerde alkohole in hulle liggaamsvloeistowwe, en dit stel hulle in staat om temperature onder vriespunt te oorleef.”
Siektes word uitgesnuffel
’n Snuiftoets kan met die vroeë diagnose van siektes soos Parkinson of Alzheimer se siekte help, berig die Duitse wetenskaptydskrif natur & kosmos. Verswakking van die reuksin kom vroeg in die verloop van Parkinson se siekte voor en is een van die algemeenste simptome. Danksy die werk van professor Gerd Kobal is ’n praktiese manier nou ontwikkel om te toets in watter mate ’n pasiënt se reuksin verswak het. Hoewel die meer opvallende simptome van Parkinson se siekte, soos bewing en spierstyfheid, op ’n latere stadium voorkom, kan die wanfunksie van die reuksin, danksy die pas ontwikkelde snuiftoets, maande of selfs jare vroeër ontdek word. Dit maak behandeling moontlik wat dalk die verloop van hierdie tans ongeneeslike siekte kan vertraag.
Vermorsing van kos
“’n Ongelooflike hoeveelheid kos word by huweliksonthale en ander buitensporige partytjies vermors”, sê die Mainichi Daily News van Japan. ’n Regeringsopname oor die vermorsing van kos het getoon dat huisgesinne gemiddeld 7,7 persent en voedselhandelaars 1,1 persent van hulle kos vermors het en dat restaurante 5,1 persent onvoorbereide kos weggegooi het. Maar ná “oordadige partytjies met buffetetes is 15,7 persent van die kos weggegooi”, en byna 24 persent van die kos wat vir huweliksonthale voorberei is, “het oorgebly of is weggegooi”, sê die koerant. Net voedselvervaardigers meld “byna geen vermorsing van kos nie”.