Die Masai—’n unieke en kleurvolle volk
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KENIA
DIE hoë klanke van ’n jong Masai-seun se lied weergalm deur die vallei en word ver deur die swaar, vogbelaaide oggendlug gedra. Namate die oggendson al hoe hoër gestyg het, het die seun se melodieuse stem ook al hoe intenser geraak, baie soos ’n sangvoël wat alles uithaal terwyl hy in die eerste oggendlig sing.
Ek het geluister totdat ek die jong Masai-herder in die lig van die opkomende son kon sien waar hy tussen sy pa se beeste staan. ’n Lang rooi lap het sy liggaam gedeeltelik bedek, en hy het soos ’n ooievaar op een been gestaan en op die steel van sy spies geleun terwyl hy vir sy voldane trop gesing het. Kom ek vertel jou meer van die unieke Masai-volk.
Welkom in Masai-gebied
Die Masai, ’n kleurvolle herdersvolk, woon op die uitgestrekte vlaktes van Oos-Afrika se Groot Skeurvallei. Hulle kan in Kenia en Tanzanië gevind word en is mense van ’n vorige era wat baie soos hulle voorvaders van eeue gelede lewe. Hulle is onbesorg oor die verloop van tyd, en hulle lewe word deur die opkoms en ondergang van die son en die immer veranderende seisoene beheer.
Een van die vaardighede van die Masai is hulle vermoë om in die onherbergsame omgewing en ruwe landskap van die Skeurvallei te oorleef. Met lang, gemaklike treë lê hulle groot afstande af op soek na groen weivelde en waterbronne vir hulle beeste. Hulle pas hulle beeste op tussen die troppe wildebeeste, sebras, kameelperde en ander diere van die vlaktes waarmee hulle hulle geboorteland deel.
’n Volk met beeste
Die Masai glo dat al die beeste op die aarde aan hulle behoort. Hierdie opvatting kom van die legende dat God in die begin drie seuns gehad het en dat hy aan elk een geskenk gegee het. Die eerste seun het ’n pyl gekry om mee te jag, die tweede ’n skoffel om die grond mee te bewerk en die derde seun ’n stok om beeste mee op te pas. Hierdie laaste seun, sê hulle, het die vader van die Masai-volk geword. Hoewel ander stamme beeste besit, glo die Masai dat hierdie diere eintlik ook aan hulle behoort.
In die Masai-gemeenskap word ’n man se status en belangrikheid bepaal deur hoe groot sy trop is en deur hoeveel kinders hy het. Trouens, ’n man met minder as 50 beeste word as arm beskou. Met die hulp van al sy kinders en vroue hoop ’n Masai-man om uiteindelik ’n groot trop te hê wat tot duisend diere kan insluit.
Masai-gesinslede raak baie geheg aan hulle beeste. Elke dier het ’n kenmerkende bulk en temperament wat die gesin goed ken. Beeste word dikwels met lang geboë lyne en ingewikkelde patrone gebrandmerk en gemerk om die dier mooier te laat lyk. Liedjies word gesing wat die fisiese prag van sekere lede van die trop beskryf en wat geneentheid vir hulle uitspreek. Bulle met groot geboë horings is veral gesog, en ’n jong kalfie word teer versorg en gepamperlang asof dit ’n pasgebore baba is.
Masai-huise word tradisioneel deur die vroue gebou en word van takke gemaak wat met gras aanmekaar geweef en dan met beesmis gepleister en dig gemaak word. Die huise is gerond en langwerpig en word in ’n groot sirkel gebou wat as beskerming vir ’n binne-kraal dien waar die beeste die nag deurbring. Die hele sirkel huise word reg rondom met skerp doringtakke omhein wat die Masai sowel as hulle beeste teen hiënas, luiperds en leeus beskerm.
Die oorlewing van die Masai hang van die gesondheid en grootte van hulle troppe af. Die dier se melk word gedrink, en die beesmis word gebruik om hulle huise te pleister en dig te maak. Die Masai slag selde hulle beeste vir kos; ’n paar skape en bokke word gewoonlik vir eetdoeleindes aangehou. Maar wanneer een van die beeste doodgemaak word, word elke deel van die dier gebruik. Horings word as houers gebruik; hoewe en bene word gebruik om ornamente te maak; en die velle word gebrei vir skoene, klere, beddegoed en toue.
Kleurvol en uniek
Die Masai is ’n aantreklike volk. Hulle is lank en skraal, maar mooi gebou. Hulle kleredrag is baie kleurvol. Lap wat met helder skakerings van rooi en blou gekleur is, word los om hulle lenige liggame gedraai. Vroue versier hulleself gewoonlik met breë, plat, ronde krae wat van krale gemaak is, asook met kopbande van verskeie kleure. Hulle draai soms dik koperdrade styf om hulle arms en enkels. Mans sowel as vroue rek dikwels hulle oorlelle deur swaar oorringe en ornamente wat met krale versier is, te dra. Oker, ’n rooi mineraal wat tot ’n fyn poeier gemaal word, word dikwels met beesvet gemeng en op kunstige wyse aan die liggaam gesmeer.
Een aand, in die lig van die vuur, kyk ek terwyl ’n groep Masai bymekaarkom om te dans. Hulle staan in ’n sirkel en beweeg ritmies saam. Namate hulle al hoe vinniger dans, spring die swaar krae van die meisies ritmies op en af op hulle skouers. Dan tree die Masai-krygsmanne een vir een in die middel van die sirkel, waar hulle ’n reeks skouspelagtige vertikale spronge uitvoer en hoog in die lug spring. Hierdie dansery kan tot laat in die nag voortduur totdat almal uitgeput is.
Masai-gesinslewe
Regdeur die warm dag sit ek by ’n groep Masai-vroue in die skaduwee van ’n akasiaboom en kyk hoe hulle ingewikkelde kralewerk op gebreide leer vaswerk. Hulle lag en gesels onder mekaar en steur hulle nie veel aan die wewervoëls wat bo hulle koppe kwetter terwyl hulle hulle neste met droë grashalms weef nie. Gedurende die dag bly die vroue bedrywig deur water en vuurmaakhout te gaan haal, herstelwerk aan hulle huise te doen en hulle kindertjies te versorg.
Wanneer die ondergaande son agter die horison begin verdwyn, begin die herders met hulle beeste terugkeer. Terwyl die trop stadig huiswaarts stap, skop hulle hoewe ’n rooi stofwolk op wat verlig word deur die horisontale strale van die son se kwynende oranje-geel lig. Wanneer die vroue die stofwolk in die verte sien, los hulle onmiddellik hulle werk om vir die naderende trop voor te berei.
Sodra die beeste in die veiligheid van die kraal is, loop die mans tussen hulle diere deur terwyl hulle die horings van die bulle streel en hulle prag bewonder. ’n Klein seuntjie spuit ’n straal warm melk uit ’n koei se uier direk in sy mond, en onmiddellik raas sy ma met hom. Jong meisies, wat tussen al die horings en hoewe deur beweeg, melk die koeie behendig en maak hulle lang kalbashouers tot oorlopens toe vol.
In die aand drom ons almal saam om die vuur wat die koue in die lug verdryf. Die reuk van rook en gebraaide vleis hang in die lug, sowel as die sterk reuk van die beestrop hier naby. ’n Bejaarde man sit en vertel verhale van Masai-geskiedenis en van die dapper dade van Masai-krygsmanne van die verlede. Hy bly net stil wanneer ’n leeu in die verte brul, en dan gaan hy rustig voort om sy lang verhaal tot die vreugde van sy gehoor verder te weef. Uiteindelik verdwyn almal een vir een in die donkerte van hulle koepelvormige kleihuise om te gaan slaap. Met die uitsondering van die vlak asemhaling van die slapende beeste, is die nag stil, verswelg deur die donkerte en afgesonderdheid van die oop veld.
Masai-kinders
Teen sonop is die dorpie weer die ene bedrywigheid. Klein kindertjies, wat net lyfbande en halssnoere dra wat met krale versier is, speel in die koel oggendlug. Hulle gelag is ’n gerusstellende klank vir die Masai, wat baie lief is vir hulle kinders en op hulle nakomelinge staatmaak vir hulle toekomsverwagtinge en hulle oorlewing.
Die hele gemeenskap help om die kinders groot te maak—enige ouer persoon in die gemeenskap kan ’n ongehoorsame kind dissiplineer en straf. Kinders word geleer om ouer mense te respekteer, en hulle leer gou hoe om by die Masai-gesinslewe in te skakel. Hulle vroeë jare is sorgeloos, maar namate hulle ouer word, word jong meisies geleer hoe om huishoudelike takies te verrig, en seuns word geleer hoe om die vee te versorg en te beskerm. Ouers dra aan hulle kinders hulle kennis oor van tradisionele medisyne en leer hulle van Masai-rituele en -tradisies wat elke aspek van ’n Masai se lewe raak.
Oorgang na volwassenheid
Namate jongmense ouer word, leer hulle die gebruike en seremonies wat ’n deel is van die oorgang van hulle kinderjare na volwassenheid. Van die rituele wat geleer word, is dié in verband met siekte, ongeluk, die huwelik en die dood. Die Masai glo dat hulle vervloek sal word as hulle nie hierdie seremonies hou nie.
Masai-ouers sal moontlik ’n dogter se huwelik reël terwyl sy nog ’n babatjie is. Die meisie word aan ’n man belowe wat genoeg beeste besit om die bruidsprys te betaal wat deur haar pa gevra word. Dikwels sal sy met ’n man trou wat baie ouer as sy is en haar plek inneem tussen die ander vrouens in sy huis.
Namate jong seuns in die Masai-gemeenskap ouer word, bring hulle baie tyd met ander jong seuns van hulle ouderdom deur. Die spesiale verhouding wat hulle met hulle portuurs het, kan ’n leeftyd duur. Hulle sal saam vorder, van onervare seuns na krygsmanne. As krygsmanne sal hulle die verantwoordelikheid aanvaar om die huis te beskerm, waterbronne vir die gemeenskap in stand te hou en die vee teen wilde diere en diefstal te beskerm. Die Masai, wat bekend is vir hulle dapperheid en moed, word gewoonlik nooit sonder hulle skerp geslypte spiese gesien nie.
Wanneer die krygsmanne ongeveer 30 jaar oud is, neem hulle die laaste stap in hulle oorgang tot volwassenheid. Hulle word met groot opgewondenheid en seremonie as oudstes ingewy; hulle sal nou toegelaat word om te trou. Met hierdie gerespekteerde status sal hulle hulle nou daarop toespits om te trou en hulle beestrop te vergroot, en daar sal van hulle verwag word om raad te gee en as bemiddelaar in geskille op te tree.
Die Masai en hulle toekoms?
Vandag is die unieke gebruike en kultuur van die Masai vinnig besig om te verdwyn. In party gebiede kan die Masai nie meer vryelik met hulle beeste rondtrek om na nuwe weivelde te soek nie. Uitgestrekte gebiede wat voorheen hulle tradisionele tuisland was, word as wildtuine of vir behuising en landbou ontwikkel om in die behoeftes van groeiende bevolkings te voorsien. Droogte en ekonomiese teëspoed dwing baie Masai om hulle geliefde beeste te verkoop om aan die lewe te bly. Wanneer hulle na groot stede toe trek, ondervind hulle dieselfde probleme wat die res van die moderne wêreld om hulle teister.
Vandag word Masai-gemeenskappe in Oos-Afrika deur die bediening van Jehovah se Getuies bereik. Meer as 6 000 eksemplare van die brosjure Jy kan vir ewig op die aarde lewe! is al in die Masai-taal gedruk. Sodoende word die Masai gehelp om tussen ongegronde bygelowe en Bybelwaarheid te onderskei. Dit is beslis hartverblydend om te sien dat ons Skepper, Jehovah God, hierdie unieke en kleurvolle volk die geleentheid gee om onder al die “nasies en stamme en volke en tale” te wees wat die vernietiging van hierdie veelbewoë stelsel van dinge gaan oorleef.—Openbaring 7:9.
[Prent op bladsy 25]
Tradisionele Masai-huis
[Prent op bladsy 26]
Masai kom bymekaar om te dans
[Prente op bladsy 26]
Twee Masai-Getuies