Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 10/8 bl. 16-19
  • Pas op vir “wit drake”!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Pas op vir “wit drake”!
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Natuurverskynsel
  • Waar kom sneeustortings voor?
  • Kan sneeustortings voorkom word?
  • Amptelike beskermingsmaatreëls
  • Reddingspogings ná sneeustortings
  • ’n Winterkombers
    Ontwaak!—1996
  • Snoesig in die sneeu
    Ontwaak!—2008
  • Sapporo se fees van sneeu en ys
    Ontwaak!—1994
  • Ontmoet die geheimsinnige sneeuluiperd
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 10/8 bl. 16-19

Pas op vir “wit drake”!

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SWITSERLAND

Wat vlieg sonder vlerke, slaan sonder hande en sien sonder oë?—’n Raaisel oor wit drake wat sedert die Middeleeue vertel word.

SNEEUSTORTINGS, wat heel gepas wit drake genoem word, kan in ’n oogwink ’n bergklimmer verswelg of selfs ’n hele dorp begrawe. Om daardie rede het mense sneeustortings die wit dood begin noem. Wat veroorsaak hierdie ontsagwekkende verskynsel? As jy tussen sneeubedekte berge woon, ken jy reeds die antwoord. As jou tuiste egter in die trope is of as jy in ’n laagland woon, is jy moontlik nie hieroor besorg nie, aangesien sneeustortings nooit vir jou ’n bedreiging sal inhou tensy jy ’n reis onderneem en dit in die gebied van die wit drake waag nie.

Sneeustortings ontstaan in hoë berge waar daar gereeld baie sneeu val. Hulle begin skielik wanneer groot hoeveelhede sneeu, ys, grond, klippe en ander voorwerpe, soos boomstompe, vinnig teen ’n berghang afstort of oor ’n afgrond val, en dikwels word alles in hulle pad vernietig. Dit is nie net die gewig en krag van ’n sneeustorting wat soveel skade aanrig nie, maar die lugdruk voor die sneeustorting kan ook ’n digte klomp bome platvee en ander voorwerpe in sy pad, soos brûe, paaie of spoorlyne, beskadig.

’n Natuurverskynsel

Hierdie dreunende wit massa wat soveel krag het, bestaan hoofsaaklik uit piepklein sneeuvlokkies. Hoe kan iets pragtigs soos sneeu wat val, in iets dodeliks soos ’n dreunende sneeustorting ontaard? Die antwoord lê in die kenmerke van sneeu. Sneeu kom in verskillende vorms voor: kristalle, balletjies en korrels. Kristalvlokkies is altyd sespuntige sterre en kom in ’n eindelose verskeidenheid patrone voor. Elkeen is ’n wonder op sigself! Wanneer hierdie kristalle op die grond val, kan dit van voorkoms verander. Verskille in lugtemperatuur en die druk van opgehoopte sneeu maak dat die kristalle kleiner word namate dit saampak. Binne net 24 uur kan vars sneeu wat 30 sentimeter dik lê, tot net 10 sentimeter saampak.

Die bestendigheid van die sneeubedekking sal wissel na gelang van die sneeuvlokkies se vorm. Sespuntige kristalle sluit inmekaar, maar korrels en balletjies rol oor mekaar en veroorsaak onbestendige lae. Dit kan maklik bo-oor ’n solieder laag gly. Dit is dus die soort sneeu, die hoeveelheid wat geval het, die helling van die terrein, temperatuurverskille en die krag van winde wat bepaal of ’n sneeustorting sal ontstaan. Die gewig van ’n man of ’n dier wat oor ’n steil sneeuveld beweeg, kan ook onwetend ’n sneeustorting aan die gang sit. Maar daar is ook ander soorte sneeustortings.

Droësneeustortings ontstaan wanneer ’n mengsel van vars sneeukorrels en -kristalle—die soort los poeier waarvoor skiërs so lief is—deur ’n sterk windvlaag in die lug opgewaai word. Omdat dit lig is, word die sneeu in die lug opgetel en kan dit in die vallei afstort teen meer as 300 kilometer per uur. In hierdie geval bou soveel lugdruk voor die sneeumassa op dat die sneeustorting binne sekondes dakke kan lig en selfs huise kan vernietig.

’n Uiters gevaarlike soort sneeustorting is die plaatstorting. Hierdie sneeustortings word veroorsaak deur ’n opeenhoping van ou sneeu wat oor ’n tydperk saamgepak het. Wanneer die boonste laag van die sneeu opbreek, kan groot stukke ys teen 50 tot 80 kilometer per uur teen ’n berghang afgly. Sulke harde afsettings kan ook oor die rand van ’n krans hang. Dit hou ’n groot gevaar in vir skiërs, aangesien die gewig van net een skiër genoeg is om die plaat te laat breek en ’n sneeustorting aan die gang te sit wat hom binne sekondes kan begrawe.

In die lente is daar ’n groter gevaar van sneeustortings. Reën of helder sonskyn maak die sneeu pap, wat dikwels natsneeustortings tot gevolg het. Dit beweeg stadiger, maar ’n hele helling kan hierby betrokke wees. Terwyl die sneeumassa afgly, tel dit rotse, bome en grond op wat ’n vuil puinmuur veroorsaak waar dit tot stilstand kom.

’n Verskynsel wat met die sneeustorting ooreenkom, is die gletser, of ysstorting. Gletsers is enorme stukke ys wat in baie koue streke vorm—in valleie of op skaduryke hellings waar die sneeu nooit smelt nie. Maar mettertyd word die sneeu soliede ys. Gletsers beweeg baie stadig afwaarts. Aangesien hulle beweging voorspelbaar is, veroorsaak hulle selde beserings of skade.

Waar kom sneeustortings voor?

Nie alle sneeugebiede op ons planeet ondervind sneeustortings nie. Sneeustortings vind net plaas wanneer daar berge van ’n sekere hoogte is en die klimaat sneeu en ys moontlik maak. Volgens statistiek vind daar wêreldwyd sowat eenmiljoen sneeustortings per jaar plaas. Daar is ’n paar gevaarsones in die Andes van Suid-Amerika, die Rotsgebergte van Noord-Amerika, in die Himalajas in Asië en, natuurlik, die Alpe in Europa, wat van Frankryk noordooswaarts deur Switserland, Duitsland en Oostenryk strek. In die bewoonde dele van hierdie streke verloor gemiddeld 200 mense jaarliks hulle lewe as gevolg van sneeustortings. Gemiddeld 26 van hierdie sterftes is in Switserland.

Twee uiters verwoestende sneeustortings het in die Andes van Peru voorgekom. In 1962 het ’n kilometer lange stuk ys afgebreek van die 50 meter dik yskap van die berg Huascarán, wat 6 768 meter hoog was. Die stuk ys van viermiljoen ton was vier keer so groot soos die Empire State-gebou in New York! Dit het binne 15 minute 18 kilometer ver beweeg. Sewe dorpies is onder die sneeu begrawe en tussen 3 000 en 4 000 mense het gesterf onder die puin, wat 13 meter diep en twee kilometer wyd was. In 1970 het iets soortgelyks weer op daardie berg gebeur. Hierdie keer het ’n aardbewing egter die yskap op ’n noordelike piek losgeskud. Die berg self het inmekaargestort. Duisende tonne sneeu, klip en ys het 300 kilometer per uur deur ’n nou kloof afbeweeg en rotse en huise in sy pad saamgesleep. Na raming het 25 000 mense gesterf. Wat kan gedoen word om inwoners van bergstreke teen sulke tragiese gebeure te beskerm?

Kan sneeustortings voorkom word?

Sommige sneeustortings kan voorkom word. Ander nie. Sneeustortings wat deur die weer veroorsaak word, kan nie voorkom word nie; dit is so normaal soos reënwater wat van ’n dak afloop. Dit is ’n natuurlike gevolg van die seisoenale kringloop. Maar regeringsowerhede in gebiede waar hierdie sneeustortings voorkom, het deur ondervinding geleer om die bou van huise in gevaarsones te verbied en hoofverkeersweë te beskerm deur tonnels of galerye te bou. Daarenteen kan sneeustortings wat deur onverstandige mense veroorsaak word, soos waaghalsige skiërs wat waarskuwings en verbooie ignoreer, voorkom word.

In Switserland het die regering voorsorg getref weens ondervindinge in die verlede. In 1931 is ’n Switserse navorsingskommissie gestig, en in 1936 het die eerste span dapper navorsers wetenskaplike studies onderneem op ’n hoogte van 2 690 meter in die gebied van die Weissfluhjoch, bokant die dorp Davos. Later, in 1942, is die Switserse Federale Instituut vir Sneeu- en Sneeustortingnavorsing gestig. Verskeie ander moderne waarnemingsposte is op verskillende plekke in die berge opgerig. Hierdie instellings maak dit moontlik om veranderende weerstoestande te voorspel, en hulle saai gereeld waarskuwings uit oor moontlike sneeustortings op onbeskutte hellings.

Onvoorsiene weersveranderinge bly egter ’n moontlikheid, en gevare kan nie uitgeskakel word nie. Daarom moet elkeen wat in ’n gevaarsone woon of in die winter ’n vakansie of ’n naweek in die berge deurbring, bewus wees van sy verantwoordelikheid om nie ’n sneeustorting te veroorsaak nie. Interessant genoeg, toetse in Frankryk het getoon dat klankgolwe van vliegtuie nie sneeustortings veroorsaak soos voorheen gemeen is nie, en ook nie mense se stemme nie.

Amptelike beskermingsmaatreëls

Kort nadat mense hulle in bergagtige streke begin vestig het, het hulle die gevaar van sneeustortings besef. Om te keer dat hulle huise onder die sneeu begrawe word, het hulle ’n bos bome aangeplant op die hange bokant hulle nedersetting. In baie gevalle was hierdie beskerming doeltreffend, en dit is waarom die plaaslike owerheid vandag nog na hierdie bosreservate omsien. Dit bied die beste natuurlike beskerming teen sneeustortings. Ondervinding het egter geleer dat dit ’n digte bos moet wees, wat uit etlike honderde bome per hektaar bestaan, sowel as ouer en jonger bome van verskillende spesies.

In onlangse tye het ingenieurs metaalversperrings gemaak wat in beton geanker is. Dit word in gevaarsones bokant die eerste ry bome gesit. Dit kan tot vier meter hoog wees, maar dit sal te duur wees om op elke hang sulke versperrings op te rig. Om te keer dat geboue van hulle fondament afgevee word, word versperrings ook van groot rots- en grondhope aan die voet van hange gemaak. Hierdie hope kan sneeustortings wegkeer en voorkom dat dit dorpies en huise in valleie verswelg. ’n Ander soort versperring is V-vormige grondwalle wat 2 meter dik en 5 meter hoog is. Die punt van die V wys in die rigting van die berg sodat dit ’n sneeustorting in twee kan verdeel en die sneeu na weerskante kan wegkeer. Die bene van die V is 90 tot 120 meter lank en kan ’n hele dorp beskerm. Maar wanneer belangrike hoofweë of spoorlyne in die vallei in gevaar verkeer, word die beste beskerming—en die duurste—deur tonnels of galerye van hout, staal en beton voorsien.

Nog ’n manier om sneeustortings te voorkom, is om swaar sneeumassas op te breek. Elke winter patrolleer die Kanadese weermag byvoorbeeld dele tussen dorpe, en hulle skiet in die sneeu in. Hulle beskerm sodoende die Trans-Kanadese-hoofweg deur sneeu op te breek voordat ’n sneeustorting die pad kan toeval. Hierdie metode word in ’n sekere mate ook in Switserland gebruik, waar hulle, in ’n poging om sneeustortings te voorkom, uit helikopters plofstof skiet of op onstabiele hange laat val om sneeu los te maak.

Reddingspogings ná sneeustortings

Skiërs en voetslaners is veronderstel om te wag terwyl hange vir veiligheid getoets word. Moet nooit waarskuwingstekens ignoreer nie! Onthou dat selfs die mees ervare beroepskiër in die sneeu begrawe kan word. As jy in ’n sneeustorting beland, moet jy nie paniekerig raak nie! Kenners se raad is dat jy moet beweeg asof jy in die see swem. Dit sal keer dat jy te diep onder die sneeu beland. Of hou een arm so hoog as moontlik bo jou kop. Dit kan reddingswerkers help om te sien waar jy is. Bedek jou mond en neus met jou ander hand. Reddingstatistiek toon dat slegs die helfte van sneeustortingslagoffers dit oorleef as hulle langer as 30 minute vasgekeer is. Deesdae dra party skiërs byvoorbeeld seintoestelle wat met batterye werk. Aangesien die wit dood in gebiede hoog bo seevlak ’n immerteenwoordige gevaar is, is dit noodsaaklik dat slagoffers van ’n sneeustorting gou gered word.

Augustynse monnike in die Switserse Alpe het eeue lank die beroemde Sint Bernardhonde geteel. Hierdie honde het die krag en uithouvermoë gehad om deur dik sneeu te beweeg en om ysige winde en koue weer te verduur. Hulle het ’n goeie rigtingsin gehad en was baie gevoelig vir geluide en bewegings wat nie deur mense waargeneem kon word nie. Op hierdie manier het hulle honderde lewens gered, selfs al het hulle nie tydens reddingstogte ’n brandewynvaatjie aan hulle halsband gedra soos daar in baie prente uitgebeeld word nie! Vandag word hoofsaaklik Duitse herdershonde as reddingshonde gebruik, maar ander rasse word ook vir hierdie soort werk opgelei. Verder is elektroniese hulpmiddels doeltreffend, en reddingswerkers wat versigtig in die sneeu rondsoek, kan lewens red. Hulle behaal egter nie soveel sukses soos opgeleide honde nie.

Soos ons gesien het, is dit “wat vlieg sonder vlerke, slaan sonder hande en sien sonder oë”, ’n verskynsel wat toon hoe sterk natuurkragte is. Wit drake dwing respek by ons af.

[Lokteks op bladsy 19]

As jy in ’n sneeustorting beland, moet jy beweeg asof jy in die see swem

[Prent op bladsy 18]

Sint Bernardhonde word dikwels uitgebeeld met ’n brandewynvaatjie, hoewel hulle dit nie werklik op reddingspogings gedra het nie

[Foto-erkenning op bladsy 17]

AP Photo/Matt Hage

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel