Van ons lesers
Velkanker—Hoe jy jou kan beskerm (8 Junie 2005) Die inligting in hierdie reeks is uitstekend. Ek is ’n hoofgeneesheer by ’n dermatologiekliniek. Ek sal graag ’n paar ekstra eksemplare wil ontvang sodat ek dit kan versprei.
K. W., Denemarke
Danksy hierdie artikel het ek besluit om ’n dokter te raadpleeg oor ’n groeisel op my rug. Hy het vir my gesê dat dit kon ontaard het in ’n vorm van kanker wat Bowen-siekte genoem word. Ek het dadelik ’n operasie ondergaan. Hierdie reeks het my gehelp om vinnig op te tree.
S. M., Japan
As gevolg van die venster op bladsy 7 het ek my dokter se opinie oor ’n moesie gevra. Die diagnose—’n kwaadaardige melanoom in die vroegste stadium. Soos die artikel getoon het, kon die melanoom dodelik gewees het as dit nie vroegtydig behandel is nie. Ek is dankbaar teenoor my dokter en hierdie reeks in die Ontwaak!, wat heel moontlik my lewe gered het!
L. S., Verenigde State
’n Hersiening vir die gesin (8 Mei 2005) Ek het altyd net die artikels gelees waarin ek belanggestel het, maar nadat ek “’n Hersiening vir die gesin” gesien het, het ek die hele tydskrif gelees sodat ek die vrae kon beantwoord. Dit was nie lank voordat dit ’n gewoonte geraak het om die hele tydskrif te lees nie!
J. Z., Rusland
Ek het baie van hierdie bladsy gehou. Dit was nie net pret nie, maar dit het my ook laat besef dat ek meer aandag moet skenk aan wat ek lees!
D. S., Brittanje
Jongmense vra . . . Waarom voel ek aangetrokke tot die verkeerde mense? (22 Julie 2005) Nadat ek tien jaar lank ‘altyd baie gehad het om in die werk van die Here te doen’, het ek blykbaar nog steeds nie geweet hoe om hierdie swakheid te bowe te kom nie (1 Korintiërs 15:58). Ek het besef dat ek nie emosioneel volwasse is nie, maar ek het nie geweet hoe om die probleem te bowe te kom nie. Ek dank Jehovah vir sulke artikels, wat ons help om in hierdie teenswoordige stelsel te funksioneer.
J. F., Verenigde State
In hierdie artikel is daar genoem dat ons ‘nie alle kontak moet vermy met diegene wat nie Bybelwaarhede ken nie’. Kan julle asseblief ’n breedvoeriger verduideliking hiervan gee? Sê nou ’n Christen knoop ’n hegte verhouding met ’n ongelowige aan? Moet dit nie kommer wek nie?
D. P., Verenigde State
“Ontwaak!” antwoord: Die artikel het Christene nie aangemoedig om hegte verhoudings met ongelowiges aan te knoop nie. Die Bybelbeginsel geld inderdaad in enige situasie: “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes” (1 Korintiërs 15:33). Dit beteken egter nie dat ons ongelowiges heeltemal vermy nie. Soos die artikel gewys het, raai die Bybel ons aan om “aan almal goed [te] doen”—en nie net aan dié wat dieselfde godsdiensoortuigings as ons het nie (Galasiërs 6:10). Trouens, die aard van ons Christelike bediening vereis dat ons opregte belangstelling in mense toon en hulle met waardigheid en respek behandel. Jesus het ’n goeie voorbeeld hierin gestel. Hy het beslis nie hegte bande gesmee met diegene wat nie daarin belanggestel het om God se wil te doen nie (Johannes 15:14). Terselfdertyd het hy na mense toe gegaan en geweet hoe om met hulle te gesels en hulle op hulle gemak te laat voel. Gevolglik het Jesus die geleentheid gehad om ’n doeltreffende getuienis te gee. (Sien byvoorbeeld die verslag in Lukas 7:36-50.) Ons kan, soos Jesus, ’n respekvolle houding teenoor ongelowiges handhaaf. Ons doel is “om redelik te wees en alle sagmoedigheid teenoor alle mense aan die dag te lê”.—Titus 3:2.