Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 2/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Lewenslange tronkstraf—in die byekorf
  • Diere monitor besoedeling
  • Kindersoldate
  • Nuwe rekord vir Bybelvertaling
  • ’n Nuwe chemiese swaargewig
  • Gevare van bloedoortappings
  • Swaar straf vir Internetpornografie
  • Dagga en die hart
  • Vreemde blomname
  • Byeboerdery—’n “lekker” storie
    Ontwaak!—1997
  • Ontmoet Australië se angellose bye
    Ontwaak!—2000
  • Die by versus die rekenaar
    Ontwaak!—1995
  • Oortappingsgeneeskunde—Het dit ’n toekoms?
    Ontwaak!—2006
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 2/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Lewenslange tronkstraf—in die byekorf

“Afrika-heuningbye het ’n ongewone maar uiters doeltreffende taktiek ontwikkel om met ongewenste gaste af te reken”, sê die tydskrif New Scientist. “Hulle sluit hulle op in tronkselle binne-in hulle byekorwe. Hierdie strafmaatreël hou die parasiete onder beheer en gee die kolonie, indien nodig, tyd om te ontsnap.” Navorsers “het ’n studie gedoen van hoe bye in Suid-Afrika hulle beskerm teen die klein korfkewer Aethina tumida, wat ongeveer die helfte so groot as ’n by is”. Peter Neumann, een van die navorsers, het gesê dat die kewer “soos ’n tenk gebou is”. Gevolglik kan die bye hulle slegs beskerm deur die kewer op te sluit. “Terwyl party bye die tronk bou, pas ander die kewers die hele tyd op sodat hulle nie ontsnap nie”, verduidelik Neumann. Die boumateriaal is boomgom wat die bye versamel, en die bouwerk neem tot vier dae. Bye wat van Europa afkomstig is, wat Noord-Amerikaanse bye insluit, maak nie van hierdie strategie gebruik nie. Wanneer die kewer, wat ongeveer vyf jaar gelede per ongeluk in die Verenigde State ingebring is, dus een van hulle korwe binnedring, beteken dit “basies die einde” van die korf.

Diere monitor besoedeling

Erdwurms is uiters geskikte organismes om lug- en grondbesoedeling mee te meet, beweer die dierkundige Steve Hopkin. Hierdie nederige diertjies, wat volop en goedkoop is, doen beter werk as gesofistikeerde mensgemaakte toestelle. Die seemossel word gebruik om watergehalte te meet. Die mosselmonitor—’n toestel wat so groot soos ’n emmer is en agt lewende mossels bevat—is alreeds met welslae gebruik om besoedeling in die Ryn- en Donau-rivier te meet. “As daar ’n skielike toename in die konsentrasie van ’n besoedelstof is, kom die mossels dit agter”, het die ontwerper van die toestel, Kees Kramer, gesê. Die mossels reageer op duisende verskillende chemiese besoedelstowwe deur toe te gaan, wat ’n alarm in die mosselmonitor laat afgaan. Die vernaamste voordeel van hierdie monitors is dat hulle die uitwerking van besoedeling op lewende organismes meet, berig Spanje se El País.

Kindersoldate

“Meer as 300 000 kinders—waarvan party slegs 7 jaar oud is—veg as soldate in 41 lande regoor die wêreld”, het ’n berig van die Associated Press gesê. Die meeste is tussen die ouderdomme van 15 en 18. “Behalwe dat hulle as frontvegters gebruik word, word kinders gebruik om landmyne op te spoor, asook om spioene, lasdraers en seksslawe te wees, volgens die Koalisie om die Gebruik van Kindersoldate te Beëindig.” Die kinders word dikwels dwelms gegee om hulle vreesloos te maak. Dié wat weier om dwelms te neem, word doodgemaak, het ’n 14-jarige rebellesoldaat in Sierra Leone gesê. ’n Jeugdige van Noord-Afrika het aangaande die gevegte waaraan hy as ’n 15-jarige in 1999 deelgeneem het, gesê: “Hulle het al die 15- en 16-jariges in die frontlyn geplaas terwyl die leër teruggeval het. Ek was saam met 40 ander kinders. Ek het 24 uur lank geveg. Toe ek sien dat net drie van my vriende nog lewe, het ek teruggehardloop.” Die Koalisie se verslag het gesê dat regerings kinders werf—juis omdat “hulle kinders is—hulle is goedkoop, hulle is vervangbaar en kan makliker gekondisioneer word om vreesloos dood te maak en om blindweg gehoorsaam te wees”.

Nuwe rekord vir Bybelvertaling

“Die Bybel is nou, in sy geheel of gedeeltelik, in altesaam 2 261 tale beskikbaar, wat 28 tale meer is as 12 maande gelede”, berig Brittanje se Bybelgenootskap. “[Die Bybel] is nou in sy geheel in 383 tale beskikbaar, 13 meer as ’n jaar gelede.” Volledige uitgawes van die Hebreeuse of die Griekse Geskrifte, wat ook die Ou en Nuwe Testament genoem word, is nou in 987 tale beskikbaar.

’n Nuwe chemiese swaargewig

Skeikundiges het “’n nuwe boublok om van te kies: hassium, ’n swaarmetaal”, berig die Duitse koerant Süddeutsche Zeitung. Wetenskaplikes by die Gesellschaft für Schwerionenforschung (Sentrum vir navorsing oor swaarione) in Darmstadt, Duitsland, het vir die eerste keer daarin geslaag om hassiumatome met suurstof te laat saamsmelt om ’n nuwe chemiese verbinding te vorm. Hassium, wat na die Duitse staat Hesse vernoem is, kom nie in die natuur voor nie. Dit is in 1984 vir die eerste keer deur kernfisici geskep. Beide hassium en sy nuwe verbinding is radioaktief, onstabiel en kortlewend, en daarom het dit geen onmiddellike praktiese waarde nie.

Gevare van bloedoortappings

“Een uit drie oortappings is toegedien, terwyl dit, volgens [Nieu-Suid-Wallis] se Gesondheidsriglyne, nooit toegedien moes geword het nie”, berig Australië se Sydney Morning Herald. “Die riglyne vereis dat ’n bloedoortapping toegedien word as die pasiënt se hemoglobienvlak sewe of laer is.” Dr. Ross Wilson, wat die studie oor die gebruik van bloed gedoen het, het verduidelik dat “’n onnodige oortapping ’n pasiënt se dood kan veroorsaak omdat dit hartversaking tot gevolg kan hê”. Volgens ’n studie wat dr. Wilson ses jaar vroeër gedoen het, “sterf ongeveer 18 000 [Australiërs] per jaar weens komplikasies wat regstreeks veroorsaak word deur die mediese behandeling wat hulle ontvang het”. Dr. Wilson stel voor dat dokters elke keer as hulle ’n oortapping versoek, herinner word aan die gesondheidsriglyne vir bloedoortappings en ook dat pasiënte ingelig moet word oor die riglyne sodat hulle hulle geneesheer self daaroor kan uitvra.

Swaar straf vir Internetpornografie

“Duitsland se hoogste strafhof het afgekondig . . . dat daar geen verskil is tussen die verspreiding van kinderpornografie oor die Internet en die verspreiding van sulke materiaal in gedrukte vorm nie en dat [’n oortreder] tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis kan word”, berig die Associated Press. Die artikel het verduidelik dat “die beslissing deur die Federale Geregshof ’n presedent geskep het vir Duitsland, wat voorheen nie ’n vasgestelde regsbeleid gehad het om mense te straf wat pornografiese prente van kinders oor die Internet versprei nie”. Die hoër hof het ’n beslissing deur die staatshof tersyde gestel dat die verspreiding van kinderpornografie oor die Internet nie so ’n ernstige seksmisdaad is soos wanneer sulke materiaal in gedrukte vorm versprei word nie.

Dagga en die hart

“Middeljarige daggarokers se kanse is vyf keer groter om ’n hartaanval te kry in die uur nadat hulle die dwelm gerook het”, sê Kanada se Globe and Mail in ’n berig oor ’n nuwe studie. “Daggarokery laat die hartklop toeneem—en verdubbel dit dikwels—terwyl dit die bloeddruk verander . . . Dit kan ook tot ’n hartaanval aanleiding gee deurdat dit ’n klont kan laat vorm wat die vloei van bloed na die hartspier verhinder.” Dr. Harold Kalant van die Universiteit van Toronto het gesê: “Vir ouer mense sal die groter werklas op die hart ’n risikofaktor by ’n hartaanval wees.” Kokaïen is selfs gevaarliker, sê die verslag, omdat dit die risiko van ’n hartaanval ongeveer 25 keer vergroot gedurende die eerste uur nadat dit gebruik is.

Vreemde blomname

Weens die groot verskeidenheid plante wat gekweek word, het dit ’n groot uitdaging geword om nuwe variëteite name te gee. “Daar is alreeds sowat 100 000 daglelies met name”, sê The Wall Street Journal, “ten minste dieselfde getal rose en meer as 14 000 dahlias. Al die voor die hand liggende digterlike selfstandige en byvoeglike naamwoorde, soos mooi, . . . glorie, koningin, . . . fluweel, geurig . . . en tower, is al gebruik—en geregistreer—in feitlik elke moontlike kombinasie. Vandag veroorsaak kommersiële naamgewing dat diegene wat plante benoem, nuwe hoogtes bereik—of selfs tot nuwe laagtepunte daal.” Die Journal sê “dat ’n mens deesdae” byvoorbeeld “’n Taco Supreme-iris, ’n Macho Man-roos, ’n Abba Dabba Do-hosta, ’n Primal Scream-daglelie of ’n Koeng Foe-dahlia by kwekerye kan koop”. Jy kan selfs ’n blom na jou laat vernoem—as jy bereid is om te betaal. ’n Maatskappy in Kalifornië laat jou, teen R90 000, ’n roos ’n naam gee, mits die naam van goeie smaak getuig. ’n Ander maatskappy vra R675 000, maar dit sluit ’n paar ekstras in, waaronder ’n naweek in Los Angeles.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel