Van ons lesers
Noag se ark en skeepsbou (Januarie 2007) Ek het altyd geweet dat die ark wonderlik gemaak was, maar het nie verstaan presies hoe goed dit gebou was nie. Hierdie artikel het op ’n maklik verstaanbare manier verduidelik hoe die lengte, breedte en hoogte dit baie seevaardig gemaak het. Ek het besluit om saam met die jongmense in ons gemeente ’n model van die ark te maak deur die diagram wat voorsien is, te gebruik. Ons het origami-diertjies (papierfiguurtjies) gemaak, hulle in die ark gesit en prentjies van Noag en sy gesin geteken. Ons het meer oor hierdie Bybelgebeurtenis geleer deur self ’n deel daarvan te ondervind. Baie dankie.
T. A., Japan
My sesjarige seuntjie hou baie daarvan om modelle te bou. Toe ons aan die einde van die Ontwaak!-artikel sien dat daar instruksies is oor hoe om ’n skaalmodel van Noag se ark te bou, was ons albei baie opgewonde. Wat ’n aangename middag het ons tog nie gehad nie, en dit danksy julle wonderlike artikel! Met die besige wêreld waarin ons lewe en die druk wat ons jonges elke week by die skool moet verduur, is dit werklik ’n seën om ’n hulpmiddel soos die Ontwaak! te ontvang wat ouers help om hulle kinders in Jehovah se weë groot te maak.
M. F., Verenigde State
Jongmense vra . . . Hoe kan ek hierdie gewoonte oorwin? (November 2006) Dit het my hart geraak toe ek die artikel gelees het en besef het hoeveel Jehovah vir ons omgee en dat hy ons help om ons probleme op te los. Al ondervind ons ’n terugslag, Jehovah is “vergewensgesind” (Psalm 86:5). As ons hiervan bewus is, help dit ons as jonges om te “vlug . . . vir die begeertes wat eie is aan die jeug”.—2 Timoteus 2:22.
V.F.F., Brasilië
Jongmense vra . . . Waarom is daar soveel reëls? (Desember 2006) Ek bestudeer die Bybel nou al ses jaar lank. Hoewel my ouers baie streng is met ons kinders, weet ek dat hulle werklik vir my omgee. Toe ek hierdie artikel gelees het, het dit my gehelp om te verstaan waaroor my ouers besorg is en ook om te besef dat Jehovah persoonlik vir my omgee.
K. T., Thailand
Ek was ’n verlore seun (Desember 2006) Ek weet al sedert 1992 van Jehovah. Maar daar was ’n tyd in my lewe toe ek ’n ander lewenswyse wou volg. Soos Meros Sunday, was my lewe baie wisselvallig, en ná drie jaar waartydens ek Jehovah nie gedien het nie, het ek hom om hulp begin vra. Ek is nou weer “tuis”! Dankie vir julle werk.
D. K., die Oekraïne
Jongmense vra . . . Wanneer kan ek met iemand begin uitgaan? (Januarie 2007) Ek is 15 jaar oud. Terwyl ek by my oom en tannie gekuier het, het ek ’n 17-jarige Getuie-seun ontmoet. Ons het deur middel van die Internet begin gesels, en aan die begin was dit net van tyd tot tyd. Maar kort voor lank het ons elke dag gesels, en romantiese gevoelens het ontwikkel. Toe het ek hierdie artikel gelees en besef dat ons in werklikheid ’n verhouding het. Met die hulp van my ouers en die Ontwaak!-artikel het ek die beste besluit geneem—om my verhouding met hom te verbreek. Ons is nog steeds vriende, maar ek het my verhouding met Jehovah eerste gestel. Ek is baie dankbaar dat hierdie artikel my gehelp het om dinge weer in perspektief te sien.
D. D., Kanada