Die suksesverhaal van die “liefdesappel”
Deur Ontwaak!-medewerker in Spanje
EEUE gelede was die “liefdesappel” ’n yl plant wat in die Andes-streek van Suid-Amerika gegroei het. Die bessies was nogal lekker, maar die plaaslike Indiane het dit blykbaar nie verbou nie. Hierdie buitengewone plant is op die een of ander manier na Mexiko toe geneem, waar die Asteke dit xitomatl genoem het. Die woord tomatl het na etlike soortgelyke vrugte verwys waarvan die meeste sappig was. Kort voor lank is tamatiesous, of salsa, algemeen in die Asteekse kookkuns gebruik, en die tamatie se lang pad na internasionale erkenning het begin.
Tamatiesous het ook vir die Spaanse veroweraars lekker gesmaak. In 1590 het ’n Jesuïetepriester wat die grootste deel van sy lewe in Mexiko gewoon het, gesê dat tamaties baie gesond is, dat ’n mens dit kan eet en dat dit vol sap is wat aan sous ’n aangename smaak gee. Die Spanjaarde het tamatiesade van Mexiko na Spanje sowel as na hulle kolonies op die Karibiese Eilande en in die Filippyne gestuur. Maar ondanks hierdie belowende begin het die tamatie eers meer as drie eeue later sy regmatige plek in die kombuise van die wêreld ingeneem.
Die tamatie verloor sy slegte reputasie
Dit kan moeilik wees om vooroordeel uit die weg te ruim, ook dié in verband met kos. Ondanks die tamatie se reputasie in Mexiko het dit gou ’n slegte naam in Europa gekry. Die probleem het begin toe Europese plantkundiges die tamatie geklassifiseer het as ’n lid van die familie Solanaceae—dieselfde familie waaraan die giftige belladonna, of doodkruid, behoort. Die blare het boonop ’n sterk reuk afgegee en was giftig. Om sake te vererger, het party kruiedokters beweer dat die tamatie geslagsprikkelende eienskappe het. Sommige mense meen dat dít die rede is waarom die Franse dit pomme d’amour, of die “liefdesappel”, genoem het.
Die tamatie se slegte reputasie het ook Noord-Amerika bereik. Selfs in die 1820’s nog het ’n Amerikaanse tuinier van Massachusetts gesê: “[Tamaties] was vir my so afstootlik dat ek gedink het dat ek baie honger sou moes wees voordat ek daaraan sou proe.” Hy was nie die enigste een wat skepties was oor tamaties nie. In Pennsilvanië het iemand dit “suur gemors” genoem, en ’n Britse tuinboukundige van dieselfde tydperk het die tamatieplant as “die stinkende goue appel” beskryf.
Die Italianers, wat die tamatie in die 16de eeu die pomodoro (goue appel) genoem het, was gelukkig praktieser.a Teen die vroeë 17de eeu het tamaties ’n gewilde kossoort in Italië geword, waar die sonnige klimaat gunstig was vir die verbouing daarvan. Maar byna twee eeue lank kon tuiniers in die noorde van Europa nie oortuig word nie en het hulle tamaties slegs as ’n sier- of medisinale plant gekweek.
Van vooroordeel tot gewildheid
Toe mense eers tamaties proe, het die bedenkinge wat hulle gehad het, verdwyn en het tamatieverbouing begin floreer. Teen die 1870’s kon ’n mens vars Kaliforniese tamaties in New York koop, danksy die nuwe transkontinentale spoorlyn. ’n Paar dekades vroeër het die eerste pizzaplek in Napels, Italië, oopgemaak, en gevolglik was daar ’n groter aanvraag na tamaties. En gedurende die 20ste eeu het ’n toenemende aanvraag na tamatiesop, -sap, -sous en -blatjang—om nie eers van die gewilde pizza te praat nie—die berugte tamatie die gewildste vrug op aarde gemaak. (Sien bygaande venster.) Die tamatie is nie net gewild onder kommersiële boere nie, maar het ook tuiniers se gunsteling geword—van die woestyne in die Midde-Ooste tot by die winderige Noordsee.
Van Sinai tot ’n olieboortoring
’n Olieboortoring in die middel van die Noordsee lyk dalk nie na die ideale plek om vrugte en groente te kweek nie, maar vir die tamatieplant maak dit nie juis saak nie. Met genoeg water en al die nodige voedingstowwe in ’n spesiale plastieksak kan die saadjies selfs sonder grond goed groei. Dit is waarom die tamatie so gewild is onder die oliewerkers, wat graag tussen die kaal pype en masjinerie van hulle olieboortoring ’n bietjie groenigheid wil sien en tuisgekweekte vrugte wil hê om te eet.
Met ’n bietjie meer aandag kan tamaties selfs in die woestynsand gekweek word. Oral tussen die Sinai-berge, in Egipte, het die Djabalijjah-Bedoeïene terrastuine uitgekap, wat deur fonteine, putte en ’n bietjie reën natgemaak word. Hulle tuine word sorgvuldig natgelei en lewer ’n rekordoes van groot tamaties, wat hulle in die son droog sodat hulle regdeur die winter tamaties kan hê.
Die tamatie se vermoë om in verskillende grondsoorte en klimate te groei, is egter nie die enigste rede waarom dit so te sê wêreldwyd gewild is nie. Die meeste tamatieplante is selfbestuiwend, en daarom kan verskillende variëteite maklik gekweek word om verskillende smake te pas. Tuiniers kan nou uit sowat 4 000 variëteite kies. Die klein, sappige kersietamatie gee kleur en geur aan slaaie, terwyl die soet pruimtamatie dikwels ingelê word. En die groot vleistamatie, ’n stapelvoedsel in Spaanse kombuise, is ideaal vir slaaie en om mee te kook.
Maar dit was natuurlik die tamatie se smaak wat dit uiteindelik so gewild gemaak het—dit kan ’n pizza smaakliker maak, ’n slaai opkikker, ’n sous geur of ’n sap verryk. Hoewel dit toe nie ’n “liefdesappel” was nie, is die hele wêreld nou lief vir tamaties.
[Voetnoot]
a Die tamatie is blykbaar so genoem omdat die eerste variëteite wat deur die Italianers gekweek is, geel was.
[Venster/Prent op bladsy 26]
Gazpacho—’n verfrissende tamatiesmaak
Wil jy graag ’n verfrissende koue sop probeer wat ideaal is vir warm somerdae? In die Andalusiese streek van Spanje word gazpacho feitlik elke dag saam met die hoofmaaltyd bedien. Dit is maklik om voor te berei, bevat eenvoudige bestanddele en is ’n gesonde en smaaklike voorgereg vir jou gesin. Hier is ’n tipiese Spaanse resep vir vyf mense.
Bestanddele
600 gram ryp tamaties
350 gram komkommers
250 gram rooi soetrissies
2 snye droë brood (60 gram)
30 milliliter asyn
30 milliliter olyfolie
sout
1 knoffelhuisie
klein knypie komyn
Metode Maak die rissies skoon en skil die komkommers en tamaties. Sny dit dan in klein stukkies. Sit dit in ’n bak met ’n liter water (genoeg om die groente te bedek) saam met die brood, knoffel, sout, komyn, asyn en olie. Laat die sop oornag staan, en maak dit die volgende dag met ’n vermenger fyn en druk dit deur ’n sif. Voeg nog geurmiddel by as dit nodig is. Hou die gazpacho in die yskas totdat dit bedien word. Die gazpacho kan saam met fyngekapte tamatie, komkommer en soetrissie bedien word.
[Venster op bladsy 27]
Feite oor tamaties
Die tamatie het die wêreld se gewildste vrug geword. Byna 100 miljoen ton word jaarliks geoes, wat aansienlik meer is as die ander groot vrugteoeste van die wêreld (appels, piesangs, druiwe en lemoene).
Hoewel die tamatie soms ’n groente genoem word, is dit plantkundig ’n vrug, want die tamatie is die eetbare deel van die plant wat die sade bevat (gewoonlik bestaan ’n groente uit die eetbare stingels, blare en wortels van ’n plant).
Volgens The Guinness Book of Records het die grootste tamatie 3,5 kilogram geweeg en is dit in Oklahoma, VSA, gekweek.
Dit kan vir die plante skadelik wees as ’n mens naby die plante rook of voordat jy dit hanteer. Tabak dra ’n virus waarvoor die tamatieplant vatbaar is.
Tamaties bevat nie net vitamiene A en C nie, maar is ook ryk aan likopeen, ’n anti-oksidant. Volgens sommige navorsingstudies kan ’n tamatieryke dieet die risiko van kanker help verminder.