Jongmense vra . . .
Hoe kan ek myself aantrekliker maak?
“Dit was nie maklik of lekker om met meisies te gesels nie. Ek het glad nie geweet wat hulle dink, hoe hulle voel of hoe hulle dinge sien nie.”—Tyler.
VAN watter eienskappe in seuns hou meisies die meeste? “Selfvertroue”, sê ’n tiener met die naam Emily. Om snaaks te wees, is boaan Robyn, ’n ander tiener, se lys. En waarvan hou seuns die meeste in meisies? Dit is nie verbasend dat een opname getoon het dat ’n mooi voorkoms heel boaan hulle lys is nie. Om soortgelyke belangstellings en waardes te hê, was sesde op die lys.
Artikels en opnames wat seun/meisie-verhoudings bespreek, word dikwels in tydskrifte vir jongmense gevind. Dit is duidelik dat baie jongmense dikwels dink oor—of dalk selfs bekommerd is oor—hoe die teenoorgestelde geslag hulle beskou. Miskien is jy self soms daaroor bekommerd. Nie dat jy gereed is om binnekort te trou nie. Dis net dat niemand onaantreklik wil wees nie! Tyler sê: “As ’n tiener wil jy vir almal aantreklik wees. Jy wil vir jou maats, seuns en meisies, aanvaarbaar wees.” Jy voel ook dalk dat jy eendag ’n goeie huweliksmaat wil vind. Wanneer daardie tyd aanbreek, is dit net natuurlik dat jy vir so iemand aantreklik sal wil wees.
Maar as ’n jong Christen het jy dalk nog nie veel met die teenoorgestelde geslag te doen gehad nie. Dan is daar ook die druk wat jou portuurs miskien op jou uitoefen om fisies aantreklik te wees. Met al die supermodelle en gespierde akteurs wat ’n mens op TV en in tydskrifte sien, is dit geen wonder dat jy dalk onseker en minderwaardig voel nie! Wat is dan nodig om op ’n gesonde, positiewe manier vir ander—insluitende die teenoorgestelde geslag—aantreklik te wees?
Dit is dwaas om ’n “volmaakte” liggaam te verwag
Die kliniese sielkundige William S. Pollack sê dat baie jongmense deur die vermaaklikheidsbedryf beïnvloed word en “tallose ure daaraan bestee om ’n dieet te volg, gewigte op te tel en aërobiese oefeninge te doen, bloot om die grootte en vorm van hulle liggaam te probeer verander”. Party gaan selfs tot gevaarlike uiterstes oor, soos om hulleself feitlik uit te honger, sodat hulle daardie “volmaakte” liggaam kan hê. En tog sê die Navorsingsentrum vir Maatskaplike Kwessies: “Die huidige ideaal vir vroue volgens wat in die media vertoon word, kan deur minder as 5% van die vroulike bevolking bereik word—en dis net in terme van gewig en grootte. As jy die ideale vorm, gesig, ens. wil hê, is dit waarskynlik net 1%.”
Die Bybel se raad in Romeine 12:2 is dus prakties: “Moenie die wêreld om jou toelaat om jou in sy vorm te druk nie” (Phillips). Dit beteken egter nie dat jy glad nie moet omgee hoe jy lyk nie. Dit is net redelik om jou liggaam goed op te pas deur matige oefeninge te doen en ’n gebalanseerde dieet te volg (Romeine 12:1; 1 Timoteus 4:8). Genoeg rus en slaap kan jou ook help om goed te lyk en te voel. Terselfdertyd moet jy aandag skenk aan persoonlike higiëne en persoonsversorging. ’n Britse jeugdige met die naam David sê: “Daar is ’n meisie wat heel mooi is, maar sy het ’n reukprobleem. Mense vermy haar hieroor.” Bad dus gereeld. Skoon hande, hare en vingernaels kan jou voorkoms verbeter.
Hoewel die Bybel dit ontmoedig om te veel klem te plaas op wat jy dra, raai dit Christene wel aan om “hulle met goed versorgde kleredrag [te] versier, met beskeidenheid en gesonde verstand” (1 Timoteus 2:9). Dra klere wat jou voorkoms verbeter, maar wat nie uitspattig of onbeskeie is nie.a As jy redelike aandag aan jou voorkoms skenk, kan dit jou meer selfvertroue gee. ’n Jong man met die naam Paul stel dit so: “Jy is dalk nie die aantreklikste persoon nie, maar jy kan werk met wat jy het.”
Innerlike eienskappe
Hoewel ’n mooi gesig en ’n goed geboude liggaam dalk die aandag trek, is “skoonheid” op die lange duur “’n lugborreltjie” (Spreuke 31:30, Byington). Uiterlike skoonheid is kortstondig, en dit is beslis nie ’n plaasvervanger vir mooi eienskappe nie (Spreuke 11:22). Onthou ook dat “die mens sien wat vir die oë sigbaar is; maar Jehovah sien wat die hart is” (1 Samuel 16:7). Moet dus nie net konsentreer op jou middeltjie of op jou spiere nie, maar werk eerder daaraan om jou te versier met “die geheime persoon van die hart in die onverderflike versiering van die stille en sagmoedige gees . . . , wat in die oë van God van groot waarde is” (1 Petrus 3:3, 4; Efesiërs 4:24). In vandag se wêreld het baie jongmense weliswaar dalk nie veel respek vir bewonderenswaardige karaktertrekke nie—om nie eens te praat van geestelike eienskappe nie.b Maar diegene wat godvrugtige waardes het, waardeer dit wel en vind dit aantreklik!
Die beste manier waarop jy dan vir geestelikgesinde Christenmans en -vroue aantreklik kan wees, is om self geestelikgesind te wees. Groei as ’n geestelike persoon deur gebed, persoonlike studie van die Bybel en die bywoning van Christelike vergaderinge (Psalm 1:1-3). Daar is nietemin ander nuttige vaardighede en eienskappe wat jy kan aanleer. Jy hoef nie met iemand uit te gaan of in ’n romantiese verhouding te wees om hierdie eienskappe aan te kweek nie. Jy kan dit reeds doen in die manier waarop jy mense van dag tot dag behandel.
Voel jy byvoorbeeld ongemaklik en skaam in die geselskap van persone van die teenoorgestelde geslag? ’n Jong persoon met die naam Paul erken: “Partykeer voel ek ongemaklik—omdat hulle meisies is, en ek verstaan meisies nie so goed soos ek ouens verstaan nie. En ek wil myself nie in die verleentheid bring nie.” Hoe kan jy die selfvertroue en innerlike kalmte verkry wat ander op hulle gemak sal stel? Een manier is om baat te vind by die assosiasie met die wye verskeidenheid mense in die Christengemeente. By die vergaderinge kan jy persoonlike belangstelling in ander toon—nie net in lede van die teenoorgestelde geslag wat jou ouderdom is nie, maar ook in kinders, volwassenes en bejaardes (Filippense 2:4). As jy leer om goed oor die weg te kom met so ’n verskeidenheid mense, sal dit jou help om selfvertroue te ontwikkel.
Maar wees versigtig. Jesus het wel gesê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matteus 19:19). As jy positief oor jouself voel, sal jy waarskynlik nie so onbeholpe en ongemaklik in ander se geselskap wees nie.c Hoewel dit nodig is om ’n mate van selfrespek te hê, moet jy egter nie tot die uiterste oorgaan nie. “Ek [sê] vir elkeen daar onder julle”, het die apostel Paulus gesê, “om nie meer van homself te dink as wat dit nodig is om te dink nie.”—Romeine 12:3.
Kyk ook goed na jou maniere en sosiale vaardighede. ’n Britse meisie met die naam Lydia sê: “Daar is ’n seun in ons skool waarvan die meisies baie hou. Maar wanneer hulle hom eers leer ken, hou hulle nie meer van hom nie omdat hy onbeskof en taktloos is.” Mense voel aangetrokke tot iemand wat op ’n vriendelike, taktvolle wyse praat en wat bedagsaam teenoor ander is (Efesiërs 4:29, 32; 5:3, 4). “Goeie maniere is soos ’n paspoort, wat jou toegang tot mense gee”, sê dr. T. Berry Brazelton. Goeie maniere “is noodsaaklik as ’n mens deur ander aanvaar wil word”.
Gebruike en gedragsreëls verskil regoor die wêreld. Kyk dus hoe volwasse Christenmans en -vroue mekaar behandel. Is dit byvoorbeeld gebruiklik in julle land dat ’n man ’n deur vir ’n vrou oophou? As jy dan leer om op hierdie manier hoflik te wees, sal jy ’n goeie naam kry as ’n goed gemanierde persoon wat op sy gemak is by ander mense.
Laastens sal jy dit dalk nuttig vind om ’n gebalanseerde sin vir humor aan te kweek. Die Bybel sê dat daar “’n tyd [is] om te lag”, en iemand wat ’n sin vir humor het, maak dikwels maklik vriende.—Prediker 3:1, 4.
Vriendelikheid teenoor flankeerdery
Een selfverklaarde “gids tot suksesvolle afsprake” het gesê dat ’n mens lede van die teenoorgestelde geslag se aandag kan kry deur met hulle te flankeer. Lesers is aangesê om te oefen om te glimlag en oogkontak te maak en om net die regte woorde te gebruik om gesprekke te begin. Sulke advies is strydig met die gees van Paulus se raad aan Timoteus om lede van die teenoorgestelde geslag “met alle kuisheid” te behandel.—1 Timoteus 5:2.
Hoewel flankeerdery jou miskien beter oor jouself laat voel, is dit onopreg en oneerlik. Jy hoef nie te flankeer of jou skaam te hou om ’n interessante gesprek te voer nie. Jy hoef ook nie vrae te vra wat ongepas is of iemand in die verleentheid kan bring, om uit te vind hoe die teenoorgestelde geslag voel en wat hulle dink nie. Praat eerder altyd oor dinge wat ‘regverdig, kuis en lieflik’ is, en dan sal jy toon dat jy besig is om ’n volwasse, geestelikgesinde man of vrou te word (Filippense 4:8). Jou gehoorsaamheid aan Goddelike beginsels sal jou nie net vir die teenoorgestelde geslag aantreklik maak nie, maar ook vir God self.d—Spreuke 1:7-9.
[Voetnote]
a Sien “Jongmense vra . . . Wat is die geheim daarvan om die regte klere te kies?” wat in ons nommer van 8 Oktober 1989 verskyn het.
b Volgens een navorser dui studies daarop dat intelligente jongmense dikwels geterg word oor hulle vermoëns. Party jongmense reageer hierop deur hulle intelligensie te probeer wegsteek.
c Hoofstuk 12 van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word, het ’n hele paar praktiese wenke oor hoe om selfrespek op te bou.
d As jy te jonk is om te trou, is dit verstandig om die geselskap van die teenoorgestelde geslag eerder in gemengde groepe te geniet. Sien die artikel “Jongmense vra . . . Sê nou my ouers dink ek is te jonk om afsprake te maak?” wat in die Ontwaak! van 22 Januarie 2001 verskyn.
[Prente op bladsy 15]
Moenie net op jou voor-koms konsentreer nie, maar werk eerder daar-aan om geestelike eien-skappe aan te kweek
[Prent op bladsy 15]
Leer om in die geselskap van ’n groot verskeidenheid mense op jou gemak te wees