Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 3/22 bl. 12-13
  • Aan watter kant van die pad ry jy?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Aan watter kant van die pad ry jy?
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vroeë bestuursgebruike
  • ’n Verandering na die regterkant
  • Bote, vliegtuie, treine en voetgangers
  • Padwoede—Hoe kan jy dit die hoof bied?
    Ontwaak!—1997
  • Is jy ’n roekelose bestuurder?
    Ontwaak!—1990
  • Motorongelukke—Is jy veilig?
    Ontwaak!—2002
  • Is jy ’n veilige bestuurder?
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 3/22 bl. 12-13

Aan watter kant van die pad ry jy?

Deur Ontwaak!-medewerker in Brittanje

Ek ontmoet my Amerikaanse besoeker by die lughawe en loop saam met hom na waar my motor geparkeer is. “Sit voor”, sê ek vir hom, en hy probeer onmiddellik aan die bestuurder se kant inklim. “O, ek het vergeet”, sê hy. “Julle ry mos aan die verkeerde kant van die pad.”

As ek die Verenigde State besoek het, sou ek heel moontlik vir hom dieselfde gesê het. Maar terwyl ons huis toe ry, besluit ek om uit te vind waarom mense in party lande aan die linkerkant van die pad ry, terwyl die meeste mense in die wêreld aan die regterkant ry.

Vroeë bestuursgebruike

Kom ons gaan sowat tweeduisend jaar terug in die geskiedenis na die tyd toe die Romeine Brittanje beset het. Argeoloë het ’n leidraad oor destydse bestuursgewoontes gevind. In 1998 het hulle ’n goed bewaarde pad gevind wat na ’n Romeinse steengroef naby Swindon, Engeland, gelei het. Die wielspore in die pad is baie dieper aan die een kant as aan die ander kant, soos die geval sou wees as waens die steengroef leeg ingaan en met ’n vrag klippe uitkom. Die wielspore dui daarop dat die Romeine, ten minste hier, aan die linkerkant gery het.

Trouens, sommige meen dat eertydse perderuiters meestal aan die linkerkant van die pad gery het. Aangesien die meeste mense regs is, sou perderuiters die leisels dus met hulle linkerhand kon vashou sodat hulle regterhand vry kon wees—om ’n ruiter wat verbygaan met die hand te groet of, indien nodig, hulleself met ’n swaard te verdedig.

’n Verandering na die regterkant

In die laat 1700’s is daar in lande soos die Verenigde State van die linker- na die regterkant van die pad verander, toe drywers groot vragwaens begin gebruik het wat deur groot spanne perde getrek is. Die waens het nie ’n sitplek vir die drywer gehad nie, en die drywer het dus op die linkerkantse agterperd gesit en sy sweep in sy regterhand gehou. Aangesien die drywer aan die linkerkant gesit het, het hy natuurlik verkies dat ander waens aan die linkerkant verbygaan sodat hy seker kon maak dat hy die wiele van aankomende waens vermy. Daarom het hy aan die regterkant van die pad gery.

Maar die Engelse het aangehou om aan die linkerkant te ry. Hulle het kleiner waens gehad, en die drywer het op die wa gesit, gewoonlik aan die regterkant van die voorste sitplek. Van hier af kon hy sy lang sweep in sy regterhand gebruik sonder dat dit in die vrag agter hom verstrengel raak. In hierdie posisie, aan die regterkant van die wa, kon die drywer ’n veilige afstand tussen hom en verbygaande verkeer hou deur aan die linkerkant van die pad te bly. Lande wat deel van die Britse Ryk geword het, het ook die reël aangeneem om aan die linkerkant van die pad te ry, hoewel daar uitsonderings was. Kanada het byvoorbeeld uiteindelik na die regterkant verander om die oorgang by die grens van die Verenigde State te vergemaklik.

Politieke verwikkelinge in Frankryk het ’n groot invloed op bestuursgewoontes gehad. Voor die Revolusie van 1789 het die aristokrasie aan die linkerkant van die pad met hulle koetse gery, en mense van die laer stand is na die ander kant van die pad gedwing. Maar ná die Revolusie begin het, het hierdie adellikes hulle identiteit desperaat probeer wegsteek deur by die reisigers aan die regterkant aan te sluit. Teen 1794 het die Franse regering bepaal dat mense in Parys die regterkant van die pad moes gebruik, wat later na ander gebiede uitgebrei het namate die verowerende leërs van Napoleon I ’n groot deel van die Europese vasteland binnegeval het. Dit is nie verbasend dat Napoleon ten gunste daarvan was om regs te hou nie. Aangesien hy links was, verduidelik een naslaanwerk, “moes sy leërs aan die regterkant marsjeer sodat sy skermarm tussen hom en enige teenstander kon wees”.

In Europa het lande wat hulle teen Napoleon verset het, voortgegaan om die linkerkant van die pad te gebruik. Rusland en Portugal het vroeg in die 20ste eeu na die regterkant verander. Oostenryk en Tsjeggo-Slowakye het na die regterkant verander toe hulle aan die einde van die 1930’s deur Nazi-Duitsland ingeneem is, en Hongarye het hulle voorbeeld gevolg. Vandag ry net vier Europese lande nog aan die linkerkant: Brittanje, Ierland, Siprus en Malta. Interessant genoeg, hoewel Japan nooit ’n Britse kolonie was nie, ry hulle ook aan die linkerkant.

Bote, vliegtuie, treine en voetgangers

Wat van bote en vliegtuie? Oor die algemeen hou waterverkeer regs. Lugverkeer hou ook regs. En treine? In sommige lande bepaal die seintoerusting watter kant van ’n dubbelspoor gebruik word. Moderne hooflynspoorlyne laat treine dikwels in albei rigtings op albei spoorlyne loop, maar met ouer seintoerusting loop die spoorlyn in net een rigting. Die rigting daarvan is moontlik, in ten minste party gevalle, bepaal deur die land wat die spoorweg oorspronklik ontwerp en gebou het.

En wat van voetgangers? As daar nie ’n aparte voetpad of sypaadjie is nie, word daar oor die algemeen aanbeveel dat dit die veiligste is om na die aankomende verkeer te loop, ongeag aan watter kant die motors is. As motors aan die regterkant ry, dan word voetgangers aangeraai om aan die linkerkant van die pad na die aankomende verkeer te loop. In Brittanje, waar ons aan die linkerkant ry, probeer ons onthou om aan die regterkant te loop. Wat doen ons vriend in Amerika? Wel, hy doen die teenoorgestelde!

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel