Wetenskap was my godsdiens
SOOS VERTEL DEUR KENNETH TANAKA
“DIE waarheid sal julle vrymaak.” Hierdie woorde, op een van die seëls van die Kaliforniese Instituut vir Tegnologie (Caltech), het my aangevuur om op wetenskaplike gebied te presteer. Toe ek in 1974 daar begin studeer het, het dit vir my die weg gebaan om ’n navorsingswetenskaplike te word. Nadat ek my baccalaureus- en meestersgrade in geologie voltooi het, het ek my studies aan die Universiteit van Kalifornië in Santa Barbara voortgesit.
Terwyl ek as ’n wetenskaplike vooruitgang gemaak het, het my geestelike beskouings en waardes ook baie verander. Hoewel my agtergrond in evolusie geen plek vir geloof in God gelaat het nie, moes ek later noodgedwonge my beskouings hersien. Hoe het ek as ’n navorsingsgeoloog ook ’n toegewyde aanbidder van God geword? Laat ek verduidelik.
’n Seuntjie wat deur die kosmos beïndruk is
Ek het op ’n vroeë ouderdom in die wetenskap begin belangstel. Terwyl ek in Seattle, Washington, VSA, grootgeword het, het my ouers my sterk aangespoor om akademies te presteer. Ek het dit geniet om oor die heelal—die boustene van materie en lewe, die fundamentele kragte, die ruimte, tyd en relatiwiteit—te lees. Toe ek omtrent agt jaar oud was, is my belangstelling in die wetenskap opgemerk, en my skool het gereël dat ek elke week private lesse by ’n wetenskaponderwyser kry.
Ek het die Sondagskool van ’n Baptistekerk bygewoon, maar hoofsaaklik om op staptoere en kampeeruitstappies te gaan. Die res van my gesin het geen belangstelling in godsdiens of God getoon nie. Toe ek meer leer van die geskiedenis en die gruweldade wat godsdienste gepleeg het, het my gewete my beweeg om my van kerkbedrywighede te onttrek. Ek het ook begin twyfel dat God bestaan, want dit het gelyk of die wetenskap feitlik alles kan verduidelik.
Die begin van die veranderinge
Ek het om toelating by ’n universiteit aansoek gedoen met die doel om fisika te studeer, maar in my laaste jaar op hoërskool het ek geologie as vak gehad. Dit het uitstappies na belangrike klipbanke in die staat Washington ingesluit. Ek het gedink: ‘Hoe wonderlik sal dit tog wees om my liefde vir die buitelug met my liefde vir die wetenskap te kombineer!’
Toe ek by die universiteit begin, het ek dus gou my hoofvak na geologie verander. Party van die kursusse waarvoor ek ingeskryf het, het studies ingesluit van geologiese tyd en die aardgeskiedenis soos dit in die fossielverslag waargeneem word. Wat die fossielverslag betref, is ek geleer dat spesies geëvolueer het. Ek het verstaan dat evolusie nog bewys moet word. Maar ek het gemeen dat evolusie as ’n teorie na ’n redelike verduideliking vir die beskikbare geologiese getuienis klink, veral in teenstelling met die algemene skeppingsleer. Toe ek hoor van ’n debat wat op die kampus tussen aanhangers van die skeppingsleer en evolusioniste gehou sou word, het ek besluit om nie te gaan nie. Dit was duidelik dat die aarde nie—soos party voorstanders van die skeppingsleer beweer—in minder as ’n week gemaak is nie!
Al was ek sterk teen godsdiens gekant, het my uitstappies na die suidweste van die Verenigde State om die geologie te bestudeer my beweeg om my opvattings oor die bestaan van God te hersien. Daar het ek deur die helder woestynlug na die indrukwekkende naghemel gekyk en kon ek nie anders as om tot die slotsom te kom dat God die heelal moes geskep het nie. Sterrekundiges het bevestig dat die heelal ’n begin gehad het, maar ek kon sien dat daar nooit ’n suiwer wetenskaplike verduideliking sou wees vir die rede waarom hierdie gebeurtenis plaasgevind het nie. Dit het redelik gelyk om te glo dat ’n intelligente, magtige Skepper die kosmos om ons ontwerp en gemaak het.
Ek karteer Mars en vra vrae
Teen die tyd dat ek in 1983, op 27-jarige ouderdom, my doktorsgraad in die geologiese wetenskappe gekry het, was ek besig om die geologie van Mars vir die Amerikaanse Departement van Geologiese Opnames te karteer. Sedertdien het ek al tientalle artikels en kaarte oor die geologie van planete vir wetenskaplikes sowel as die gewone publiek uitgegee. Ek het vir die Nasionale Lugvaart- en Ruimte-administrasie op raadgewende komitees gedien en ’n bydrae gelewer tot die ruimtetuigsendings na Mars. As gevolg van my navorsing en beroepsverantwoordelikhede het ek gesiene planetêre wetenskaplikes van baie lande, universiteite en navorsingsinstitute ontmoet.
Al hierdie opleiding en navorsingsondervinding het die idealistiese beskouing van die wetenskap wat ek as kind gehad het, stadigaan reggestel. Ek het begin besef dat die wetenskap nie al die antwoorde het nie en dit nooit sal voorsien nie. Ek het veral gesien dat die wetenskap nie ’n blywende doel of sin aan die lewe gee nie. Volgens huidige wetenskaplike beskouings sal die heelal of inmekaarstort of aanhou uitbrei totdat dit ’n struktuurlose massa is. Hoe kan ons bestaan enige betekenis hê as niebestaan ons uiteindelike lot is?
Ek slaan ’n nuwe rigting in
In September 1981, toe ek in Flagstaff, Arizona, gewoon het, het ek met Jehovah se Getuies in aanraking gekom. Ek het tot ’n Bybelstudie ingestem met die doel om hulle en die Bybel verkeerd te bewys. Dit sou my ook help om eindelik te sien wat die Bybel werklik bevat.
Ek het elke week etlike ure daaraan begin bestee om Bybelleringe deeglik te ondersoek. Tot my verbasing het ek grondige kennis en diep insig in die Bybel gevind. Ek het dit baie geniet om ondersoek in te stel na die wetenskaplike juistheid van die Bybel en die vervulling van honderde uitvoerige profesieë met betrekking tot gebeure oor duisende jare van die mensegeskiedenis. Ek was veral beïndruk toe ek sien hoe verskeie Bybelprofesieë saam—in die boeke Daniël en Openbaring—’n stewige grondslag voorsien waarvolgens vasgestel kan word dat ons in “die laaste dae” lewe.—2 Timoteus 3:1.
Terwyl ek die Bybel bestudeer het, was ek onwetend in uitstekende geselskap. Ek het later uitgevind dat sir Isaac Newton, wat as een van die grootste wetenskaplike genieë van alle tye beskou word, die Bybel bewonder en sorgvuldig bestudeer het. Soos Newton het ek my toegespits op profesieë in Daniël en Openbaring wat belangrike geskiedkundige gebeurtenisse en verwikkelinge voorspel het wat werklik plaasgevind het.a Maar ek is beslis in ’n beter posisie omdat ek gesien het dat daar baie profesieë was wat sedert Newton se tyd vervul is en nog vervul word. Ek het uitgevind dat hierdie profesieë verbasend uiteenlopend en omvattend sowel as foutloos en onweerlegbaar is. Dit was ’n openbaring om te besef dat die hele Bybel, wat oor ’n tydperk van 1 600 jaar deur meer as 40 manne geskryf is, ’n deurlopend konsekwente, samehangende en kragtige boodskap bevat oor die belangrike geskille wat die mensdom en sy toekoms raak.
Dit was egter nie vir my maklik om my geloof in evolusie te laat vaar nie. Ek het respek gehad vir al die wetenskaplike gesaghebbendes wat hierdie teorie ondersteun. Maar ek het uitgevind dat alles wat die Bybel oor die fisiese wêreld sê, heeltemal met bekende feite ooreenstem en nie weerlê kan word nie.
Ek het begin besef dat ’n mens geen lering, met inbegrip van die skeppingsverslag in Genesis, buite rekening kan laat as jy ’n volledige, samehangende begrip van die Bybel se uitgebreide, harmonieuse inhoud wil verkry nie. Ek het dus gesien dat die enigste redelike gevolgtrekking is om die hele Bybel as die waarheid te aanvaar.
’n Volgehoue soeke na waarheid
Terwyl ek aan formele wetenskaplike navorsing deelgeneem het, het ek gesien hoeveel keer teorieë ’n ruk lank algemeen aanvaar is maar later verkeerd bewys is. ’n Deel van die uitdaging vir wetenskaplikes is dat ons onderwerpe ingewikkeld is terwyl ons inligting en navorsingsmiddele beperk is. Ek het dus geleer om nie sommer onbewese teorieë as ’n feit te aanvaar nie, ongeag hoe sorgvuldig dit dalk saamgestel is.
Baie fundamentele aspekte van ons sigbare wêreld kan natuurlik nie deur die wetenskap verklaar word nie. Byvoorbeeld, waarom is die beskikbare boustene van lewe en die natuurwette wat dit rig, heeltemal geskik om ingewikkelde lewensprosesse en ekosisteme te onderhou? Hoewel die wetenskap God nie kan openbaar nie, voorsien sy geïnspireerde Woord tasbare bewys van sy bestaan en bedrywighede as Skepper (2 Timoteus 3:16). Met hierdie geestelike kennis kan ons die Een leer ken wat verantwoordelik is vir die krag, wysheid en prag wat duidelik in ons fisiese wêreld gesien kan word.
Ek het nog bewyse van die wetenskaplike juistheid van die Bybel gekry deur my deeglike ondersoek van verskillende publikasies van Jehovah se Getuies, waaronder die boeke Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? en Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee? Hierdie publikasies ontleed ingewikkelde wetenskaplike onderwerpe en voorsien diep insig in huidige navorsing en die gevolgtrekkings van vooraanstaande deskundiges. Dit bespreek ook hoe bekende wetenskaplike feite met die regte begrip van die Bybel ooreenstem.
Daar word byvoorbeeld getoon dat die fossielverslag ooreenstem met die algemene volgorde waarin lewensvorme volgens die boek Genesis verskyn het. En ’n skeppingsdag soos die mense van die ou tyd dit verstaan het, kan ’n lang tydperk beteken, net soos die woorde “tydvak” en “era” in die wetenskap gebruik word om die aardgeskiedenis te beskryf. Die Bybel is dus nie in stryd met wetenskaplike bevindings nie. Dit toon dat die skeppingsdae eeue geduur het. Dit steun nie die gevolgtrekking van aanhangers van die skeppingsleer wat glo dat elkeen van daardie dae 24 uur lank was nie.
Geloof teenoor liggelowigheid
As ’n wetenskaplike het ek ’n afkeer van liggelowigheid. Maar ek het diep respek vir gegronde geloof. Hierdie soort geloof word in Hebreërs 11:1 omskryf: “Geloof is die gewaarborgde verwagting van dinge waarop gehoop word, die duidelike bewys van werklikhede hoewel hulle nie gesien word nie.” Vertroue op God se beloftes is gegrond op vaste bewyse dat die Bybel deur God geïnspireer is. Ek het gesien dat dit belangrik is om algemene maar ongegronde godsdiensleerstellings wat die Skrif weerspreek, te vermy. Dit sluit die leringe van ’n onsterflike siel, die helse vuur, die Drie-eenheid en ander in. Baie van hierdie dwaalleringe het uit die filosofie en mitologie van die ou tyd of uit onjuiste Bybelkennis voortgespruit. Geloof in valse leringe het gelei tot die ‘blinde geloof’ wat die meeste hedendaagse godsdiensyweraars beoefen en wat veroorsaak het dat baie wetenskaplikes min agting vir godsdiens het.
Een van my vernaamste verantwoordelikhede as ’n wetenskaplike was om die resultate van my navorsing te omskryf, te verdedig en bekend te maak. Ek het eweneens genoodsaak gevoel om Bybelwaarheid aan ander te leer, aangesien geen ander kennis belangriker kan wees nie. Sowat 20 jaar gelede het ek met hierdie bevredigende bedrywigheid begin en is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop. Toe, in September 2000, kon ek die tyd wat ek aan die predikingswerk bestee, tot gemiddeld 70 uur per maand vermeerder. Sedertdien het ek die voorreg gehad om elke maand tot tien Bybelstudies met belangstellendes te hou en te sien dat ’n hele paar studente self ywerige Bybelonderrigters word.
Ek geniet dit nog om Mars en ander dele van die heelal te ondersoek deur die “oë” van gesofistikeerde ruimtetuie wat gestuur word om ons hemelruim te verken. Daar is nog baie raaisels wat vir die wetenskap ’n uitdaging bied. Ek sien uit na ’n toekoms waarin die mens se soeke na geestelike sowel as wetenskaplike kennis ons nuuskierigheid sal bevredig en antwoorde op ons diepste vrae sal voorsien. Ek het uitgevind dat ware sin in die lewe uit juiste kennis van God en sy voorneme met die mensdom voortspruit, wat die ware betekenis van Jesus se woorde op een van die seëls van Caltech is: “Die waarheid sal julle vrymaak.”—Johannes 8:32.
[Voetnoot]
a In sy boek Observations Upon the Prophecies of Daniel, and the Apocalypse of St. John, wat in 1733 uitgegee is, het sir Isaac Newton die profesieë in die Bybelboeke Daniël en Openbaring ondersoek.
[Lokteks op bladsy 19]
“Dit het gelyk of die wetenskap feitlik alles kan verduidelik”
[Lokteks op bladsy 20]
‘Die wetenskap het nie al die antwoorde nie en sal dit nooit voorsien nie’
[Lokteks op bladsy 21]
‘Ek het grondige kennis en diep insig in die Bybel gevind’
[Kaarte op bladsy 18]
Kaart van Mars
[Prente op bladsy 20]
Soos Newton is ek beïndruk deur die Bybelboeke Daniël en Openbaring
[Erkenning]
Universiteit van Florida
[Prent op bladsy 21]
Ek praat met ander oor wat ek uit die Bybel geleer het
[Foto-erkennings op bladsy 18]
Links bo: Courtesy USGS Astrogeology Research Program, http://astrogeology.usgs.gov; kaart van Mars: National Geographic Society, MOLA Science Team, MSS, JPL, NASA; oppervlak van Mars: NASA/JPL/Caltech
[Foto-erkenning op bladsy 21]
Ruimtefoto: J. Hester and P. Scowen (AZ State Univ.), NASA